Waarom Eden vir jou van belang is
EEN van die verbasendste besware wat party geleerdes oor die verslag omtrent Eden opper, is dat dit nie deur die res van die Bybel gesteun word nie. Paul Morris, ’n professor in die godsdienswetenskap, skryf byvoorbeeld: “Daar is geen direkte verwysings na die Edenverhaal later in die Bybel nie.” Sy mening word dalk deur verskeie “deskundiges” ondersteun, maar dit is lynreg in stryd met die feite.
Die Bybel verwys in werklikheid talle kere na die tuin van Eden, Adam, Eva en die slang.a Maar die dwaling van ’n paar geleerdes is onbeduidend in vergelyking met ’n baie groter, algemener dwaling. Deur vertroue in die Genesisverslag van die tuin van Eden af te breek, loods godsdiensleiers en Bybelkritici as ’t ware ’n volskaalse aanval op die Bybel. Hoe so?
’n Begrip van wat in Eden gebeur het, is noodsaaklik om die res van die Bybel te verstaan. God se Woord is byvoorbeeld bedoel om ons te help om antwoorde te vind op die diepste en belangrikste vrae waarvoor die mens te staan kom. Die Bybel se antwoorde op hierdie vrae hou keer op keer verband met gebeure in die tuin van Eden. Kyk na ’n paar voorbeelde.
● Waarom word ons oud en sterf ons? Adam en Eva sou vir ewig gelewe het as hulle aan Jehovah onderdanig gebly het. Slegs as hulle in opstand gekom het, sou hulle sterf. Die dag dat hulle in opstand gekom het, het hulle begin sterf (Genesis 2:16, 17; 3:19). Hulle het volmaaktheid verloor en kon net sonde en onvolmaaktheid aan hulle nakomelinge oordra. Die Bybel verduidelik dus: “Soos deur een mens die sonde in die wêreld ingekom het en die dood deur die sonde en die dood só tot alle mense deurgedring het omdat hulle almal gesondig het.”—Romeine 5:12.
● Waarom laat God goddeloosheid toe? In die tuin van Eden het Satan God ’n leuenaar genoem wat goeie dinge van sy skepsele weerhou (Genesis 3:3-5). Sodoende het hy die regmatigheid van Jehovah se manier van regeer bevraagteken. Adam en Eva het gekies om Satan te volg; hulle het dus ook Jehovah se soewereiniteit verwerp en in werklikheid te kenne gegee dat die mens self kan besluit wat goed en kwaad is. In sy volmaakte geregtigheid en wysheid het Jehovah geweet dat daar net een manier is om die aantyging behoorlik te beantwoord—deur tyd te laat verloop en mense die geleentheid te gee om oor hulleself te heers soos hulle wil. Die gevolglike goddeloosheid is deels die gevolg van Satan se volgehoue invloed en het geleidelik ’n groot waarheid geopenbaar: Die mens is nie in staat om oor homself te heers sonder God nie.—Jeremia 10:23.
● Wat is God se voorneme met die aarde? In die tuin van Eden het Jehovah ’n standaard gestel van hoe pragtig die aarde moet wees. Hy het Adam en Eva die opdrag gegee om die aarde met hulle nakomelinge te vul en dit te “onderwerp”, sodat die hele planeet dieselfde prag en harmonie sou weerspieël (Genesis 1:28). God se voorneme met die aarde is dus dat dit ’n paradys moet wees wat deur ’n volmaakte, verenigde gesin van Adam en Eva se nakomelinge bewoon word. ’n Groot deel van die Bybel handel oor hoe God sy oorspronklike voorneme sal vervul.
● Waarom het Jesus Christus na die aarde gekom? Die opstand in die tuin van Eden het die doodsvonnis oor Adam en Eva en al hulle nakomelinge gebring, maar God het liefdevol hoop voorsien. Hy het sy Seun na die aarde gestuur om te voorsien wat die Bybel ’n losprys noem (Matteus 20:28). Wat beteken dit? Wel, Jesus was “die laaste Adam”; hy was suksesvol waar Adam gefaal het. Jesus het sy volmaakte menselewe behou deur aan Jehovah gehoorsaam te bly. Toe het hy sy lewe vryelik as ’n offerande, of losprys, gegee en dit sodoende vir alle getroue mense moontlik gemaak om vergifnis vir hulle sondes te ontvang en uiteindelik die soort lewe te verkry wat Adam en Eva in Eden geniet het voordat hulle gesondig het (1 Korintiërs 15:22, 45; Johannes 3:16). Deur dit te doen, het Jesus verseker dat Jehovah se voorneme om hierdie aarde in ’n Edenagtige paradys te omskep, bewaarheid sal word.b
God se voorneme is nie vaag nie, en dit is ook nie ’n abstrakte teologiese konsep nie. Dit is iets werkliks. Net soos die tuin van Eden ’n werklike plek op hierdie aarde met werklike diere en werklike mense was, is God se belofte vir die toekoms ’n sekerheid, ’n werklikheid wat weldra verwesenlik sal word. Sal dit jou toekoms, jou werklikheid, wees? Dit hang grootliks van jou af. God wil hê dat soveel mense moontlik hierdie toekoms moet geniet, selfs dié wie se lewe ’n verkeerde wending geneem het.—1 Timoteus 2:3, 4.
