Noag se geloof veroordeel die wêreld
HET jy al gehoor van Noag, ’n godvresende man wat ’n ark gebou het vir die behoud van lewe gedurende ’n wêreldvloed? Al is die verhaal so oud, ken miljoene mense dit. Wat baie egter nie besef nie, is dat Noag se lewe vir ons almal betekenis inhou.
Waarom moet ons belangstel in ’n verslag wat duisende jare oud is? Is daar ’n ooreenkoms tussen Noag se situasie en ons s’n? Indien wel, hoe kan ons by sy voorbeeld baat vind?
Die wêreld van Noag se dag
Volgens Bybelchronologie is Noag in 2970 v.G.J. gebore—126 jaar ná Adam se dood. Teen Noag se dag was die aarde vol geweld, en die meerderheid van Adam se nakomelinge het gekies om hulle voorvader se opstandige voorbeeld te volg. Daarom het “die HERE [gesien] dat die boosheid van die mens op die aarde groot was en al die versinsels wat hy in sy hart bedink, altyddeur net sleg was”.—Genesis 6:5, 11, 12.
Die mens se opstand was nie die enigste rede vir Jehovah se misnoeë nie. Die Genesisverslag verduidelik: “Die seuns van God [het gesien] dat die dogters van die mense mooi was, en hulle het vir hulle as vroue geneem almal wat hulle verkies het. . . . In dié dae was die [“Nefilim”, NW] op die aarde, en ook daarna, toe die seuns van God by die dogters van die mense ingegaan en dié vir hulle kinders gebaar het. Dit is die geweldiges uit die ou tyd, die manne van naam” (Genesis 6:2-4). ’n Vergelyking van hierdie verse met ’n stelling wat die apostel Petrus neergeskryf het, toon dat “die seuns van God” ongehoorsame engele was. Die Nefilim was basterkinders wat weens die ongeoorloofde geslagsgemeenskap tussen vroue en gematerialiseerde afvallige engele voortgebring is.—1 Petrus 3:19, 20.
“Nefilim”, wat “Neervellers” beteken, verwys na individue wat ander neergevel het. Hulle was tirannieke bullebakke, en die sonde van hulle wellustige vaders word met die verdorwenhede van Sodom en Gomorra vergelyk (Judas 6, 7). Saam het hulle verskriklike goddeloosheid op aarde aangestig.
’n “Opregte man onder sy tydgenote”
Boosheid was so algemeen dat God vasbeslote was om die mensdom te vernietig. Maar die geïnspireerde verslag sê: “Noag het genade gevind in die oë van die HERE. . . . Noag was ’n regverdige, opregte man onder sy tydgenote. Noag het met God gewandel” (Genesis 6:8, 9). Hoe was dit moontlik om ‘met God te wandel’ in ’n goddelose wêreld wat slegs geskik was vir vernietiging?
Noag het ongetwyfeld baie geleer by sy vader, Lameg, ’n man van geloof en ’n tydgenoot van Adam. Toe hy sy seun die naam Noag gegee het (wat blykbaar “Rus” of “Vertroosting” beteken), het Lameg geprofeteer: “Dit is hy wat ons sal troos oor ons werk en oor die moeitevolle arbeid van ons hande wat voortkom uit die aarde wat die HERE vervloek het.” Daardie profesie is vervul toe God sy vloek wat op die aarde gerus het, opgehef het.—Genesis 5:29; 8:21.
Die feit dat ’n kind godvrugtige ouers het, is geen waarborg dat hy geestelikgesind sal wees nie, want elke individu moet sy eie verhouding met Jehovah opbou. Noag “het met God gewandel” deur ’n weg te volg wat God se goedkeuring weggedra het. Wat Noag van God geleer het, het hom beweeg om Hom te dien. Noag se geloof het nie gewankel toe hy ingelig is oor God se voorneme ‘om alle vlees in ’n watervloed te verdelg’ nie.—Genesis 6:13, 17.
Noag was oortuig dat hierdie ongeëwenaarde ramp sou plaasvind, en daarom was hy gehoorsaam aan Jehovah se opdrag: “Maak vir jou ’n ark van goferhout. Met afdelings moet jy die ark maak en dit binne en buite met pik bestryk” (Genesis 6:14). Dit was beslis nie maklik om God se voorskrifte vir die ark te volg nie. Maar “Noag het gedoen volgens alles wat God hom beveel het.” Trouens, “hy het net so gedoen” (Genesis 6:22, NW). Noag het dit gedoen met die hulp van sy vrou en hulle seuns Sem, Gam en Jafet en hulle vrouens. Jehovah het hierdie geloof geseën. Watter uitstekende voorbeelde tog vir hedendaagse gesinne!
