Waarom God aan Noag guns betoon het—Waarom dit vir ons van belang moet wees
DIE meeste van ons onthou geleenthede toe ons belangrike nuus ontvang het. Ons onthou besonderhede—nie net waar ons was en wat ons gedoen het nie, maar ook hoe ons gereageer het. Noag het ongetwyfeld nooit die dag vergeet toe hy van Jehovah God, die Soewerein van die heelal, nuus ontvang het nie. En watter nuus kon belangriker gewees het? Jehovah het gesê dat hy besluit het om “alle vlees” te verdelg. Noag moes ’n reusagtige ark bou waarin hy, sy gesin en diere van elke soort behoue sou bly.—Genesis 6:9-21.
Hoe het Noag gereageer? Was hy bly toe hy die nuus hoor of het hy beswaar gemaak? Hoe het hy dit aan sy vrou en gesin oorgedra? Die Bybel sê nie. Maar dit sê wel: “Noag het gedoen volgens alles wat God hom beveel het. Hy het net so gedoen.”—Genesis 6:22.
Dit is beslis die belangrike punt, want daardie stelling verklaar in sekere mate waarom Noag guns gevind het in die oë van God; Noag was gewillig om te doen wat God van hom gevra het (Genesis 6:8). Om watter ander rede het God aan Noag guns betoon? Die antwoord is belangrik, want ons moet soos Noag wees as ons wil oorleef wanneer God die aarde van goddeloosheid reinig. Maar kom ons bespreek eers hoe die lewe vir Noag in die dae voor die Vloed was.
Demone kom na die aarde toe
Noag het vroeg in die mensegeskiedenis gelewe. Hy is gebore ongeveer duisend jaar nadat die eerste mens geskep is. Baie dink vandag dat mense van daardie tyd grotbewoners was—harige, onintelligente skepsele wat halfgebukkend met knuppels in hulle hand rondgeloop het—maar hulle was nie. Hulle het gereedskap van yster en koper gesmee, en Noag het dalk daarvan gebruik gemaak toe hy die ark gebou het. Daar was ook musiekinstrumente. Mense het getrou, gesinne grootgemaak, gewasse verbou en vee aangehou. Hulle het gekoop en verkoop. In hierdie opsigte was die lewe destyds baie soortgelyk aan dié van vandag.—Genesis 4:20-22; Lukas 17:26-28.
In ander opsigte was dinge baie anders. Een verskil was dat mense baie langer gelewe het. Om meer as 800 jaar lank te lewe, was niks ongewoons nie. Noag het 950 jaar oud geword; Adam, 930 jaar; en Metusalag, Noag se oupa, 969 jaar.a—Genesis 5:5, 27; 9:29.
Nog ’n verskil word beskryf in Genesis 6:1, 2, wat sê: “Toe die mense op die oppervlak van die aarde in getal begin toeneem het en dogters vir hulle gebore is, het die seuns van die ware God die dogters van die mense begin opmerk, dat hulle mooi is; en hulle het vir hulle vrouens geneem, naamlik almal wat hulle verkies het.” Hierdie “seuns van die ware God” was engele uit die hemel wat menseliggame aangeneem en op die aarde saam met die mense gelewe het. Hulle het nie op God se bevel gekom nie; en hulle het ook nie gekom om die mensegesin te bevoordeel nie. Hulle het eerder “hulle eie gepaste woonplek [in die hemel] verlaat” om geslagsomgang met die pragtige vroue op die aarde te hê. Hulle het demone geword.—Judas 6.
Hierdie demoonengele was opstandig, pervers, het bomenslike krag en intelligensie gehad en het ’n verderflike invloed op mense uitgeoefen. Hulle het waarskynlik die mensegemeenskap beheer en oorheers. Hulle het nie in die geheim gewerk, soos ’n misdaadbaas wat sy identiteit verberg en sy bose dade in die donker uitvoer nie. Hulle het eerder openlik en skaamteloos teen die reëling van God in opstand gekom.
Hierdie engeleseuns van God het geslagsomgang met vroue gehad, en die vroue het kinders gebaar wat as volwassenes buitengewone krag gehad het. Die Hebreeuse term “Nefilim” is gebruik om hulle te identifiseer. Daar word van hulle gesê: “Die Nefilim was in daardie dae op die aarde, en ook daarna, toe die seuns van die ware God voortgegaan het om met die dogters van die mense gemeenskap te hê en dié vir hulle seuns gebaar het; hulle was die sterkes van die ou tyd, die manne van naam” (Genesis 6:4). Die Nefilim was vreeswekkend. Die woord “Nefilim” beteken “Neervellers”, dié wat ander laat val. Hulle was moordenaars wie se gewelddade waarskynlik die grondslag was van antieke mites en legendes.