Toe Jesus besig was om te sterf, het hy gepraat met ’n man wie se lewe ’n baie slegte wending geneem het. Die man was ’n misdadiger; hy het geweet dat hy verdien om tereggestel te word. Maar hy het hom tot Jesus gewend vir vertroosting, vir hoop. Jesus se antwoord? “Jy sal saam met my in die Paradys wees” (Lukas 23:43). As Jesus daardie voormalige misdadiger daar wil sien—weer lewend en met die wonderlike geleentheid om vir ewig in ’n Edenagtige paradys te lewe—wil hy dan nie hê dat jy dieselfde seën moet geniet nie? Hy wil! Sy Vader wil! As jy self hierdie toekoms wil hê, moet jy alles in jou vermoë doen om te leer van die God wat die tuin van Eden geskep het.
[Voetnote]
a Sien byvoorbeeld Genesis 13:10; Deuteronomium 32:8; 2 Samuel 7:14; 1 Kronieke 1:1; Jesaja 51:3; Esegiël 28:13; 31:8, 9; Lukas 3:38; Romeine 5:12-14; 1 Korintiërs 15:22, 45; 2 Korintiërs 11:3; 1 Timoteus 2:13, 14; Judas 14 en Openbaring 12:9.
b Om meer omtrent Christus se losprysoffer te leer, sien hoofstuk 5 van die boek Wat leer die Bybel werklik?, uitgegee deur Jehovah se Getuies.
[Venster/Prente op bladsy 10]
’N PROFESIE WAT DIE BYBEL SAAMBIND
“Ek sal vyandskap stel tussen jou [die slang] en die vrou en tussen jou saad en haar saad. Hy sal jou kop vermorsel, en jy sal hom in die hakskeen wond.”—Genesis 3:15.
Dit is die Bybel se eerste profesie, wat deur God in Eden uitgespreek is. Wie is die vier karakters: die vrou, haar nageslag, die slang en sy nageslag? In watter opsig is daar “vyandskap” tussen die karakters?
DIE SLANG
Satan die Duiwel.—Openbaring 12:9.
DIE VROU
Jehovah se organisasie van hemelse wesens (Galasiërs 4:26, 27). Jesaja het van “die vrou” gepraat en voorspel dat sy aan ’n toekomstige geestelike nasie geboorte sou gee.—Jesaja 54:1; 66:8.
DIE SAAD VAN DIE SLANG
Diegene wat kies om Satan se wil te doen.—Johannes 8:44.
DIE SAAD VAN DIE VROU
Hoofsaaklik Jesus Christus, wat uit die hemelse deel van Jehovah se organisasie gekom het. Christus se geestelike broers, wat in die hemel saam met hom heers, is ook deel van die “saad”. Hierdie gesalfde Christene maak ’n geestelike nasie, “die Israel van God”, uit.—Galasiërs 3:16, 29; 6:16; Genesis 22:18.
DIE HAKSKEENWOND
’n Pynlike slag vir die Messias, maar een wat nie permanente gevolge het nie. Satan het daarin geslaag om Jesus op die aarde te laat doodmaak. Jesus is opgewek.
DIE KOPWOND
Die doodslag vir Satan. Jesus sal Satan vir ewig vernietig. Selfs voor hy dit doen, sal Jesus die boosheid wat Satan in Eden begin het, ongedaan maak.—1 Johannes 3:8; Openbaring 20:10.
Vir ’n beknopte oorsig van die Bybel se hooftema, sien die brosjure Die Bybel—Wat is die boodskap daarin?, uitgegee deur Jehovah se Getuies.
[Prent op bladsy 11]
Adam en Eva het die rampspoedige gevolge van sonde ervaar