Leer ken Jehovah se weë
“Maak . . . u weë aan my bekend, dat ek u kan ken.”—EKSODUS 33:13.
1, 2. (a) Waarom het Moses gedoen wat hy gedoen het toe hy gesien het dat ’n Egiptenaar ’n Hebreër mishandel? (b) Wat moes Moses leer sodat hy vir Jehovah se diens geskik kon wees?
MOSES is grootgemaak in die huis van Farao en opgevoed in die wysheid wat deur die adelstand van Egipte hooggeag is. Maar Moses het besef dat hy nie ’n Egiptenaar is nie. Sy ouers was Hebreërs. In sy 40ste jaar het hy uitgegaan om inspeksie te hou onder sy broers, die kinders van Israel. Toe hy sien dat ’n Egiptenaar een van die Hebreërs mishandel, het Moses dit nie net geïgnoreer nie. Hy het die Egiptenaar doodgemaak. Moses het gekies om hom aan die kant van Jehovah se volk te skaar en het gemeen dat God hom gebruik om sy broers te verlos (Handelinge 7:21-25; Hebreërs 11:24, 25). Toe hierdie voorval bekend geword het, het Egipte se koningshuis Moses as ’n rebel beskou, en hy moes vir sy lewe vlug (Eksodus 2:11-15). As Moses deur God gebruik wou word, moes hy Jehovah se weë beter leer ken. Sou Moses bereid wees om onderrig te word?—Psalm 25:9.
2 Moses het die daaropvolgende 40 jaar as ’n balling en herder gelewe. Hy het nie verbitterd geraak omdat sy Hebreeuse broers hom blykbaar nie waardeer het nie, maar het hom eerder onderwerp aan wat God toegelaat het. Hoewel baie jare verloop het waartydens hy skynbaar geen erkenning ontvang het nie, het Moses Jehovah toegelaat om hom te vorm. Hy het later, nie as ’n persoonlike opinie nie, maar onder die invloed van God se heilige gees, geskryf: “Die man Moses was verreweg die sagmoedigste van al die mense wat op die oppervlak van die aarde was” (Numeri 12:3). Jehovah het Moses op uitsonderlike maniere gebruik. As ons ook sagmoedigheid soek, sal Jehovah ons seën.—Sefanja 2:3.
Hy ontvang ’n opdrag
3, 4. (a) Watter opdrag het Jehovah vir Moses gegee? (b) Watter hulp is aan Moses voorsien?
3 Op ’n dag het ’n engel wat Jehovah verteenwoordig het, naby die berg Horeb op die Sinai-skiereiland met Moses gepraat. Hy het vir Moses gesê: “Ek het ongetwyfeld die ellende gesien van my volk wat in Egipte is, en ek het hulle geroep gehoor oor dié wat hulle dryf om te werk; want ek weet goed watter pyn hulle ly. En ek daal neer om hulle uit die hand van die Egiptenaars te verlos en om hulle uit daardie land te laat optrek na ’n goeie en uitgestrekte land, na ’n land wat oorloop van melk en heuning” (Eksodus 3:2, 7, 8). God het in hierdie verband vir Moses werk gehad om te doen, maar dit moes op Jehovah se manier gedoen word.
4 Jehovah se engel het verder gesê: “Kom dan nou en laat ek jou na Farao toe stuur, en jy moet my volk, die kinders van Israel, uit Egipte uitlei.” Moses het gehuiwer. Hy het nie bekwaam gevoel nie, en op sy eie was hy ook nie. Maar Jehovah het Moses verseker: “Ek [sal] met jou . . . wees” (Eksodus 3:10-12). Jehovah het Moses die krag gegee om wonderdadige tekens te verrig wat sou dien as ’n bewys dat hy werklik deur God gestuur is. Moses se broer, Aäron, moes as woordvoerder saam met hom gaan. Jehovah sou hulle leer wat hulle moet sê en doen (Eksodus 4:1-17). Sou Moses hierdie toewysing getrou uitvoer?
