Rigters
7 Toe het Jerubʹbaäl, dit wil sê Giʹdeon,+ en al die manne wat by hom was, vroeg opgestaan en by die Harod-fontein kamp opgeslaan, terwyl die kamp van Miʹdian noord van hom was by die heuwel More in die valleivlakte. 2 Jehovah het toe vir Giʹdeon gesê: “Daar is te veel manne by jou. Ek sal Miʹdian nie in hulle hand gee nie.+ Anders sal Israel dalk spog en vir my sê: ‘My eie hand het my gered.’+ 3 Maak nou asseblief die volgende aankondiging in die teenwoordigheid van die manne: ‘Laat enigiemand wat bang is en bewe, teruggaan huis toe.’”+ Toe het Giʹdeon hulle getoets, en 22 000 van die manne het huis toe gegaan, en 10 000 het agtergebly.
4 Maar Jehovah het vir Giʹdeon gesê: “Daar is nog steeds te veel manne. Laat hulle na die water gaan sodat ek hulle daar vir jou kan toets. Wanneer ek vir jou sê: ‘Hierdie een sal saam met jou gaan,’ sal hy saam met jou gaan, maar wanneer ek vir jou sê: ‘Hierdie een sal nie saam met jou gaan nie,’ sal hy nie saamgaan nie.” 5 Daarom het hy die manne na die water laat gaan.
Toe het Jehovah vir Giʹdeon gesê: “Skei die manne wat die water soos ’n hond met hulle tong oplek van die manne wat op hulle knieë gaan om te drink.” 6 Daar was 300 manne wat die water opgelek het deur hulle hand na hulle mond toe te bring. Die res van die manne het op hulle knieë gegaan om water te drink.
7 Jehovah het toe vir Giʹdeon gesê: “Ek sal jou red met die 300 manne wat die water opgelek het, en ek sal Miʹdian in jou hand gee.+ Maar laat al die ander manne teruggaan huis toe.” 8 Nadat die 300 manne die padkos en die horings by die ander soldate gevat het, het Giʹdeon al die ander manne van Israel teruggestuur huis toe, en hy het net die 300 manne gehou. Die kamp van Miʹdian was onder hom in die valleivlakte.+
9 Gedurende daardie nag het Jehovah vir hom gesê: “Staan op, val die kamp aan, want ek het dit in jou hand gegee.+ 10 Maar as jy bang is om aan te val, gaan dan saam met jou dienaar Pura af na die kamp. 11 Luister na wat hulle sê, en daarna sal jy die moed hê* om die kamp aan te val.” Toe het hy en sy dienaar Pura afgegaan tot by die rand van die leërmag se kamp.
12 Miʹdian en Aʹmalek en al die Oosterlinge+ het die valleivlakte bedek soos ’n swerm sprinkane, en hulle kamele, wat nie getel kon word nie,+ was so baie soos die sandkorrels op die strand. 13 Toe Giʹdeon daar aankom, was daar ’n man wat besig was om ’n droom vir sy metgesel te vertel. Hy het gesê: “Ek het hierdie droom gehad. Daar was ’n ronde garsbrood wat in die kamp van Miʹdian ingerol het. Dit het by ’n tent gekom en dit so hard getref dat dit inmekaargeval het.+ Ja, dit het die tent onderstebo gekeer, en die tent het inmekaargeval.” 14 Toe het sy metgesel gesê: “Dit kan net die swaard van Giʹdeon,+ die seun van Joas, ’n man van Israel, wees. God het Miʹdian en die hele kamp in sy hand gegee.”+
15 Onmiddellik nadat Giʹdeon die droom en die verduideliking daarvan gehoor het,+ het hy neergebuig om te aanbid. Daarna het hy na die kamp van Israel teruggegaan en gesê: “Staan op, want Jehovah het die kamp van Miʹdian in julle hand gegee.” 16 Toe het hy die 300 manne in drie afdelings verdeel en vir hulle elkeen ’n horing gegee,+ sowel as ’n groot, leë kruik met ’n fakkel binne-in die kruik. 17 Toe het hy vir hulle gesê: “Hou my dop, en doen presies wat ek doen. Wanneer ek by die rand van die kamp kom, moet julle doen presies wat ek doen. 18 Wanneer ek op die horing blaas, ek en almal wat saam met my is, moet julle ook op die horings blaas rondom die hele kamp, en julle moet skree: ‘Vir Jehovah en vir Giʹdeon!’”
19 Aan die begin van die middelste nagwaak,* net nadat die wagte op hulle pos gekom het, het Giʹdeon en die 100 manne wat saam met hom was, by die rand van die kamp aangekom. Hulle het op die horings geblaas+ en die groot waterkruike wat in hulle hande was, stukkend geslaan.+ 20 Toe het die drie afdelings op die horings geblaas en die groot kruike stukkend geslaan. Hulle het die fakkels in hulle linkerhand gehou en op die horings geblaas wat in hulle regterhand was, en hulle het uitgeroep: “Die swaard van Jehovah en van Giʹdeon!” 21 Die hele tyd het elke man op sy plek rondom die kamp bly staan, en die hele leërmag van Miʹdian het weggehardloop en geskree terwyl hulle gevlug het.+ 22 Die 300 het op die horings bly blaas, en Jehovah het in die hele kamp die swaard van die een teen die ander gedraai,+ en die leërmag het gevlug tot by Bet-Sitta, toe na Sereʹra, tot aan die rand van Aʹbel-Mehoʹla+ by Tabbat.
23 En die manne van Israel is uit Nafʹtali, Aser en die hele Manasʹse+ bymekaargeroep, en hulle het Miʹdian agternagesit. 24 Giʹdeon het boodskappers na die hele bergstreek van Eʹfraim gestuur en gesê: “Gaan af en val Miʹdian aan, en beset die driwwe van die Jordaanrivier en sy sytakke tot by Bet-Bara.” Toe is al die manne van Eʹfraim bymekaargeroep, en hulle het die driwwe van die Jordaanrivier en sy sytakke tot by Bet-Bara beset. 25 Hulle het ook die twee leiers van Miʹdian, Oreb en Seëb, gevange geneem. Hulle het Oreb op die rots van Oreb doodgemaak,+ en hulle het Seëb by die wynpers van Seëb doodgemaak. Hulle het aangehou om Miʹdian agterna te sit,+ en hulle het die koppe van Oreb en Seëb na Giʹdeon toe gebring in die Jordaanstreek.