God se rus—Wat is dit?
“Daar bly . . . ’n sabbatsrus oor vir die volk van God.”—HEB. 4:9.
1, 2. Wat kan ons aflei uit die oorspronklike vorm van die werkwoord “gerus het” in Genesis 2:3, en watter vrae ontstaan?
IN DIE eerste hoofstuk van Genesis leer ons dat God die aarde gedurende ses figuurlike dae voorberei het vir mense om op te woon. Aan die einde van elkeen van hierdie tydperke word daar gesê: “Dit was aand en dit was oggend” (Gen. 1:5, 8, 13, 19, 23, 31). Maar met betrekking tot die sewende dag sê die Bybel: “God het die sewende dag begin seën en dit geheilig, omdat hy daarop gerus het van al sy werk wat God geskep het.”—Gen. 2:3.
2 In die oorspronklike taal dui die vorm van die werkwoord “gerus het” daarop dat die handeling nog voortduur. Dit impliseer dat die sewende dag—God se “dag” van rus—in 1513 VHJ, toe Moses die boek Genesis geskryf het, nog voortgeduur het. Duur God se rusdag nog steeds voort? Indien wel, kan ons vandag daarin ingaan? Die antwoorde op hierdie vrae is vir ons van die allergrootste belang.
‘Rus’ Jehovah nog steeds?
3. Hoe dui Jesus se woorde in Johannes 5:16, 17 aan dat die sewende dag in die eerste eeu nog voortgeduur het?
3 Twee bewysgronde lei ons tot die gevolgtrekking dat die sewende dag in die eerste eeu HJ nog voortgeduur het. Eerstens, beskou Jesus se woorde aan teenstanders wat hom gekritiseer het omdat hy mense op die Sabbat genees het, wat hulle as ’n vorm van werk beskou het. Die Here het vir hulle gesê: “My Vader het tot nou toe aangehou werk, en ek hou aan werk” (Joh. 5:16, 17). Wat was die punt? Jesus is daarvan beskuldig dat hy op die Sabbat werk. Sy antwoord: “My Vader het . . . aangehou werk”, het hierdie aantyging beantwoord. Jesus het as ’t ware vir sy kritici gesê: ‘My Vader en ek is besig met dieselfde soort werk. Aangesien my Vader gedurende sy millenniums lange Sabbat aangehou werk het, is dit my heeltemal geoorloof om aan te hou werk, selfs op die Sabbat.’ Jesus het dus geïmpliseer dat, wat die aarde betref, God se groot Sabbatdag van rus, die sewende dag, in sy dag nog nie geëindig het nie.a
4. Watter verdere bewys verskaf Paulus dat die sewende dag in sy dag nog voortgeduur het?
4 ’n Tweede bewysgrond word deur die apostel Paulus voorsien. Toe Paulus Genesis 2:2 aangaande God se rus aangehaal het, het hy onder inspirasie geskryf: “Ons wat geloof beoefen het, gaan in die rus in” (Heb. 4:3, 4, 6, 9). Die sewende dag het dus in Paulus se dag nog voortgeduur. Hoeveel langer sou hierdie rusdag voortduur?
5. Wat was die doel van die sewende dag, en wanneer sal hierdie voorneme ten volle verwesenlik wees?
5 Om hierdie vraag te beantwoord, moet ons onthou wat die doel was van die sewende dag. Genesis 2:3 sit dit uiteen: “God het die sewende dag begin seën en dit geheilig.” Hierdie dag is “geheilig”—afgesonder deur Jehovah—om sy voorneme te volbring. Hierdie voorneme is dat die aarde bewoon word deur gehoorsame mans en vroue wat na die aarde en alle lewe daarop sal omsien (Gen. 1:28). Dit is met die verwesenliking van hierdie voorneme voor oë dat Jehovah God sowel as Jesus Christus, die “Here van die sabbat”, “tot nou toe aangehou werk” het (Matt. 12:8). God se rusdag sal voortduur totdat sy voorneme in verband daarmee aan die einde van Christus se Duisendjarige Heerskappy ten volle verwesenlik is.
Moenie “in dieselfde patroon van ongehoorsaamheid verval nie”
6. Watter voorbeelde dien vir ons as ’n waarskuwing, en watter les kan ons daaruit leer?
6 God se voorneme is duidelik aan Adam en Eva uiteengesit, maar hulle het versuim om in ooreenstemming daarmee te werk. Adam en Eva was natuurlik maar net die eerste mense wat ’n weg van ongehoorsaamheid gevolg het. Daar was sedertdien miljoene ander. Selfs God se uitverkore volk, die nasie Israel, het in ’n patroon van ongehoorsaamheid verval. En dit is betekenisvol dat Paulus eerste-eeuse Christene gewaarsku het dat selfs party van hulle in dieselfde strik as die eertydse Israeliete kon trap. Hy het geskryf: “Laat ons dan ons uiterste bes doen om in daardie rus in te gaan, sodat niemand in dieselfde patroon van ongehoorsaamheid verval nie” (Heb. 4:11). Let daarop dat Paulus te kenne gee dat ongehoorsaamheid kan verhinder dat ’n persoon in God se rus ingaan. Wat beteken dit vir ons? Sal ons, as ons op die een of ander manier teen God se voorneme in opstand kom, dalk gevaar loop om nie in God se rus in te gaan nie? Dit is duidelik dat die antwoord op hierdie vraag vir ons van groot belang is, en ons sal dit verder bespreek. Maar laat ons nou eers kyk wat ons nog daaroor kan leer om in God se rus in te gaan deur die slegte voorbeeld van die Israeliete te beskou.
