Jehovah het hom “my vriend” genoem
“Jy, o Israel, is my kneg, jy, o Jakob, wat ek uitverkies het, die saad van my vriend Abraham.”—JESAJA 41:8.
1, 2. (a) Hoe weet ons dat mense God se vriende kan word? (b) Wat sal ons in hierdie artikel bespreek?
VAN ons geboortedag tot die dag dat ons sterf, het ons liefde nodig. Mense het ’n behoefte aan hegte vriendskappe en liefde—nie net romantiese liefde nie. Maar ons het bowenal Jehovah se liefde nodig. Baie glo dat mense nie ’n hegte en liefdevolle vriendskap met God kan hê nie omdat hy onsigbaar en almagtig is. Maar ons weet wat die waarheid is!
2 Die Bybel toon dat mense wel God se vriende geword het. Ons moet uit hulle voorbeeld leer. Waarom? Omdat vriendskap met God die belangrikste doelwit is wat ons in die lewe kan hê. Kom ons kyk dus na die voorbeeld van Abraham. (Lees Jakobus 2:23.) Hoe het hy God se vriend geword? Abraham se hegte vriendskap met God was gegrond op geloof, en hy is bekend as “die vader . . . van almal wat geloof het” (Romeine 4:11). Terwyl jy sy voorbeeld ondersoek, moet jy jou afvra: ‘Hoe kan ek Abraham se geloof navolg en my vriendskap met Jehovah versterk?’
HOE HET ABRAHAM JEHOVAH SE VRIEND GEWORD?
3, 4. (a) Beskryf wat vir Abraham waarskynlik die grootste toets van geloof was. (b) Waarom was Abraham bereid om Isak te offer?
3 Stel jou voor hoe Abraham, wat byna 125 jaar oud is, stadig teen ’n berg oploop.[1] (Sien eindnota.) Agter hom loop sy seun Isak, wat omtrent 25 jaar oud is. Isak dra vuurmaakhout, en Abraham dra ’n mes en alles wat hy nodig het om ’n vuur te maak. Dit is waarskynlik die moeilikste reis van Abraham se lewe. Maar nie weens sy ouderdom nie. Hy het nog baie lewenskrag. Hierdie reis is moeilik omdat Jehovah hom gevra het om sy seun te offer!—Genesis 22:1-8.
Abraham het God nie blindelings gehoorsaam nie, dit wil sê hom gehoorsaam sonder om te dink nie
4 Dit was waarskynlik die grootste toets van Abraham se geloof. Party mense sê dat dit wreed van God was om Abraham te vra om sy seun te offer. En ander sê dat Abraham bereid was om dit te doen omdat hy sy seun nie liefgehad het nie. Mense sê sulke dinge omdat hulle nie geloof het nie en nie weet wat ware geloof is of hoe dit werk nie (1 Korintiërs 2:14-16). Maar Abraham het God nie blindelings gehoorsaam nie, dit wil sê hom gehoorsaam sonder om te dink nie. Hy was gehoorsaam omdat hy ware geloof gehad het. Hy het geweet dat Jehovah hom nooit sal vra om iets te doen wat hom blywende skade sal berokken nie. Abraham het geweet dat Jehovah hom en sy geliefde seun sou seën as hy gehoorsaam is. Wat het Abraham nodig gehad om sulke sterk geloof te hê? Hy het kennis en ondervinding nodig gehad.
5. Hoe het Abraham moontlik van Jehovah geleer, en watter uitwerking het hierdie kennis op hom gehad?
5 Kennis. Abraham het in die stad Ur grootgeword. Die mense daar het valse gode aanbid, en sy vader het dit ook gedoen (Josua 24:2). Hoe het Abraham dus van Jehovah geleer? Die Bybel toon dat Abraham familie was van Noag se seun Sem. En hy het gelewe totdat Abraham omtrent 150 jaar oud was. Sem het sterk geloof gehad en hy het sy familielede waarskynlik van Jehovah vertel. Ons kan nie met sekerheid sê nie, maar Abraham het moontlik op hierdie manier van Jehovah geleer. Die dinge wat Abraham geleer het, het hom laat lief word vir Jehovah, en hierdie kennis het hom gehelp om geloof op te bou.
6, 7. Hoe het die ondervindinge wat Abraham deurgemaak het, sy geloof versterk?
6 Ondervinding. Hoe het Abraham ondervinding opgedoen wat sy geloof in Jehovah versterk het? Daar word gesê dat gedagtes tot gevoelens lei en dat gevoelens tot dade lei. Abraham is diep geraak deur wat hy omtrent God geleer het, en dit het daartoe gelei dat hy diep respek gehad het vir “Jehovah, die Allerhoogste God, Voortbringer van hemel en aarde” (Genesis 14:22). Die Bybel noem sulke diep respek “godvrugtige vrees” (Hebreërs 5:7). ’n Hegte vriendskap met Jehovah is slegs moontlik as ons godvrugtige vrees het (Psalm 25:14). Hierdie eienskap het Abraham beweeg om gehoorsaam te wees aan Jehovah.