5. Waarom het Israel se gesindheid vir Moses ’n uitdaging gebied?
5 Israel se ouer manne het Moses en Aäron aanvanklik geglo (Eksodus 4:29-31). Maar kort daarna het “die beamptes van die kinders van Israel” Moses en sy broer daarvan beskuldig dat hulle hulle “’n slegte reuk” voor Farao en sy knegte gemaak het (Eksodus 5:19-21; 6:9). Toe die Israeliete Egipte verlaat, was hulle verskrik om te sien dat Egiptiese strydwaens hulle agternasit. Met die Rooi See voor hulle en strydwaens agter hulle het die Israeliete vasgekeer gevoel, en hulle het Moses blameer. Hoe sou jy gereageer het? Hoewel die Israeliete geen bote gehad het nie, het Moses die volk op bevel van Jehovah aangespoor om kamp op te breek. Toe het God die waters van die Rooi See teruggestoot, en die seebodem het droë grond geword sodat Israel kon deurtrek.—Eksodus 14:1-22.
’n Groter geskil as verlossing
6. Wat het Jehovah beklemtoon toe hy vir Moses sy opdrag gegee het?
6 Toe Jehovah vir Moses sy opdrag gegee het, het Hy die belangrikheid van die goddelike naam beklemtoon. Eerbied vir daardie naam en die Een wat daardeur verteenwoordig word, was lewensbelangrik. Toe Jehovah oor sy naam gevra is, het hy vir Moses gesê: “Ek sal word wat ek sal word.” Verder moes Moses vir die kinders van Israel sê: “‘Jehovah, die God van julle voorvaders, die God van Abraham, die God van Isak en die God van Jakob, het my na julle toe gestuur.’” Jehovah het bygevoeg: “Dit is my naam tot onbepaalde tyd, en dit is my gedagtenis van geslag tot geslag” (Eksodus 3:13-15). Jehovah is nog steeds die naam waaronder God by sy knegte regoor die aarde bekend is.—Jesaja 12:4, 5; 43:10-12.
7. Wat het God Moses aangespoor om te doen ondanks Farao se verwaandheid?
7 Moses en Aäron het voor Farao verskyn en hulle boodskap in die naam van Jehovah oorgedra. Maar Farao het verwaand gesê: “Wie is Jehovah, dat ek sy stem moet gehoorsaam om Israel weg te stuur? Ek ken Jehovah glad nie, en wat meer is, ek sal Israel nie wegstuur nie” (Eksodus 5:1, 2). Farao was hard van hart asook onderduims, en tog het Jehovah Moses aangespoor om keer op keer boodskappe aan hom oor te dra (Eksodus 7:14-16, 20-23; 8:1, 2, 20). Moses kon sien dat Farao geïrriteerd was. Sou dit enige nut hê om hom weer te konfronteer? Israel was gretig om verlos te word. Farao het hardnekkig geweier om dit te doen. Wat sou jy gedoen het?
8. Watter voordeel het voortgespruit uit die manier waarop Jehovah die situasie met betrekking tot Farao hanteer het, en watter uitwerking moet hierdie gebeure op ons hê?
8 Moses het nóg ’n boodskap oorgedra en gesê: “Só het Jehovah, die God van die Hebreërs, gesê: ‘Stuur my volk weg sodat hulle my kan dien.’” God het ook gesê: “Ek kon nou al my hand uitgesteek het om jou en jou volk met die pes te tref en sodat jy van die aarde uitgewis sou word. Maar juis om dié rede het ek jou nog laat bestaan, om jou my krag te toon en om my naam oor die hele aarde bekend te laat maak” (Eksodus 9:13-16). As gevolg van wat gedoen sou word met die hardvogtige Farao, het Jehovah hom voorgeneem om sy krag op ’n manier te toon wat as ’n waarskuwing sou dien vir almal wat hom uittart. Dit sou Satan die Duiwel insluit, die een wat Jesus Christus later “die heerser van die wêreld” genoem het (Johannes 14:30; Romeine 9:17-24). Soos voorspel is, is Jehovah se naam regoor die aarde bekend gemaak. Sy lankmoedigheid het vir die Israeliete en ’n groot gemengde menigte wat hom saam met hulle begin aanbid het, tot redding gelei (Eksodus 9:20, 21; 12:37, 38). Sedertdien het die bekendmaking van Jehovah se naam miljoene ander wat ware aanbidding begin beoefen het, tot voordeel gestrek.
