Beperk dit jou predikingswerk?
1 Die meeste mense lei ’n besige lewe. Jehovah se Getuies is van die besigste mense wat daar is—ons bestudeer God se Woord, woon gemeentelike vergaderinge by en doen velddiens. Daarbenewens doen ons sekulêre werk, huiswerk of skoolwerk en sien ons om na baie ander verantwoordelikhede, wat alles tyd neem. Dit is veral ’n uitdaging vir gesinshoofde.
2 Weens ongunstige ekonomiese toestande op verskillende plekke moet gesinshoofde dalk lank en hard werk om ’n bestaan te maak. Wanneer veeleisende sekulêre werk hulle uitput en die meeste van hulle tyd in beslag neem, het hulle min tyd en energie oor vir die predikingswerk. Aangesien hulle ’n verpligting het om materieel vir hulle gesin te sorg, voel party dalk dat hulle net ’n beperkte aandeel aan die bediening kan hê (1 Tim. 5:8). Dit plaas weliswaar vandag baie druk op ’n mens om lewensnoodsaaklikhede te verkry. Maar ’n mens se sekulêre werk hoef nie inbreuk te maak op jou aandeel aan die verkondiging van die goeie nuus nie (Mark. 13:10). Dit sal derhalwe goed wees as ons kyk na wat ons situasie werklik is.
3 Omdat die wêreldtoneel gedurig aan die verander is, kan ’n gesinshoof geneig wees om uitermate baie tyd by die werk deur te bring om ekstra geld vir onvoorsiene krisisse bymekaar te maak (1 Kor. 7:31). Sal meer sekulêre werk, wat dalk ekstra materiële dinge of bykomende geleenthede vir ontspanning en vermaak moontlik sal maak, die gesin gelukkiger en meer vergenoeg maak as dit tyd in beslag neem wat vir geestelike strewes en gereelde vergaderingbywoning gebruik behoort te word? Ons wil beslis enigiets vermy wat ons geestelikheid in gevaar sal stel. Die verstandige weg is om ag te slaan op Jesus se raad om ‘skatte in die hemel op te gaar’ en om ‘ryk teenoor God te wees’.—Matt. 6:19-21; Luk. 12:15-21.
4 Soek eers Koninkryksbelange: Jesus het sy volgelinge geleer om geestelike belange voor alle ander dinge te stel. Hy het hulle aangespoor: “Moet . . . nooit besorg wees en sê: ‘Wat gaan ons eet?’ of: ‘Wat gaan ons drink?’ of: ‘Wat gaan ons aantrek?’ nie.” Waarom sou hy dit sê? Hy het verduidelik: “Want julle hemelse Vader weet dat julle al hierdie dinge nodig het.” As ons waarlik daarvan oortuig is, sal daar niks wees wat ons sal keer om te doen wat Jesus daarna gesê het nie: “Hou dan aan om eers die koninkryk en sy regverdigheid te soek, en al hierdie [noodsaaklike materiële] dinge sal vir julle bygevoeg word.” God sal daarvoor sorg! (Matt. 6:31-33). Dit is beslis nie nou die tyd om ons aandag te laat aflei deur oormatige besorgdheid oor hoe om ’n bestaan te maak of deur ’n begeerte om dit gerieflik te hê in ’n stelsel van dinge wat binnekort sal verbygaan nie.—1 Pet. 5:7; 1 Joh. 2:15-17.
5 Die hoofdoel van sekulêre werk is om in ’n mens se materiële behoeftes te voorsien. Maar hoeveel het ons nodig? Die apostel Paulus het geskryf: “As ons . . . voedsel, klere en onderdak het, sal ons met hierdie dinge tevrede wees.” Probeer ons meer as dit verkry? Dan pluk ons dalk die vrugte waarteen Paulus gewaarsku het: “Dié wat . . . vasbeslote is om ryk te wees, val in versoeking en ’n strik en talle sinnelose en skadelike begeertes, wat mense in vernietiging en verderf stort” (1 Tim. 6:8, 9; Matt. 6:24; Luk. 14:33). Hoe weet ons of ’n begeerte na onnodige dinge ons predikingswerk beperk?
6 As ons weens ons sekulêre strewes min velddiens doen of nie besef dat dit belangrik is om opofferinge ter wille van die goeie nuus te maak nie, dan moet ons ons prioriteite verander (Heb. 13:15, 16). ’n Meer beskeie lewenswyse sal baie help sodat ons werk nie inbreuk maak op ons predikingswerk nie. Koninkryksbelange moet altyd die belangrikste oorweging wees wanneer ons besluit hoe ons ons tyd en energie gaan gebruik.
7 Die arbeid wat nie tevergeefs is nie: Paulus se woorde moedig ons aan om altyd ‘volop te hê om in die werk van die Here te doen, in die wete dat ons arbeid nie tevergeefs is in verband met die Here nie’ (1 Kor. 15:58). Die vernaamste “werk van die Here” is die Koninkrykspredikings- en dissipelmaakwerk (Matt. 24:14; 28:19, 20). As ons soveel as moontlik in daardie werk wil doen, moet ons elke week tyd vir velddiens opsy sit en probeer om nie daardie tyd vir enigiets anders te gebruik nie (Ef. 5:15-17). Dan sal sekulêre werk of enigiets anders nie inbreuk maak op ons bediening nie.
8 Wanneer ons van onsself gee om Bybelwaarhede aan ander te leer, ervaar ons die groter geluk wat dit verskaf wanneer ’n mens gee (Hand. 20:35). As ons die Koninkrykspredikingswerk doen, kan ons vol vertroue na die toekoms uitsien, “want God is nie onregverdig sodat hy [ons] werk sal vergeet en die liefde wat [ons] vir sy naam getoon het . . . nie”.—Heb. 6:10.