Reinheid—Wat beteken dit werklik?
WEENS die skokkende onhigiëniese toestande wat gedurende die 18de en 19de eeu in Europa en die Verenigde State geheers het, het sendelinge van daardie tydperk verkondig wat ’n mens “’n leer van reinheid” kan noem. Hierdie leer het vuilheid met sonde gelykgestel, terwyl daar gesê is dat reinheid ’n mens nader aan God bring. Dit is moontlik wat die stelling “Reinheid kom naby goddelikheid” gewild laat word het.
Die Heilsleër, wat deur William en Catherine Booth gestig is, het hierdie beskouing aangeneem. Volgens die boek Health and Medicine in the Evangelical Tradition was een van hulle vroegste slagspreuke: “Seep, sop en redding.” Toe Louis Pasteur en ander sonder enige twyfel bewys het dat daar ’n verband tussen siektes en bakterieë is, het dit eenvoudig ’n groter dryfveer en wetenskaplike gronde vir beter openbare gesondheidskemas voorsien.
Van die onmiddellike maatreëls wat geneem is, was onder meer dat daar nie van ’n getuie in die hof vereis sou word om die Bybel te soen nie en dat die gebruik van die gemeenskaplike drinkbeker by skole en treinstasies afgeskaf sou word. Daar is selfs pogings aangewend om die gemeenskaplike Nagmaalsbeker met afsonderlike bekers te vervang. Ja, dit lyk of daardie vroeë pioniers besonder goed daarin geslaag het om mense se gesindheid ten opsigte van reinheid te verander. Hulle het dit in so ’n mate reggekry dat een skrywer die resultaat “’n liefdesverhouding met reinheid” genoem het.
Maar hierdie “liefdesverhouding met reinheid” was blykbaar baie oppervlakkig. Kort voor lank het ambisieuse handelaars die diensbare seep in ’n skoonheidsproduk verander. Slim advertensies het kopers wys gemaak dat ’n mens ’n sosiale status verkry wat ander maar net kan beny as jy sekere toiletartikels gebruik. Die televisie laat hierdie fantasie voortduur. Jy sien selde dat die suksesvolle en aantreklike mense wat in advertensies gebruik word en in strooisages speel, die huis skoonmaak, die erf vee, rommel optel of skoonmaak waar hulle lieflingkatte en -honde mors.
Daar is ook diegene wat meen dat sekulêre werk die rekeninge help betaal, terwyl huiswerk of ander skoonmaakwerk geen finansiële voordele inhou nie. En waarom moet hulle, as daar geen vergoeding by betrokke is nie, na die omgewing omsien? Een gevolg hiervan is dat party mense vandag dink dat reinheid net met persoonlike higiëne te doen het.
God se beskouing van reinheid
Daardie vroeë pogings om mense reinheid te leer, het ongetwyfeld gehelp om hulle lewensomstandighede te verbeter. En heeltemal tereg, want reinheid is ’n eienskap wat eie is aan die heilige en rein God, Jehovah, en wat by hom ontstaan het. Hy leer ons om onsself te bevoordeel deur heilig en rein in al ons weë te word.—Jesaja 48:17; 1 Petrus 1:15.
Jehovah God stel die voorbeeld in hierdie opsig. Reinheid, sowel as sy ander onsigbare eienskappe, word duidelik in God se sigbare skepping gesien (Romeine 1:20). Ons kan sien dat die skepping self geen blywende besoedeling veroorsaak nie. Die aarde met sy talle ekologiese kringlope is ’n selfreinigende wonder, en dit is ontwerp sodat ons in rein, gesonde omstandighede kan lewe. So ’n rein skepping kan net die werk van ’n Ontwerper met ’n sin vir reinheid wees. Ons kan derhalwe hieruit aflei dat aanbidders van God in alle aspekte van hulle lewe rein moet wees.
Vier aspekte van reinheid
Die Bybel meld vier aspekte van reinheid wat aanbidders van God moet nastreef. Kom ons ondersoek elkeen.
Geestelik. Dit kan as die belangrikste vorm van reinheid beskou word, want dit raak ’n mens se vooruitsig op die ewige lewe. Maar dit is dikwels juis dié aspek van reinheid wat die meeste verwaarloos word. Eenvoudig gestel, om geestelik rein te wees, beteken dat ’n mens nooit oor die skeidslyn sal tree wat God tussen ware en valse aanbidding gestel het nie, want God beskou enige vorm van valse aanbidding as onrein. Die apostel Paulus het geskryf: “‘Gaan dus onder hulle uit en sonder julle af’, sê Jehovah, ‘en hou op om wat onrein is, aan te raak’; ‘en ek sal julle inneem’” (2 Korintiërs 6:17). Die dissipel Jakobus gee ook baie spesifieke raad in hierdie opsig: “Die vorm van aanbidding wat vanuit die standpunt van ons God en Vader rein en onbesmet is, is dit: . . . om jou sonder vlek van die wêreld te bewaar.”—Jakobus 1:27.
God het duidelik getoon dat hy dit afkeur wanneer valse aanbidding met sy ware aanbidding vermeng word. Onrein gebruike en verfoeilike beelde en gode is dikwels deel van valse aanbidding (Jeremia 32:35). Daarom word ware Christene aangespoor om enige betrokkenheid by onrein aanbidding te vermy.—1 Korintiërs 10:20, 21; Openbaring 18:4.
