Jakob het geestelike dinge waardeer
JAKOB se lewe word gekenmerk deur onmin en teëspoed. Sy tweelingbroer se moorddadige woede dwing Jakob om te vlug vir sy lewe. In plaas van die meisie te kry wat hy liefhet, word hy bedrieg sodat hy eers met iemand anders trou en op die ou end vier vrouens het en baie probleme as gevolg daarvan (Genesis 30:1-13). Hy werk 20 jaar lank vir ’n man wat hom uitbuit. Hy worstel met ’n engel en doen ’n permanente besering op. Sy dogter word verkrag, sy seuns veroorsaak ’n bloedbad en hy treur oor die tragiese verlies van sy gunstelingseun en -vrou. Op sy oudag het hy geen ander keuse as om weens ’n hongersnood uit sy land te trek nie, en hy erken dat sy dae “min en rampspoedig” was (Genesis 47:9). Ten spyte van al hierdie ontberinge is Jakob ’n geestelike man wat op God vertrou. Is sy geloof misplaas? Watter lesse kan ons leer uit ’n bespreking van ’n paar van Jakob se ondervindinge?
So anders as sy broer
Die rede vir die onmin tussen hom en sy broer was die feit dat Jakob geestelike rykdom waardeer het, terwyl Esau dit verag het. Jakob het belanggestel in die verbondsbelofte wat aan Abraham gemaak is en het hom daarop toegelê om na die familie om te sien wat God as erfgename benoem het. Daarom het Jehovah hom “liefgehad”. Jakob was ’n “onberispelike” man, ’n term wat op sedelike voortreflikheid dui. In teenstelling hiermee het Esau so min vir sy geestelike erfenis omgegee dat hy dit vir so te sê niks aan Jakob verkoop het. Toe Jakob, met God se goedkeuring, geëis het wat syne was en die seën ontvang het wat vir sy broer bedoel was, het dit Esau met wraaksugtige woede vervul. Jakob het toe alles en almal agtergelaat wat hy liefgehad het, maar gebeure hierna het ongetwyfeld enige swaarmoedige gevoelens laat verdwyn.—Maleagi 1:2, 3; Genesis 25:27-34; 27:1-45.
In ’n droom het God Jakob engele laat sien wat op- en afklim teen ’n leer, of ’n “kliptrap”, tussen die hemel en die aarde en vir Jakob gesê dat Hy hom en sy saad sal beskerm. “Deur middel van jou en deur middel van jou saad sal al die families van die aarde hulleself beslis seën. En kyk, ek is met jou en ek sal jou bewaar oral waar jy gaan en ek sal jou na hierdie grond terugbring, want ek sal jou nie verlaat totdat ek gedoen het wat ek vir jou gesê het nie.”—Genesis 28:10-15; voetnoot in NW.
Hoe gerusstellend tog! Jehovah het bevestig dat beloftes wat aan Abraham en Isak gegee is, Jakob se gesin geestelik sou verryk. Jakob is daarop attent gemaak dat engele diegene kan bedien wat God se goedkeuring wegdra, en hy is van goddelike beskerming verseker. Uit dankbare erkenning hiervan het Jakob ’n gelofte gedoen dat hy getrou aan Jehovah sou wees.—Genesis 28:16-22.
Jakob het hom beslis nie Esau se erfenis wederregtelik toegeëien nie. Voordat die seuns gebore is, het Jehovah gesê dat ‘die oudste die jongste sal dien’ (Genesis 25:23). ‘Sou dit nie makliker gewees het as God toegesien het dat Jakob eerste gebore word nie?’ vra iemand dalk. Wat hierop gevolg het, het belangrike waarhede na vore laat kom. God bewaar nie seëninge vir diegene wat voel dat hulle ’n aanspraak daarop het nie, maar hy toon wel onverdiende goedhartigheid aan dié wat hy uitkies. Jakob het dus die geboortereg ontvang en nie sy ouer broer, wat dit nie waardeer het nie. Net so het geestelike Israel die natuurlike Jode as ’n nasie vervang omdat hulle dieselfde gesindheid as Esau geopenbaar het (Romeine 9:6-16, 24). ’n Goeie verhouding met Jehovah word vandag ook nie verseker deur ’n erfenis wat sonder moeite verkry word nie, al word iemand ook in ’n godvresende gesin of milieu gebore. Almal wat goddelike seëninge wil ontvang, moet daarna streef om godvresend te wees en opregte waardering vir geestelike dinge te hê.
Deur Laban verwelkom
Toe Jakob in Paddan-Aram aankom om vir hom ’n vrou onder sy familielede te probeer kry, het hy sy niggie Ragel, Laban se dogter, by ’n put ontmoet en die swaar klip op die put weggerol sodat die diere wat sy gebring het, kon water drink.a Ragel het terug huis toe gehardloop om Jakob se aankoms bekend te maak, en Laban het hom inderhaas tegemoetgegaan. As Laban die rykdom verwag het wat sy familie van Abraham se kneg ontvang het, is hy teleurgestel, want Jakob het met leë hande daar aangekom. Maar Laban het blykbaar wel iets gesien wat hy kon uitbuit—’n hardwerkende man.—Genesis 28:1-5; 29:1-14.
