Jy moet Jehovah nie vergeet nie
SOMMIGE in die groep het al voorheen iets soortgelyks gedoen. Maar vir die meeste was dit die eerste en enigste keer dat hulle oor die bodem van ’n watermassa sou loop sonder om nat te word. Jehovah het pas tevore die waters van die Jordaanrivier laat opdam. Nou het miljoene Israeliete in ’n lang, breë optog oor die rivierbedding geloop tot in die Beloofde Land. Soos hulle voorvaders 40 jaar vroeër by die Rooi See, het baie wat nou die Jordaan oorgesteek het, sekerlik gedink: ‘Ek sal nooit vergeet wat Jehovah hier gedoen het nie.’—Jos. 3:13-17.
Jehovah het egter geweet dat party Israeliete ‘gou sy werke sou vergeet’ (Ps. 106:13). Hy het dus Israel se leier, Josua, beveel om 12 klippe van die rivierbodem te neem en dit by hulle eerste kampplek neer te sit. Josua het verduidelik: “Hierdie klippe moet . . . as ’n gedenkteken vir die kinders van Israel dien” (Jos. 4:1-8). Hierdie gedenkteken van klippe sou die nasie aan Jehovah se magtige dade herinner en by hulle tuisbring waarom hulle hom altyd lojaal moet dien.
Is hierdie verslag vir God se hedendaagse volk van belang? Ja. Ons moet Jehovah ook nooit vergeet nie; ons moet aanhou om hom lojaal te dien. Ander waarskuwings aan die nasie Israel kan op Jehovah se hedendaagse knegte toegepas word. Dink aan Moses se woorde: “Let op jouself dat jy Jehovah jou God nie vergeet deur sy gebooie en sy regterlike beslissings en sy insettinge . . . nie te onderhou nie” (Deut. 8:11). Om Jehovah te vergeet, word hier met opsetlike ongehoorsaamheid verbind. Dit is ook in ons dag ’n wesenlike gevaar. In ’n brief aan Christene waarsku die apostel Paulus teen “dieselfde patroon van ongehoorsaamheid” wat die Israeliete in die wildernis geopenbaar het.—Heb. 4:8-11.
Kom ons bespreek ’n paar gebeure in Israel se geskiedenis wat sal benadruk dat ons God nie moet vergeet nie. Daarbenewens sal lesse uit die lewe van twee lojale Israelitiese mans ons help om Jehovah met volharding en dankbaarheid te dien.
Redes om Jehovah te onthou
Gedurende al die jare dat die Israeliete in Egipte was, het Jehovah hulle nooit vergeet nie. Hy “het aan sy verbond met Abraham, Isak en Jakob gedink” (Eks. 2:23, 24). Wat hy toe gedoen het om hulle uit slawerny te bevry, was waarlik onvergeetlik.
Jehovah het Egipte met nege plae getref. Farao se towerpriesters was magteloos om dit stop te sit. Nogtans het Farao Jehovah uitgetart deur te weier om die Israeliete te laat gaan (Eks. 7:14–10:29). Maar die gevolge van die tiende plaag het hierdie trotse heerser gedwing om hom aan God se wil te onderwerp (Eks. 11:1-10; 12:12). Met Moses as leier het die nasie Israel en ’n groot gemengde geselskap, moontlik altesaam 3 000 000 mense, Egipte verlaat (Eks. 12:37, 38). Hulle was skaars weg of Farao het van plan verander. Hy het sy strydwaens en ruiters—destyds die magtigste leër op aarde—beveel om sy gewese slawe weer gevange te neem. Intussen het Jehovah Moses aangesê om die Israeliete na ’n plek met die naam Pi-Hagirot te neem, wat tussen die Rooi See en ’n bergreeks geleë was en waar hulle oënskynlik vasgekeer was.—Eks. 14:1-9.
