Streef vrede na
“Laat ons . . . die dinge nastreef wat vrede bevorder.”—ROM. 14:19.
1, 2. Waarom geniet Jehovah se Getuies vrede onder mekaar?
DIT is nie maklik om in vandag se wêreld ware vrede te vind nie. Selfs mense van dieselfde volksgroep en wat dieselfde taal praat, is dikwels verdeeld op godsdienstige, politieke en maatskaplike gebied. In teenstelling hiermee is Jehovah se volk verenig, ten spyte van die feit dat hulle uit “alle nasies en stamme en volke en tale” kom.—Op. 7:9.
2 Die vreedsame toestande wat gewoonlik onder ons heers, is glad nie toevallig nie. Dit bestaan hoofsaaklik omdat ons “vrede geniet met God” deur ons geloof in sy Seun, wie se vergote bloed ons sondes bedek (Rom. 5:1; Ef. 1:7). Daarbenewens gee die ware God heilige gees aan sy lojale knegte, en die vrug van daardie gees sluit vrede in (Gal. 5:22). Nog ’n rede vir ons vreedsame eenheid is dat ons “geen deel van die wêreld is nie” (Joh. 15:19). Ons kies nie kant in politieke geskille nie, maar bly neutraal. Aangesien ons ‘van ons swaarde ploegskare gesmee het’, raak ons nie betrokke in burgeroorloë of internasionale oorloë nie.—Jes. 2:4.
3. Wat word moontlik gemaak deur die vrede wat ons kan geniet, en wat sal in hierdie artikel bespreek word?
3 Die vrede wat ons met mekaar kan geniet, gaan verder as om ons net daarvan te weerhou om ons broers leed aan te doen. Al bestaan die gemeente van Jehovah se Getuies waaraan ons behoort, uit mense van verskillende etniese groepe en kulture, ‘het ons mekaar lief’ (Joh. 15:17). Ons vrede laat ons toe om “aan almal goed [te] doen, maar veral aan dié wat in die geloof aan ons verwant is” (Gal. 6:10). Ons vreedsame geestelike paradys is iets wat waardeer en beskerm moet word. Kom ons ondersoek dan nou hoe ons vrede in die gemeente kan nastreef.
Wanneer ons struikel
4. Wat kan ons doen om vrede na te streef wanneer ons iemand aanstoot gegee het?
4 “Ons almal struikel dikwels”, het die dissipel Jakobus geskryf. “As iemand in woord nie struikel nie, is hy ’n volmaakte man” (Jak. 3:2). Gevolglik is dit onvermydelik dat verskille en misverstande tussen medegelowiges sal ontstaan (Fil. 4:2, 3). Maar probleme tussen individue kan opgelos word sonder om die vrede van die gemeente te versteur. Dink byvoorbeeld aan die raad wat ons moet toepas as ons besef dat ons iemand moontlik aanstoot gegee het.—Lees Matteus 5:23, 24.
5. Hoe kan ons vrede nastreef wanneer ons ’n onreg aangedoen is?
5 Sê nou iemand het ons ’n geringe onreg aangedoen? Moet ons van hierdie persoon verwag om ons om verskoning te kom vra? “[Die liefde] hou nie boek van die kwaad nie”, sê 1 Korintiërs 13:5. Wanneer ons te na gekom is, streef ons vrede na deur te vergewe en te vergeet, dit wil sê deur ‘nie boek te hou van die kwaad nie’. (Lees Kolossense 3:13.) Dit is die beste om geringe oortredings in die daaglikse lewe so te hanteer, want dit dra by tot ’n vreedsame verhouding met medeaanbidders en gee ons gemoedsrus. ’n Wyse spreuk sê: “Dit is mooi . . . om die oortreding oor te sien.”—Spr. 19:11.
