Lewensverhaal
Van my jeug af deur Jehovah geleer
SOOS VERTEL DEUR RICHARD ABRAHAMSON
“O God, u het my van my jeug af geleer, en tot nou toe bly ek u wonderlike werke verkondig.” Laat my verduidelik waarom daardie woorde van Psalm 71:17 vir my spesiale betekenis het.
MY MA, Fannie Abrahamson, is in 1924 deur die Bybelstudente besoek, soos Jehovah se Getuies destyds genoem is. Ek was maar een jaar oud. Elke Bybelwaarheid wat my ma geleer het, het sy onmiddellik vir haar bure gaan vertel, en sy het dit ook vir my en my ouer broer en suster geleer. Voordat ek kon lees, het sy my gehelp om baie tekste oor die seëninge van God se Koninkryk uit my kop te leer.
Gedurende die laat 1920’s het ons groepie Bybelstudente in La Grande, in die staat Oregon, VSA, waar ek gebore is en grootgeword het, uit net ’n paar vroue en kinders bestaan. Hoewel ons afgesonder was, het reisende opsieners, wat pelgrims genoem is, ons een of twee maal per jaar besoek. Hulle het aanmoedigende toesprake gehou, ons in die huis-tot-huis-bediening vergesel en liefdevolle belangstelling in die kinders getoon. Onder hierdie dierbare broers was Shield Toutjian, Gene Orrell en John Booth.
In 1931 kon nie een uit ons groepie die streekbyeenkoms bywoon in Columbus, Ohio, waar die Bybelstudente die naam Jehovah se Getuies aangeneem het nie. Maar die gemeentes en afgesonderde groepe wat nie by die byeenkoms verteenwoordig is nie, het daardie Augustus plaaslik vergader om die naam deur middel van ’n resolusie aan te neem. Ons groepie in La Grande het dit ook gedoen. Toe, tydens die 1933-kampanje om die boekie The Crisis te versprei, het ek ’n Bybelaanbieding gememoriseer, en vir die eerste keer het ek alleen van huis tot huis getuig.
Gedurende die 1930’s het teenstand teen ons werk begin toeneem. Om dit die hoof te bied, is die gemeentes in afdelings ingedeel, wat klein byeenkomste gehou het en een of twee maal per jaar aan predikingsveldtogte deelgeneem het wat afdelingskampanjes genoem is. By hierdie byeenkomste is ons metodes geleer om die predikingswerk te doen en is daar vir ons gewys hoe om eerbiedig te werk te gaan as polisiemanne ons wou keer om dit te doen. Aangesien Getuies dikwels voor ’n polisieregter of in ’n gewone hof moes verskyn, het ons die instruksieblad, “Prosedure van verhoor”, gebruik om ons voor te berei. Dit het ons toegerus om teenstand die hoof te bied.
Ek maak vooruitgang
Ek het ’n groter waardering gekry vir Bybelwaarhede en die Bybelse hoop van ewige lewe op aarde onder God se hemelse Koninkryk. Op daardie stadium is doop nie juis as ’n vereiste beskou vir diegene wat nie die hoop gehad het om in die hemel saam met Christus te regeer nie (Openbaring 5:10; 14:1, 3). Daar is nietemin vir my gesê dat dit gepas sou wees om my te laat doop as ek my in my hart voorgeneem het om Jehovah se wil te doen. Ek is toe in Augustus 1933 gedoop.
Toe ek 12 jaar oud was, het my onderwyseres gedink dat ek ’n aanleg vir die openbare spreekkuns het; daarom het sy my ma aangespoor om ekstra lesse vir my te reël. My ma het geredeneer dat dit my kan help om Jehovah beter te dien. Sy het dus vir my lesse betaal deur ’n jaar lank die instrukteur se wasgoed te was. Die opleiding het my in my bediening gehelp. Toe ek 14 was, het ek rumatiekkoors gehad en was ek ’n jaar lank buite aksie.
In 1939 het ’n voltydse bedienaar met die naam Warren Henschel na ons gebied gekom.a Hy was in geestelike sin vir my soos ’n ouer broer en hy het my soms heeldag lank in die veldbediening uitgeneem. Met sy hulp het ek weldra vakansiepionierdiens, ’n tydelike vorm van voltydse diens, begin doen. Daardie somer het ons groepie ’n amptelike groep geword. Warren is as die groepkneg aangestel en ek was die Wagtoring-studiehouer. Toe Warren by Bethel, die internasionale hoofkwartier van Jehovah se Getuies in Brooklyn, New York, gaan dien het, het ek die groepkneg geword.
