Hoe sterk is jou vertroue in God?
“Hou dan aan om eers die koninkryk . . . te soek.”—MATTEUS 6:33.
1, 2. Watter stap rakende sekulêre werk het ’n jong man geneem, en waarom?
’N JONG man wou graag meer doen in sy gemeente. Die probleem was egter dat sy sekulêre werk hom verhinder het om vergaderinge gereeld by te woon. Wat het hy omtrent die situasie gedoen? Hy het sy lewe vereenvoudig, uit sy werk bedank en mettertyd werk gekry wat nie inbreuk sou maak op sy Christelike bedrywighede nie. Vandag verdien hy baie minder as tevore, maar hy voorsien nog steeds in sy gesin se behoeftes en is in ’n beter posisie om in die gemeente te help.
2 Verstaan jy waarom hierdie jong man so ’n stap geneem het? Sou jy ’n soortgelyke stap geneem het as jy in sy skoene gestaan het? Dit is prysenswaardig dat baie Christene dit al gedoen het, en hulle optrede weerspieël hulle vertroue in Jesus se belofte: “Hou dan aan om eers die koninkryk en sy regverdigheid te soek, en al hierdie ander dinge sal vir julle bygevoeg word” (Matteus 6:33). Hulle vertrou eerder op Jehovah om veiligheid, of sekuriteit, te voorsien as op die sekulêre wêreld.—Spreuke 3:23, 26.
3. Waarom wonder party miskien of dit vandag prakties is om God se Koninkryk eerste te stel?
3 Met die oog op die moeilike tye waarin ons lewe, wonder party miskien of daardie jong man ’n verstandige besluit geneem het. Vandag lewe ’n deel van die mensdom in volslae armoede terwyl ander die hoogste lewenstandaard in die geskiedenis geniet. Die meeste mense in arm lande sal enige geleentheid om hulle lewe ’n bietjie makliker te maak, gretig aangryp. Aan die ander kant ondervind baie in welvarender lande druk om hulle lewenstandaard te handhaaf ten spyte van wankelende ekonomieë, die veranderende arbeidsmark en werkgewers wat al hoe veeleisender word. Aangesien dit so moeilik is om ’n bestaan te maak, wonder party miskien: ‘Is dit nog prakties om eers die Koninkryk te soek?’ Om hierdie vraag te help beantwoord, kan ons kyk na die gehoor wat Jesus toegespreek het.
“Hou op om julle te kwel”
4, 5. Hoe het Jesus toegelig dat dit redelik is vir God se knegte om hulle nie oormatig te kwel oor die daaglikse sorge nie?
4 Jesus was in Galilea en het met ’n groot menigte mense uit verskillende plekke gepraat (Matteus 4:25). Min, indien enige, van daardie mense was ryk. Die meeste was waarskynlik arm. Tog het Jesus hulle aangespoor om nie die verkryging van materiële rykdom die hoofsaak in hulle lewe te maak nie, maar om iets baie waardevoller op te gaar—geestelike skatte (Matteus 6:19-21, 24). Hy het gesê: “Hou op om julle te kwel oor julle siel, oor wat julle sal eet of wat julle sal drink, of oor julle liggaam, oor wat julle sal dra. Beteken die siel nie meer as voedsel en die liggaam meer as klere nie?”—Matteus 6:25.
5 Vir baie van Jesus se toehoorders het sy woorde dalk onprakties geklink. Hulle het geweet dat hulle gesinne daaronder sou ly as hulle nie hard werk nie. Maar Jesus het hulle aan die voëls herinner. Voëls leef van een dag tot die volgende, en tog sorg Jehovah vir hulle. Jesus het ook verwys na die manier waarop Jehovah sorg vir die veldblomme, wat pragtiger was as Salomo in al sy heerlikheid. As Jehovah vir die voëls en die blomme sorg, hoeveel te meer sal hy dan vir ons sorg? (Matteus 6:26-30). Soos Jesus gesê het, is ons lewe (siel) en liggaam baie belangriker as die voedsel wat ons koop om aan die lewe te bly en die klere wat ons aanskaf om ons liggaam te bedek. As ons al ons energie gebruik bloot om voedsel en klere te verkry, en daar nie veel oorbly om Jehovah mee te dien nie, mis ons die eintlike doel van die lewe.—Prediker 12:13.
’n Gebalanseerde beskouing
6. (a) Watter verantwoordelikhede moet Christene nakom? (b) Waar plaas Christene hulle volle vertroue?
