Genesis
8 Maar God het gedink aan Noag en aan al die wilde diere en die mak diere wat saam met hom in die ark was,+ en God het ’n wind oor die aarde laat waai, en die waters het begin sak. 2 Die fonteine van die waterdieptes en die sluise van die hemel is toegemaak, en die reën het opgehou.*+ 3 Toe het die waters op die aarde geleidelik begin sak. Ná 150 dae was die water baie minder. 4 In die sewende maand, op die 17de dag van die maand, het die ark op die Aʹrarat-berge tot rus gekom. 5 Die waters het bly verminder, en in die tiende maand, op die eerste dag van die maand, het die toppe van die berge verskyn.+
6 Toe, aan die einde van 40 dae, het Noag die venster+ oopgemaak wat hy vir die ark gemaak het 7 en ’n kraai uitgestuur. Dit het herhaaldelik buitentoe gevlieg en teruggekom, totdat die waters van die aarde af opgedroog het.
8 Later het hy ’n duif uitgestuur om te sien of die waters wat op die oppervlak van die aarde was, gesak het. 9 Die duif het nie ’n rusplek gevind waar dit kon gaan sit nie, en daarom het dit na Noag teruggekom in die ark, want die waters het nog steeds die oppervlak van die hele aarde bedek.+ Toe het hy sy hand uitgesteek en die duif teruggebring in die ark in. 10 Hy het nog sewe dae gewag, en toe het hy die duif weer uit die ark uitgestuur. 11 Toe die duif teen die aand na hom toe terugkom, het hy gesien dat daar ’n vars geplukte olyfblaar in sy bek was! Noag het dus geweet dat die waters op die aarde heelwat gesak het.+ 12 Hy het nog sewe dae gewag. Toe het hy die duif uitgestuur, maar dit het nie weer na hom toe teruggekom nie.
13 In die 601ste jaar,+ in die eerste maand, op die eerste dag van die maand, het die waters gedreineer van die aarde af. Noag het die bedekking van die ark verwyder en gesien dat die oppervlak van die aarde besig was om droog te word. 14 In die tweede maand, op die 27ste dag van die maand, was die aarde droog.
15 God het toe vir Noag gesê: 16 “Gaan uit die ark uit saam met jou vrou, jou seuns en jou seuns se vrouens.+ 17 Bring al die diere van elke soort+ uit – die vlieënde diere en die ander diere en al die kruipende diere van die aarde – sodat hulle kan vermeerder op die aarde en vrugbaar kan wees en baie kan word op die aarde.”+
18 Noag het dus uit die ark uitgegaan saam met sy seuns,+ sy vrou en sy seuns se vrouens. 19 Al die diere – al die kruipende diere en al die vlieënde diere, alles wat op die aarde rondbeweeg – het volgens hulle soorte uit die ark uitgegaan.+ 20 Toe het Noag ’n altaar vir Jehovah gebou+ en van al die rein diere en van al die rein vlieënde diere+ geneem en brandoffers op die altaar geoffer.+ 21 En die geur van die offer was vir Jehovah aangenaam. Toe het Jehovah in sy hart gesê: “Ek sal nooit weer die grond vervloek+ weens die mens nie, want die neiging van die mens se hart is van jongs af sleg.+ Ek sal nooit weer alles wat lewe, vernietig soos ek gedoen het nie.+ 22 Van nou af sal daar altyd saaityd en oestyd, koue en hitte, somer en winter, en dag en nag op die aarde wees.”+