Ek word ’n voltydse bedienaar
Die groter verantwoordelikhede as groepkneg het my begeerte versterk om as ’n gewone pionier te dien, wat ek toe wel op 17 gedoen het nadat ek my derde jaar op hoërskool voltooi het. My pa het nie soos ons geglo nie, maar hy was ’n goeie voorsiener en ’n beginselvaste man. Hy wou graag hê dat ek kollege toe moet gaan. Maar hy het ook gesê dat ek kon doen wat ek wou, solank ek nie van hom verwag om my te onderhou nie. Ek het dus op 1 September 1940 begin pionier.
Toe ek van die huis af weggaan, het my ma my Spreuke 3:5, 6 laat lees: “Vertrou op Jehovah met jou hele hart en moenie op jou eie begrip steun nie. Slaan ag op hom in al jou weë, en hy sal jou paaie reguit maak.” Dit het my inderdaad gehelp om altyd my lewe in Jehovah se hande te laat.
Kort daarna het ek in die bediening by Joe en Margaret Hart in die noord-sentrale deel van die staat Washington aangesluit. Die gebied het gewissel van beesplase tot skaapplase tot Indianereservate, sowel as baie dorpies. In die lente van 1941 is ek as groepkneg van die gemeente in Wenatchee, Washington, aangestel.
By een van ons byeenkomste in Walla Walla, Washington, was ek ’n saalwagter wat persone by die ingang van die ouditorium verwelkom het. Ek het opgemerk dat ’n jong broer sonder veel sukses probeer om die luidsprekerstelsel aan die werk te kry. Ek het dus voorgestel dat hy my toewysing oorneem en ek syne. Toe die streekkneg, Albert Hoffman, terugkom en sien dat ek my toewysing verlaat het, het hy met ’n vriendelike glimlag verduidelik hoe belangrik dit is dat ’n mens in jou toewysing bly totdat jy ander instruksies kry. Ek onthou daardie raad tot vandag toe.
In Augustus 1941 het Jehovah se Getuies ’n groot streekbyeenkoms in St. Louis, Missouri, gereël. Die Harts het ’n kap agter op hulle bakkie laat aanbring en bankies daarin gesit. Nege van ons pioniers het die rit van 2 400 kilometer na St. Louis op daardie bakkie afgelê. Dit het omtrent ’n week soontoe en ’n week terug geneem. Volgens ’n polisieskatting was die opkomshoogtepunt by die byeenkoms 115 000. Hoewel dit heel waarskynlik minder was, was dit beslis baie meer as die ongeveer 65 000 Getuies in die Verenigde State op daardie stadium. Die byeenkoms was beslis geestelik opbouend.
Ek gaan dien by Brooklyn-Bethel
Terug in Wenatchee het ek ’n brief ontvang waarin ek gevra is om by Brooklyn-Bethel te gaan dien. Toe ek op 27 Oktober 1941 daar aankom, is ek na Nathan H. Knorr, die fabrieksopsiener, se kantoor geneem. Hy het vriendelik verduidelik wat die lewe by Bethel behels en beklemtoon dat ’n hegte verhouding met Jehovah noodsaaklik is om ’n sukses daarvan te maak. Daarna is ek na die Versendingsafdeling geneem en aangewys om kartonne lektuur gereed te kry vir versending.
Op 8 Januarie 1942 het Joseph Rutherford, wat destyds toesig gehou het oor die wêreldwye werk van Jehovah se Getuies, gesterf. Vyf dae later het die direkteure van die Genootskap broer Knorr gekies om hom op te volg. Toe W. E. van Amburgh, jarelange sekretaris-tesourier van die Genootskap, dit vir die Bethelgesin aankondig, het hy gesê: “Ek kan onthou toe C. T. Russell [in 1916] gesterf het en deur J. F. Rutherford vervang is. Die Here het voortgegaan om Sy werk te rig en te seën. Nou is ek vol vertroue dat die werk sal vooruitgaan met Nathan H. Knorr as president, omdat dit die Here se werk is, nie die mens s’n nie.”
In Februarie 1942 is aangekondig dat daar met die “Gevorderde Kursus in die Teokratiese Bediening” begin sou word. Dit was bedoel om diegene by Bethel op te lei om hulle vermoë te verbeter om navorsing oor Bybelonderwerpe te doen, die materiaal behoorlik te organiseer en dit op bekwame wyse aan te bied. My vroeëre opleiding in die openbare spreekkuns het my gehelp om vinnig met die kursus te vorder.