Farao het gedink dat die Israeliete hulle vasgeloop het, en sy leër was op die punt om hulle aan te val. Maar Jehovah het die Egiptenaars teruggehou deur ’n wolkkolom en ’n vuurkolom tussen hulle en die Israeliete te plaas. Toe het God die Rooi See verdeel en ’n deurgang deur die see gemaak met watermure aan weerskante wat dalk tot 15 meter hoog was. Israel het die see op droë grond begin oorsteek. Die Egiptenaars was spoedig by die oewer en het toegekyk hoe die Israeliete na die ander kant toe trek.—Eks. 13:21; 14:10-22.
’n Verstandiger leier sou die agtervolging gestaak het—maar nie Farao nie. Vol selfvertroue het hy sy strydwaens en ruiters in die seebedding laat afjaag. Die Egiptenaars het gery en gery. Maar voordat hulle die agterhoede van Israel kon inhaal, het hulle verwoede agtervolging tot ’n einde gekom. Die Egiptiese strydwaens kon nie meer beweeg nie! Jehovah het hulle wiele laat uitval.—Eks. 14:23-25; 15:9.
Terwyl die Egiptenaars met hulle stukkende strydwaens gesukkel het, het die hele Israel die oostelike oewer bereik. Moses het nou sy hand oor die Rooi See uitgesteek. Toe het Jehovah die watermure wat die deurgang gevorm het, laat neerstort. Miljoene tonne water het op Farao en sy krygsmanne afgekom en hulle laat verdrink. Nie een van daardie vyande het dit oorleef nie. Israel was vry!—Eks. 14:26-28; Ps. 136:13-15.
Nuus van hierdie gebeurtenis het omliggende nasies met ’n blywende gevoel van vrees gelaat (Eks. 15:14-16). Veertig jaar later het Ragab van Jerigo vir twee Israelitiese mans gesê: “Die skrik vir julle [het] op ons geval . . . , want ons het gehoor hoe Jehovah die waters van die Rooi See voor julle laat opdroog het toe julle uit Egipte uitgetrek het” (Jos. 2:9, 10). Nie eens daardie heidense nasies het vergeet hoe Jehovah sy volk verlos het nie. Israel het ongetwyfeld selfs nog meer rede gehad om hom te onthou.
Hy het hulle “bewaar soos die appel van sy oog”
Nadat Israel deur die Rooi See getrek het, het hulle die Sinaiwoestyn binnegegaan, ’n “groot en vreesinboesemende wildernis”. Terwyl hulle getrek het oor daardie “dorstige grond wat geen water”—en geen voedsel vir so ’n menigte—gehad het nie, was Jehovah se hand nie te kort nie. Moses het gesê: “[Jehovah] het [Israel] in ’n woeste land gevind, en in ’n leë, huilende woestyn. Hy het hom begin omring, vir hom gesorg, om hom te bewaar soos die appel van sy oog” (Deut. 8:15; 32:10). Hoe het God vir hulle gesorg?
Jehovah het hulle “brood uit die hemel” gegee, wat manna genoem is en wat wonderdadig “op die oppervlak van die wildernis” verskyn het (Eks. 16:4, 14, 15, 35). Jehovah het ook water “uit die vuurkliprots” laat vloei. Danksy God se seën het hulle mantels nie verslyt nie, en ook het hulle voete nie geswel gedurende die 40 jaar wat hulle in die wildernis deurgebring het nie (Deut. 8:4). Wat het Jehovah tereg van hulle verwag? Moses het vir Israel gesê: “Let op jouself en gee goed ag op jou siel, sodat jy nie die dinge vergeet wat jou oë gesien het nie en sodat dit al die dae van jou lewe nie uit jou hart wyk nie” (Deut. 4:9). As die Israeliete Jehovah se reddingsdade met dankbaarheid onthou het, sou hulle hom altyd dien en daarna streef om sy gebooie te gehoorsaam. Wat sou Israel doen?
Vergeetagtigheid lei tot ondankbaarheid
Moses het gesê: “Die Rots wat jou vader geword het, het jy vergeet, en jy het God uit jou gedagte laat gaan” (Deut. 32:18). Jehovah se dade by die Rooi See, sy voorsienings wat die nasie in die wildernis aan die lewe gehou het en al die ander goeie dinge wat Jehovah gedoen het, is gou geïgnoreer of vergeet. Die Israeliete het opstandig geword.