Handelinge met ’n moeilike volk
9. Hoe het Moses se volksgenote oneerbiedigheid teenoor Jehovah getoon?
9 Die Hebreërs het die goddelike naam geken. Moses het hierdie naam gebruik wanneer hy met hulle gepraat het, maar hulle het nie altyd gepaste eerbied getoon vir die Een aan wie dit behoort nie. Wat het gebeur kort nadat Jehovah die Israeliete wonderdadig uit Egipte verlos het en hulle nie gou geskikte drinkwater kon vind nie? Hulle het teen Moses gemurmureer. Daarna het hulle oor die kos gekla. Moses het hulle gewaarsku dat hulle nie net teen hom en Aäron murmureer nie, maar teen Jehovah (Eksodus 15:22-24; 16:2-12). By die berg Sinai het Jehovah vir die Israeliete die Wet gegee, en dit het gepaardgegaan met bonatuurlike vertonings. Die volk was egter ongehoorsaam en het ’n goue kalf gemaak om te aanbid en gesê dat hulle “’n fees vir Jehovah” hou.—Eksodus 32:1-9.
10. Waarom is Moses se versoek in Eksodus 33:13 vir hedendaagse Christenopsieners van spesiale belang?
10 Hoe moes Moses met ’n volk handel wat Jehovah self as hardnekkig beskryf het? Moses het Jehovah gesmeek: “Asseblief, as ek guns in u oë gevind het, maak dan asseblief u weë aan my bekend, dat ek u kan ken, sodat ek guns in u oë kan vind” (Eksodus 33:13). Christenopsieners wat na Jehovah se hedendaagse Getuies omsien, hou toesig oor ’n baie nederiger kudde. Maar hulle bid ook: “Maak u weë aan my bekend, o Jehovah; leer my u paaie” (Psalm 25:4). Kennis van Jehovah se weë stel opsieners in staat om situasies te hanteer op ’n manier wat met God se Woord ooreenstem en wat met sy persoonlikheid strook.
Wat Jehovah van sy volk verwag
11. Watter riglyne het Jehovah aan Moses voorsien, en waarom stel ons daarin belang?
11 Wat Jehovah van sy volk verwag het, is mondelings by die berg Sinai geopenbaar. Moses het later twee tafels ontvang waarop die Tien Gebooie geskryf was. Toe hy van die berg afkom, het hy die Israeliete die gegote kalf sien aanbid, en hy het die tafels woedend neergegooi en dit verbrysel. Jehovah het weer die Tien Gebooie neergeskryf op kliptafels wat Moses uitgekap het (Eksodus 32:19; 34:1). Hierdie gebooie het nie verander sedert hulle die eerste keer gegee is nie. Moses moes in ooreenstemming daarmee optree. God het dit ook vir Moses baie duidelik gemaak watter soort persoon Hy is en sodoende vir Moses getoon hoe hy hom as Jehovah se verteenwoordiger moet gedra. Christene is nie onder die Mosaïese Wet nie, maar wat Jehovah vir Moses gesê het, sluit talle basiese beginsels in wat nie verander het nie en wat nog steeds van toepassing is op almal wat Jehovah aanbid (Romeine 6:14; 13:8-10). Kom ons kyk na ’n paar hiervan.
12. Watter uitwerking moes die feit dat Jehovah uitsluitlike toegewydheid vereis, op Israel gehad het?
12 Gee Jehovah uitsluitlike toegewydheid. Die nasie Israel was teenwoordig toe Jehovah gesê het dat hy uitsluitlike toegewydheid vereis (Eksodus 20:2-5). Die Israeliete het oorvloedige bewyse gesien dat Jehovah die ware God is (Deuteronomium 4:33-35). Jehovah het dit duidelik gestel dat hy geen vorm van afgodediens of spiritisme onder sy volk sou duld nie, ongeag wat ander nasies gedoen het. Hulle toegewydheid aan hom moes nie bloot uiterlike vertoon wees nie. Almal van hulle moes Jehovah met hulle hele hart, hulle hele siel en al hulle lewenskrag liefhê (Deuteronomium 6:5, 6). Dit sou hulle woorde, hulle dade—ja, elke aspek van hulle lewe—raak (Levitikus 20:27; 24:15, 16; 26:1). Jesus Christus het dit ook duidelik gestel dat Jehovah uitsluitlike toegewydheid vereis.—Markus 12:28-30; Lukas 4:8.
13. Waarom was Israel dit aan God verskuldig om hom nougeset te gehoorsaam, en wat moet ons beweeg om hom te gehoorsaam? (Prediker 12:13).