6 Jesus het sy gehoor natuurlik nie aangespoor om nie meer te werk en te wag dat God op die een of ander manier vir hulle gesin voorsien nie. Selfs die voëls moet voedsel vir hulle en hulle kleintjies soek. Christene moes dus werk as hulle wou eet. Hulle moes na gesinsverantwoordelikhede omsien. Christenknegte en -slawe moes vlytig vir hulle eienaars werk (2 Tessalonisense 3:10-12; 1 Timoteus 5:8; 1 Petrus 2:18). Die apostel Paulus het dikwels as ’n tentmaker gewerk om hom te onderhou (Handelinge 18:1-4; 1 Tessalonisense 2:9). Nietemin het daardie Christene nie op sekulêre werk vertrou as ’n bron van sekuriteit nie. Hulle het op Jehovah vertrou. Gevolglik het hulle gemoedsrus geniet wat ander nie geken het nie. Die psalmis het gesê: “Dié wat op Jehovah vertrou, is soos die berg Sion, wat nie kan wankel nie, maar tot onbepaalde tyd bly.”—Psalm 125:1.
7. Watter beskouing sal iemand dalk hê wat nie volkome op Jehovah vertrou nie?
7 Enigiemand wat nie volkome op Jehovah vertrou nie, sal dalk anders dink. Die meeste mense beskou materiële rykdom as ’n vername sleutel tot sekuriteit. Gevolglik het ouers hulle kinders aangespoor om ’n groot deel van hulle jong volwasse lewe daaraan te wy om hoër onderwys na te streef, met die hoop dat dit hulle sal voorberei vir goed besoldigde loopbane. Ongelukkig het party Christengesinne gevind dat dit hulle duur te staan gekom het, aangesien hulle kinders hulle geestelike fokus verloor het en materialistiese doelwitte begin nastreef het.
8. Watter balans handhaaf Christene?
8 Verstandige Christene besef dus dat Jesus se raad vandag nog net soveel van toepassing is as wat dit in die eerste eeu was, en hulle probeer ’n balans handhaaf. Selfs as hulle lang ure by hulle sekulêre werk moet deurbring om hulle skriftuurlike verantwoordelikhede na te kom, laat hulle nooit toe dat die noodsaaklikheid om geld te verdien, hulle verblind vir die belangriker geestelike sake nie.—Prediker 7:12.
‘Moet julle nooit kwel nie’
9. Watter versekering gee Jesus diegene wat ten volle op Jehovah vertrou?
9 In sy Bergpredikasie het Jesus sy toehoorders aangespoor: “Moet julle . . . nooit kwel en sê: ‘Wat gaan ons eet?’ of: ‘Wat gaan ons drink?’ of: ‘Wat gaan ons aantrek?’ nie. Want al hierdie dinge jaag die nasies gretig na. Want julle hemelse Vader weet dat julle al hierdie dinge nodig het” (Matteus 6:31, 32). Watter bemoedigende woorde tog! As ons ten volle op Jehovah vertrou, sal hy altyd daar wees om ons te ondersteun. Jesus se woorde gee ons egter ook stof tot nadenke. Dit herinner ons daaraan dat, as ons materiële dinge “gretig” najaag, ons denke soos dié van “die nasies” is, mense wat nie ware Christene is nie.
10. Hoe het Jesus, toe ’n jong man hom om raad gevra het, getoon waarvoor die jong man die liefste was?
10 By een geleentheid het ’n baie ryk jong man vir Jesus gevra wat hy moet doen om die ewige lewe te kry. Jesus het hom herinner aan die vereistes van die Wet, wat destyds nog van krag was. Die jong man het Jesus verseker: “Ek het dit alles nagekom; wat kom ek nog kort?” Jesus se antwoord het dalk vir baie onprakties geklink. Hy het gesê: “As jy volmaak wil wees, gaan verkoop jou besittings en gee vir die armes, en jy sal ’n skat in die hemel hê, en kom word my volgeling” (Matteus 19:16-21). Die jong man het bedroef weggegaan, want hy kon nie die gedagte aanvaar dat hy al sy rykdom moet prysgee nie. Ongeag hoe lief hy Jehovah gehad het, hy was liewer vir sy besittings.
11, 12. (a) Watter woorde van Jesus aangaande rykdom gee ons stof tot nadenke? (b) Hoe kan besittings ons verhinder om Jehovah te dien?
11 Daardie voorval het Jesus iets verbasends laat sê: “Dit [sal] vir ’n ryk man moeilik . . . wees om in die koninkryk van die hemele in te gaan. . . . Dit is makliker vir ’n kameel om deur die oog van ’n naald te gaan as vir ’n ryk man om in die koninkryk van God in te gaan” (Matteus 19:23, 24). Het Jesus bedoel dat geen ryk persoon die Koninkryk sal beërf nie? Nee, want hy het verder gesê: “By God is alles moontlik” (Matteus 19:25, 26). Ja, met Jehovah se hulp het party ryk mense wel destyds gesalfde Christene geword (1 Timoteus 6:17). Nogtans het Jesus daardie verbasende woorde met goeie rede geuiter. Dit was ’n waarskuwing.
