Gradueringsdag—’n pragtige dag
“ONS is geseën met ’n pragtige dag. Die son skyn helder. Die lug is blou. Die gras is groen. Die voëls sing. Alles is reg vir ’n pragtige dag, en ons gaan nie teleurgestel word nie. Jehovah is nie ’n God van teleurstellings nie. Hy is ’n God van seëninge.”
Met hierdie opmerkings het broer Samuel Herd, ’n lid van die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies, die gradueringsprogram van die 117de klas van die Wagtoring-Bybelskool Gilead ingelei. Dit was op 11 September 2004. Die uitstekende program het opbouende Bybelse raad sowel as plaaslike ondervindinge en ondervindinge uit die sendingveld ingesluit. Ja, dit was ’n pragtige dag vir al 6 974 wat teenwoordig was by die Wagtoring-onderrigsentrum in Patterson, New York, en by komplekse in Brooklyn en Wallkill, wat per video verbind was.
Bemoediging vir die studente
John Kikot, ’n lid van die Verenigde State se Takkomitee, het ’n bemoedigende toespraak gehou oor die tema “Behou vreugde as ’n sendeling”. Hy het daarop gewys dat Gileadstudente bekend is vir hulle vreugde, soos ook by hierdie graduering gesien kon word. Die onderrigting uit die Skrif gedurende die skool het die studente vreugde verskaf, en hulle is nou in ’n posisie om ander te help om ook sulke vreugde te smaak. Hoe? Deur van hulleself te gee in hulle bediening as sendelinge. Jesus het gesê: “Dit verskaf groter geluk om te gee as om te ontvang” (Handelinge 20:35). As die nuwe sendelinge Jehovah God navolg, die vrygewige, “gelukkige God”, wat die waarheid aan ander voorsien, sal hulle hulle eie vreugde kan behou.—1 Timoteus 1:11.
Die volgende spreker op die program was nog ’n lid van die Bestuursliggaam, David Splane, en sy tema was “Hoe gaan julle met ander oor die weg kom?” Daar bestaan geen twyfel dat dit goed en lieflik is om in eenheid saam te woon nie, hoewel dit kan beteken dat ’n mens “alles vir alle soorte mense” moet word (1 Korintiërs 9:22; Psalm 133:1). Broer Splane het gemeld dat die gegradueerdes in die sendingwerk met baie ander te doen gaan hê—mense in die gebied, medesendelinge, broers en susters in hulle nuwe gemeente en diegene by die takkantoor wat toesig hou oor die predikings- en onderrigtingswerk. Hy het praktiese wenke gegee oor hoe om persoonlike verhoudings so aangenaam moontlik te maak: Leer die plaaslike taal, neem plaaslike gewoontes in ag, respekteer medesendelinge se privaatheid en wees gehoorsaam aan dié wat die leiding neem.—Hebreërs 13:17.
Daarna het die Gileadinstrukteur Lawrence Bowen gevra: “Wat dink jy?” Hy het die studente daaraan herinner dat diegene wat ‘na die uiterlike geoordeel het’, Jesus nie as die Messias aanvaar het nie (Johannes 7:24). As onvolmaakte mense moet almal oppas dat hulle nie ‘die gedagtes van mense’ eerder as “God se gedagtes” dink nie (Matteus 16:22, 23). Selfs geestelike mense moet voortdurend hulle denke aanpas. Soos in die geval van ’n skip ter see, kan aanpassings wat nou gemaak word, bepaal of ons die doel bereik of geestelik skipbreuk ly. Volgehoue studie van die Bybel in sy konteks help ons om “God se gedagtes” te dink.
Wallace Liverance, ’n ander instrukteur in die Gileadskool, het hierdie deel van die program afgesluit. Sy tema was “Wat sal jy koop?” gebaseer op Jesaja 55:1. Hy het die studente aangespoor om die verkwikking, vreugde en versterking te “koop” wat uit God se profetiese boodskap vir ons dag voortspruit. Jesaja se profesie het hierdie woord van God met water, wyn en melk vergelyk. Hoe kan dit “sonder geld en sonder prys” gekoop word? Broer Liverance het verduidelik dat dit gedoen word deur aandag te skenk aan Bybelprofesieë en deur ongeestelike gedagtes en weë te vervang met God se gedagtes en weë (Jesaja 55:2, 3, 6, 7). As die nuwe sendelinge dit doen, kan dit hulle versterk in hulle toewysings in ander lande. Onvolmaakte mense dink dikwels dat geluk afhang van ’n strewe na materiële gerief. “Moet dit nie glo nie”, het die spreker gemaan. “Vermy daardie denke. Maak seker dat jy tyd inruim vir sinvolle studie van God se profetiese Woord. Dit kan jou verkwik, versterk en vreugde verskaf in jou sendingtoewysing.”