6. Wat moet ons doen as dit vir ons te moeilik is om ’n onreg wat ons aangedoen is, oor te sien?
6 Sê nou ons voel dat dit vir ons te moeilik is om die een of ander onreg oor te sien? Om dit oor te vertel aan enigeen wat wil luister, is beslis nie die wyse weg nie. Sulke skinderpraatjies versteur net die vrede van die gemeente. Wat moet gedoen word om die saak vreedsaam op te los? Matteus 18:15 sê: “As jou broer ’n sonde begaan, gaan lê sy fout tussen jou en hom alleen bloot. As hy na jou luister, het jy jou broer gewen.” Al is Matteus 18:15-17 van toepassing op ernstige sondes, moet ons in die gees van die beginsel wat in vers 15 genoem word, die oortreder privaat en liefdevol nader en ’n vreedsame verhouding met hom probeer herstel.a
7. Waarom moet ons geskille gou oplos?
7 Die apostel Paulus het geskryf: “Wees toornig, en moet nogtans nie sondig nie; laat die son nie ondergaan terwyl julle in ’n ergerlike gemoedstemming is nie, en moet ook nie plek toelaat vir die Duiwel nie” (Ef. 4:26, 27). “Wees gou om sake te skik met die een wat jou by die gereg aankla”, het Jesus gesê (Matt. 5:25). Om vrede na te streef, vereis dus dat probleme gou uitgestryk word. Waarom? Omdat dit voorkom dat verskille vererger soos ’n ontsteekte wond wat nie behandel word nie. Mag ons nooit toelaat dat trots, jaloesie of om te veel waarde aan materiële dinge te heg, ons daarvan weerhou om geskille op te los kort nadat dit ontstaan nie.—Jak. 4:1-6.
Wanneer baie deur ’n geskil geraak word
8, 9. (a) Watter verskille in sienswyse het in die eerste-eeuse gemeente in Rome bestaan? (b) Watter raad het Paulus aan Christene in Rome gegee in verband met hulle geskil?
8 Soms word meer as net twee mense deur ’n geskil in die gemeente geraak. Dit was die geval met Christene in Rome aan wie die apostel Paulus ’n geïnspireerde brief geskryf het. Daar was ’n geskil tussen Joodse en nie-Joodse Christene. Sekere mense in daardie gemeente het blykbaar neergesien op dié wie se gewete swak, of te beperkend, was. Hulle het ander verkeerdelik geoordeel in suiwer persoonlike kwessies. Watter raad het Paulus aan die gemeente gegee?—Rom. 14:1-6.
9 Paulus het raad gegee aan individue aan albei kante van die geskil. Hy het vir diegene wat verstaan het dat hulle nie onder die Mosaïese Wet is nie, gesê dat hulle nie op hulle broers moet neersien nie (Rom. 14:2, 10). So ’n gesindheid kon gelowiges laat struikel het vir wie dit nog steeds afstootlik was om dinge te eet wat die Wet nie toegelaat het nie. “Hou op om die werk van God bloot ter wille van voedsel af te breek”, het Paulus hulle vermaan. “Dit is goed om nie vleis te eet of wyn te drink of enigiets te doen waaroor jou broer struikel nie” (Rom. 14:14, 15, 20, 21). Aan die ander kant het Paulus Christene wie se gewete hulle minder toegelaat het, vermaan om ander met ’n breër beskouing nie as ontrou te oordeel nie (Rom. 14:13). Hy het gesê dat ‘elkeen daar onder hulle nie meer van homself moet dink as wat dit nodig is om te dink nie’ (Rom. 12:3). Nadat Paulus aan albei kante van hierdie geskil raad gegee het, het hy geskryf: “Laat ons dan die dinge nastreef wat vrede bevorder en die dinge wat vir mekaar opbouend is.”—Rom. 14:19.
10. Wat is vandag nodig om geskille op te los, soos in die geval van die eerste-eeuse gemeente in Rome?
10 Ons kan seker wees dat die gemeente in Rome gunstig gereageer het op Paulus se raad en dat hulle die nodige aanpassings gemaak het. Wanneer daar vandag geskille tussen Christene ontstaan, moet ons dit nie ook goedgunstiglik oplos deur nederig na skriftuurlike raad te soek en dit toe te pas nie? Soos in die geval van die Romeine, sal mense aan albei kante van die geskil vandag dalk aanpassings moet maak om “vrede onder mekaar [te] bewaar”.—Mark. 9:50.
