Genesis
27 Toe Isak oud geword het en sy oë te swak was om te sien, het hy sy oudste seun, Esau,+ na hom toe geroep en gesê: “My seun!” Hy het geantwoord: “Hier is ek!” 2 Isak het gesê: “Ek het oud geword. Ek weet nie hoe lank ek nog gaan lewe nie. 3 Neem dan nou asseblief jou wapens, jou pyle en jou boog, en gaan uit na die veld en jag iets vir my.+ 4 Maak dan vir my ’n lekker gereg, die soort waarvan ek hou, en bring dit vir my sodat ek dit kan eet. Daarna sal ek* jou seën voordat ek sterf.”
5 Maar Rebekka het geluister terwyl Isak met sy seun Esau gepraat het. En Esau het na die veld uitgegaan om te jag en wildsvleis huis toe te bring.+ 6 Rebekka het toe vir haar seun Jakob+ gesê: “Ek het nou net gehoor dat jou pa vir jou broer, Esau, gesê het: 7 ‘Bring vir my wildsvleis en maak vir my ’n lekker gereg. Dan sal ek eet, en daarna sal ek jou voor Jehovah seën voordat ek sterf.’+ 8 My seun, luister nou mooi na my en doen wat ek vir jou sê.+ 9 Gaan asseblief na die kudde en gaan haal vir my twee van die beste boklammers, sodat ek vir jou pa ’n lekker gereg met hulle kan maak, net soos hy daarvan hou. 10 Neem dit dan na jou pa toe, sodat hy dit kan eet en jou voor sy dood kan seën.”
11 Jakob het vir sy ma, Rebekka, gesê: “Maar my broer, Esau, is ’n harige man,+ en my vel is glad. 12 Sê nou my pa vat aan my?+ Dan sal dit beslis lyk asof ek hom spot, en ek sal ’n vloek oor my bring in plaas van ’n seën.” 13 Sy ma het vir hom gesê: “Laat die vloek wat vir jou bedoel is, op my wees, my seun. Doen net wat ek sê en gaan haal hulle vir my.”+ 14 Toe het hy hulle gaan haal en na sy ma toe gebring, en sy ma het ’n lekker gereg voorberei, net soos sy pa daarvan gehou het. 15 Daarna het Rebekka haar oudste seun, Esau, se beste klere geneem, wat sy in die huis gehad het, en sy het dit vir haar jongste seun, Jakob, aangetrek.+ 16 Sy het ook die velle van die boklammers op sy hande en op die haarlose deel van sy nek gesit.+ 17 Toe het sy die heerlike gereg en die brood wat sy gemaak het, vir haar seun Jakob gegee.+
18 Hy het na sy pa toe gegaan en gesê: “Pa?” Hy het geantwoord: “Hier is ek. Wie is jy, my seun?” 19 Jakob het vir sy pa gesê: “Dis Esau, u eersgeborene.+ Ek het gedoen net soos Pa vir my gesê het. Sit asseblief regop en eet van my wildsvleis, sodat Pa my kan seën.”+ 20 Toe het Isak vir sy seun gevra: “Hoe het jy dit so gou gevind, my seun?” Hy het geantwoord: “Omdat Jehovah u God dit na my toe gebring het.” 21 Toe het Isak vir Jakob gesê: “Kom asseblief nader, my seun, sodat ek kan voel of jy werklik my seun Esau is of nie.”+ 22 Jakob het tot by sy pa, Isak, gekom, en nadat Isak aan hom gevoel het, het hy gesê: “Die stem is die stem van Jakob, maar die hande is die hande van Esau.”+ 23 Hy het hom nie herken nie omdat sy hande harig was, soos die hande van Esau, sy broer. Daarom het hy hom geseën.+
24 Daarna het hy gevra: “Is jy werklik my seun Esau?” En hy het geantwoord: “Ek is.” 25 Toe het hy gesê: “Bring vir my van die wildsvleis, sodat ek dit kan eet, my seun, en dan sal ek jou seën.” Jakob het dit vir hom gebring, en hy het geëet, en hy het vir hom wyn gebring, en hy het gedrink. 26 Toe het sy pa, Isak, vir hom gesê: “Kom asseblief nader en soen my, my seun.”+ 27 Toe het hy nader gekom en hom gesoen, en hy kon die reuk van sy klere ruik.+ Daarna het hy hom geseën en gesê:
