Offerandes wat God behaag het
“Elke hoëpriester word aangestel om gawes sowel as offerandes te bring.”—HEBREËRS 8:3.
1. Waarom voel mense dat hulle hulle tot God moet wend om hulp?
“DIT is blykbaar vir die mens net so ‘natuurlik’ om offerandes te bring as om te bid; die een toon hoe hy oor homself voel, die ander toon hoe hy oor God voel”, skryf die Bybelgeskiedskrywer Alfred Edersheim. Vandat sonde in die wêreld ingekom het, het dit die pyn van skuldgevoelens, vervreemding van God en hulpeloosheid meegebring. Verligting hiervan is nodig. Dit is te verstane waarom mense voel dat hulle hulle tot God moet wend om hulp wanneer hulle hulle in so ’n benarde toestand bevind.—Romeine 5:12.
2. Watter verslae van vroeë offerandes aan God vind ons in die Bybel?
2 Die eerste Bybelverslag van offerandes wat aan God gebring is, is in verband met Kain en Abel. Ons lees: “Ná verloop van tyd het Kain van die vrugte van die land aan die HERE ’n offer gebring. En Abel het ook van die eersgeborenes van sy kleinvee gebring, naamlik van hulle vet” (Genesis 4:3, 4). Later vind ons dat Noag, wat deur God bewaar is tydens die groot Vloed waarin die goddelose geslag van sy tyd vernietig is, beweeg is om aan Jehovah ‘brandoffers op die altaar te bring’ (Genesis 8:20). By verskeie geleenthede het Abraham, God se getroue kneg en vriend, wat diep geraak is deur God se beloftes en seëninge, ‘’n altaar gebou en die Naam van Jehovah aangeroep’ (Genesis 12:8; 13:3, 4, 18). Later het Abraham voor die grootste toets van sy geloof te staan gekom toe Jehovah vir hom gesê het om sy seun Isak as ’n brandoffer te offer (Genesis 22:1-14). Al is hierdie verslae kort, werp dit baie lig op die onderwerp van offerandes, soos ons sal sien.
3. Watter rol speel offerandes in aanbidding?
3 Uit hierdie en ander Bybelverslae is dit duidelik dat offerandes van die een of ander aard ’n wesenlike deel van aanbidding was lank voordat Jehovah bepaalde wette hieroor gegee het. In ooreenstemming hiermee omskryf een naslaanwerk ’n “offerande” as “’n godsdiensritus waarin iets aan ’n godheid geoffer word om ’n goeie verhouding tussen die mens en dit wat hy as heilig beskou te bewerkstellig, te behou of te herstel”. Maar dit laat ’n paar belangrike vrae ontstaan waaraan ons noukeurig aandag moet skenk, soos: Waarom is offerandes nodig in aanbidding? Watter soort offerandes is vir God aanneemlik? En watter betekenis het eertydse offerandes vandag vir ons?
Waarom is offerandes nodig?
4. Wat was die gevolg vir Adam en Eva toe hulle gesondig het?
4 Adam het moedswillig gesondig. Toe hy die vrug van die boom van kennis van goed en kwaad geneem en geëet het, was dit ’n opsetlike daad van ongehoorsaamheid. Die straf vir daardie ongehoorsame daad was die dood, soos God duidelik gesê het: “Die dag as jy daarvan eet, sal jy sekerlik sterwe” (Genesis 2:17). Adam en Eva het uiteindelik die loon van die sonde ontvang—hulle het gesterf.—Genesis 3:19; 5:3-5.
5. Waarom het Jehovah die inisiatief ten behoewe van Adam se afstammelinge geneem, en wat het Hy vir hulle gedoen?
5 Maar wat van Adam se afstammelinge? Aangesien hulle sonde en onvolmaaktheid van Adam geërf het, is hulle aan dieselfde vervreemding van God, hopeloosheid en die dood onderwerp wat die eerste mensepaar ondervind het (Romeine 5:14). Jehovah is egter nie net ’n God van geregtigheid en krag nie, maar ook—trouens, hoofsaaklik—van liefde (1 Johannes 4:8, 16). Daarom neem hy die inisiatief om die breuk te heel. Die Bybel sê: “Die loon wat die sonde betaal, is die dood”, en toon verder, “maar die gawe wat God gee, is die ewige lewe deur Christus Jesus, ons Here.”—Romeine 6:23.