Wanneer jy gevra word om te help
11. Waarvoor moet ’n ouer man versigtig wees as ’n Christen met hom wil praat oor ’n geskil met ’n medegelowige?
11 Sê nou ’n Christen wil met ’n ouer man praat oor ’n probleem wat hy of sy met ’n gesinslid of ’n medegelowige ondervind? Spreuke 21:13 sê: “Wat iemand betref wat sy oor toestop vir die klaaggeroep van die geringe, hy sal self ook roep en nie geantwoord word nie.” ’n Ouer man sal beslis nie “sy oor toestop” nie. Maar ’n ander spreuk waarsku: “Dit lyk asof die eerste een wat sy saak stel, reg is, totdat sy opponent kom en hom ondervra” (Spr. 18:17, New English Translation). ’n Ouer man moet vriendelik luister, maar hy moet sorg dat hy nie kant kies vir die een wat kom kla het nie. Nadat hy na die saak geluister het, sal hy waarskynlik vra of die een wat te na gekom is, gepraat het met die persoon wat die probleem veroorsaak het. Die ouer man kan ook skriftuurlike stappe bespreek wat die gekrenkte persoon kan doen om vrede na te streef.
12. Gee voorbeelde wat toon hoe gevaarlik dit is om oorhaastig op te tree nadat ’n mens na ’n klagte geluister het.
12 Drie Bybelse voorbeelde onderstreep hoe gevaarlik dit is om oorhaastig op te tree nadat ’n mens net een kant van ’n geskil aangehoor het. Potifar het sy vrou se storie dat Josef haar probeer verkrag het, geglo. As gevolg van sy ongegronde woede het Potifar Josef in die tronk laat gooi (Gen. 39:19, 20). Koning Dawid het Siba geglo, wat gesê het dat sy heer, Mefiboset, hom by Dawid se vyande geskaar het. “Kyk! Alles wat aan Mefiboset behoort, is joune”, het Dawid oorhaastig geantwoord (2 Sam. 16:4; 19:25-27). Daar is vir koning Artasasta vertel dat die Jode Jerusalem se mure herbou en dat hulle op die punt staan om teen die Persiese Ryk in opstand te kom. Die koning het die valse berig geglo en beveel dat alle werk om Jerusalem te herbou, gestaak moet word. Gevolglik het die Jode opgehou om aan God se tempel te werk (Esra 4:11-13, 23, 24). Dit is verstandig van Christen- ouer manne om Paulus se raad aan Timoteus te volg om nie te gou te oordeel nie.—Lees 1 Timoteus 5:21.
13, 14. (a) Watter beperkings het ons almal ten opsigte van die geskille van ander? (b) Watter hulp het ouer manne om sake in verband met medegelowiges reg te oordeel?
13 Selfs wanneer dit lyk asof albei kante van ’n geskil bekend geword het, is dit belangrik om te besef dat “as iemand dink dat hy kennis van iets verwerf het, ken hy dit nog nie soos hy dit behoort te ken nie” (1 Kor. 8:2). Ken ons werklik al die besonderhede wat tot die geskil aanleiding gegee het? Verstaan ons die agtergrond van die betrokkenes ten volle? Hoe noodsaaklik is dit tog dat ouer manne nie om die bos gelei word deur onwaarhede, slinkse taktieke of gerugte wanneer hulle gevra word om te oordeel nie! God se aangestelde Regter, Jesus Christus, oordeel regverdig. Hy ‘oordeel nie net volgens wat sy oë sien nie, en wys ook nie tereg net volgens wat sy ore hoor nie’ (Jes. 11:3, 4). Jesus word eerder deur Jehovah se gees gerig. So ook vind Christen- ouer manne baat by die leiding van God se heilige gees.
14 Voordat ouer manne sake in verband met medegelowiges oordeel, moet hulle bid vir die hulp van Jehovah se gees en op die leiding daarvan steun deur God se Woord en die publikasies van die “getroue en verstandige slaaf”-klas te raadpleeg.—Matt. 24:45.
Vrede tot elke prys?
15. Wanneer moet ons ’n ernstige sonde waarvan ons bewus geword het, aanmeld?
15 Ons word as Christene vermaan om vrede na te streef. Maar die Bybel sê ook: “Die wysheid van bo is allereers kuis, dan vredeliewend” (Jak. 3:17). Vredeliewendheid is ondergeskik aan kuisheid, dit wil sê om God se rein sedelike standaarde te handhaaf en aan sy regverdige vereistes te voldoen. As ’n Christen daarvan bewus word dat ’n medegelowige ’n ernstige sonde gepleeg het, moet hy hom aanspoor om die sonde aan die ouer manne te bely (1 Kor. 6:9, 10; Jak. 5:14-16). As die oortreder dit nie doen nie, moet die Christen wat van die sonde te hore gekom het, dit aanmeld. As iemand nalaat om dit te doen in ’n misplaaste poging om die vrede met die oortreder te bewaar, sal hy medepligtig wees aan die oortreding.—Lev. 5:1; lees Spreuke 29:24.