Kort daarna is ek aangewys na die Diensafdeling, wat toesig hou oor die bediening van die Getuies in die Verenigde State. Later daardie jaar is daar besluit om weer ’n program in te stel waarvolgens bedienaars groepe Getuies besoek. Mettertyd is hierdie reisende bedienaars, wat as knegte vir die broers bekend gestaan het, kringopsieners genoem. Gedurende die somer van 1942 is ’n kursus by Bethel aangebied om broers vir hierdie faset van die bediening op te lei, en ek was bevoorreg om een van die broers te wees wat hierdie opleiding ontvang het. Ek onthou veral die punt wat broer Knorr, een van die instrukteurs, beklemtoon het: “Moenie mense probeer behaag nie. Want dan sal jy op die ou end niemand behaag nie. Doen wat Jehovah behaag, en jy sal almal behaag wat Jehovah liefhet.”
Die reisende werk is in Oktober 1942 hervat. Party van ons by Bethel het dit oor sekere naweke gedoen en gemeentes binne ’n radius van 400 kilometer van die stad New York besoek. Ons het die gemeente se predikingsbedrywighede en vergaderingbywoning nagegaan, ’n vergadering gehou met diegene wat gemeentelike verantwoordelikhede gehad het, ’n toespraak of twee gehou en saam met die plaaslike Getuies in die veldbediening gewerk.
In 1944 was ek onder die broers van die Diensafdeling wat gestuur is om ses maande lank reisende werk in Delaware, Maryland, Pennsilvanië en Virginië te doen. Later het ek ’n paar maande lank gemeentes in Connecticut, Massachusetts en Rhode-eiland besoek. Terug by Bethel het ek deeltyds in die kantoor saam met broer Knorr en sy sekretaris Milton Henschel gewerk, waar ek vertroud geraak het met ons wêreldwye werk. Ek het ook deeltyds in die Tesourierskantoor onder die toesig van W. E. van Amburgh en sy assistent, Grant Suiter, gewerk. Toe, in 1946, het ek die opsiener van ’n paar departemente by Bethel geword.
Groot veranderinge in my lewe
Terwyl ek in 1945 gemeentes bedien het, het ek Julia Charnauskas in Providence, Rhode-eiland, ontmoet. Teen die middel van 1947 het ons aan trou begin dink. Hoewel ek baie lief vir Betheldiens was, was daar destyds geen voorsiening om ’n huweliksmaat na Bethel te bring nie. Daarom het ek Bethel in Januarie 1948 verlaat en met Julia (Julie) getrou. Ek het deeltydse werk by ’n supermark in Providence gekry, en ons het saam begin pionier.
In September 1949 is ek genooi om kringwerk in noordwestelike Wisconsin te doen. Dit was vir my en Julie ’n groot verandering om meestal in klein dorpies en plattelandse gebiede met melkplase te getuig. Die winters was lank en koud; die temperatuur was weke lank onder vriespunt en dit het baie gesneeu. Ons het nie ’n motor gehad nie. Maar iemand het ons altyd met hulle voertuig na die volgende gemeente geneem.
Kort nadat ons met die kringwerk begin het, het ons ’n kringbyeenkoms gehad. Ek onthou dat ek dinge sorgvuldig nagegaan het om seker te maak dat daar na alles omgesien is, en dit het sommige senuweeagtig gemaak. Die streekopsiener, Nicholas Kovalak, het dus vriendelik vir my verduidelik dat die plaaslike broers gewoond daaraan is om dinge op hulle eie manier te doen en dat ek nie alles so noukeurig hoef te reël nie. Daardie raad het my sedertdien met baie van my toewysings gehelp.
In 1950 het ek ’n tydelike toewysing ontvang—om toesig te hou oor huisvestingreëlings vir afgevaardigdes na die eerste van ons talle groot byeenkomste by die Yankee-stadion in die stad New York. Die byeenkoms was van die begin tot die einde ’n wonderlike gebeurtenis, met afgevaardigdes uit 67 lande en ’n opkomshoogtepunt van 123 707! Ná die byeenkoms het ek en Julie ons reisende bediening voortgesit. Ons was heel gelukkig in die kringwerk. Maar ons het gevoel dat ons ons altyd beskikbaar moet stel. Daarom het ons elke jaar aansoek gedoen vir Bethel- en sendingdiens. In 1952 was ons verheug om na die 20ste klas van die Wagtoring-Bybelskool Gilead genooi te word, waar ons opleiding as sendelinge ontvang het.