Die pyn van die regverdiges
Die Bybel beskryf daardie geslag as een wat deur diepgewortelde en wydverspreide verdorwenheid gekenmerk is. Dit sê: “Die slegtheid van die mens [was] oorvloedig op die aarde . . . en . . . elke neiging van die gedagtes van sy hart [was] die hele tyd net sleg. . . . Die aarde het vol geweld geraak. . . . Alle vlees het sy weg op die aarde verderf.”—Genesis 6:5, 11, 12.
Dít was die wêreld waarin Noag gelewe het. In teenstelling met diegene om hom ‘was Noag ’n regverdige man’ wat ‘met die ware God gewandel het’ (Genesis 6:9). Vir ’n regverdige man is dit nie maklik om in ’n goddelose gemeenskap te lewe nie. Hoe moes wat die mense gesê en gedoen het, Noag tog gepynig het! Hy het heel moontlik gevoel soos Lot, nog ’n regverdige man wat ná die Vloed gelewe het. Lot, wat onder die verdorwe inwoners van Sodom gewoon het, was “baie ontsteld . . . oor die wettrotserende mense se oorgawe aan losbandige gedrag”, en “wat hy gesien en gehoor het terwyl hy onder hulle gewoon het, [het] van dag tot dag sy regverdige siel gepynig weens hulle wettelose dade” (2 Petrus 2:7, 8). Dit moes vir Noag dieselfde gewees het.
Word jy ontstel deur die skokkende gebeure in die nuus of deur die goddelose gedrag van mense om jou? Indien wel, kan jy jou met Noag vereenselwig. Stel jou net voor hoe moeilik dit vir hom was om 600 jaar lank in ’n goddelose wêreld te woon—want dit is hoe oud hy was toe die Vloed gekom het. Hoe moes hy tog na verligting gesmag het!—Genesis 7:6.
Noag het die moed gehad om anders te wees
Noag “was onberispelik onder sy tydgenote” (Genesis 6:9). Let op dat die Bybel sê dat hy onberispelik was onder sy tydgenote, nie uit die oogpunt van sy tydgenote nie. Met ander woorde, hy was onberispelik in die oë van God, maar vir die mense van die wêreld voor die Vloed, was Noag eienaardig. Ons kan seker wees dat hy nie met die algemene opvattings saamgestem het nie, en hy het ook nie betrokke geraak by die goddelose vermaak en sosiale bedrywighede van daardie tyd nie. Dink net wat mense van hom gedink het toe hy die ark begin bou het! Hulle het hom heel waarskynlik uitgelag en bespot. Hulle het hom nie ernstig opgeneem nie.
Wat meer is, Noag het diep godsdiensoortuigings gehad, en hy het dit nie vir homself gehou nie. Die Bybel sê dat hy “’n prediker van regverdigheid” was (2 Petrus 2:5). Noag het ongetwyfeld teenstand verwag. Sy oupagrootjie Henog was ’n regverdige man wat voorspel het dat God oordeel sou voltrek aan die goddeloses. Henog is klaarblyklik daarvoor vervolg, hoewel God nie toegelaat het dat sy teenstanders hom doodmaak nie (Genesis 5:18, 21-24; Hebreërs 11:5; 12:1; Judas 14, 15). Aangesien Satan, die demone, die Nefilim en die meeste van die mense óf onverskillig teenoor hom was óf hom daadwerklik teëgestaan het, het Noag moed nodig gehad, sowel as geloof in Jehovah se vermoë om hom te beskerm.
Diegene wat God dien, is nog altyd teëgestaan deur dié wat God nie dien nie. Selfs Jesus Christus is gehaat, en so ook sy volgelinge (Matteus 10:22; Johannes 15:18). Noag het die moed gehad om God te dien, al was dit nie die gewilde weg om te volg nie. Hy het verstaan dat dit baie belangriker is om God se guns te geniet as om die goedkeuring te hê van diegene wat Hom teëstaan. En God het aan Noag guns betoon.