16. Wat kan ons uit Jehu se ontmoeting met koning Joram leer?
16 ’n Verslag in verband met Jehu toon dat God se regverdigheid voorrang geniet bo vredeliewendheid. God het Jehu gestuur om Sy oordeel aan die huis van koning Agab te voltrek. Die goddelose koning Joram, die seun van Agab en Isebel, het in sy strydwa gery om Jehu te ontmoet en het gesê: “Is dit vrede, Jehu?” Hoe het Jehu gereageer? Hy het gesê: “Hoe kan daar vrede wees solank die hoererye van jou moeder Isebel en haar baie towerye nog daar is?” (2 Kon. 9:22). Daarop het Jehu sy boog gespan en Joram deur die hart geskiet. Net soos Jehu daadwerklik opgetree het, moet ouer manne nie te toegeeflik wees teenoor moedswillige, onberouvolle beoefenaars van sonde om die vrede te bewaar nie. Hulle sit onberouvolle sondaars uit sodat die gemeente steeds vrede met God kan geniet.—1 Kor. 5:1, 2, 11-13.
17. Watter rol speel alle Christene daarin om vrede na te streef?
17 Die meeste geskille tussen broers het nie te doen met ernstige oortredings wat regterlike optrede vereis nie. Hoe goed is dit dus tog om liefdevol die foute van ander te bedek. “Wie die oortreding bedek, soek liefde,” sê God se Woord, “en hy wat oor ’n saak bly praat, skei dié wat vertroulik met mekaar omgaan” (Spr. 17:9). As ons aan hierdie woorde gehoor gee, sal dit ons almal help om vrede in die gemeente te bewaar en ’n goeie verhouding met Jehovah te behou.—Matt. 6:14, 15.
Om vrede na te streef, bring seëninge mee
18, 19. Watter voordele bring dit mee wanneer ons vrede nastreef?
18 As ons “die dinge nastreef wat vrede bevorder”, bring dit vir ons ryk seëninge mee. Ons geniet ’n hegte persoonlike verhouding met Jehovah wanneer ons sy weë volg, en ons dra by tot die vreedsame eenheid van ons geestelike paradys. As ons vrede in die gemeente nastreef, help dit ons ook om maniere te identifiseer waarop ons vrede kan nastreef met dié aan wie ons “die goeie nuus van vrede” verkondig (Ef. 6:15). Ons is beter voorbereid ‘om teer te wees teenoor almal en ons onder die kwaad in bedwang te hou’.—2 Tim. 2:24.
19 Onthou ook dat daar “’n opstanding van die regverdiges sowel as die onregverdiges sal wees” (Hand. 24:15). Wanneer hierdie hoop hier op die aarde verwesenlik word, sal miljoene mense met verskillende agtergronde, geaardhede en persoonlikhede opgewek word—selfs uit tye vanaf “die grondlegging van die wêreld”! (Luk. 11:50, 51). Om verresenes die weë van vrede te leer, sal inderdaad ’n groot voorreg wees. Van watter ontsaglike nut sal die opleiding wat ons nou as vredemakers ontvang, dan tog vir ons wees!
[Voetnoot]
a Vir skriftuurlike riglyne oor hoe om ernstige sondes soos laster en bedrog te hanteer, sien Die Wagtoring, 15 Oktober 1999, bladsye 17-22.
Wat het jy geleer?
• Hoe kan ons vrede nastreef as ons iemand te na gekom het?
• Wat moet gedoen word om vrede na te streef as ons te na gekom is?
• Waarom is dit nie verstandig om kant te kies in die geskille van ander nie?
• Verduidelik waarom vrede nie tot elke prys nagestreef moet word nie.
[Prente op bladsy 29]
Jehovah is lief vir dié wat ander vryelik vergewe