7 God het vir Abraham en Sara gesê om hulle tuiste in Ur te verlaat en na ’n vreemde land te trek. Hulle was nie meer jonk nie en hulle sou vir die res van hulle lewe in tente moes woon. Al het Abraham geweet dat daar baie gevare sou wees, was hy vasbeslote om Jehovah te gehoorsaam. Weens sy gehoorsaamheid het God hom geseën en beskerm. Toe Abraham se pragtige vrou, Sara, byvoorbeeld by meer as een geleentheid van hom af weggeneem is en sy lewe in gevaar was, het Jehovah Abraham en Sara wonderbaarlik beskerm (Genesis 12:10-20; 20:2-7, 10-12, 17, 18). Hierdie ondervindinge het Abraham se geloof versterk.
8. Hoe kan ons kennis en ondervinding opdoen wat ons vriendskap met Jehovah sal versterk?
8 Kan ons ’n hegte vriendskap met Jehovah opbou? Ons kan beslis! Soos Abraham moet ons van Jehovah leer. En ons kan ook die nodige kennis en ondervinding opdoen. Ons het vandag baie meer as wat Abraham gehad het (Daniël 12:4; Romeine 11:33). Die Bybel kan ons help om ’n oorvloed kennis van die “Voortbringer van hemel en aarde” op te doen. Wat ons leer, laat ons lief word vir Jehovah en help ons om diep respek vir hom op te bou. Hierdie liefde en respek vir God beweeg ons om hom te gehoorsaam. Wanneer ons hom gehoorsaam, sien ons hoe hy ons beskerm en seën. Dit laat ons ondervinding opdoen wat ons geloof versterk. As ons Jehovah heelhartig dien, sal ons tevrede voel, gemoedsrus hê en vreugdevol wees (Psalm 34:8; Spreuke 10:22). Hoe meer kennis en ondervinding ons opdoen, hoe sterker sal ons vriendskap met hom word.
HOE ABRAHAM SY VRIENDSKAP MET GOD STERK GEHOU HET
9, 10. (a) Wat is nodig om ’n vriendskap te versterk? (b) Wat toon dat Abraham sy vriendskap met Jehovah gekoester en sterk gehou het?
9 ’n Hegte vriendskap is ’n kosbare skat. (Lees Spreuke 17:17.) Dit is nie soos ’n duur blompot wat net op ’n rak staan nie. Vriendskap is eerder soos ’n pragtige plant wat water en versorging nodig het om te blom. Abraham het sy vriendskap met Jehovah gekoester en sterk gehou. Hoe het hy dit gedoen?
Vriendskap is soos ’n pragtige plant wat water en versorging nodig het om te blom
10 Abraham het sy vrees vir God voortdurend versterk en hy het gehoorsaam gebly. Byvoorbeeld, toe hy saam met sy familie en diensknegte na Kanaän gereis het, het hy op Jehovah vertrou wanneer hy klein sowel as groot besluite geneem het. ’n Jaar voordat Isak gebore is, toe Abraham 99 jaar oud was, het Jehovah vir hom gesê om almal in sy huishouding wat manlik is, te besny. Het Abraham Jehovah se bevel bevraagteken of ’n verskoning gesoek om nie te doen wat van hom gevra is nie? Nee, hy het op Jehovah vertrou en hom “op daardie selfde dag” gehoorsaam.—Genesis 17:10-14, 23.
11. Waarom was Abraham bekommerd oor Sodom en Gomorra, en hoe het Jehovah hom gehelp?
11 Abraham was altyd gehoorsaam aan Jehovah, selfs in klein dingetjies, en as gevolg daarvan het hulle vriendskap sterker geword. Hy het gevoel dat hy met Jehovah oor enigiets kan praat en het selfs hulp gevra wanneer hy met moeilike vrae geworstel het. Toe Jehovah byvoorbeeld gesê het dat hy Sodom en Gomorra gaan vernietig, was Abraham bekommerd. Waarom? Hy was bang dat goeie mense saam met die slegte mense sou sterf. Hy was waarskynlik bekommerd oor sy broerskind Lot en sy gesin, wat in Sodom gewoon het. Abraham het vertrou op Jehovah, “die Regter van die hele aarde”, en daarom het hy nederig met Jehovah oor sy bekommernis gepraat. Jehovah was geduldig met sy vriend en het vir hom gewys dat Hy barmhartig is. Jehovah het verduidelik dat hy, selfs wanneer hy oordeel voltrek, na goeie mense soek en hulle red.—Genesis 18:22-33.
12, 13. (a) Hoe het Abraham se kennis en ondervinding hom later gehelp? (b) Wat toon dat Abraham vertroue in Jehovah gehad het?
12 Dit is duidelik dat al die kennis en ondervinding wat Abraham opgedoen het, hom gehelp het om sy vriendskap met Jehovah sterk te hou. Toe Jehovah later vir Abraham gevra het om sy seun te offer, kon hy dus nadink oor die feit dat Jehovah nog altyd geduldig, barmhartig en betroubaar was en hom beskerm het. Abraham was vas oortuig daarvan dat Jehovah nie skielik wreed geword het nie. Waarom sê ons so?
