Reinheid—Waarom is dit belangrik?
Plae en pessiektes teister die mensdom al duisende jare lank. Party het aangeneem dat dit ’n teken van God se toorn is en dat dit gestuur is om oortreders te straf. Geduldige waarneming en deeglike navorsing wat deur baie eeue heen gedoen is, het aan die lig gebring dat die boosdoeners dikwels klein diertjies is wat saam met ons lewe.
Mediese navorsers het ontdek dat rotte, muise, kakkerlakke, vlieë en muskiete as kiemdraers kan dien en siektes kan oordra. Hulle het ook gevind dat mense dikwels die verspreiding van aansteeklike siektes bevorder omdat hulle onhigiënies is. Reinheid kan blykbaar die verskil tussen lewe en dood beteken.
Standaarde vir reinheid verskil natuurlik na gelang van gebruike en omstandighede. In gebiede waar daar nie lopende water of voldoende rioolverwydering is nie, kan higiëne werklik ’n uitdaging wees. God het nietemin vir die eertydse Israeliete instruksies oor reinheid gegee terwyl hulle deur die wildernis getrek het—van die moeilikste omstandighede denkbaar om goeie higiëne in toe te pas!
Waarom is reinheid vir God belangrik? Wat is ’n redelike beskouing van reinheid? Watter eenvoudige voorsorgmaatreëls kan jy en jou gesin tref om siekte te help voorkom?
DIE skooldag is verby en klein Max,a wat in Kameroen woon, kom by die huis aan. Hy is honger en dors wanneer hy ingaan by die nederige huisie waar hy woon, sy wagtende hond ’n drukkie gee, sy skooltas op die eetkamertafel neersit, gaan sit en gretig vir sy kos wag.
Max se ma, wat in die kombuis is, hoor hom inkom en bring vir hom ’n bord stomende rys en boontjies. Maar haar gesigsuitdrukking verander wanneer sy sy skooltas op die skoon tafel sien. Sy kyk na haar seun en sê stadig net een woord: “Maaaax!” Haar seun verstaan, neem vinnig die tas weg en gaan was gou sy hande. Hy keer onmiddellik terug vir die ete waarna hy so uitgesien het. “Jammer, Mamma. Ek het vergeet”, mompel hy skuldig.
’n Liefdevolle moeder kan baie doen wanneer dit kom by gesondheid en reinheid, hoewel sy die samewerking van al die lede van haar huisgesin nodig het. Soos Max se geval toelig, is langtermynopleiding nodig omdat reinheid volgehoue inspanning verg en kinders voortdurend herinner moet word.
Max se ma besef dat kos op verskeie maniere besmet kan word. Sy was dus nie net haar hande deeglik voordat sy met kos werk nie, maar sy sorg ook dat die kos altyd bedek is sodat dit nie deur vlieë besmet word nie. Omdat sy seker maak dat kos nie oop staan nie en omdat sy die huis netjies en skoon hou, het sy min probleme met rotte, muise en kakkerlakke.
Een belangrike rede waarom Max se ma soveel moeite doen, is dat sy God wil behaag. “Die Bybel sê dat God se volk heilig moet wees omdat God heilig is”, verduidelik sy (1 Petrus 1:16). Sy voeg by: “Heiligheid is soortgelyk aan reinheid. Ek wil dus hê dat my huis skoon moet wees en dat my gesin skoon moet lyk. Dit is natuurlik net moontlik omdat almal in die gesin help.”
Die gesin se samewerking is noodsaaklik
Soos Max se ma sê, is gesinshigiëne ’n gesinsprojek. Party gesinne sit van tyd tot tyd saam en bespreek wat hulle behoeftes is en watter verbeteringe gemaak kan word, binne sowel as buite die huis. Dit verenig ook die gesin en herinner elkeen dat hy of sy ’n aandeel daaraan het om na die welsyn van die hele gesin om te sien. Die moeder kan byvoorbeeld aan die ouer kinders verduidelik waarom hulle hulle hande moet was nadat hulle die toilet gebruik het, dinge soos geld hanteer het en voordat hulle eet. Hulle kan weer seker maak dat die jonger kinders die saak ernstig opneem.