Wat sou die bou van die ark behels? Jehovah het Noag beveel om ’n ontsaglike, waterdigte houtkis met drie verdiepings te bou, ongeveer 133 meter lank by 22 meter breed by 13 meter hoog (Genesis 6:15, 16). So ’n vaartuig sou ’n bergruimte gehad het wat gelyk is aan dié van verskeie hedendaagse vragskepe.
Wat ’n enorme taak! Dit het heel waarskynlik beteken dat hulle duisende bome moes afkap, dit na die bouterrein moes sleep en planke en balke daarvan moes maak. Dit het beteken dat hulle steiers moes bou, penne moes maak, pik moes bekom om die ark waterdig te maak, houers en gereedskap moes verkry, ensovoorts. Die werk het dalk onderhandeling met handelaars en betaling vir goedere en dienste vereis. Dit het ongetwyfeld timmervaardighede geverg om die hout noukeurig te meet en ’n ark te bou wat sterk genoeg was. En dink net—die bouwerk het ongeveer 50 of 60 jaar geduur!
Noag sou vervolgens moes aandag skenk aan die voorbereiding van genoeg voedsel en voer (Genesis 6:21). Hy sou ’n groot klomp diere bymekaar moes kry en in die ark moes inbring. Noag het alles gedoen wat God beveel het, en die werk is voltooi (Genesis 6:22). Jehovah se seën het verseker dat dit ’n volslae sukses was.
“’n Prediker van regverdigheid”
Noag het nie net ’n ark gebou nie, maar het ook ’n waarskuwing gegee en God getrou gedien as “’n prediker van regverdigheid”. Maar die mense “het geen ag daarop geslaan totdat die vloed gekom en hulle almal weggesleur het nie”.—2 Petrus 2:5; Matteus 24:38, 39.
As ’n mens die geestelik en sedelik verdorwe toestand van daardie tyd in ag neem, is dit maklik om te sien hoe Noag se gesin ’n voorwerp van bespotting onder skeptiese bure kon word. Mense moes gedink het dat hulle stapelgek is. Noag het egter sy huisgesin met welslae geestelike aanmoediging en ondersteuning gegee, want hulle het nooit die gewelddadige, onsedelike, uittartende weë van hulle goddelose tydgenote aangeneem nie. Deur sy spraak en optrede, wat sy geloof weerspieël het, het Noag die wêreld van daardie tyd veroordeel.—Hebreërs 11:7.
Bewaar gedurende die Vloed
Kort voor die stortreën begin het, het God vir Noag gesê om die voltooide ark binne te gaan. Toe Noag se gesin en die diere binne was, het “Jehovah die deur agter hom toegesluit” en so enige smadende gespot uitgesluit. Tydens die Vloed het die ongehoorsame engele blykbaar hulle vleeslike liggame afgelê en vernietiging vrygespring. Maar wat van die ander? Elke lewende skepsel op die droë grond buite die ark, insluitende die Nefilim, het omgekom! Slegs Noag en sy gesin het dit oorleef.—Genesis 7:1-23, NW.
Noag en sy huisgesin het ’n maanjaar en tien dae in die ark deurgebring. Hulle was besig om die diere kos en water te gee, afval te verwyder en die dae te tel. Soos ’n skeepsjoernaal sit Genesis al die fases van die Vloed presies uiteen, wat toon hoe geloofwaardig die verslag is.—Genesis 7:11, 17, 24; 8:3-14.
Terwyl hulle in die ark was, het Noag ongetwyfeld sy gesin gelei in geestelike besprekings en in danksegging tot God. Die geskiedenis voor die Vloed is klaarblyklik deur Noag en sy gesin bewaar. Betroubare mondelinge tradisies of geskrewe geskiedkundige dokumente in hulle besit sou nuttige materiaal voorsien het vir opbouende besprekings tydens die Vloed.
Hoe bly moes Noag en sy gesin tog gewees het om weer op droë grond te staan! Die eerste ding wat hy gedoen het, was om ’n altaar op te rig en in ’n priesterlike hoedanigheid vir sy gesin op te tree deur offerandes te bring aan die Een wat hulle gered het.—Genesis 8:18-20.
