“Duidelike lig” op die Bybel uit Rusland se oudste biblioteek
TWEE geleerdes is op soek na ou Bybelmanuskripte. Elkeen reis deur woestyne en deursoek grotte, kloosters en eertydse kranswonings. Jare later kruis hulle paaie in Rusland se oudste openbare biblioteek, waar van die opwindendste ontdekkings wat die wêreld nog in verband met die Bybel gesien het, bewaar word. Wie was hierdie mans? Hoe het die skatte wat hulle ontdek het, in Rusland beland?
Ou manuskripte—verdedigers van God se Woord
Om een van hierdie twee geleerdes te ontmoet, moet ons teruggaan na die begin van die 19de eeu toe die winde van ’n intellektuele revolusie deur Europa getrek het. Dit was ’n tyd van wetenskaplike vooruitgang en kulturele prestasies, wat ’n skeptiese beskouing van tradisionele opvattings bevorder het. Hoër kritici het die Bybel se gesag probeer ondermyn. Om die waarheid te sê, geleerdes het twyfel uitgespreek oor die egtheid van die Bybelteks self.
Sekere opregte voorstanders van die Bybel het besef dat nuwe verdedigers—in die vorm van onontdekte ou Bybelmanuskripte—ongetwyfeld die egtheid van God se Woord sou bewys. As manuskripte gevind kon word wat ouer as die bestaande manuskripte was, sou hulle as stille getuies van die suiwerheid van die Bybelteks dien, hoewel daar al lank herhaalde pogings aangewend is om die boodskap daarvan te vernietig of te verdraai. Sulke manuskripte kon ook die paar plekke uitwys waar onjuiste vertalings in die teks ingesluip het.
Party van die hewigste debatte oor die egtheid van die Bybel het in Duitsland gewoed. Hier het ’n jong professor sy gerieflike akademiese lewe agtergelaat om ’n reis te onderneem wat hom sou lei tot een van die grootste ontdekkings in die geskiedenis in verband met die Bybel. Sy naam was Konstantin von Tischendorf, ’n Bybelgeleerde wie se verwerping van hoër kritiek gelei het tot merkbare sukses in die verdediging van die egtheid van die Bybelteks. Sy eerste reis na die wildernis Sinai in 1844 is met ongelooflike sukses bekroon. Hy het terloops in ’n snippermandjie in ’n monnikeklooster gekyk en afgekom op ’n ou eksemplaar van die Septuagint, of Griekse vertaling van die Hebreeuse Geskrifte—die oudste een wat nog ontdek is!
Tischendorf was in ekstase en het daarin geslaag om 43 blaaie saam met hom te neem. Hoewel hy oortuig was dat daar meer was, het hy net ’n fragment gekry toe hy in 1853 teruggegaan het. Waar was die res? Tischendorf se fondse was uitgeput en hy het ’n welgestelde borg gesoek om hom te ondersteun. Hy het besluit om weer sy vaderland te verlaat in sy soektog na ou manuskripte. Maar voordat hy op hierdie sending vertrek het, het hy ’n beroep op die tsaar van Rusland gedoen.
Die tsaar toon belangstelling
Tischendorf het sekerlik gewonder watter soort ontvangs hy, ’n Protestantse geleerde, sou kry in Rusland, ’n uitgestrekte land wat die Russies-Ortodokse geloof voorgestaan het. Gelukkig het Rusland ’n gunstige tydperk van verandering en hervorming binnegegaan. Die klem op opvoeding het in 1795 gelei tot die stigting van die St. Petersburgse Keiserlike Biblioteek deur keiserin Katharina II (ook bekend as Katharina die Grote). As Rusland se eerste openbare biblioteek het dit miljoene mense toegang gegee tot ’n magdom gedrukte inligting.
Die Keiserlike Biblioteek is as een van beste biblioteke in Europa beskou, maar dit het wel een tekortkoming gehad. Vyftig jaar nadat dit gestig is, het die biblioteek net ses Hebreeuse manuskripte gehad. Dit kon nie byhou by Rusland se toenemende belangstelling in die studie van Bybeltale en -vertalings nie. Katharina II het geleerdes na Europese universiteite gestuur om Hebreeus te studeer. Nadat die geleerdes teruggekeer het, is Hebreeuse kursusse in vername Russies-Ortodokse kweekskole aangebied, en Russiese geleerdes het vir die eerste keer begin werk aan ’n akkurate vertaling van die Bybel uit Ou Hebreeus in Russies. Maar hulle het ’n gebrek aan fondse gehad en is selfs teëgestaan deur konserwatiewe kerkleiers. Ware verligting het nog nie gekom vir diegene wat na Bybelkennis gesoek het nie.