Verskillende takies kan onder almal in die gesin verdeel word. Die gesin kan besluit om die huis gereeld elke week skoon te maak en om dit een of twee keer per jaar deeglik skoon te maak. En wat van buite die huis? Die bewaringsgesinde Stewart L. Udall het met verwysing na die Verenigde State gesê: “Ons lewe in ’n land waarvan die prag verdwyn, wat al hoe leliker word, waarin daar al hoe minder oop ruimtes is en waarin die omgewing oor die algemeen daagliks versleg weens besoedeling, geraas en agteruitgang.”
Het jy dieselfde indruk van jou omgewing? In die ou dae en selfs vandag lui ’n stadsomroeper in party dorpe in Sentraal-Afrika ’n klok om mense se aandag te kry. Hy roep met ’n harde stem uit en herinner die burgers om die dorp skoon te maak, die dreineringstelsel (afvoerslote of geute) leeg te maak, die bome te snoei, die onkruid uit te trek en die vullis te verwyder.
Vullisverwydering is ’n wêreldwye probleem en is vir baie owerhede ’n nagmerrie. Party munisipaliteite kan nie bybly nie, en vullis hoop dan in die strate op. Plaaslike burgers kan soms gevra word om te help. As goeie burgers is Christene onder die eerstes om te reageer en die keiser se wette te gehoorsaam sonder om te kla (Romeine 13:3, 5-7). Ware Christene is bereid om in hierdie opsig meer te doen as wat van hulle verwag word. Hulle wil graag ’n skoon omgewing hê en neem die inisiatief om skoon te maak, en hulle het nie ’n stadsomroeper nodig om hulle gedurig te herinner nie. Hulle besef dat reinheid ’n teken is van goeie opleiding en verantwoordelike gedrag. Dit begin by elke individu en elke gesin. Die blote toepassing van gesondheidsmaatreëls en handhawing van reinheid in en om die huis sal tot beter gesondheid lei en ook die algehele voorkoms van die buurt verbeter.
Persoonlike reinheid vereer die God wat ons aanbid
’n Skoon en waardige voorkoms is ’n weerspieëling van ons aanbidding, en mense let dit dikwels op. ’n Groep van omtrent 15 jong mans en vroue het na ’n restaurant gegaan nadat hulle ’n byeenkoms van Jehovah se Getuies in Toulouse, Frankryk, bygewoon het. ’n Bejaarde egpaar wat by die tafel langs hulle gesit het, het die ergste verwag—’n luidrugtige gepraat en gekskeerdery. Hulle was egter beïndruk deur die ordelike gedrag en aangename gesprekke van hierdie netjies geklede jongmense. Toe die groep gereed was om te gaan, het die egpaar hulle geprys vir hulle goeie gedrag en vir een van die jong mans gesê dat sulke voorbeeldige gedrag deesdae skaars is.
Besoekers aan die takkantore, drukkerye en woongeboue van Jehovah se Getuies is dikwels beïndruk deur die reinheid wat hulle daar sien. Om skoon klere te dra en gereeld te was en te stort, word vereis van die vrywilligers wat by hierdie plekke woon en werk. Reukweermiddels en parfuum kan nie die plek van goeie liggaamlike higiëne inneem nie. Wanneer hierdie vrywilligers, wat voltydse bedienaars is, saans en oor die naweke vir hulle bure getuig, stel hulle skoon voorkoms ook die boodskap wat hulle verkondig, in ’n goeie lig.
‘Word navolgers van God’
Christene word aangespoor om ‘navolgers van God te word’ (Efesiërs 5:1). Die profeet Jesaja het ’n visioen opgeteken waarin engele die Skepper beskryf met die woorde: “Heilig, heilig, heilig” (Jesaja 6:3). Hierdie beskrywing beklemtoon God se voortreflike vlekkeloosheid en reinheid. Daarom vereis God dat al sy knegte heilig, of rein, moet wees. “Julle moet heilig wees, want ek is heilig”, sê hy vir hulle.—1 Petrus 1:16.
