‘Streef die dinge na wat vrede bevorder’
’N PAS geteerde pad lyk solied, asof niks dit kan beskadig nie. Maar mettertyd kan daar krake en slaggate verskyn. Herstelwerk is nodig om veiligheid te verseker en die pad in stand te hou.
Net so kan ons verhoudings met ander soms gespanne raak en kan dit selfs krake ontwikkel. Die apostel Paulus het erken dat daar verskillende sienswyses onder Christene in Rome was. Hy het mede-Christene gemaan: “Laat ons dan die dinge nastreef wat vrede bevorder en die dinge wat vir mekaar opbouend is” (Rom. 14:13, 19). Waarom moet ons “die dinge nastreef wat vrede bevorder”? Hoe kan ons vrede moedig en met welslae nastreef?
Waarom vrede nastreef?
As niks omtrent krakies in die teer gedoen word nie, kan dit gevaarlike slaggate word. As persoonlike geskille nie opgelos word nie, kan dit net so rampspoedig wees. Die apostel Johannes het geskryf: “As iemand die bewering maak: ‘Ek het God lief’, en tog sy broer haat, is hy ’n leuenaar. Want hy wat sy broer, wat hy gesien het, nie liefhet nie, kan God nie liefhê, wat hy nie gesien het nie” (1 Joh. 4:20). ’n Onopgeloste persoonlike geskil kan uiteindelik veroorsaak dat ’n Christen sy broer haat.
Jesus Christus het getoon dat ons aanbidding vir Jehovah onaanneemlik is as ons nie met ander vrede gemaak het nie. Jesus het sy dissipels beveel: “As jy dan jou gawe na die altaar bring en jy daar onthou dat jou broer iets teen jou het, laat staan jou gawe daar voor die altaar en gaan weg; maak eers vrede met jou broer en offer dan, wanneer jy teruggekom het, jou gawe” (Matt. 5:23, 24). Ja, ’n vername rede waarom ons vrede nastreef, is omdat ons Jehovah God wil behaag.a
’n Situasie in die gemeente in Filippi dui op nog ’n rede om vrede na te streef. ’n Ongenoemde probleem tussen twee Christensusters, Euodia en Sintige, het blykbaar die vrede van die hele gemeente bedreig (Fil. 4:2, 3). Onopgeloste persoonlike geskille kan gou algemeen bekend word. ’n Begeerte om die liefde en eenheid van die gemeente te bewaar, beweeg ons om vrede met medegelowiges na te streef.
“Gelukkig is die vredemakers”, het Jesus gesê (Matt. 5:9, vtn. in NW). Om vrede na te streef, bring vreugdevolle tevredenheid mee. Daarbenewens bevorder vrede goeie gesondheid, want “’n kalm hart is die lewe van die vlees” (Spr. 14:30). Maar as ons ’n wrok koester, vergroot dit die kanse dat ons fisies siek sal word.
Hoewel die meeste Christene saamstem dat dit nodig is om vrede na te streef, wonder jy dalk hoe ’n mens ’n persoonlike geskil kan oplos. Kom ons ondersoek skriftuurlike beginsels wat ons kan rig.
’n Kalm bespreking herstel vrede
Krakies in die teer kan dikwels herstel word deur die beskadigde deel met nog ’n laag teer te bedek. Is dit vir ons moontlik om die geringe tekortkominge van ons broers te vergewe en te bedek? Hierdie benadering sal waarskynlik help om die meeste persoonlike geskille uit die weg te ruim, want die apostel Petrus het geskryf: “Die liefde bedek ’n menigte sondes.”—1 Pet. 4:8.
Soms lyk ’n probleem egter so ernstig dat ons dit eenvoudig nie oor die hoof kan sien nie. Kyk na wat met die Israeliete gebeur het kort nadat hulle die Beloofde Land in besit geneem het. Voordat “die kinders van Ruben en die kinders van Gad en die halwe stam van Manasse” die Jordaanrivier oorgesteek het, het hulle “’n baie opvallende altaar” gebou. Die ander stamme van Israel het gemeen dat die altaar vir afgodsaanbidding gebruik word en kon die probleem nie net ignoreer nie. Hulle het hulle gereedgemaak vir militêre optrede.—Jos. 22:9-12.
Party Israeliete het dalk gevoel dat daar reeds voldoende bewyse van oortreding is en dat ’n verrassingsaanval minder sterftes tot gevolg sou hê. Die stamme wes van die Jordaan het egter nie oorhaastig opgetree nie, maar het eerder afgevaardigdes gestuur om die probleem met hulle broers te bespreek. Hulle het gevra: “Wat is hierdie daad van ontrouheid wat julle teen die God van Israel gepleeg het, dat julle julle vandag daarvan afkeer om Jehovah te volg?” Eintlik het die stamme wat die altaar gebou het, nie ontrou gehandel nie. Maar hoe sou hulle op so ’n aantyging reageer? Sou hulle teen hulle beskuldigers uitvaar of weier om met hulle te praat? Die beskuldigde stamme het kalm geantwoord en duidelik gesê dat die rede vir hulle dade in werklikheid hulle begeerte was om Jehovah te dien. Hulle reaksie het hulle verhouding met God bewaar en hulle lewens gered. ’n Kalm bespreking het die saak opgelos en vrede herstel.—Jos. 22:13-34.