Die tsaar, Aleksander II, het gou die waarde van Tischendorf se sending besef en hom sy ondersteuning gebied. Ten spyte van die “jaloerse en fanatiese teenstand” van sommige mense het Tischendorf van sy sending na Sinai teruggekeer met die res van die eksemplaar van die Septuagint.a Dit is later die Codex Sinaiticus genoem en is nog steeds een van die oudste bestaande Bybelmanuskripte. Toe Tischendorf in St. Petersburg teruggekom het, het hy hom gehaas na die tsaar se woning, die Keiserlike Winterpaleis. Hy het voorgestel dat die tsaar “een van die grootste projekte in kritiese en Bybelse studie” ondersteun—’n gepubliseerde uitgawe van die nuutgevonde manuskrip, wat later in Die Keiserlike Biblioteek geplaas is. Die tsaar het geredelik ingestem, en ’n verheugde Tischendorf het later geskryf: “Die Voorsienigheid het aan ons eeu . . . die Sinaïtiese Bybel gegee, om vir ons ’n volle en duidelike lig te wees ten opsigte van wat die ware teks van God se geskrewe Woord is, en om ons te help om die waarheid te verdedig deur die egte vorm daarvan te bevestig.”
Bybelskatte uit die Krim
Aan die begin is ’n ander geleerde genoem wat op soek was na Bybelskatte. Wie was hy? ’n Paar jaar voordat Tischendorf na Rusland teruggekeer het, het Die Keiserlike Biblioteek so ’n ongelooflike aanbod ontvang dat dit die tsaar se belangstelling gewek het en geleerdes van oor die hele Europa na Rusland gebring het. Hulle kon skaars hulle oë glo. Voor hulle was ’n ontsaglike versameling manuskripte en ander materiaal. Daar was ’n verstommende 2 412 items, waaronder 975 manuskripte en boekrolle. Hieronder was 45 Bybelmanuskripte wat uit ’n tyd voor die tiende eeu dateer. Hoe ongelooflik dit ook al was, al hierdie manuskripte is feitlik manalleen versamel deur ’n man met die naam Abraham Firkowitsj, ’n Karaïtiese geleerde wat toe oor die 70 jaar oud was! Maar wie was die Karaïete?b
Hierdie vraag het groot belangstelling by die tsaar gewek. Rusland het sy grense uitgebrei om gebied in te sluit wat voorheen deur ander lande beset is. Dit het nuwe etniese groepe by die ryk gevoeg. Die skilderagtige Krim-gebied, aan die kus van die Swart See, is bewoon deur ’n volk wat blykbaar Joods was, maar wat Turkse gebruike gehad het en ’n taal gepraat het wat aan Tartaars verwant was. Hierdie Karaïete het hulle afstamming teruggevoer tot Jode wat ná die vernietiging van Jerusalem in 607 v.G.J. in ballingskap weggevoer is na Babilon. Anders as rabbynse Jode het hulle egter die Talmoed verwerp en klem op die lees van die Skrif gelê. Die Krim-Karaïete was gretig om aan die tsaar bewyse voor te lê dat hulle anders as rabbynse Jode was, wat ’n aparte status aan hulle sou verleen. Deur die ou manuskripte voor te lê wat in die Karaïete se besit was, het hulle gehoop om te bewys dat hulle van die Jode afstam wat ná die Babiloniese ballingskap na die Krim geïmmigreer het.
Toe Firkowitsj sy soektog na ou rekords en manuskripte onderneem het, het hy by die Krim-kranswonings van Chufut-Kale begin. Geslagte Karaïete het in hierdie huisies gewoon en aanbid, wat gebou is met klip wat uit die kranse gekap is. Die Karaïete het nooit verslete eksemplare van die Skrif vernietig waarop die goddelike naam, Jehovah, verskyn het nie omdat hulle so ’n daad as heiligskendend beskou het. Die manuskripte is versigtig in ’n klein pakkamer gebêre wat ’n geniza genoem is, wat in Hebreeus “bewaarplek” beteken. Omdat die Karaïete ’n diepe eerbied vir die goddelike naam gehad het, is sulke perkamente selde versteur.
Firkowitsj het hom nie laat afskrik deur eeue se stof nie en het die genizas noukeurig deursoek. In een het hy die beroemde manuskrip van 916 G.J. gevind. Dit is die Petersburgkodeks van die Latere Profete genoem en is een van die oudste eksemplare van die Hebreeuse Geskrifte wat bestaan.
Firkowitsj het ’n groot aantal manuskripte bymekaargemaak, en in 1859 het hy besluit om sy ontsaglike versameling vir Die Keiserlike Biblioteek aan te bied. In 1862 het Aleksander II die versameling vir die biblioteek help koop vir 125 000 roebels, wat destyds ’n baie groot som geld was. Op daardie stadium was die totale begroting van die biblioteek niks meer as 10 000 roebels per jaar nie! Hierdie aankoop het die beroemde Leningradkodeks (B 19A) ingesluit. Dit dateer uit 1008 en is die wêreld se oudste volledige eksemplaar van die Hebreeuse Geskrifte. ’n Geleerde het gesê dat dit “waarskynlik die belangrikste Bybelmanuskrip is, want dit het die teks van die meeste hedendaagse kritiese uitgawes van die Hebreeuse Bybel bevestig”. (Sien die bygaande venster.) In daardie selfde jaar, 1862, is Tischendorf se Codex Sinaiticus gepubliseer en wêreldwyd verwelkom.