Die Bybel moedig Christene aan om “betaamlik aan te trek” (1 Timoteus 2:9, The New English Bible). In die boek Openbaring beeld “blink, skoon, fyn linne” gepas die regverdige dade af van dié wat deur God as heilig beskou word (Openbaring 19:8). Daarenteen word sonde dikwels in die Skrif as ’n vlek of as vuilheid afgebeeld.—Spreuke 15:26; Jesaja 1:16; Jakobus 1:27.
Vandag moet miljoene mense in gebiede woon waar dit ’n voortdurende stryd is om fisies, sedelik en geestelik rein te bly. Hierdie probleem sal eens en vir altyd opgelos word wanneer God ‘alles nuut maak’ (Openbaring 21:5). Wanneer hierdie belofte vervul word, sal alle soorte vuilheid en onreinheid vir ewig verdwyn.
[Voetnoot]
a Naam is verander.
[Venster op bladsy 10]
God vereis reinheid
Gedurende die Israeliete se trek deur die wildernis is hulle beveel om groot sorg aan die dag te lê wanneer hulle van menslike afval ontslae geraak het (Deuteronomium 23:12-14). Dit moes baie moeite geverg het as ’n mens die grootte van die kamp in ag neem, maar dit het ongetwyfeld gehelp om siektes soos buiktifus en cholera te voorkom.
Die volk is beveel om enigiets wat aan ’n dooie liggaam geraak het, te was of te vernietig. Hoewel die Israeliete dalk nie die rede hiervoor verstaan het nie, is hulle gehelp om sodoende infeksie en siekte te vermy.—Levitikus 11:32-38.
Die priesters moes hulle hande en hulle voete was voordat hulle hulle pligte by die tabernakel nagekom het. Dit kon nie maklik gewees het om die koperkom vir hierdie doel vol water te maak nie, maar dit was ’n streng vereiste om te was.—Eksodus 30:17-21.
[Venster op bladsy 11]
Wenke van ’n dokter
Water is noodsaaklik vir lewe, maar besoedelde water kan siekte en die dood veroorsaak. Dr. J. Mbangue Lobe, hoof van die mediese afdeling by die hawe van Douala, Kameroen, het in ’n onderhoud ’n paar praktiese wenke gegee.
“Kook jou drinkwater as jy nie seker is dat dit skoon is nie.” Maar hy het gewaarsku: “Om bleikmiddels of ander chemikalieë te gebruik, is in die haak, maar dit kan gevaarlik wees as dit nie reg gebruik word nie. Was altyd jou hande met seep en water voor ’n maaltyd en nadat jy die toilet gebruik het. ’n Koekie seep kos nie ’n fortuin nie, en selfs arm mense kan dit dus bekostig. Was jou klere gereeld en gebruik warm water as jy velprobleme of -siektes het.”
“Goeie higiëne in en om die huis moet deur al die lede van die gesin toegepas word”, het die dokter verder gesê. “Toilette, hetsy binne of buite die huis, word dikwels afgeskeep, en dan neem kakkerlakke en vlieë natuurlik oor.” Toe het hy ’n belangrike punt vir kinders gemeld en gewaarsku: “Moenie in daardie klein spruitjies in julle buurt swem nie. Hulle is vol gevaarlike mikrobes. Was elke aand by die huis voordat jy gaan slaap, borsel saans jou tande goed en slaap onder ’n muskietnet.” Die basiese idee agter al hierdie opmerkings is om vooruit te dink, op te tree en probleme te vermy.
[Prent op bladsy 10]
As jy jou klere was, help dit om velprobleme en -siektes te voorkom
[Prent op bladsy 10]
Christene neem die inisiatief om hulle omgewing skoon te maak
[Prent op bladsy 10]
’n Liefdevolle moeder kan baie doen wanneer dit kom by die reinheid van haar huisgesin