6. Wat is Jehovah se wil met betrekking tot die skade wat Adam se sonde berokken het?
6 Jehovah God het uiteindelik hierdie gawe moontlik gemaak deur iets te voorsien wat die verlies sou dek wat deur Adam se oortreding veroorsaak is. In Hebreeus het die woord ka·farʹ heel waarskynlik eers “bedek” of moontlik “uitwis” beteken, en dit word ook met “versoening” vertaal.a Met ander woorde, Jehovah het ’n gepaste middel voorsien om die sondes te bedek wat van Adam oorgeërf is en om die skade uit te delg wat die gevolg daarvan was, sodat diegene wat aan die vereistes voldoen om daardie gawe te ontvang, bevry kon word van die veroordeling van die sonde en die dood.—Romeine 8:21.
7. (a) Watter hoop is voorsien toe God sy vonnis oor Satan uitgespreek het? (b) Watter prys moes betaal word vir die mensdom se bevryding van sonde en die dood?
7 Onmiddellik nadat die eerste mensepaar gesondig het, is daar indirek verwys na die hoop om vrygemaak te word van slawerny aan sonde en die dood. Toe Jehovah sy vonnis uitgespreek het oor Satan, wat deur die slang voorgestel is, het hy gesê: “Ek sal vyandskap stel tussen jou en die vrou, en tussen jou saad en haar saad. Hý sal jou die kop vermorsel, en jý sal hom in die hakskeen byt” (Genesis 3:15). Met daardie profetiese verklaring het ’n ligstraal van hoop opgegaan vir almal wat geloof in hierdie belofte stel. Maar ’n prys moes betaal word vir daardie bevryding. Die beloofde Saad sou nie net kom en Satan vernietig nie; die Saad moes in die hakskeen gebyt word, dit wil sê die dood verduur, hoewel nie permanent nie.
8. (a) Waarom kan daar gesê word dat Kain nie aan die verwagting voldoen het nie? (b) Waarom was Abel se offerande aanneemlik in God se oë?
8 Adam en Eva het ongetwyfeld baie nagedink oor die identiteit van die beloofde Saad. Toe Eva geboorte gegee het aan haar eersgebore seun, Kain, het sy uitgeroep: “Ek het ’n man met die hulp van Jehovah voortgebring” (Genesis 4:1, NW). Het sy gedink dat haar seun moontlik die Saad sou wees? Of sy so gedink het of nie, feit is dat Kain, sowel as sy offerande, nie aan die verwagting voldoen het nie. Daarenteen het sy broer Abel geloof in God se belofte geopenbaar, en hy is beweeg om van die eerstelinge van sy kudde as ’n offerande aan Jehovah te offer. Ons lees: “Deur geloof het Abel ’n offerande van groter waarde aan God gebring as Kain, deur welke geloof hy getuienis aangaande homself ontvang het dat hy regverdig is.”—Hebreërs 11:4.
9. (a) Waarin het Abel geloof gestel, en hoe het hy bewys daarvan gelewer? (b) Wat is deur Abel se offerande bereik?
9 Abel se geloof was nie net ’n algemene geloof in God nie, wat Kain sekerlik ook gehad het. Abel het geloof gestel in God se belofte van ’n Saad wat die redding van getroue mense moontlik sal maak. Dit is nie aan hom geopenbaar hoe dit teweeggebring sou word nie, maar God se belofte het Abel daarvan bewus gemaak dat iemand in die hakskeen gebyt sou moes word. Ja, hy het klaarblyklik tot die gevolgtrekking gekom dat bloed uitgestort sou moes word—presies wat ’n offerande is. Abel het ’n gawe waarby lewe en bloed betrokke was aan die Bron van lewe geoffer, blykbaar om te toon dat hy met intense verlange op die vervulling van Jehovah se belofte gewag het. Hierdie bewys van Abel se geloof het sy offerande welgevallig vir Jehovah gemaak, en dit het in beperkte mate die ware betekenis van ’n offerande getoon—dit is ’n middel waardeur sondige mense God kan nader om sy guns te verkry.—Genesis 4:4; Hebreërs 11:1, 6.