13 Gehoorsaam Jehovah se gebooie nougeset. Die volk Israel moes daaraan herinner word dat hulle plegtig belowe het om Jehovah nougeset te gehoorsaam toe hulle in ’n verbondsverhouding met hom getree het. Hulle het groot persoonlike vryheid geniet, maar in sake waaroor Jehovah vir hulle gebooie gegee het, moes hulle nougeset gehoorsaam wees. Dít sou bewys lewer dat hulle God liefhet en sou hulle en hulle nageslag tot voordeel strek, want al Jehovah se vereistes was vir hulle beswil.—Eksodus 19:5-8; Deuteronomium 5:27-33; 11:22, 23.
14. Hoe het God vir Israel beklemtoon dat dit belangrik is om voorkeur te gee aan geestelike strewes?
14 Gee voorkeur aan geestelike sake. Die nasie Israel moes nie toelaat dat hulle so besig raak daarmee om in hulle fisiese behoeftes te voorsien dat hulle nie tyd het om aandag aan geestelike bedrywighede te skenk nie. Die Israeliete moes nie hulle lewe net aan alledaagse strewes wy nie. Jehovah het elke week tyd opsygesit wat hy bepaal het heilig sou wees, tyd wat uitsluitlik vir bedrywighede in verband met die aanbidding van die ware God gebruik moes word (Eksodus 35:1-3; Numeri 15:32-36). Daar moes elke jaar ook nog tyd opsygesit word vir vasgestelde heilige byeenkomste (Levitikus 23:4-44). Dit sou geleenthede bied om oor Jehovah se magtige dade te praat, aan sy weë herinner te word en waardering aan hom te toon vir al sy goedheid. As die volk hulle toegewydheid so aan Jehovah sou toon, sou hulle godvrugtige vrees en liefde toeneem en sou dit hulle help om in sy weë te wandel (Deuteronomium 10:12, 13). Die heilsame beginsels wat in daardie instruksies vervat is, strek Jehovah se hedendaagse knegte tot voordeel.—Hebreërs 10:24, 25.
Waardeer Jehovah se eienskappe
15. (a) Waarom was waardering vir Jehovah se eienskappe vir Moses voordelig? (b) Watter vrae kan ons help om diep oor elkeen van Jehovah se eienskappe na te dink?
15 Waardering vir Jehovah se eienskappe sou Moses ook in sy handelinge met die volk help. Eksodus 34:5-7 sê dat God voor Moses se aangesig verbygegaan en gesê het: “Jehovah, Jehovah, ’n barmhartige en genadige God, wat nie gou toornig word nie en oorvloedig is in liefderyke goedhartigheid en waarheid, wat liefderyke goedhartigheid vir duisende bewaar, wat ongeregtigheid en oortreding en sonde vergewe, maar hy sal geensins vrystelling van straf gee nie, want hy bring straf vir die oortreding van vaders oor kinders en oor kleinkinders, oor die derde geslag en oor die vierde geslag.” Neem tyd om oor hierdie woorde te peins. Vra jou af: ‘Wat beteken elke eienskap? Hoe het Jehovah dit geopenbaar? Hoe kan Christenopsieners hierdie eienskap aan die dag lê? Hoe moet dié spesifieke eienskap beïnvloed wat elkeen van ons doen?’ Kyk na net ’n paar voorbeelde.
16. Hoe kan ons ons waardering vir God se barmhartigheid vergroot, en waarom is dit belangrik om dit te doen?
16 Jehovah is “’n barmhartige en genadige God”. As jy die naslaanwerk Insight on the Scriptures het, kan jy gerus lees wat dit onder “Mercy” oor barmhartigheid sê. Of doen navorsing oor hierdie onderwerp met behulp van die Watch Tower Publications Index of die rekenaarprogram Watchtower Library (CD-ROM).a Gebruik ’n konkordansie om tekste te vind wat na barmhartigheid verwys. Jy sal sien dat Jehovah se barmhartigheid nie net by tye ’n versagting van straf toelaat nie, maar dat dit ook tere medelye insluit. Dit beweeg God om op te tree om verligting vir sy volk te bring. Ter stawing hiervan: God het gedurende die Israeliete se trek na die Beloofde Land in hulle fisiese sowel as geestelike behoeftes voorsien (Deuteronomium 1:30-33; 8:4). Jehovah het uit barmhartigheid vergifnis geskenk wanneer foute begaan is. Hy het barmhartigheid aan sy eertydse volk bewys. Hoeveel te meer moet sy hedendaagse knegte dan medelye met mekaar betoon!—Matteus 9:13; 18:21-35.