Op ’n stadium het die Israeliete Moses verwyt oor ’n vermeende gebrek aan water (Num. 20:2-5). Hulle het ook gekla oor die manna wat hulle aan die lewe gehou het: “Ons siel het ’n afsku gekry van die veragtelike brood” (Num. 21:5). Hulle het God se oordeel bevraagteken en Moses as leier verwerp deur te sê: “As ons maar in Egipteland gesterf het, of as ons maar in hierdie wildernis gesterf het! . . . Laat ons ’n hoof aanstel, en laat ons na Egipte terugkeer!”—Num. 14:2-4.
Hoe het Jehovah oor Israel se ongehoorsaamheid gevoel? ’n Psalmis het later met verwysing na hierdie gebeure geskryf: “Hoe dikwels het hulle in die wildernis teen hom in opstand gekom, het hulle hom in die woestyn gekrenk! En keer op keer het hulle God op die proef gestel, en hulle het die Heilige van Israel bedroef. Hulle het nie aan sy hand gedink nie, aan die dag toe hy hulle van die teenstander verlos het nie, hoe hy sy tekens in Egipte gestel het [nie]” (Ps. 78:40-43). Ja, Israel se vergeetagtigheid het Jehovah diep seergemaak.
Twee wat nie vergeet het nie
Party Israeliete het Jehovah egter nie vergeet nie. Twee van hulle was Josua en Kaleb. Hulle was deel van ’n groep van 12 manne wat van Kades-Barnea af uitgestuur is om die Beloofde Land te verken. Tien het ’n negatiewe berig gebring, maar Josua en Kaleb het vir die volk gesê: “Die land waardeur ons getrek het om dit te verken, is ’n baie, baie goeie land. As Jehovah behae in ons het, dan sal hy ons beslis in hierdie land bring en dit aan ons gee, ’n land wat oorloop van melk en heuning. Moet net nie teen Jehovah in opstand kom nie.” Toe die volk hierdie woorde hoor, wou hulle Josua en Kaleb stenig. Maar hulle twee het standvastig gebly, met vertroue in Jehovah.—Num. 14:6-10.
Jare later het Kaleb vir Josua gesê: “Moses, die kneg van Jehovah, [het] my van Kades-Barnea af uitgestuur . . . om die land te verken, en ek het gekom en vir hom berig gebring net soos dit in my hart was. En my broers wat saam met my opgetrek het, het die hart van die volk laat smelt; maar wat my betref, ek het Jehovah my God volkome gevolg” (Jos. 14:6-8). Met vertroue in God het Kaleb en Josua verskillende ontberinge verduur. Hulle was vasbeslote om Jehovah al die dae van hulle lewe te onthou.
Kaleb en Josua het ook dankbaarheid getoon, want hulle het besef dat Jehovah sy belofte van ’n vrugbare land vir sy volk vervul het. Ja, die Israeliete was hulle lewe aan hom verskuldig. Josua het geskryf: “Jehovah [het] aan Israel die hele land gegee wat hy met ’n eed beloof het om aan hulle voorvaders te gee . . . Geen belofte van al die goeie beloftes wat Jehovah aan die huis van Israel gemaak het, het onvervuld gebly nie; alles is bewaarheid” (Jos. 21:43, 45). Hoe kan ons vandag dankbaarheid soos dié van Kaleb en Josua toon?
Wees dankbaar
’n Godvrugtige man het eenkeer gevra: “Wat sal ek Jehovah vergoed vir al sy weldade aan my?” (Ps. 116:12). Ons is soveel aan God verskuldig vir sy materiële seëninge, sy geestelike leiding en sy middel tot toekomstige redding dat die ewigheid nie lank genoeg sal wees om hom terug te betaal nie. Trouens, ons kan Jehovah nooit terugbetaal nie. Maar dankbaarheid is iets wat ons almal kan toon.