10. Hoe is die betekenis van offerandes getoon toe Jehovah Abraham gevra het om Isak op te offer?
10 Die dieper betekenis van offerandes is op treffende wyse getoon toe Jehovah Abraham beveel het om sy seun Isak as ’n brandoffer te offer. Hoewel daardie offerande nie letterlik uitgevoer is nie, het dit gedien as ’n afbeelding van wat Jehovah self uiteindelik sou doen—om sy enigverwekte Seun te offer as die grootste offerande wat nog gebring is om Sy wil ten opsigte van die mensdom te volbring (Johannes 3:16). Met die offerandes van die Mosaïese Wet het Jehovah profetiese beelde gegee om sy uitverkore volk te leer wat hulle moet doen om vergifnis vir hulle sondes te ontvang en om hulle hoop op redding te versterk. Wat kan ons hieruit leer?
Offerandes wat vir Jehovah aanneemlik is
11. Watter twee kategorieë van offerandes is deur Israel se hoëpriester gebring, en wat was die doel daarvan?
11 “Elke hoëpriester word aangestel om gawes sowel as offerandes te bring”, sê die apostel Paulus (Hebreërs 8:3). Let op dat Paulus die offerandes wat die hoëpriester van eertydse Israel geoffer het in twee kategorieë verdeel, naamlik “gawes” en “offerandes”, of “offerandes vir sondes” (Hebreërs 5:1). Mense gee oor die algemeen gawes, of geskenke, om hulle liefde en waardering te toon, sowel as om vriendskappe op te bou en guns of goedkeuring te verkry (Genesis 32:20; Spreuke 18:16). Baie van die offerandes wat deur die Wet voorgeskryf is, kan eweneens beskou word as “gawes” aan God om sy goedkeuring en guns te verkry.b Oortredings teen die Wet het vergoeding vereis, en daarom is “offerandes vir sondes” geoffer. Die Pentateug, veral die boeke Exodus, Levitikus en Numeri, bevat heelwat inligting oor verskillende soorte offerandes. Hoewel dit vir ons dalk moeilik is om al die besonderhede in te neem en te onthou, is daar hoofpunte in verband met die verskillende soorte offerandes wat ons aandag verdien.
12. Waar in die Bybel kan ons ’n oorsig van die offerandes onder die Wet kry?
12 In Levitikus hoofstukke 1 tot 7 vind ons dat vyf van die vernaamste soorte offerandes—die brandoffer, spysoffer, dankoffer (gemeenskapsoffer, NW), sondoffer en skuldoffer—afsonderlik beskryf word, hoewel party daarvan in werklikheid saam geoffer is. Ons sien ook dat hierdie offerandes twee keer in hierdie hoofstukke bespreek word, met verskillende oogmerke: een keer, in Levitikus 1:2 tot 6:7, om te beskryf wat op die altaar geoffer moes word, en die tweede keer, in Levitikus 6:8 tot 7:36, om te toon watter dele opsy gesit is vir die priesters en watter dele gehou is vir die een wat die offerande gebring het. Dan vind ons, in Numeri hoofstukke 28 en 29, wat beskou kan word as ’n breedvoerige rooster met besonderhede van wat daagliks, weekliks, maandeliks en by die jaarlikse feeste geoffer moes word.
13. Beskryf die offerandes wat vrywillig as gawes aan God gebring is.
13 Onder die offerandes wat vrywillig gebring is as gawes of as ’n manier om God se guns te verkry, was die brandoffers, spysoffers en gemeenskapsoffers. Party geleerdes meen dat die Hebreeuse term vir “brandoffer” verwys na “’n offerande wat opgaan”. Dit is gepas, want met ’n brandoffer is die slagdier op die altaar gebrand, en ’n lieflike geur het hemelwaarts na God toe opgegaan. Die onderskeidende kenmerk van die brandoffer was dat die hele dier aan God geoffer is nadat sy bloed rondom die altaar gesprinkel is. Die priesters moes “dit alles op die altaar aan die brand steek as brandoffer, ’n vuuroffer van lieflike geur aan die HERE”.—Levitikus 1:3, 4, 9; Genesis 8:21.