17. Hoe kan ons begrip van Jehovah se genade ware aanbidding bevorder?
17 Jehovah se barmhartigheid gaan met genade gepaard. As jy ’n woordeboek het, lees dan wat dit onder “genade” sê. Vergelyk dít met tekste wat sê dat Jehovah genadig is. Die Bybel toon dat Jehovah se genade liefdevolle besorgdheid oor minderbevoorregtes onder sy volk insluit (Eksodus 22:26, 27). In enige land kan vreemdelinge, of buitelanders, sowel as ander hulle onder die minderbevoorregtes bevind. Toe Jehovah sy volk geleer het om onpartydig te wees en goedhartigheid teenoor sulke persone te bewys, het hy hulle daaraan herinner dat hulle ook eens vreemdelinge was—in Egipte (Deuteronomium 24:17-22). Wat van ons as God se hedendaagse knegte? As ons genadig is, help dit om ons te verenig en om ander tot Jehovah se aanbidding aan te trek.—Handelinge 10:34, 35; Openbaring 7:9, 10.
18. Wat leer ons uit die beperkings wat Jehovah Israel geleer het met betrekking tot mense van ander nasies?
18 Liefdevolle besorgdheid oor mense van ander nasies moes egter nie belangriker word as Israel se liefde vir Jehovah en sy sedelike standaarde nie. Die Israeliete is dus geleer om nie die weë van die omliggende nasies te volg nie, om nie hulle godsdiensgebruike en onsedelike lewenstyle oor te neem nie (Eksodus 34:11-16; Deuteronomium 7:1-4). Dit geld ook vandag vir ons. Ons moet ’n heilige volk wees, net soos ons God, Jehovah, heilig is.—1 Petrus 1:15, 16.
19. Hoe kan ’n begrip van Jehovah se beskouing van oortreding sy volk beskerm?
19 Om seker te maak dat Moses Sy weë verstaan, het Jehovah dit duidelik gestel dat hy, hoewel hy nie sonde goedkeur nie, nie gou toornig word nie. Hy laat tyd toe sodat mense sy vereistes kan leer en daaraan kan voldoen. Wanneer daar berou is, vergewe Jehovah sonde, maar hy gee nie vrystelling van verdiende straf vir ernstige oortredings nie. Hy het Moses gewaarsku dat toekomstige geslagte ten goede of ten kwade geraak kon word deur wat die Israeliete doen. Waardering vir Jehovah se weë kan God se volk daarteen beskerm dat hulle God blameer vir situasies wat hulle oor hulleself gebring het of dat hulle tot die slotsom kom dat hy traag is.
20. Wat kan ons help om op ’n gepaste wyse teenoor medegelowiges op te tree sowel as teenoor dié wat ons in ons bediening ontmoet? (Psalm 86:11).
20 As jy jou kennis van Jehovah en sy weë wil vergroot, moet jy aanhou om navorsing te doen en te peins wanneer jy die Bybel lees. Ondersoek al die fassinerende aspekte van Jehovah se persoonlikheid noukeurig. Dink biddend na oor hoe jy God kan navolg en jou lewe in groter mate met sy voorneme in ooreenstemming kan bring. Dit sal jou help om slaggate te vermy, om op ’n gepaste wyse teenoor medegelowiges op te tree en om ander te help om ons luisterryke God te leer ken en lief te kry.
[Voetnoot]
a Alles uitgegee deur Jehovah se Getuies.
Wat het jy geleer?
• Waarom was sagmoedigheid belangrik vir Moses, en waarom is dit noodsaaklik vir ons?
• Watter nut het dit gehad om Farao herhaaldelik met Jehovah se woord te konfronteer?
• Wat is ’n paar uitsonderlike beginsels wat Moses geleer is en wat ook op ons van toepassing is?
• Hoe kan ons ons begrip van Jehovah se eienskappe vergroot?
[Prent op bladsy 21]
Moses het Jehovah se woord getrou aan Farao oorgedra
[Prent op bladsy 23]
Jehovah het sy vereistes aan Moses geopenbaar
[Prent op bladsy 24, 25]
Peins oor Jehovah se eienskappe