Diens in die buiteland
Nadat ons in 1953 gegradueer het, is ons na Brittanje gestuur, waar ek as streekopsiener in die suide van Engeland gedien het. Ná minder as ’n jaar in hierdie werk, wat ek en Julie terdeë geniet het, is ons verras met ’n toewysing na Denemarke. Die takkantoor in Denemarke het ’n nuwe opsiener nodig gehad. Aangesien ek naby was en opleiding vir hierdie werk by Brooklyn ontvang het, is ek daarheen gestuur om te help. Ons het met ’n veerboot na Nederland gereis en van daar af per trein na Kopenhagen, Denemarke, gegaan. Ons het op 9 Augustus 1954 daar aangekom.
Een van die probleme wat opgelos moes word, was dat ’n paar in verantwoordelike posisies nie riglyne van die hoofkwartier in Brooklyn wou aanvaar nie. Ook het drie van die vier vertalers wat ons publikasies in Deens vertaal het, Bethel verlaat en uiteindelik opgehou om met Jehovah se Getuies te assosieer. Maar Jehovah het ons gebede verhoor. Twee pioniers, Jørgen en Anna Larsen, wat deeltyds vertaalwerk gedoen het, het hulle beskikbaar gestel om dit voltyds te doen. Die vertaling van ons tydskrifte in Deens het dus voortgegaan sonder dat ’n enkele nommer oorgeslaan is. Die Larsens dien nog steeds by Bethel in Denemarke, en Jørgen is die koördineerder van die Takkomitee.
’n Groot bron van aanmoediging in daardie vroeë jare was die gereelde besoeke van broer Knorr. Hy het tyd geneem om te sit en gesels en ondervindinge te vertel wat ’n mens die nodige insig gegee het om probleme op te los. Gedurende ’n besoek in 1955 is daar besluit dat ons ’n nuwe takkantoor met ’n drukkery moes bou sodat ons tydskrifte vir Denemarke kon druk. ’n Stuk grond is in ’n noordelike voorstad van Kopenhagen gekoop, en teen die somer van 1957 het ons in ons nuwe fasiliteite ingetrek. Harry Johnson, wat kort tevore saam met sy vrou, Karin, in Denemarke aangekom het nadat hulle die 26ste klas van Gilead bygewoon het, het gehelp om ons drukkery aan die gang te kry.
Ons het die organisering van groot byeenkomste in Denemarke verbeter, en die ondervinding wat ek met die werk tydens byeenkomste in die Verenigde State opgedoen het, het goed te pas gekom. In 1961 het afgevaardigdes uit meer as 30 lande ons internasionale byeenkoms in Kopenhagen bygewoon. Die opkomshoogtepunt was 33 513. In 1969 het ons die grootste byeenkoms tot op daardie stadium in Skandinawië gehou, met ’n opkomshoogtepunt van 42 073!
In 1963 is ek genooi na die 38ste klas van Gilead. Dit was ’n aangepaste kursus van tien maande wat veral vir die opleiding van takkantoorpersoneel bedoel was. Dit was wonderlik om weer saam met die Bethelgesin in Brooklyn te wees en baat te vind by die ondervinding van diegene wat al jare lank gehelp het met toesig oor die werk by die hoofkwartier.
Ná hierdie opleidingskursus het ek na Denemarke teruggekeer om verder na verantwoordelikhede daar om te sien. Boonop het ek die voorreg gehad om as sone-opsiener te dien en takke in westelike en noordelike Europa te besoek om die takkantoorpersoneel aan te moedig en te help om hulle verantwoordelikhede na te kom. Ek het in onlangser jare hierdie werk in Wes-Afrika en op die Karibiese Eilande gedoen.
In die laat 1970’s het die broers in Denemarke begin soek na grond vir ’n groter fasiliteit om die toename in vertaal- en drukwerk te hanteer. ’n Mooi stuk grond is omtrent 60 kilometer wes van Kopenhagen gevind. Ek en ander het gewerk aan die beplanning en ontwerp van hierdie nuwe fasiliteit, en ek en Julie het daarna uitgesien om saam met die Bethelgesin na ons pragtige nuwe tuiste te trek. Maar dinge het anders verloop.