14. Hoe is die spysoffer aangebied?
14 Die spysoffer (graanoffer, NW) word in Levitikus hoofstuk 2 beskryf. Dit was ’n vrywillige offerande wat bestaan het uit fynmeel, gewoonlik met olie gemeng, en wierook is daarby gevoeg. “Die priester moet daarvan ’n handvol neem, van die fynmeel met die olie, met al die wierook wat daarby behoort; en hy moet dit as die gedenkoffer op die altaar aan die brand steek, ’n vuuroffer van lieflike geur aan die HERE” (Levitikus 2:2). Wierook was een van die bestanddele van die heilige reukwerk wat op die reukaltaar in die tabernakel en die tempel gebrand is (Exodus 30:34-36). Koning Dawid het blykbaar hieraan gedink toe hy gesê het: “Laat my gebed soos reukwerk voor u aangesig staan, die opheffing van my hande soos die aandoffer [“aandgraanoffer”, NW].”—Psalm 141:2.
15. Wat was die doel van die gemeenskapsoffer?
15 Nog ’n vrywillige offerande was die dankoffer, oftewel gemeenskapsoffer, wat in Levitikus hoofstuk 3 beskryf word. Die naam kan ook vertaal word met “’n offerande van vredeoffers”. In Hebreeus beteken die woord “vrede” veel meer as net die afwesigheid van oorlog of stoornis. “In die Bybel dui dit hierop, asook op die toestand of band van vrede met God, voorspoed, vreugde en geluk”, sê die boek Studies in the Mosaic Institutions. Gemeenskapsoffers is dus nie geoffer om vrede met God te bewerkstellig, asof ’n mens hom probeer paai nie, maar eerder om dankbaarheid te toon vir die geseënde toestand van vrede met God wat diegene geniet wat deur hom goedgekeur word of om hierdie toestand te vier. Die priesters en die een wat die offerande gebring het, het daarvan geëet nadat die bloed en die vet aan Jehovah geoffer is (Levitikus 3:17; 7:16-21, NW; 19:5-8, NW). Op ’n pragtige en simboliese manier het die een wat die offerande gebring het, die priesters en Jehovah God ’n maaltyd saam genuttig, wat ’n teken was van die vreedsame verhouding wat tussen hulle bestaan het.
16. (a) Wat was die doel van die sondoffer en die skuldoffer? (b) Hoe het dit van die brandoffer verskil?
16 Offerandes wat gebring is om vergifnis vir sondes te verkry of om versoening vir oortredings teen die Wet te doen, het die sondoffer en die skuldoffer ingesluit. Hoewel hierdie offerandes ook verbranding op die altaar behels het, het dit van die brandoffer verskil in dié opsig dat die hele dier nie aan God geoffer is nie, maar net die vet en sekere dele daarvan. Die res van die dier is buite die laer verbrand, of in sommige gevalle het die priesters daarvan geëet. Dit is ’n betekenisvolle verskil. Die brandoffer is as ’n gawe aan God aangebied om dit moontlik te maak om hom te nader; daarom is dit uitsluitlik en in sy geheel aan God geoffer. Wat interessant is, is dat ’n sondoffer of ’n skuldoffer gewoonlik voor ’n brandoffer geoffer is, wat daarop dui dat vergifnis van sondes nodig was om ’n sondaar se gawe aanneemlik vir God te maak.—Levitikus 8:14, 18; 9:2, 3; 16:3, 5.
17, 18. Om watter rede is die sondoffer gebring, en wat was die doel van die skuldoffer?
17 Die sondoffer is slegs aanvaar vir onopsetlike sonde teen die Wet, sonde wat weens swakheid van die vlees gepleeg is. “As iemand in swakheid sondig teen een van alle gebooie van die HERE”, dan moes die sondaar ’n sondoffer bring na gelang van sy stand, of posisie, in die gemeenskap (Levitikus 4:2, 3, 22, 27). Daarenteen is onberouvolle sondaars doodgemaak; daar was geen offerandes wat hulle kon bring nie.—Exodus 21:12-15; Levitikus 17:10; 20:2, 6, 10; Numeri 15:30; Hebreërs 2:2.