“Die reuk van my seun is soos die geur van die veld wat Jehovah geseën het. 28 Mag die ware God jou die dou van die hemel gee+ en die vrugbare grond van die aarde+ en ’n oorvloed van graan en nuwe wyn.+ 29 Laat volke jou dien en laat nasies laag voor jou buig. Word die meester van jou broers, en laat die seuns van jou ma laag voor jou buig.+ Mag almal wat jou vervloek, vervloek wees, en mag almal wat jou seën, geseënd wees.”+
30 Net nadat Isak Jakob geseën het en Jakob van Isak, sy pa, af weggegaan het, het sy broer, Esau, van die jag af teruggekom.+ 31 Hy het ook ’n lekker gereg voorberei en dit vir sy pa gebring, en hy het vir sy pa gesê: “Sit asseblief regop, Pa, en eet van my wildsvleis, en dan kan Pa my seën.” 32 Toe het sy pa, Isak, vir hom gevra: “Wie is jy?” En hy het gesê: “Esau, Pa se eersgebore seun.”+ 33 Isak het erg begin bewe en gesê: “Wie het dan gaan jag en wildsvleis vir my gebring? Ek het dit reeds geëet voordat jy ingekom het, en ek het hom geseën – en hy sal beslis geseënd wees!”
34 Toe Esau sy pa se woorde hoor, het hy baie hard en bitter begin uitroep en vir sy pa gesê: “Seën my, seën my ook, Pa!”+ 35 Maar hy het gesê: “Jou broer het gekom en my bedrieg sodat hy die seën kon ontvang wat vir jou bedoel was.” 36 Toe het hy gesê: “Is dit nie waarom hy Jakob* genoem word nie? Hy het my nou al twee keer bedrieg.+ Hy het al klaar my geboortereg geneem,+ en nou het hy ook my seën geneem!”+ Toe het hy bygevoeg: “Het Pa nie ’n seën vir my oor nie?” 37 Maar Isak het Esau geantwoord: “Kyk, ek het hom as meester oor jou aangestel,+ en ek het al sy broers vir hom gegee as knegte, en ek het gesê dat hy graan en nuwe wyn sal hê.+ Wat bly nog oor wat ek vir jou kan gee, my seun?”
38 Esau het vir sy pa gesê: “Het Pa net een seën om te gee? Seën my, seën my ook, Pa!” Daarna het Esau hard uitgeroep en in trane uitgebars.+ 39 Toe het sy pa, Isak, hom geantwoord:
“Ver van die vrugbare grond van die aarde sal jou woonplek wees, en ver van die dou van die hemel daar bo.+ 40 Jy sal jou swaard jou hele lewe lank moet gebruik,+ en jy sal jou broer dien.+ Maar wanneer jy rusteloos raak, sal jy vir seker sy juk breek wat op jou nek sal wees.”+
41 Esau het ’n vyandige gesindheid teenoor Jakob gehad as gevolg van die seën wat sy pa hom gegee het,+ en Esau het in sy hart bly sê: “Dit sal nie meer lank wees voordat daar oor my pa gerou sal word nie.+ Daarna gaan ek Jakob, my broer, doodmaak.” 42 Toe daar vir Rebekka vertel is wat haar oudste seun, Esau, gesê het, het sy dadelik haar jongste seun, Jakob, laat roep en vir hom gesê: “Kyk! Esau, jou broer, is van plan om wraak te neem deur jou dood te maak.* 43 My seun, doen nou wat ek vir jou sê. Staan op en vlug na my broer Laban in Haran.+ 44 Gaan bly ’n ruk lank by hom totdat jou broer se woede bedaar het, 45 totdat jou broer gekalmeer het en hy vergeet het wat jy aan hom gedoen het. Dan sal ek jou daarvandaan laat roep. Hoekom moet ek julle albei op een dag verloor?”
46 Daarna het Rebekka vir Isak bly sê: “Ek haat my lewe as gevolg van die dogters van Het.+ As Jakob ooit ’n vrou neem uit die dogters van Het, soos hierdie dogters van die land, wil ek eerder net dood wees.”+