Noag het daarop ag geslaan
Soos ons gesien het, het Noag moedig vir ander gepreek. Hoe het hulle op sy boodskap gereageer? Die Bybel sê aangaande mense voor die Vloed: “Hulle het geëet en gedrink, manne het getrou en vroue is in die huwelik gegee, tot die dag dat Noag in die ark ingegaan het; en hulle het geen ag daarop geslaan totdat die vloed gekom en hulle almal weggesleur het nie.” Hulle het nie op die waarskuwing gereageer nie.—Matteus 24:38, 39.
Jesus het gesê dat dieselfde in ons dag sal gebeur. Jehovah se Getuies waarsku al meer as honderd jaar lank dat Jehovah drastiese stappe gaan doen om sy belofte te vervul om ’n nuwe wêreld van regverdigheid tot stand te bring. Hoewel miljoene positief gereageer het, slaan miljarde van die aarde se inwoners geen ag op dié waarskuwing nie. “Ooreenkomstig hulle wens” ignoreer hulle die feit dat die Vloed werklik plaasgevind het en wat dit beteken.—2 Petrus 3:5, 13.
Maar Noag het wel daarop ag geslaan. Hy het geglo wat Jehovah God vir hom gesê het. Gehoorsaamheid het tot sy redding gelei. Die apostel Paulus het geskryf: “Deur geloof het Noag, nadat hy ’n goddelike waarskuwing gegee is oor dinge wat nog nie gesien is nie, godvrugtige vrees aan die dag gelê en ’n ark gebou tot redding van sy huisgesin.”—Hebreërs 11:7.
’n Voorbeeld om na te volg
Die ark wat Noag gebou het, was reusagtig—langer as ’n rugbyveld en so hoog soos ’n drieverdiepinggebou. Dit was meer as 30 meter langer as die skoener Wyoming, na bewering die grootste houtrompskip wat ooit gebou is. Die ark was natuurlik nie ’n skip nie; dit moes net kon dryf. Nietemin het dit gevorderde boutegnieke vereis. En dit moes van binne en buite met teer bedek word. Die bouwerk daaraan het moontlik meer as 50 jaar geneem.—Genesis 6:14-16.
Dit was nie al nie. Noag moes ’n jaar se voedselvoorraad opgaar vir sy gesin en die diere. Voor die Vloed moes die diere bymekaargemaak en in die ark gebring word. “Noag het gedoen volgens alles wat Jehovah hom beveel het.” Wat ’n verligting was dit tog toe alles gereed was en Jehovah die deur van die ark toegemaak het!—Genesis 6:19-21; 7:5, 16.
Toe het die Vloed gekom. Dit het 40 dae en 40 nagte lank gereën. Almal moes ’n hele jaar in die ark bly totdat die water gesak het (Genesis 7:11, 12; 8:13-16). Al die goddelose mense het vergaan. Net Noag en sy gesin het tot in ’n gereinigde aarde behoue gebly.
Die Bybel sê dat die aardwye Vloed van Noag se dag “’n voorbeeld van toekomstige dinge” is. In watter opsig? Ons lees: “Die hemele en die aarde wat nou is, [is] vir die vuur weggelê en word . . . bewaar tot die dag van die oordeel en van die vernietiging van die goddelose mense.” Maar soos in Noag se dag sal daar oorlewendes wees. Wees verseker dat “Jehovah [weet] hoe om mense van godvrugtige toegewydheid uit beproewing te verlos”.—2 Petrus 2:5, 6, 9; 3:7.
Noag was ’n man van godvrugtige toegewydheid, ’n regverdige man in ’n goddelose geslag. Hy was ten volle gehoorsaam aan God. Hy het die moed gehad om te doen wat reg is, al het hy geweet dat diegene wat God nie wou dien nie, hom sou minag en haat. Deur Noag in hierdie opsigte na te volg, sal ons ook God se guns geniet en sal ons die vooruitsig hê om behoue te bly tot in die nuwe wêreld wat so naby is.—Psalm 37:9, 10.
[Voetnoot]
a Sien die artikel “Het hulle werklik so lank gelewe?” in die Ontwaak! van Julie 2007, bladsy 30.
[Lokteks op bladsy 5]
Die gewelddade van die Nefilim vorm moontlik die grondslag van antieke legendes
[Prent op bladsy 7]
Deur Noag se geloof na te volg, kan ons God se guns geniet
[Foto-erkenning op bladsy 5]
Alinari/Art Resource, NY