Het Jehovah se raad jou gehelp om probleme te vermy? Het sy vergifnis jou gehelp om weer ’n skoon gewete te verkry? Die voordele van hierdie dade van God duur lank, en dit moet ook die geval wees met jou dankbaarheid teenoor hom. ’n Veertienjarige meisie met die naam Sandra het ernstige probleme gehad, maar het dit met Jehovah se hulp te bowe gekom. Sy sê: “Ek het tot Jehovah gebid om hulp, en die manier waarop hy sake bewerk het, het my beïndruk. Nou weet ek waarom my pa dikwels met my gepraat het oor Spreuke 3:5, 6: ‘Vertrou op Jehovah met jou hele hart en moenie op jou eie begrip steun nie. Slaan ag op hom in al jou weë, en hy sal jou paaie reguit maak.’ Ek is seker dat Jehovah my altyd sal help, net soos hy dit tot nou toe gedoen het.”
Toon dat jy Jehovah onthou deur te volhard
Die Bybel beklemtoon nog ’n eienskap wat daarmee verband hou om Jehovah te onthou: “Laat die volharding sy werk voltooi, sodat julle volkome en in alle opsigte sonder gebrek kan wees en in niks kortkom nie” (Jak. 1:4). Wat behels dit om “volkome en in alle opsigte sonder gebrek” te wees? Dit behels dat ons die eienskappe aankweek wat ons sal help om ons beproewinge te verduur met vertroue in Jehovah en met vasbeslotenheid om te volhard en om nie tou op te gooi nie. Hierdie soort volharding bring groot tevredenheid mee wanneer toetse van geloof tot ’n einde kom. En dit kom altyd tot ’n einde.—1 Kor. 10:13.
’n Broer wat Jehovah al lank dien en wat talle ernstige gesondheidsprobleme het, verduidelik wat hom help om te volhard: “Ek probeer dink aan wat Jehovah doen, nie aan wat ek wil doen nie. Onkreukbaarheid beteken dat ek my oë gerig hou op God se voornemens, nie op my begeertes nie. Wanneer ek voor probleme te staan kom, sê ek nie: ‘Jehovah, hoekom gebeur dit met my?’ nie. Ek hou eenvoudig aan om hom te dien en ek kleef hom aan selfs wanneer onverwagte probleme ontstaan.”
Vandag aanbid die Christengemeente Jehovah “met gees en waarheid” (Joh. 4:23, 24). As ’n groep sal ware Christene God nooit vergeet soos die nasie Israel gedoen het nie. Maar om deel van die gemeente te wees, is nie op sigself ’n waarborg dat ons ons onkreukbaarheid sal handhaaf nie. Soos Kaleb en Josua, moet elkeen van ons dankbaarheid en volharding in Jehovah se diens toon. Ons het goeie rede om dit te doen, want in hierdie moeilike tyd van die einde gaan Jehovah voort om ons as individue te lei en vir ons te sorg.
Soos die gedenkteken van klippe wat Josua opgerig het, verseker die verslag van God se reddingsdade ons dat hy sy volk nie sal verlaat nie. Mag jy dit dus eens wees met die psalmis wat geskryf het: “Ek sal aan die handelinge van Jah dink; want ek sal aan u wonderdade van lank gelede dink. En ek sal beslis oor al u dade peins, en u handelinge sal ek oordink.”—Ps. 77:11, 12.
[Prent op bladsy 7]
Die hele nasie moes oor “dorstige grond” trek
[Erkenning]
Pictorial Archive (Near Eastern History) Est.
[Prent op bladsy 8]
Terwyl Israel se kamp by Kades-Barnea was, is verkenners in die Beloofde Land ingestuur
[Erkenning]
Pictorial Archive (Near Eastern History) Est.
[Prent op bladsy 9]
Ná jare in die wildernis kon die Israeliete dankbaar wees vir die vrugbare Beloofde Land
[Erkenning]
Pictorial Archive (Near Eastern History) Est.
[Prent op bladsy 10]
As ons ons oë op Jehovah se voornemens gerig hou, help dit ons om enige uitdagings waarvoor ons te staan kom, te verduur