Geestelike verligting in hedendaagse tye
Die biblioteek wat nou bekend staan as Die Nasionale Biblioteek van Rusland, bevat een van die wêreld se grootste versamelings ou manuskripte.c Die feit dat die naam van die biblioteek in die loop van twee eeue sewe keer verander is, is ’n weerspieëling van die Russiese geskiedenis. Een welbekende naam is Die Saltikof-Sjtjedrin- Openbare Staatsbiblioteek. Hoewel die beroeringe van die 20ste eeu hulle merk op die biblioteek gelaat het, het die manuskripte daarin deur albei wêreldoorloë en die beleg van Leningrad behoue gebly. Hoe vind ons baat by hierdie manuskripte?
Ou manuskripte is die betroubare grondslag vir talle hedendaagse Bybelvertalings. Dit stel opregte waarheidsoekers in staat om ’n juiste weergawe van die Heilige Skrif te lees. Die Codex Sinaiticus en die Leningradkodeks het albei ’n waardevolle bydrae gelewer tot die Nuwe Wêreld-vertaling van die Heilige Skrif, wat deur Jehovah se Getuies uitgegee word en in 1961 in sy volledige vorm in Engels vrygestel is. Die Biblia Hebraica Stuttgartensia en Kittel se Biblia Hebraica, wat deur die New World Bible Translation Committee gebruik is, is byvoorbeeld gebaseer op die Leningradkodeks en gebruik die Tetragrammaton, of goddelike naam, 6 828 keer in die oorspronklike teks.
Betreklik min Bybellesers weet hoeveel hulle verskuldig is aan die stil biblioteek in St. Petersburg en sy manuskripte, waarvan party die stad se vorige naam, Leningrad, dra. Maar ons is die meeste verskuldig aan die Bybel se Outeur, Jehovah, wat geestelike lig gee. Die psalmis het derhalwe hierdie smeking tot hom gerig: “Stuur u lig en u waarheid uit. Laat dié my lei.”—Psalm 43:3.
[Voetnote]
a Hy het ook ’n volledige eksemplaar van die Christelike Griekse Geskrifte teruggebring wat uit die vierde eeu G.J. dateer.
b Vir meer inligting oor die Karaïete, sien die artikel “Die Karaïete en hulle soeke na waarheid”, in Die Wagtoring van 15 Julie 1995.
c Die grootste deel van die Codex Sinaiticus is aan die Britse Museum verkoop. Daar is net fragmente in Die Nasionale Biblioteek van Rusland oor.
[Venster op bladsy 13]
DIE GODDELIKE NAAM WAS BEKEND EN IS GEBRUIK
In sy wysheid het Jehovah toegesien dat sy Woord, die Bybel, tot in ons dag behoue gebly het. Deur die eeue heen het die ywerige werk van kopiïste ’n rol gespeel in die bewaring daarvan. Die noukeurigste groep was die Masorete, professionele Hebreeuse kopiïste wat van die sesde tot die tiende eeu G.J. bedrywig was. Ou Hebreeus is sonder klinkers geskryf. Dit het met die verloop van tyd die gevaar vergroot dat die korrekte uitspraak verlore kon gaan namate Hebreeus deur Aramees vervang is. Die Masorete het ’n stelsel van vokaalpunte ontwikkel wat in die Bybelteks ingevoeg kon word om die regte uitspraak van Hebreeuse woorde aan te dui.
Interessant genoeg, die Masoretiese vokaalpunte in die Leningradkodeks dui aan dat die uitspraak van die Tetragrammaton—die vier Hebreeuse konsonante wat die goddelike naam vorm—Jehwah’, Jehwih’ en Jeho·wah’ kan wees. “Jehovah” is nou die bekendste uitspraak van die naam. Die goddelike naam was ’n lewende, bekende woord vir Bybelskrywers en ander in die ou tyd. Vandag is God se naam bekend en word dit deur miljoene gebruik wat erken dat ‘Jehovah alleen die Allerhoogste oor die hele aarde is’.—Psalm 83:18.
[Prent op bladsy 10]
Manuskripvertrek van Die Nasionale Biblioteek
[Prent op bladsy 11]
Keiserin Katharina II
[Prente op bladsy 11]
Konstantin von Tischendorf (middel) en Aleksander II, tsaar van Rusland
[Prent op bladsy 12]
Abraham Firkowitsj
[Foto-erkenning op bladsy 10]
Albei prente: National Library of Russia, St. Petersburg
[Foto-erkennings op bladsy 11]
Katharina II: National Library of Russia, St. Petersburg; Aleksander II: From the book Spamers Illustrierte Weltgeschichte, Leipzig, 1898