Jakob het sy verhaal vertel. Dit is nie duidelik of hy die slim set gemeld het waarmee hy die geboortereg verkry het nie, maar nadat Laban “al hierdie dinge” gehoor het, het hy gesê: “Jy is waarlik my been en my vlees.” Volgens een geleerde kan hierdie frase beskou word as ’n hartlike uitnodiging dat Jakob daar kon bly of as ’n erkenning dat hulle verwantskap Laban verplig het om hom te beskerm. Hoe dit ook al sy, Laban het gou aan maniere gedink om sy susterskind uit te buit.
Laban het iets begin wat die volgende 20 jaar onenigheid sou veroorsaak. “Is jy my broer, en moet jy my verniet dien?” het hy gevra. “Sê my: Wat moet jou loon wees?” Hoewel Laban die rol van die welwillende oom gespeel het, het hy sy bloedverwantskap met Jakob tot ’n dienskontrak verlaag. Aangesien Jakob op Ragel verlief was, het hy geantwoord: “Ek is bereid om u sewe jaar te dien vir Ragel, u jongste dogter.”—Genesis 29:15-20.
’n Verlowing was van krag wanneer die bruidsprys aan die bruid se familie betaal is. Die Mosaïese Wet het later die prys vir maagde wat verlei is, op 50 silwersikkels vasgestel. Die geleerde Gordon Wenham meen dat dit die “hoogste bruidsprys” was, maar dat die meeste “heelwat laer” was (Deuteronomium 22:28, 29). Jakob kon nie ’n betaling reël nie. Hy het Laban sewe jaar diens aangebied. “Aangesien tydelike werkers in Ou Babiloniese tye tussen ’n halwe en een sikkel per maand ontvang het” (42 tot 84 sikkels in sewe volle jare), sê Wenham verder, “het Jakob vir Laban ’n aansienlike bruidsprys aangebied in ruil vir Ragel se hand.” Laban het dit geredelik aanvaar.—Genesis 29:19.
Sewe jaar het vir Jakob soos “’n paar dae” gevoel omdat sy liefde vir Ragel so groot was. Daarna het hy sy gesluierde bruid opgeëis, sonder om in die minste te verwag dat Laban hom sou bedrieg. Stel jou sy skok voor toe hy die volgende oggend uitvind dat hy nie met Ragel geslaap het nie, maar met haar suster Lea! Jakob wou weet: “Wat het u my aangedoen? Was dit nie vir Ragel dat ek by u in diens was nie? Waarom het u my dan bedrieg?” Laban het geantwoord: “Dit is in ons plek nie gebruiklik om so te maak nie, om die jonger vrou voor die eersgeborene te gee nie. Vier die volle week van hierdie vrou. Daarna sal hierdie ander vrou ook aan jou gegee word vir die diens waarmee jy nog sewe jaar by my kan dien” (Genesis 29:20-27). Sonder verweer en vasgekeer, het Jakob geen ander keuse gehad as om daardie voorwaardes te aanvaar as hy Ragel wou hê nie.
Anders as die eerste sewe jaar, was die volgende sewe jaar bitter. Hoe kon Jakob Laban se gemene set oor die hoof sien? En wat van Lea, wat daarmee saamgespeel het? Laban het natuurlik glad nie omgegee watter onstuimige toekoms hy vir Lea en Ragel geskep het nie. Sy eie belange was al wat vir hom saak gemaak het. Benewens gegriefdheid het jaloesie ontstaan toe Lea vier seuns kort na mekaar gehad het, terwyl Ragel kinderloos gebly het. Toe het Ragel, wat desperaat was om kinders te hê, haar diensmeisie gegee om kinders in haar plek te baar, en weens wedywering het Lea dieselfde gedoen. Jakob het op die ou end 4 vrouens, 12 kinders en allesbehalwe ’n gelukkige gesin gehad. Jehovah was nietemin besig om Jakob ’n groot nasie te maak.—Genesis 29:28–30:24.
Verryk deur Jehovah
Ten spyte van beproewinge het Jakob gesien dat God met hom was soos hy beloof het. Laban het dit ook gesien, want die paar diere wat hy besit het toe Jakob daar aangekom het, het onder sy susterskind se sorg ’n menigte geword. Omdat Laban teësinnig was om Jakob te laat gaan, het hy hom gevra wat sy loon vir verdere diens sou wees, waarop Jakob gevra het vir die diere met buitengewone kleure wat onder Laban se kuddes gebore word. Blykbaar was die skape in daardie streek gewoonlik wit en die bokke swart of donkerbruin; net ’n minderheid was bont. Laban het gedink dat die ooreenkoms tot sy voordeel sou wees, en daarom het hy geredelik ingestem en dadelik al sy diere met buitengewone kleure ’n hele ent daarvandaan verskuif sodat hulle nie in aanraking kon kom met die kuddes wat in Jakob se sorg oorgebly het nie. Hy het klaarblyklik gedink dat Jakob min uit die ooreenkoms sou kry, beslis nie die 20 persent van die pasgebore lammers wat die eertydse herders gewoonlik as loon ontvang het nie. Maar Laban was verkeerd, want Jehovah was met Jakob.—Genesis 30:25-36.