“Net soos die dae van Noag was”
Jesus Christus het gesê: “Net soos die dae van Noag was, só sal die teenwoordigheid van die Seun van die mens wees” (Matteus 24:37). Vandag is Christene ook predikers van regverdigheid wat mense aanspoor om berou te toon (2 Petrus 3:5-9). Hierdie ooreenkoms laat ons dalk wonder wat voor die Vloed deur Noag se gedagtes gegaan het. Het hy ooit gevoel dat sy predikingswerk tevergeefs is? Was hy soms moeg? Die Bybel sê nie. Ons word bloot vertel dat Noag aan God gehoorsaam was.
Sien jy hoe Noag se situasie op ons s’n betrekking het? Hy het Jehovah gehoorsaam ondanks teenstand en ontberinge. Dit is waarom Jehovah hom regverdig verklaar het. Noag se gesin het nie geweet presies wanneer God die Vloed sou bring nie, maar hulle het geweet dat dit sou kom. Geloof in God se woord het Noag onderskraag deur jare se harde werk en wat dalk na ’n vergeefse predikingswerk gelyk het. Trouens, daar word vir ons gesê: “Deur geloof het Noag, nadat hy ’n goddelike waarskuwing gegee is oor dinge wat nog nie gesien is nie, godvrugtige vrees aan die dag gelê en ’n ark gebou tot redding van sy huisgesin; en deur hierdie geloof het hy die wêreld veroordeel, en hy het ’n erfgenaam geword van die regverdigheid wat volgens geloof is.”—Hebreërs 11:7.
Hoe het Noag sulke geloof verkry? Hy het blykbaar tyd geneem om na te dink oor alles wat hy van Jehovah geweet het en hom deur daardie kennis laat lei. Noag het ongetwyfeld in gebed met God gepraat. Trouens, hy het God so intiem leer ken dat hy “met God gewandel” het. As die gesinshoof het Noag met graagte tyd en liefdevolle aandag aan sy huisgesin gewy. Hy moes onder andere na die geestelike belange van sy vrou, sy drie seuns en sy skoondogters omsien.
Soos Noag weet ware Christene vandag dat Jehovah binnekort ’n einde aan hierdie goddelose stelsel van dinge gaan maak. Ons weet nie daardie dag of uur nie, maar ons besef dat dit tot “die behoud van die siel” sal lei as ons die geloof en gehoorsaamheid van hierdie “prediker van regverdigheid” navolg.—Hebreërs 10:36-39.
[Venster op bladsy 29]
Het dit werklik gebeur?
Antropoloë het tot 270 vloedlegendes van byna alle stamme en nasies versamel. “Die verhaal oor die vloed word regoor die wêreld gevind”, sê die geleerde Claus Westermann. “Soos die skeppingsverhaal is dit ’n deel van ons basiese kultuurerfenis. Dit is waarlik verstommend: Oral op aarde vind ons verhale van ’n groot voorhistoriese vloed.” Die verklaring? Die kommentator Enrico Galbiati sê: “Die alomteenwoordigheid van ’n vloedtradisie by verskillende en wydverspreide volke is ’n teken van die geskiedkundige werklikheid van die feit wat die grondslag van sulke tradisies vorm.” Maar wat vir Christene belangriker as wetenskaplike waarnemings is, is die wete dat Jesus self van die Vloed gepraat het as ’n werklike gebeurtenis in die geskiedenis van die mensdom.—Lukas 17:26, 27.
[Venster op bladsy 30]
Die Nefilim in mitologie?
Verhale oor ongeoorloofde liefdesverhoudings tussen gode en mense—en die “helde” of “halfgode” wat uit hierdie verhoudings gebore is—is iets wat Griekse, Egiptiese, Oegaritiese, Horitiese en Mesopotamiese teologie met mekaar gemeen het. Die gode van die Griekse mitologie het die gestalte van mense en groot skoonheid gehad. Hulle het geëet, gedrink, geslaap, geslagsgemeenskap gehad, gestry, baklei, verlei en verkrag. Hoewel hulle kwansuis heilig was, het hulle bedrog en misdaad gepleeg. Helde soos Agilles was glo van goddelike én menslike afkoms met bomenslike vermoëns, maar was nie onsterflik nie. Wat Genesis oor die Nefilim sê, werp dus lig op die moontlike of selfs waarskynlike oorsprong van hierdie mites.