Interessante ondervindinge en onderhoude
Die studente het gereeld aan die predikingswerk deelgeneem. Onder leiding van Mark Noumair, nog ’n Gileadinstrukteur, het ’n hele paar van die studente ondervindinge opgevoer wat die tema “Nie skaam vir die goeie nuus nie” beklemtoon het (Romeine 1:16). Die gehoor het dit geniet om te luister na hoe hierdie ervare bedienaars van huis tot huis, op straat en in winkelsentrums getuig het. Studente wat ander tale kan praat, het die inisiatief in hulle gemeente se gebied geneem om mense te bereik wat daardie tale praat. Ander het die Bybelpublikasies van Jehovah se Getuies goed benut deur dit te gebruik wanneer hulle herbesoeke gedoen en tuisbybelstudies begin het. Hulle het hulle ‘nie geskaam’ om die goeie nuus te verkondig nie.
Broer William Nonkes, wat in die Diensafdeling werk, het onderhoude gevoer met ervare sendelinge uit Burkina Faso, Letland en Rusland. Hulle het praktiese raad gegee met betrekking tot die tema “Jehovah beloon getroue mense liefdevol”. Een van die broers met wie ’n onderhoud gevoer is, het die studente aangespoor om Gideon se leër van 300 soldate in gedagte te hou. Elke soldaat het ’n toewysing gehad wat tot die sukses van Gideon se veldtog bygedra het (Rigters 7:19-21). Net so word sendelinge wat in hulle toewysings bly, beloon.
“Word alles vir alle soorte mense” was die tema wat na vore gebring is in die onderhoude wat vervolgens gevoer is deur Samuel Roberson, ’n instrukteur by Patterson. Hy het onderhoude gevoer met vier Takkomiteelede, uit Senegal, Guam, Liberië en Madagaskar. Altesaam 170 sendelinge dien in hierdie lande. Die studente het uit die kommentare geleer hoe Takkomitees nuwe sendelinge help om by hulle toewysings aan te pas. Dit beteken dikwels dat hulle gebruike moet aanleer wat vreemd is volgens Westerse standaarde. Byvoorbeeld, in party lande is dit baie algemeen om mans wat vriende is, ook dié in die Christengemeente, te sien hande vashou terwyl hulle saamloop. Op party plekke onder die Guamtak word ongewone disse bedien. Maar ander het hulle by sulke omstandighede aangepas, en die nuwe sendelinge kan ook.
Guy Pierce, ’n lid van die Bestuursliggaam, het die onderwerp “Bly lojaal aan ‘die Koninkryk van ons Here’” bespreek. Hy het vir die gehoor gesê: “Jehovah het met ’n doel geskep. Hy het iets in gedagte gehad vir sy skepping. Sy voorneme met die aarde het nie verander nie. Niks kan die verwesenliking daarvan keer nie. Niks kan dit verander nie” (Genesis 1:28). Broer Pierce het almal aangespoor om hulle lojaal aan God se soewereiniteit te onderwerp ondanks die moeilikhede wat as gevolg van die sonde van die eerste man, Adam, ontstaan het. “Ons lewe in die oordeelsuur. Ons het min tyd oor om opregtes van hart te bereik en hulle te help om die waarheid te leer ken. Gebruik die tyd goed om ander met die goeie nuus van die Koninkryk te bereik”, het broer Pierce gemaan. Diegene wat God se Koninkryk lojaal ondersteun, kan daarop staatmaak dat hy hulle sal onderskraag.—Psalm 18:25.
In die slotdeel het die voorsitter groete en goeie wense van takkantore regoor die wêreld gelees. Toe het hy diplomas aan die gegradueerdes oorhandig, en een van hulle het ’n brief van die klas gelees waarin hulle innige waardering uitgespreek het vir die opleiding wat hulle ontvang het. Dit was ’n gepaste slot tot ’n werklik pragtige dag wat al die aanwesiges lank sal onthou.
[Venster op bladsy 23]
KLASSTATISTIEK
Aantal lande verteenwoordig: 11
Aantal lande waarheen gestuur: 22
Aantal studente: 48
Gemiddelde ouderdom: 34,8
Gemiddelde jare in waarheid: 18,3
Gemiddelde jare in voltydse diens: 13,4
[Venster op bladsy 24]
117de Gradueringsklas van die Wagtoring-Bybelskool Gilead
In die lys hieronder word die rye van voor na agter genommer, en die name word van links na regs in elke ry aangegee.
(1) Thompson, E.; Norvell, G.; Powell, T.; Kozza, M.; McIntyre, T. (2) Reilly, A.; Clayton, C.; Allan, J.; Blanco, A.; Muñoz, L.; Rustad, N. (3) Guerrero, Z.; Garcia, K.; McKerlie, D.; Ishikawa, T.; Blanco, G. (4) McIntyre, S.; Cruz, E.; Guerrero, J.; Ritchie, O.; Avellaneda, L.; Garcia, R. (5) Powell, G.; Fiskå, H.; Muñoz, V.; Baumann, D.; Shaw, S.; Brown, K.; Brown, L. (6) Shaw, C.; Reilly, A.; Peloquin, C.; Münch, N.; McKerlie, D.; Ishikawa, K. (7) Münch, M.; Peloquin, J.; Kozza, T.; Avellaneda, M.; Allan, K.; Ritchie, E.; Norvell, T. (8) Cruz, J.; Baumann, H.; Clayton, Z.; Fiskå, E.; Thompson, M.; Rustad, J.