18 Die betekenis en doel van die skuldoffer word duidelik uiteengesit in Levitikus hoofstukke 5 en 6. Iemand het dalk onopsetlik gesondig. Maar hy is moontlik nog steeds skuldig omdat hy die regte van sy medemens of Jehovah God geskend het, en daardie onreg moes vergoed of reggestel word. ’n Hele paar kategorieë van sondes word gemeld. Party was privaat sondes (5:2-6), ander was sondes teen ‘die heilige gawes van Jehovah’ (5:14-16) en sommige, hoewel dit nie heeltemal onwetend gepleeg is nie, was sondes wat die gevolg van verkeerde begeertes of vleeslike swakhede was (6:1-3). Die oortreder moes nie net sulke sondes bely nie, maar hy moes ook die verskuldigde vergoeding gee en dan ’n skuldoffer aan Jehovah bring.—Levitikus 6:4-7.
Iets beters in die vooruitsig
19. Waarom het Israel nie God se guns verkry nie, al het hulle die Wet en sy offerandes gehad?
19 Die Mosaïese Wet, met sy talle offerandes, is aan die Israeliete gegee sodat hulle God kon nader om sy guns en seën te verkry en te behou totdat die beloofde Saad kom. Die apostel Paulus, ’n natuurlike Jood, het dit so gestel: “Die Wet [het] ons tugmeester geword wat na Christus toe lei, sodat ons weens geloof regverdig verklaar kon word” (Galasiërs 3:24). Ongelukkig het Israel as ’n nasie nie die leiding van daardie tugmeester aanvaar nie, maar daardie voorreg misbruik. Gevolglik het hulle menigte offerandes vir Jehovah iets afstootliks geword, en hy het gesê: “Ek is sat van die brandoffers van ramme en die vet van vetgemaakte kalwers; en Ek het geen behae in die bloed van stiere of lammers of bokke nie.”—Jesaja 1:11.
20. Wat het in 70 G.J. gebeur wat die Wet en sy offerandes betref?
20 In 70 G.J. het die Joodse stelsel van dinge, met sy tempel en priesterdom, tot ’n einde gekom. Daarna was offerandes op die manier wat in die Wet uiteengesit is nie meer moontlik nie. Beteken dit dat die offerandes, as ’n wesenlike deel van die Wet, alle betekenis vir hedendaagse aanbidders van God verloor het? Ons sal dit in die volgende artikel bespreek.
[Voetnote]
a Insight on the Scriptures, wat uitgegee word deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc., verduidelik: “‘Versoening’, soos dit in die Bybel gebruik word, het die grondgedagte van ‘bedek’ of ‘ruil’, en dit wat in ruil gegee word, of as ’n ‘dekking’, vir iets anders moet presies daarmee ooreenkom. . . . Om voldoende versoening te doen vir wat Adam verbeur het, moes ’n sondoffer met die presiese waarde van ’n volmaakte menselewe voorsien word.”
b ’n Hebreeuse woord wat dikwels met “offerande” vertaal word, is qor·banʹ. Waar Markus geskryf het hoe Jesus ’n gewetenlose gebruik van die skrifgeleerdes en die Fariseërs veroordeel het, het hy verduidelik dat “korban” verwys na “’n gawe wat aan God gewy is”.—Markus 7:11.
Kan jy verduidelik?
• Wat het getroue manne van die ou tyd beweeg om offerandes aan Jehovah te bring?
• Waarom was offerandes nodig?
• Wat is die vernaamste soorte offerandes wat onder die Wet geoffer is, en wat was die doel daarvan?
• Wat was, volgens Paulus, die hoofdoel van die Wet en sy offerandes?
[Prent op bladsy 14]
Abel se offerande was welbehaaglik omdat dit sy geloof in Jehovah se belofte getoon het
[Prent op bladsy 15]
Wat beteken hierdie toneel vir jou?