VERDUIDELIKINGS VAN BYBELVERSE
Josua 1:9 – “Wees moedig en sterk”
“Ek beveel jou weer eens: Wees moedig en sterk. Moenie bang wees of vrees nie, want Jehovah jou God is met jou waar jy ook al gaan.” – Josua 1:9, Nuwe Wêreld-vertaling.
“Het ek jou nie beveel nie: Wees sterk en vol moed, wees nie bevrees of verskrik nie; want die HERE jou God is met jou, oral waar jy heengaan.” – Josua 1:9, Ou Afrikaanse Bybelvertaling (1953).
Betekenis van Josua 1:9
Met hierdie woorde het Jehovaha God sy getroue aanbidder Josua verseker dat hy “moedig en sterk” kan wees ten spyte van moeilike omstandighede en uitdagings wat dalk oorweldigend kan lyk. Dit was nie nodig vir Josua om bang te wees vir die toekoms as hy God se bevele gehoorsaam het nie. Dit sou wees asof Jehovah met hom was en hom sou help om suksesvol te wees. God was met Josua deur hom instruksies te gee en hom die oorwinning oor sy vyande te gee.
Hoe kon Josua “moedig en sterk” wees? Hy kon aangemoedig en versterk word deur die geïnspireerde geskrifte wat Jehovah op daardie tyd voorsien het. Dit sluit “die hele Wet” in “wat [Jehovah se] kneg Moses aan [Josua] oorgedra het” (Josua 1:7).b Jehovah het vir Josua gesê om “dit dag en nag [te] lees en daaroor na [te] dink” (Josua 1:8). Deur in hierdie Wetboek te lees en daaroor na te dink, het dit Josua vasbeslote gemaak om God se wil te doen. Josua moes dan doen wat hy in God se Woord geleer het sodat hy “alles wat daarin geskryf is, streng [kon] gehoorsaam”. As hy dit gedoen het, sou hy wys optree en suksesvol wees. En dit is presies wat gebeur het. Al het Josua baie uitdagings gehad, het hy ’n vol en bevredigende lewe as ’n getroue aanbidder van Jehovah gehad. – Josua 23:14; 24:15.
Jehovah se woorde aan Josua is vandag nog steeds aanmoedigend. Dit wys hoe baie Jehovah vir al sy aanbidders omgee, veral wanneer hulle voor uitdagings te staan kom. Hy wil hê dat hulle ook soos Josua suksesvol moet wees! En soos Josua, kan hulle “moedig en sterk” wees deur gereeld God se Woord, die Bybel, te lees en daaroor na te dink en dan te doen wat dit sê.
Konteks van Josua 1:9
Nadat Moses gesterf het, het Jehovah Josua beveel om die nasie Israel te lei (Josua 1:1, 2). Op daardie stadium was die Israeliete op die punt om die Beloofde Land, die land Kanaän, binne te gaan. Maar hulle moes teen sterk vyande veg. Byvoorbeeld, Josua moes veg teen die Kanaäniete, wat baie goddeloos was (Deuteronomium 9:5; 20:17, 18).c Die Kanaäniete was ook baie meer en beter gewapen as die Israeliete (Josua 9:1, 2; 17:18). Maar Josua het moedig Jehovah se instruksies gevolg. En dit was duidelik dat God met hom was, want die Israeliete het die meeste van hulle vyande in net ses jaar oorwin. – Josua 21:43, 44.
a Die naam Jehovah is ’n Engelse vertaling van die Hebreeuse naam vir God – die vier letters יהוה (YHWH) is bekend as die Tetragrammaton. Die Nuwe Wêreld-vertaling in Afrikaans gebruik ook hierdie vorm van die naam Jehovah. Hierdie naam word as “die HERE” in hierdie vers in die Ou Afrikaanse Bybelvertaling weergegee. Vir meer inligting oor Jehovah en hoekom party Bybelvertalings nie hierdie naam gebruik nie, kyk na die artikel “Wie is Jehovah?”.
b Die geïnspireerde geskrifte wat aan Josua beskikbaar was, en ook nou in ons tyd in die Bybel is, het heel moontlik die vyf boeke van Moses (Genesis, Eksodus, Levitikus, Numeri en Deuteronomium), die boek Job en een of twee psalms ingesluit.
c Vir ’n bespreking oor hoekom sulke oorloë nodig was, kyk na die artikel “Waarom het God oorlog gevoer teen die Kanaäniete?” in Die Wagtoring van 1 Januarie 2010.