“Hulle sal in my rus nie ingaan nie”
7. Wat het Jehovah in gedagte gehad toe hy die Israeliete uit slawerny in Egipte verlos het, en wat is van hulle verwag?
7 In 1513 VHJ het Jehovah sy voorneme aangaande die Israeliete aan sy kneg Moses geopenbaar. God het gesê: “Ek daal neer om hulle uit die hand van die Egiptenaars te verlos en om hulle uit daardie land [Egipte] te laat optrek na ’n goeie en uitgestrekte land, na ’n land wat oorloop van melk en heuning” (Eks. 3:8). Net soos Jehovah hulle voorvader, Abraham, belowe het, het God die Israeliete “uit die hand van die Egiptenaars” verlos met die doel om hulle sy volk te maak (Gen. 22:17). God het aan die Israeliete ’n stel wette gegee wat dit vir hulle moontlik sou maak om ’n vreedsame verhouding met hom te geniet (Jes. 48:17, 18). Hy het vir die Israeliete gesê: “As julle . . . my stem nougeset gehoorsaam en my verbond [soos uiteengesit in die Wet] inderdaad hou, dan sal julle beslis my spesiale eiendom uit al die ander volke word, want die hele aarde behoort aan my” (Eks. 19:5, 6). As die Israeliete dus ’n bevoorregte verhouding met God wou geniet, moes hulle sy stem gehoorsaam.
8. Watter lewenswyse kon die Israeliete geniet het as hulle aan God gehoorsaam gebly het?
8 Dink net hoe die lewe sou gewees het as die Israeliete tog maar net God se stem gehoorsaam het! Jehovah sou hulle landerye, hulle wingerde en hulle kuddes geseën het. Hulle vyande sou nie ’n permanente houvas op hulle gehad het nie. (Lees 1 Konings 10:23-27.) Toe die Messias verskyn het, sou hy waarskynlik gevind het dat Israel goed funksioneer as ’n onafhanklike nasie in plaas van dat hulle onder die Romeinse juk gebuk gaan. Israel sou vir sy bure ’n modelkoninkryk gewees het, wat tasbare bewys sou gelewer het dat gehoorsaamheid aan die ware God geestelike en materiële seëninge meebring.
9, 10. (a) Waarom was Israel se begeerte om na Egipte terug te keer, ’n ernstige saak? (b) Hoe sou dit moontlik die Israeliete se aanbidding geraak het as hulle na Egipte teruggekeer het?
9 Wat ’n voorreg het Israel tog gehad—om in ooreenstemming met Jehovah se voorneme te werk, wat nie net vir hulle tot seëninge sou gelei het nie, maar uiteindelik ook vir al die families van die aarde! (Gen. 22:18). Maar hierdie opstandige nasie het in die geheel min belangstelling daarin getoon om ’n modelkoninkryk onder teokratiese heerskappy op te rig. Hulle wou dan selfs na Egipte terugkeer! (Lees Numeri 14:2-4.) Hoe sou dit God se voorneme om Israel ’n modelkoninkryk te maak, bevorder het as hulle na Egipte teruggekeer het? Dit sou nie. Trouens, as die Israeliete teruggekeer het na die heidense nasie wat hulle gevange gehou het, sou hulle nooit die Mosaïese Wet kon gevolg het en by Jehovah se reëling vir vergifnis van hulle sondes baat gevind het nie. Hoe vleeslik—hoe kortsigtig—was hulle tog! Geen wonder nie dat Jehovah van hierdie opstandelinge gesê het: “Ek [het] ’n afkeer van hierdie geslag gekry en gesê: ‘Hulle dwaal altyd in hulle harte af, en hulle het my weë nie leer ken nie.’ Ek het dus in my toorn gesweer: ‘Hulle sal in my rus nie ingaan nie.’”—Heb. 3:10, 11; Ps. 95:10, 11.
10 Deur na Egipte te wou terugkeer, het daardie eiesinnige nasie getoon dat hulle min waarde heg aan die geestelike seëninge wat hulle ontvang het en eerder die preie, uie en knoffel verkies het wat in Egipte beskikbaar was (Num. 11:5). Soos die ondankbare Esau, was die opstandelinge bereid om ’n kosbare geestelike erfenis prys te gee in ruil vir ’n lekker ete.—Gen. 25:30-32; Heb. 12:16.
