“My hulp is van Jehovah”
Ongetroud en tevrede in Jehovah se diens
“SO BAIE van ons is heeltemal gelukkig selfs al is ons nie getroud nie”, het ’n Christenvrou in Spanje gesê. Wat maak haar tevrede? “Ons geniet dit om vry te wees van baie bekommernisse sodat ons ons God, Jehovah, in groter mate kan dien.”
Sulke gevoelens stem ooreen met wat God se Woord oor die ongetroude lewe sê. Toe die apostel Paulus aangeleenthede in verband met die huwelik bespreek het, het hy hierdie geïnspireerde raad gegee: “Vir die ongetroudes en die weduwees sê ek dat dit vir hulle goed is as hulle bly soos ek is.” Paulus was nie getroud nie. Maar waarom het hy die ongetroude lewe aanbeveel? Hy het daarop gewys dat die getroude persoon verdeeld is, terwyl die ongetroude man of vrou “besorg [is] oor die dinge van die Here” (1 Korintiërs 7:8, 32-34). Diens aan Jehovah is die vernaamste faktor wat ’n ongetroude persoon geluk en tevredenheid verskaf.
Ongetroud met ’n edel doel
Paulus se opmerkings is dalk verwarrend in kulture wat dit belangrik ag om te trou en ’n gesin groot te maak. Maar Jesus Christus—wat self ongetroud maar gelukkig en tevrede was—het melding gemaak van ’n edel doel vir ongetroude Christene. Hy het gesê: “Daar is eunugs wat hulleself eunugs gemaak het weens die koninkryk van die hemele. Wie daarvoor plek kan maak, laat hom daarvoor plek maak.”—Matteus 19:12.
In ooreenstemming met daardie woorde het baie gevind dat die ongetroude lewe hulle toelaat om God te dien sonder die afleidings wat met die huwelik gepaardgaan (1 Korintiërs 7:35). Duisende Christene wat nie ’n huweliksmaat het nie, is gelukkig in hulle aanbidding van Jehovah en put vreugde daaruit om ander daadwerklik te help.a
Baie ongetroude Christene besef dat geluk nie net die voorreg van getroude mense is nie en dat nie alle ongetroude persone ongelukkig is nie. In albei groepe ondervind sommige by tye geluk sowel as droefheid. Die Bybel is in werklikheid realisties wanneer dit sê dat die huwelik op sigself ‘verdrukking in die vlees’ meebring.—1 Korintiërs 7:28.
Ongetroud weens omstandighede
Baie is ongetroud, nie uit eie keuse nie, maar weens omstandighede. Hulle begeer dalk die hartlikheid, kameraadskap en liefde wat in die huweliksreëling gevind kan word. Maar vir party is ’n huwelik dalk op die oomblik buite die kwessie weens finansiële of ander oorwegings. Sommige Christene—baie van hulle dierbare geestelike susters—het ongetroud gebly omdat hulle vasbeslote is om die Bybelraad te gehoorsaam om “net in die Here” te trou (1 Korintiërs 7:39). Hulle is lojaal en soek ’n huweliksmaat net onder toegewyde, gedoopte aanbidders van Jehovah.
Party van hierdie persone is soms eensaam. Nadat ’n ongetroude Christen erken het dat sy so voel, sê sy: “Ons ken Jehovah se wet en wil Jehovah geensins mishaag nie. Ons wil dalk die kameraadskap van ’n maat hê, maar ongeag hoeveel keer mense in die wêreld ons wil help om ’n maat te kry, ons bly standvastig. Ons wil nie eens in die geselskap van ongelowige mans of vroue wees nie.” Sulke Christene moet geprys word omdat hulle Bybelraad toepas en hoë sedelike standaarde handhaaf om Jehovah te behaag ondanks die emosionele stres wat hulle moontlik ondervind.
Oorvloedige hulp van God
Jehovah is lojaal teenoor dié wat hulle lojaliteit aan hom toon deur byvoorbeeld te weier om met iemand te trou wat hom nie dien nie. Koning Dawid kon uit eie ondervinding sê: “Met iemand wat lojaal is, sal u [Jehovah] lojaal handel” (Psalm 18:25). En aan dié wat hom getrou gehoorsaam, belowe God: “Ek sal jou hoegenaamd nie verlaat of jou ooit versaak nie” (Hebreërs 13:5). In navolging van Jehovah kan ons ongetroude Christene van alle ouderdomme wat getrou by God se Woord bly, grootliks prys. Ons kan ook bid dat Jehovah hulle krag gee om die uitdagings waarvoor hulle te staan kom, die hoof te bied.—Rigters 11:30-40.
Baie ongetroude Christene vind dat ’n volle deelname aan die Bybelonderrigtingswerk hulle lewe sinvol maak. Neem byvoorbeeld Patricia, ’n ongetroude vrou in haar middeldertigerjare wat ’n pionier, of voltydse evangeliedienaar, is. Sy sê: “Hoewel die ongetroude lewe beproewinge meebring, het dit my die geleentheid gegee om ’n gewone pionier te word. Aangesien ek ongetroud is, is my rooster meer aanpasbaar, wat my meer tyd gee om te studeer. Ek het ook geleer om meer op Jehovah te steun, veral gedurende moeilike tye.”
Sulke gedagtes word gegrond op die Bybel se gerusstellende belofte: “Laat jou weg aan Jehovah oor en verlaat jou op hom, en hy sal optree” (Psalm 37:5). Trouens, alle getroue aanbidders van Jehovah, getroud of ongetroud, kan vertroosting en krag put uit die geïnspireerde woorde: “My hulp is van Jehovah.”—Psalm 121:2.
[Voetnoot]
a Sien die Kalender van Jehovah se Getuies vir 2005, Julie/Augustus.
[Lokteks op bladsy 9]
“Die ongetroude man is besorg oor die dinge van die Here, hoe hy die Here se goedkeuring kan verkry.”—1 KORINTIËRS 7:32
[Venster op bladsy 8]
DIE ONGETROUDE LEWE KAN LONEND WEES
Jesus, wat nooit getrou het nie, het gesê: “My voedsel is om die wil te doen van hom wat my gestuur het en om sy werk te volbring.”—Johannes 4:34.
Filippus se vier ongetroude dogters het besig gebly deur te ‘profeteer’.—Handelinge 21:8, 9.
Ongetroude Christensusters wat die Koninkryksboodskap bekend maak, is deel van die ‘groot leër van vroue wat die goeie nuus verkondig’.—Psalm 68:11.