Onder goddelike leiding het Jakob sterk vee met die regte kleure geteel (Genesis 30:37-42). Sy idees oor veeteelt was nie korrek nie. Maar “wetenskaplik kon die verlangde resultate verkry word deur die herhaalde kruisteling van . . . eenkleurige diere wat die resessiewe gene vir spikkels gehad het”, verduidelik die geleerde Nahum Sarna, en “sulke diere kan uitgeken word aan . . . [hulle] basterkrag”.
Toe Laban die resultate sien, het hy die ooreenkoms probeer verander oor watter diere aan sy susterskind behoort—gestreeptes, gevlektes, bontes of gespikkeldes. Hy het sy eie voordeel gesoek, maar ongeag hoe Laban die kontrak verander het, Jehovah het toegesien dat Jakob altyd begunstig is. Laban kon maar net op sy tande kners. Jakob het gou groot rykdom, kuddes, knegte, kamele en esels verkry, nie weens sy eie vindingrykheid nie, maar weens Jehovah se steun. Hy het later aan Ragel en Lea verduidelik: “Julle vader het my vir die gek gehou, en hy het my loon tien keer verander, maar God het hom nie toegelaat om my skade te berokken nie. . . . God [het] die kudde van julle vader bly wegneem en aan my gegee.” Jehovah het Jakob ook verseker dat Hy alles sien wat Laban doen, maar dat Jakob nie bekommerd hoef te wees nie. “Keer terug na jou land en na jou familielede”, het God gesê, “en ek sal aan jou goed doen.”—Genesis 31:1-13; 32:9.
Nadat Jakob hom uiteindelik van die bedrieglike Laban losgemaak het, het hy huiswaarts gekeer. Al het 20 jaar verstryk, was hy nog steeds bang vir Esau, en des te meer toe hy hoor dat Esau met vierhonderd man op pad is. Wat kon Jakob doen? Omdat hy altyd ’n geestelike mens was wat op God vertrou het, het hy in geloof opgetree. Hy het gebid en in sy gebed erken dat hy Jehovah se goedhartigheid nie waardig is nie, en hy het God gesmeek om hom en sy gesin op grond van Sy beloftes uit Esau se hand te verlos.—Genesis 32:2-12.
Toe het iets onverwags gebeur. ’n Vreemdeling, wat eintlik ’n engel was, het in die nag met Jakob geworstel, en met ’n enkele aanraking het hy Jakob se heup uit lit laat raak. Jakob het geweier om hom te laat gaan tensy die engel hom eers seën. Die profeet Hosea het later gesê dat Jakob “gehuil [het], sodat hy om guns kon smeek” (Hosea 12:2-4; Genesis 32:24-29). Jakob het geweet dat vorige verskynings van engele verband gehou het met die vervulling van die Abrahamitiese verbond deur middel van sy saad. Daarom het hy hom ingespan tydens ’n kragtige worsteling en ’n seën verkry. By hierdie geleentheid het God sy naam verander na Israel, wat “Stryder (Volharder) met God”, of “God stry”, beteken.
Is jy bereid om te worstel?
Die worsteling met ’n engel en die hereniging met Esau was nie die enigste krisisse waarvoor Jakob te staan gekom het nie. Maar die gebeure wat hier bespreek is, lig toe watter soort man hy was. Terwyl Esau nie eers ’n bietjie honger kon verduur ter wille van sy geboortereg nie, het Jakob sy hele lewe lank hard gestry om seëninge te verkry—hy het selfs met ’n engel geworstel. Soos God beloof het, het Jakob goddelike leiding en beskerming ontvang, en hy het die voorvader van ’n groot nasie en van die Messias geword.—Matteus 1:2, 16.
Is jy bereid om jou in te span om Jehovah se guns te verkry, om as ’t ware daarvoor te worstel? Vandag is die lewe vol probleme en uitdagings vir dié wat hulle graag wil onderwerp aan God se wil, en soms is dit ’n stryd om die regte besluite te maak. Maar die goeie voorbeeld van Jakob is vir ons ’n sterk aansporing om vas te hou aan die hoop op die beloning wat Jehovah vir ons in die vooruitsig stel.
[Voetnoot]
a Die ontmoeting het ooreengekom met die tyd toe Jakob se moeder, Rebekka, Eliëser se kamele water gegee het. Daarna het Rebekka huis toe gehardloop met die nuus van die vreemdeling se aankoms. Toe Laban die goue voorwerpe sien wat sy suster as ’n geskenk ontvang het, het hy uitgehardloop om Eliëser te verwelkom.—Genesis 24:28-31, 53.
[Prente op bladsy 31]
Jakob het sy hele lewe lank hard gestry om seëninge te verkry