13 Voordat Abraham teen die berg Moria opgeloop het, het hy vir sy knegte gesê: “Bly julle hier met die esel, maar ek en die seun wil daarheen gaan en aanbid en na julle toe terugkeer” (Genesis 22:5). Wat het Abraham bedoel? Het hy ’n leuen vertel toe hy gesê het dat hy saam met Isak sou terugkeer, aangesien hy geweet het dat hy hom sou offer? Nee. Die Bybel sê dat Abraham geweet het dat Jehovah Isak uit die dood kon opwek. (Lees Hebreërs 11:19.) Abraham het onthou dat Jehovah dit vir hom moontlik gemaak het om ’n seun te hê, al was hy en Sara baie oud (Hebreërs 11:11, 12, 18). Abraham het dus besef dat niks vir Jehovah onmoontlik is nie. Abraham het nie geweet wat daardie dag sou gebeur nie. Maar hy het geloof gehad dat Jehovah, indien nodig, sy seun sou opwek sodat al God se beloftes bewaarheid kon word. Om dié rede word Abraham “die vader . . . van almal wat geloof het”, genoem.
Abraham het geloof gehad dat Jehovah, indien nodig, sy seun sou opwek sodat al God se beloftes bewaarheid kon word
14. Voor watter uitdagings kom jy te staan in jou diens aan Jehovah, en hoe kan Abraham se voorbeeld jou help?
14 Jehovah vra ons nie vandag om ons kinders te offer nie, maar hy vra ons wel om sy gebooie te gehoorsaam. Partykeer verstaan ons nie die rede vir hierdie gebooie nie of soms is dit vir ons moeilik om hierdie gebooie te gehoorsaam. Voel jy ooit so? Vir sommige is die predikingswerk moeilik. Dalk is hulle skaam en vind hulle dit moeilik om met vreemdelinge te praat. En party is bang om anders te wees as hulle werk- of skoolmaats (Eksodus 23:2; 1 Tessalonisense 2:2). As jy gevra word om iets moeiliks te doen, moet jy dink aan Abraham se uitstekende voorbeeld van geloof en moed. Wanneer ons oor die voorbeeld van getroue manne en vroue nadink, kan dit ons beweeg om hulle na te volg en nader aan ons Vriend, Jehovah, te kom.—Hebreërs 12:1, 2.
’N VRIENDSKAP WAT SEËNINGE MEEBRING
15. Waarom kan ons seker wees dat Abraham nooit spyt was oor sy lojale gehoorsaamheid aan Jehovah nie?
15 Was Abraham ooit spyt dat hy Jehovah se gebooie gehoorsaam het? Die Bybel sê dat Abraham “op ’n goeie ouderdom gesterf [het], oud en tevrede” (Genesis 25:8). Toe Abraham 175 jaar oud was, kon hy oor sy lang lewe nadink en tevrede voel. Waarom? Omdat hy sy vriendskap met Jehovah altyd eerste in sy lewe gestel het. Maar wanneer ons lees dat Abraham “oud en tevrede” was, moet ons nie tot die slotsom kom dat hy geen begeerte gehad het om in die toekoms te lewe nie.
16. Watter vreugdes sal Abraham in die Paradys ondervind?
16 Die Bybel sê dat Abraham “gewag [het] op die stad wat ware fondamente het, waarvan God die bouer en maker is” (Hebreërs 11:10). Abraham het geglo dat hy eendag sal sien hoe hierdie stad, die Koninkryk van God, oor die aarde heers. En hy sal! Stel jou voor hoe gelukkig Abraham sal wees wanneer hy op ’n paradysaarde lewe en sy vriendskap met God voortdurend versterk. Dink net hoe bly hy sal wees om te weet dat sy voorbeeld van geloof God se knegte duisende jare lank gehelp het! In die Paradys sal hy leer dat die offer op die berg Moria iets baie groters voorgestel het (Hebreërs 11:19). En hy sal uitvind hoe die pyn wat hy deurgemaak het toe hy sy seun Isak moes offer, miljoene getroue mense gehelp het om Jehovah se pyn te verstaan toe hy sy Seun, Jesus Christus, as ’n losprys vir die mensdom gegee het (Johannes 3:16). Abraham se voorbeeld het ons almal gehelp om nog meer waardering te hê vir die losprys, die grootste liefdedaad wat daar is!
17. Wat is jy vasbeslote om te doen, en wat sal ons in die volgende artikel bespreek?
17 Laat elkeen van ons vasbeslote wees om Abraham se geloof na te volg. Soos Abraham het ons kennis en ondervinding nodig. As ons aanhou om van Jehovah te leer en hom te gehoorsaam, sal ons sien hoe hy ons seën en beskerm. (Lees Hebreërs 6:10-12.) Mag Jehovah vir ewig ons Vriend wees! In die volgende artikel sal ons nog drie voorbeelde bespreek van getroues wat hegte vriende van God geword het.
^ [1] (paragraaf 3) Abraham en Sara is eers Abram en Sarai genoem. Maar in hierdie artikel sal ons die name gebruik wat Jehovah later vir hulle gegee het.