Sedelik. Ook hier maak God ’n duidelike onderskeid tussen wat rein en wat onrein is. Die wêreld as ’n geheel beantwoord aan die beskrywing in Efesiërs 4:17-19, wat sê dat “hulle verstandelik in duisternis is en vervreemd is van die lewe wat tot God behoort . . . Aangesien hulle alle sedelikheidsgevoel verloor het, het hulle hulle aan losbandige gedrag oorgegee om met hebsug elke soort onreinheid te bedryf.” Hierdie onsedelike denke word op baie maniere, openlik sowel as subtiel, geopenbaar, en daarom moet Christene op hulle hoede wees.
Liefhebbers van God weet dat prostitusie, homoseksualiteit, voorhuwelikse seks en pornografie in stryd met Jehovah se standaard van sedelike reinheid is. Maar hierdie dinge kom oral in die vermaaklikheids- en modewêreld voor. Christene moet derhalwe op hulle hoede wees teen sulke tendense. As skrapse, gewaagde klere na Christelike vergaderinge of gesellighede gedra word, vestig dit onnodige aandag op die menseliggaam en toon dit dat kuisheid op die agtergrond geskuif word. Hierdie soort kleredrag bring nie net onrein wêreldse denke in die Christengemeenskap in nie, maar dit kan ook onrein gedagtes by ander laat ontstaan. Dit is ’n gebied waarop Christene hulle moet inspan om “wysheid van bo” aan die dag te lê.—Jakobus 3:17.
Verstandelik. Die diepste hoekies van ons verstand moenie ’n bewaarplek van onrein gedagtes wees nie. Jesus het teen onrein denke gewaarsku toe hy gesê het: “Elkeen wat aanhou om na ’n vrou te kyk om hartstog vir haar te hê, [het] reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg” (Matteus 5:28; Markus 7:20-23). Hierdie woorde is net soveel van toepassing wanneer iemand na pornografiese prente en films kyk, verhale oor wellustige seksdade lees en na die suggestiewe lirieke van liedjies luister. Christene moet dus daarteen waak dat hulle hulle besoedel deur onrein gedagtes te koester wat tot onrein, onheilige spraak en dade kan lei.—Matteus 12:34; 15:18.
Fisies. In die Bybel is daar ’n noue verband tussen heiligheid en fisiese reinheid. Paulus het byvoorbeeld geskryf: “Geliefdes, laat ons ons van elke verontreiniging van die vlees en die gees reinig en heiligheid in die vrees van God tot volmaaktheid bring” (2 Korintiërs 7:1). Ware Christene moet derhalwe daarna streef om hulle liggaam, huis en omgewing skoon en netjies te hou, sover hulle omstandighede dit toelaat. Selfs waar was- of badwater skaars is, moet Christene hulle bes doen om hulle skoon en netjies te hou.
Fisiese reinheid sal ook die gebruik van tabak in enige vorm, die oormatige gebruik van alkohol en enige vorm van dwelmmisbruik uitsluit, wat die liggaam besoedel en skade aandoen. Die herder wat in die Hooglied van Salomo beskryf word, het gehou van die soet geur van die Sulammitiese meisie se klere (Hooglied 4:11). As ons na ons persoonlike higiëne omsien, betoon ons liefde teenoor ander, want ons wil nie die mense om ons aan onaangename reuke blootstel nie. Parfuum en reukwater ruik dalk lekker, maar dit is geen plaasvervanger vir ’n gereelde bad en skoon klere nie.
Behou ’n gebalanseerde beskouing
Wanneer dit by fisiese reinheid kom, is mense soms tot uiterstes geneig. Aan die een kant kan dit die vreugde uit die lewe neem as ons fanaties oor reinheid is. Dit kan ook baie van ons kosbare tyd in beslag neem. Aan die ander kant kan dit duur wees om ’n vuil en verwaarloosde huis te herstel. Tussen hierdie uiterstes lê die praktiese, verstandige benadering wat ons kan help om ons huis skoon en netjies te hou.
Hou dit eenvoudig. Oorvol huise of kamers is moeilik om skoon te maak, en dit is nie altyd so maklik om te sien waar dit vuil is as ’n plek oorvol is nie. Beskeie huise wat nie so vol is nie, neem minder tyd om skoon te maak. ’n Eenvoudige lewenstyl word in die Bybel sterk aanbeveel: “As ons dan voedsel, klere en onderdak het, sal ons met hierdie dinge tevrede wees.”—1 Timoteus 6:8.
Hou dit netjies. Almal in die huis het die verantwoordelikheid om dit skoon te hou. Slordige huise begin dikwels met slordige kamers. Netheid beteken dat alles op hulle plek is. Die slaapkamervloer is byvoorbeeld nie die plek vir vuil klere nie. En nog ernstiger, speelgoed en gereedskap wat rondlê, kan gevaarlik wees. Baie ongelukke wat tuis gebeur, is as gevolg van slordige gewoontes.
Dit is duidelik dat reinheid en die Christelike lewenswyse onafskeidbaar is. Die profeet Jesaja praat van ’n godvrugtige lewenswyse as “die Weg van Heiligheid”. En hy gee ’n mens stof tot nadenke wanneer hy byvoeg dat ‘die onreine nie daarop sal trek nie’ (Jesaja 35:8). Ja, as ’n mens nou goeie gewoontes aankweek wat reinheid betref, lewer dit kragtige bewys van ons geloof in God se belofte dat hy binnekort ’n skoon paradysaarde tot stand sal bring. Dan sal alle mense, in alle dele van hierdie pragtige planeet, Jehovah God verheerlik deur ten volle aan sy volmaakte standaarde vir reinheid te voldoen.—Openbaring 7:9.
[Prent op bladsy 6]
Almal in die huis het die verantwoordelikheid om dit skoon te hou
[Prent op bladsy 7]
Die aarde is ’n selfreinigende wonder