Hulle het hulle gewillig aangebied – In Guyana
“Woorde kan nie beskryf hoe gelukkig dit my gemaak het om te dien waar daar hulp nodig is nie!” Dit is hoe Joshua voel, wat in die Verenigde State woon maar ’n ruk lank in Guyana gedien het. Baie Getuies wat al in hierdie Suid-Amerikaanse land gedien het waar baie mense oor Jehovah wil leer, voel soos Joshua.a Watter praktiese lesse kan ons by hulle leer? Hoe kan dit jou help om voor te berei om in ’n ander land te gaan dien, as dit jou begeerte is?
Hoekom wou hulle gaan?
Voordat broer Linel Guyana toe getrek het, het hy velddiens gaan doen in ’n gebied wat min gewerk word in sy geboorteland, die Verenigde State. Hy sê: “Ons was ’n groep van 20 wat toegewys is na ’n plattelandse gebied in Wes-Virginië. Die velddiens en die assosiasie wat ek gedurende daardie twee weke geniet het, het my lewe verander! Ek was toe nog meer vasbeslote as ooit tevore om meer vir Jehovah te doen.”
’n Getroude paartjie Garth en Erica het ernstig begin dink om in ’n ander land te gaan dien, en hulle het toe Guyana gekies. Hoekom? Erica verduidelik: “Ek en my man het ’n paartjie geken wat soontoe getrek het. Hulle opgewondenheid en liefde vir wat hulle doen, het ons gemotiveer om ook soontoe te trek.” Erica en Garth het drie gelukkige jare spandeer in wat hulle as ’n “kosbare toewysing” beskryf. Garth sê: “Ons het buitelandse diens gesmaak en gesien dat dit goed is.” Hy en sy vrou het later Gileadskool toe gegaan en dien nou in Bolivia.
Hoe het hulle voorberei?
Die Bybel moedig ons aan om ons lewe eenvoudig te hou (Hebreërs 13:5). Ons word ook aangemoedig om die koste te bereken wanneer ons groot besluite in die lewe maak (Lukas 14:26-33). Dit sluit beslis die besluit in om na ’n ander land te trek! Garth skryf: “Voordat ons na Guyana getrek het, het ek en Erica ons lewe vereenvoudig. Dit het beteken dat ons ons besigheid, ons huis en al die onnodige goed in ons huis moes verkoop. Dit het ’n paar jaar gevat. Intussen het ons ons begeerte sterk gehou om in Guyana te dien deur altyd ons doelwit in gedagte te hou en elke jaar na daardie land te gaan.”
Nog iets wat ’n mens in gedagte moet hou, is jou inkomste. Mense van party lande wat dien waar daar hulp nodig is, kan in ander lande werk as die wet hulle toelaat om dit te doen. Party mense kan dieselfde werk wat hulle in hulle tuisland gedoen het, op hulle rekenaar in ’n ander land doen. Ander kies om vir ’n kort rukkie na hulle tuisland terug te gaan sodat hulle daar kan werk. ’n Voorbeeld hiervan is Paul en Sinead wat een keer ’n jaar na Ierland teruggegaan het om te gaan werk. Hulle roetine het hulle gehelp om 18 geseënde jare in Guyana te dien. Dit sluit ook sewe jaar in nadat hulle dogter gebore is.
Psalm 37:5 sê: “Laat jou weg aan Jehovah oor en verlaat jou op hom, en hy sal optree.” Christopher en Lorissa wat van die Verenigde State is, het gereeld gebid oor hulle doelwit om in ’n ander land te dien. Hulle het ook gedurende hulle Gesinsaanbidding bespreek wat hulle moet doen om te trek en ’n sukses daarvan te maak. Hulle het na die voordele en die nadele gekyk. Omdat taal ’n groot faktor vir hulle was, het hulle Guyana gekies, waar Engels die amptelike taal is.