Terug na Brooklyn
In November 1980 is ek en Julie gevra om by die Bethel in Brooklyn te gaan dien, waar ons vroeg in Januarie 1981 aangekom het. Ons was teen dié tyd in ons laat vyftigerjare, en nadat ons byna die helfte van ons lewe saam met ons dierbare broers en susters in Denemarke gedien het, was dit nie vir ons maklik om na die Verenigde State terug te keer nie. Ons het egter probeer om nie te dink aan wat ons verkies nie, maar aan ons huidige toewysings en watter uitdagings dit ook al gebied het.
Ons het in Brooklyn aangekom en gevestig geraak. Julie is na die Rekeningafdeling aangewys, waar sy soortgelyke werk as in Denemarke gedoen het. Ek is na die Skryfafdeling aangewys om die drukproses van ons publikasies te help organiseer. Die vroeë 1980’s was ’n tyd van verandering in ons werkswyse by Brooklyn, aangesien ons van tikmasjiene en setwerk met warm lood oorgeskakel het na rekenaars en die rubberdrukmetode. Ek het niks van rekenaars geweet nie, maar ek het wel kennis gehad van organisatoriese prosedures en hoe om met mense te werk.
Kort daarna moes die Kunsafdeling herorganiseer word om oor te skakel na die rubberdrukmetode in volkleur en die gebruik van kleurprente en -foto’s. Hoewel ek geen ondervinding as ’n kunstenaar gehad het nie, kon ek met die organisering help. Ek het dus die voorreg gehad om nege jaar as opsiener van daardie departement te werk.
In 1992 is ek gevra om as helper van die Uitgewerskomitee van die Bestuursliggaam te dien, en ek is na die Tesourierskantoor verskuif. Ek werk nog steeds hier met die finansiële sake van Jehovah se Getuies.
Ek dien van my jeug af
Van my kinderjare af en gedurende my 70 jaar van toegewyde diens het Jehovah my geduldig geleer deur middel van sy Woord, die Bybel, en behulpsame broers in sy wonderlike organisasie. Ek is reeds meer as 63 jaar in die voltydse bediening, en meer as 55 van daardie jare saam met my lojale vrou, Julie. Ek voel waarlik ryklik geseën deur Jehovah.
In 1940, toe ek die huis verlaat het om te begin pionier, het my pa gespot met my besluit en gesê: “Seun, as jy om dié rede die huis verlaat, moet jy nie dink dat jy na my toe kan terughardloop vir hulp nie.” Deur die jare heen was dit nooit nodig nie. Jehovah het ryklik voorsien in my behoeftes, dikwels deur middel van behulpsame mede-Christene. Later het my pa ons werk begin respekteer, en hy het selfs kennis van Bybelwaarhede begin inneem voor sy dood in 1972. My ma, wat die hoop op hemelse lewe gehad het, het Jehovah getrou gedien tot haar dood in 1985, op die ouderdom van 102.
Al duik daar wel probleme op in die voltydse bediening, het ek en Julie nooit daaraan gedink om ons toewysing te verlaat nie. Jehovah het ons nog altyd onderskraag in hierdie voorneme. Selfs toe my ouers oud geword en hulp nodig gehad het, het my suster, Victoria Marlin, haar hulp aangebied en hulle liefdevol versorg. Ons is innig dankbaar vir haar liefdevolle hulp, wat ons gehelp het om in die voltydse bediening te bly.
Julie het my lojaal ondersteun in al ons toewysings en dit as deel van haar eie toewyding aan Jehovah beskou. En al is ek nou 80 jaar oud en ondervind ek gesondheidsprobleme, voel ek dat Jehovah my ryklik geseën het. Ek put groot bemoediging uit die woorde van die psalmis, wat nadat hy gesê het hoe God hom van sy jeug af geleer het, gesmeek het: ‘Selfs tot die ouderdom toe, o God, moet u my nie verlaat nie, totdat ek vir almal wat sal kom, kan vertel van u mag.’—Psalm 71:17, 18.
[Voetnoot]
a Warren was die ouer broer van Milton Henschel, wat jare lank as ’n lid van die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies gedien het.
[Prent op bladsy 20]
Saam met my ma in 1940, toe ek begin pionier het
[Prent op bladsy 21]
Saam met pioniermaats, Joe en Margaret Hart
[Prent op bladsy 23]
Op ons troudag in Januarie 1948
[Prent op bladsy 23]
In 1953, saam met ’n paar Gilead-klasmaats. Van links na regs: Don en Virginia Ward, Geertruida Stegenga, Julie en ek
[Prent op bladsy 23]
Saam met Frederick W. Franz en Nathan H. Knorr in Kopenhagen, Denemarke, 1961
[Prent op bladsy 25]
Saam met Julie vandag