12 As iemand verknog raak aan sy besittings, soos daardie ryk jong man, kan dit hom verhinder om Jehovah heelhartig te dien. Dit kan die geval wees met iemand wat reeds ryk is sowel as iemand wat “vasbeslote is om ryk te wees” (1 Timoteus 6:9, 10). Te veel vertroue in materiële dinge kan veroorsaak dat iemand minder ‘bewus is van sy geestelike behoefte’ (Matteus 5:3). Gevolglik sal hy dalk nie meer dieselfde behoefte aan Jehovah se ondersteuning voel nie (Deuteronomium 6:10-12). Hy sal moontlik spesiale behandeling in die gemeente begin verwag (Jakobus 2:1-4). En hy sal dalk die meeste van sy tyd gebruik om sy rykdom te geniet eerder as om Jehovah te dien.
Kweek die regte beskouing aan
13. Watter verkeerde beskouing het die Laodisense gehad?
13 Een groep wat ’n verkeerde beskouing van besittings gehad het, was die eerste-eeuse gemeente in Laodisea. Jesus het vir hulle gesê: “Jy sê: ‘Ek is ryk en het rykdom verwerf en het hoegenaamd niks nodig nie’, maar jy [weet nie] dat jy ellendig en bejammerenswaardig en arm en blind en naak is nie.” Dit was nie hulle rykdom wat die Laodisense in so ’n betreurenswaardige geestelike toestand laat verval het nie. Dit was die feit dat hulle eerder op rykdom vertrou het as op Jehovah. Gevolglik was hulle geestelik lou en sou hulle weldra uit Jesus se mond ‘uitgebraak word’.—Openbaring 3:14-17.
14. Waarom het die Hebreeuse Christene verdien om deur Paulus geprys te word?
14 Daarteenoor het Paulus die Hebreeuse Christene geprys vir hulle gesindheid toe hulle vroeër vervolg is. Hy het gesê: “Julle het simpatie betuig met dié in die gevangenis en ook die plundering van julle besittings met vreugde aanvaar in die wete dat julle ’n beter en ’n blywende besitting het” (Hebreërs 10:34). Hierdie Christene was nie verpletter omdat hulle hulle besittings verloor het nie. Hulle het hulle vreugde behou omdat hulle vasgehou het aan hulle kosbaarste besitting, hulle “beter en . . . blywende besitting”. Soos die koopman van Jesus se gelykenis wat alles vir een waardevolle pêrel opgeoffer het, was hulle vasbeslote om nie hulle greep op die Koninkrykshoop te verslap nie, ongeag die prys (Matteus 13:45, 46). Wat ’n goeie gesindheid!
15. Hoe het ’n Christenvrou in Liberië Koninkryksbelange eerste gestel?
15 Baie het vandag ook so ’n goeie gesindheid aangekweek. In Liberië is ’n jong Christenvrou byvoorbeeld die geleentheid gebied om aan die universiteit te studeer. In daardie land word so ’n aanbod beskou as ’n geleentheid om jou van ’n goeie toekoms te verseker. Sy was egter ’n pionier, ’n voltydse evangeliedienaar, en het ’n uitnodiging ontvang om as ’n tydelike spesiale pionier te dien. Sy het besluit om eers die Koninkryk te soek en in die voltydse diens te bly. Sy het na haar toewysing gegaan en binne drie maande 21 Bybelstudies begin. Hierdie jong suster en duisende soos sy soek eers die Koninkryk, selfs ten koste van moontlike materiële voordele. Hoe handhaaf hulle so ’n gesindheid in hierdie materialistiese wêreld? Hulle het etlike goeie eienskappe aangekweek. Kom ons bespreek ’n paar hiervan.
16, 17. (a) Waarom is beskeidenheid belangrik as ons op Jehovah wil vertrou? (b) Waarom moet ons vertroue in God se beloftes opbou?
16 Beskeidenheid: Die Bybel sê: “Vertrou op Jehovah met jou hele hart en moenie op jou eie begrip steun nie. Slaan ag op hom in al jou weë, en hy sal jou paaie reguit maak. Moenie wys word in jou eie oë nie” (Spreuke 3:5-7). Soms lyk ’n sekere weg dalk prakties uit ’n sekulêre oogpunt (Jeremia 17:9). Nogtans vertrou ’n opregte Christen op Jehovah se leiding (Psalm 48:14). Beskeidenheid laat hom Jehovah se raad soek ‘in al sy weë’—in gemeentelike sake, geleerdheid of sekulêre werk, ontspanning of enigiets anders.—Psalm 73:24.