Voordat hulle tot ernstige optrede oorgegaan het, het die ander Israeliete wyslik hulle probleem met die stamme Ruben en Gad en die halwe stam van Manasse bespreek. “Moenie haastig wees in jou gees om aanstoot te neem nie”, sê God se Woord, “want om aanstoot te neem, rus in die boesem van die sotte” (Pred. 7:9). Die skriftuurlike manier om ernstige persoonlike geskille te hanteer, is om dit kalm en openhartig te bespreek. Kan ons werklik Jehovah se seën verwag as ons ’n wrok koester en versuim om na die persoon toe te gaan wat ons voel ons te na gekom het?
Maar sê nou ’n mede-Christen konfronteer ons oor ’n probleem en beskuldig ons dalk selfs valslik? “’n Sagte antwoord keer woede af”, sê die Bybel (Spr. 15:1). Die Israelitiese stamme wat aanstoot gegee het, het hulle standpunt kalm dog duidelik uiteengesit en sodoende ’n emosiebelaaide situasie ontlont. Hetsy ons die inisiatief neem om na ons broer toe te gaan of hy met ons kom praat oor ’n probleem, ons kan ons gerus afvra: ‘Watter woorde, stemtoon en houding sal heel waarskynlik vrede bevorder?’
Gebruik die tong wyslik
Jehovah verstaan dat dit vir ons nodig is om te praat oor die dinge wat ons kwel. Maar as ons versuim om ’n persoonlike geskil op te los, sal ons waarskynlik in die versoeking kom om met iemand anders daaroor te praat. ’n Wrok kan maklik tot kritiese aanmerkings lei. Spreuke 11:11 sê oor die verkeerde gebruik van die tong: “Weens die mond van die goddeloses word [’n stad] afgebreek.” Net so kan onbedagte praatjies oor ’n mede-Christen die vrede van ’n stadagtige gemeente versteur.
Maar om vrede na te streef, beteken nie dat ons glad nie oor ons broers en susters mag praat nie. Die apostel Paulus het medegelowiges gemaan: “Moet nooit bose praatjies uit julle mond laat kom nie.” Maar hy het bygevoeg: “Sê net die goeie dinge wat mense moet hoor, dinge wat hulle werklik sal help. . . . Wees goedhartig teenoor mekaar, betoon medelye en vergewe mekaar” (Ef. 4:29-32, The New American Bible). Gestel ’n broer wat aanstoot geneem het aan iets wat jy gesê of gedoen het, kom na jou toe om daaroor te praat. Sou dit nie makliker wees om verskoning te vra en vrede te maak as hy voorheen vir ander goeie dinge oor jou gesê het nie? As dit ons gewoonte is om opbouende dinge van mede-Christene te sê, sal dit dus vir ons makliker wees om die vrede te herstel wanneer geskille ontstaan.—Luk. 6:31.
Dien God “skouer aan skouer”
As mense het ons die sondige neiging om ons te onttrek aan diegene wat ons te na gekom het en om ons af te sonder. Maar dit is nie wys nie (Spr. 18:1). As ’n verenigde volk wat Jehovah se naam aanroep, is ons vasbeslote “om hom skouer aan skouer te dien”.—Sef. 3:9.
Wanneer ander verkeerde dinge sê of doen, moet ons nie toelaat dat dit ons ywer vir ware aanbidding laat afneem nie. Net ’n paar dae voordat Jesus se offerande die offers by die tempel vervang het en kort nadat Jesus die skrifgeleerdes ronduit veroordeel het, het hy ’n arm weduwee gesien wat “al die middele vir lewensonderhoud . . . wat sy gehad het”, in een van die tempel se skatkiste gegooi het. Het Jesus haar probeer keer? Nee, hy het eerder goed gepraat van haar lojale ondersteuning van Jehovah se destydse gemeente (Luk. 21:1-4). Die onregverdige dade van ander het haar nie onthef van haar verpligting om Jehovah se aanbidding te ondersteun nie.
Hoe sal ons reageer as ons voel dat ’n Christenbroer of -suster verkeerd, selfs onregverdig, opgetree het? Sal ons toelaat dat dit ons heelhartige diens aan Jehovah beïnvloed? Of sal ons moedig optree om enige persoonlike geskille uit die weg te ruim ten einde die kosbare vrede van God se hedendaagse gemeente te bewaar?
Die Skrif maan ons: “Wees, indien moontlik, sover dit van julle afhang, vreedsaam teenoor alle mense” (Rom. 12:18). Mag ons vasbeslote wees om dit te doen en so veilig op die pad na die lewe te bly.
[Voetnoot]
a Vir ’n bespreking van Jesus se raad in Matteus 18:15-17, sien Die Wagtoring van 15 Oktober 1999, bladsye 17-22.
[Prent op bladsy 17]
Euodia en Sintige moes vrede nastreef
[Prent op bladsy 18]
Watter woorde, stemtoon en houding sal heel waarskynlik vrede bevorder?