Hulle het ook die beginsel in Spreuke 15:22 toegepas, wat sê: “Planne misluk waar daar geen vertroulike gesprekke is nie, maar in die veelheid van raadgewers kom iets tot stand.” Hulle het vir die takkantoor wat toesig hou oor die werk in Guyana,b geskryf en verduidelik dat hulle beskikbaar is en wat hulle agtergrond is. Hulle het ook gevra oor die plaaslike gesondheidsorg, die klimaat en die plaaslike gebruike. Die takkantoor het hulle vrae beantwoord en hulle in kontak gebring met ’n liggaam van ouermanne in die gebied waarheen hulle later sou trek.
Linel, wat vroeër genoem is, is nou ’n reisende opsiener in Guyana. Voordat hy Guyana toe getrek het, het hy ook die beginsel in Spreuke 15:22 toegepas. Hy sê: “Ek het nie net geld gespaar vir die trek nie, maar ek het ook met mense gepraat wat al in ’n ander land gedien het. Ek het die saak met my familie, die ouermanne in my gemeente en ons kringopsiener bespreek. En ek het alles in ons publikasies gelees oor hoe dit is om te dien waar daar hulp nodig is.”
Baie mense wat in ’n ander land wil gaan dien, besluit om eers self die land te besoek. Joseph en Christina, ’n getroude paartjie, sê: “Die eerste keer toe ons Guyana toe gegaan het, het ons drie maande gebly. Dit was lank genoeg om te sien hoe dit rêrig daar is. Toe het ons huis toe gegaan, alles gereël en toe getrek.”
Hoe het hulle aangepas?
Om God suksesvol in ’n ander land te dien, moet ’n persoon ’n selfopofferende gees hê en bereid wees om aan te pas by plaaslike omstandighede en gebruike. Byvoorbeeld, mense wat van ’n koeler klimaat na ’n tropiese klimaat trek, vind dikwels dat hulle nuwe huis vol goggas en insekte is. Joshua, wat vroeër aangehaal is, sê: “Ek was nie gewoond aan so baie goggas nie. En die insekte is baie groter in Guyana! Maar ek het later gewoond geraak daaraan. Ek het ook geleer dat as ek my huis skoon hou, daar minder insekte is. Dit sluit in dat ek die skottelgoed was, die vullis uitvat en gereeld die huis skoonmaak.”
Om aan te pas in ’n ander land kan ook beteken dat ’n mens gewoond moet raak aan onbekende kosse en moet leer hoe om dit voor te berei. Joshua sê: “Ek en my kamermaat het die broers en susters gevra om ons te leer hoe om die plaaslike kos te kook. Nadat ons geleer het hoe om ’n nuwe dis te kook, het ons mense van die gemeente genooi om dit saam met ons te geniet. Dit was ook ’n lekker manier om die broers te leer ken en om vriende te maak.”
Paul en Kathleen sê oor die plaaslike gebruike: “Ons moes leer wat vir die mense van daardie land aanvaarbaar is en wat die regte klere is vir die tropiese klimaat. Dit was iets waaraan ons nie gewoond was nie. So, ons moes nederig wees en veranderinge maak, maar ons wou ook nie Bybelbeginsels vergeet nie. Om aan te pas by die plaaslike kultuur het ons nader gebring aan die gemeente en het ook ’n goeie uitwerking op ons bediening gehad.”
Hoe het dit hulle gehelp?
Joseph en Christina voel soos baie ander wanneer hulle sê: “Die seëninge is baie groter as die uitdagings en die probleme. Om iets te doen wat nuut en moeilik is, het ons gehelp om te sien wat regtig tel. Dinge wat eers baie belangrik vir ons was, is nou minder belangrik. Elke ondervinding wat ons gehad het, het ons aangemoedig om aan te hou om alles te doen wat ons kan vir Jehovah. Ons is regtig tevrede en gelukkig.”
Erica, wat vroeër aangehaal is, sê: “Om te dien waar daar hulp nodig is, het my en my man geleer presies wat dit beteken om ten volle op Jehovah te vertrou. Ons het sy hulp gesien op maniere wat ons nog nooit voorheen ondervind het nie. En om saam nuwe ondervindinge te geniet, het ons nader aan mekaar laat kom.”
a Om meer te leer oor die predikingswerk in Guyana, gaan lees gerus die Jaarboek van Jehovah se Getuies vir 2005.
b Die takkantoor in Trinidad en Tobago hou toesig oor die werk in Guyana.