17 Vertroue in Jehovah se beloftes: Paulus het gesê: “Hy wat tot God nader, moet glo dat hy is en dat hy die beloner word van dié wat hom ernstig soek” (Hebreërs 11:6). As ons twyfel of Jehovah sy beloftes gaan vervul, sal dit dalk logies lyk om ‘hierdie wêreld ten volle te gebruik’ (1 Korintiërs 7:31). As ons geloof daarenteen sterk is, sal ons vasbeslote wees om eers die Koninkryk te soek. Hoe kan sterk geloof opgebou word? Deur nader aan Jehovah te kom deur middel van volgehoue, hartgrondige gebed en gereelde persoonlike studie (Psalm 1:1-3; Filippense 4:6, 7; Jakobus 4:8). Ons kan soos koning Dawid bid: “In u het ek my vertroue gestel, o Jehovah. Ek het gesê: ‘U is my God.’ Hoe oorvloedig is u goedheid tog!”—Psalm 31:14, 19.
18, 19. (a) Hoe versterk vlytigheid ons vertroue in Jehovah? (b) Waarom moet ’n Christen bereid wees om opofferings te maak?
18 Ywer in Jehovah se diens: Paulus het vertroue in Jehovah se beloftes verbind met vlytigheid toe hy geskryf het: “Ons begeer dat elkeen van julle dieselfde vlytigheid aan die dag sal lê om tot die einde toe die volle versekerdheid van die hoop te hê” (Hebreërs 6:11). As ons besig is in Jehovah se diens, sal hy ons ondersteun. Elke keer wanneer ons daardie ondersteuning ondervind, word ons vertroue in hom sterker, ons word “standvastig, onbeweeglik” (1 Korintiërs 15:58). Ons geloof word vernuwe, en ons hoop word bevestig.—Efesiërs 3:16-19.
19 Bereidwilligheid om opofferings te maak: Paulus het ’n belowende loopbaan opgeoffer sodat hy Jesus kon volg. Hy het beslis die regte keuse gemaak, hoewel hy dit materieel soms moeilik gehad het (1 Korintiërs 4:11-13). Jehovah belowe nie ’n gerieflike lewe nie, en soms gaan sy knegte gebuk onder ontberinge. Ons bereidwilligheid om ons lewe te vereenvoudig en opofferings te maak, wys hoe vasbeslote ons is om Jehovah te dien.—1 Timoteus 6:6-8.
20. Waarom is geduld belangrik vir iemand wat Koninkryksbelange eerste stel?
20 Geduld: Die dissipel Jakobus het mede-Christene aangespoor: “Beoefen dan geduld, broers, tot die teenwoordigheid van die Here” (Jakobus 5:7). In hierdie gejaagde wêreld is dit moeilik om geduldig te wees. Ons wil hê dat dinge vinnig moet gebeur. Maar Paulus spoor ons aan om diegene na te volg wat “deur geloof en geduld die beloftes beërf” (Hebreërs 6:12). Wees gewillig om op Jehovah te wag. Ewige lewe op ’n paradysaarde—dit is sekerlik die moeite werd om daarvoor te wag!
21. (a) Wat toon ons wanneer ons Koninkryksbelange eerste stel? (b) Wat sal in die volgende artikel bespreek word?
21 Ja, Jesus se raad om eers die Koninkryk te soek, is prakties. Wanneer ons dit doen, toon ons dat ons werklik op Jehovah vertrou, en kies ons die enigste lewenswyse wat veilig is vir ’n Christen. Maar Jesus het ons ook vermaan om aan te hou om “eers . . . [God se] regverdigheid te soek”. In die volgende artikel sal ons sien waarom hierdie aanmoediging veral vandag nodig is.
Kan jy verduidelik?
• Watter balans het Jesus ons aangespoor om met betrekking tot materiële dinge te handhaaf?
• Wat leer ons uit Jesus se illustrasie van die kameel en die oog van die naald?
• Watter Christelike eienskappe help ons om eers God se Koninkryk te soek?
[Prent op bladsy 21]
Baie van dié wat Jesus se woorde gehoor het, was arm
[Prent op bladsy 23]
Die koopman in Jesus se gelykenis het alles opgeoffer vir een kosbare pêrel
[Prent op bladsy 23]
Die ryk jong man was liewer vir sy besittings as vir God
[Prent op bladsy 24]
As ons besig is in Jehovah se diens, sal hy ons ondersteun