11. Hoe het die ontrouheid van die Israeliete in Moses se dag God se voorneme geraak?
11 Ondanks die ontrouheid van die geslag van Israeliete wat Egipte verlaat het, het Jehovah geduldig “aangehou werk” om sy voorneme te vervul deur toe sy aandag op die volgende geslag te rig. Die lede van hierdie nuwe geslag was gehoorsamer as wat hulle vaders was. In ooreenstemming met Jehovah se bevel het hulle in die Beloofde Land ingegaan en dit begin verower. Ons lees in Josua 24:31: “Israel het Jehovah gedien al die dae van Josua en al die dae van die ouer manne wie se dae tot ná dié van Josua voortgeduur het en wat al die werk van Jehovah geken het wat hy vir Israel gedoen het.”
12. Hoe weet ons dat dit vandag moontlik is om in God se rus in te gaan?
12 Maar hierdie gehoorsame geslag het geleidelik uitgesterf en is vervang deur ’n geslag wat “nie Jehovah of die werk wat hy vir Israel gedoen het, geken het nie”. Gevolglik het “die kinders van Israel . . . begin doen wat sleg was in die oë van Jehovah en die Baäls gedien” (Rigt. 2:10, 11). Die Beloofde Land was uiteindelik nie vir hulle ’n ware “plek van rus” nie. As gevolg van hulle ongehoorsaamheid het hulle nie blywende vrede met God geniet nie. Paulus het met verwysing na ’n latere tydperk geskryf: “As Josua [die Israeliete] in ’n plek van rus ingelei het, sou God nie agterna van ’n ander dag gepraat het nie. Daar bly dus ’n sabbatsrus oor vir die volk van God” (Heb. 4:8, 9). “Die volk van God” na wie Paulus verwys het, was Christene. Beteken dit dat Christene in God se rus kon ingaan? Baie beslis—Joodse sowel as nie-Joodse Christene!
Party gaan nie in God se rus in nie
13, 14. Watter verband was daar tussen die onderhouding van die Mosaïese Wet en die voorreg om in God se rus in te gaan (a) in Moses se dag? (b) in die eerste eeu?
13 Toe Paulus aan Hebreeuse Christene geskryf het, was hy bekommerd dat party onder hulle nie met God se ontvouende voorneme saamwerk nie. (Lees Hebreërs 4:1.) In watter sin? Ironies genoeg, dit het verband gehou met die onderhouding van die Mosaïese Wet. Ongeveer 1 500 jaar lank moes enige Israeliet wat in ooreenstemming met God se voorneme wou lewe, die Wet onderhou. Maar met Jesus se dood is die Wet uit die weg geruim. Sekere Christene het dit nie erken nie, en hulle het daarop aangedring om steeds sekere aspekte van die Wet te onderhou.b
14 Aan Christene wat vasbeslote was om die Wet te onderhou, het Paulus verduidelik dat die hoëpriesterskap van Jesus, die nuwe verbond en die geestelike tempel almal verhewe was bo hulle voor-Christelike teenbeelde (Heb. 7:26-28; 8:7-10; 9:11, 12). Paulus het dus waarskynlik die onderhouding van die weeklikse Sabbat onder die Wet in gedagte gehad toe hy geskryf het oor die voorreg om in Jehovah se rusdag in te gaan: “Daar bly dus ’n sabbatsrus oor vir die volk van God. Want die mens wat in God se rus ingegaan het, het ook self van sy eie werke gerus, net soos God van syne” (Heb. 4:8-10). Hierdie Hebreeuse Christene moes ophou dink dat hulle Jehovah se goedkeuring kon verkry deur werke te verrig wat deur die Mosaïese Wet vereis is. Sedert Pinkster 33 HJ is God se guns goedgunstiglik aan dié betoon wat geloof in Jesus Christus beoefen.
15. Waarom is gehoorsaamheid noodsaaklik as ons in God se rus wil ingaan?
15 Wat het die Israeliete in Moses se dag verhinder om in die Beloofde Land in te gaan? Ongehoorsaamheid. Wat het party Christene in Paulus se dag verhinder om in God se rus in te gaan? Ook ongehoorsaamheid. Hulle het nie erken dat die Wet sy doel gedien het en dat Jehovah sy volk in ’n ander rigting lei nie.
Om vandag in God se rus in te gaan
16, 17. (a) Wat beteken dit om vandag in God se rus in te gaan? (b) Wat sal in die volgende artikel bespreek word?
16 Min Christene sal vandag daarop aandring om ’n sekere aspek van die Mosaïese Wet te onderhou om redding te verkry. Paulus se geïnspireerde woorde aan die Efesiërs is heeltemal duidelik: “Ja, deur hierdie onverdiende goedhartigheid is julle deur middel van geloof gered; en dit is nie aan julle te danke nie, dit is God se gawe. Nee, dit is nie aan werke te danke nie, sodat geen mens rede sou hê om te roem nie” (Ef. 2:8, 9). Wat beteken dit dan vir Christene om in God se rus in te gaan? Jehovah het die sewende dag—sy rusdag—afgesonder om sy voorneme aangaande die aarde op glorieryke wyse te verwesenlik. Ons kan in Jehovah se rus ingaan—of by hom in sy rus aansluit—deur gehoorsaam in ooreenstemming met sy ontvouende voorneme te werk, soos dit deur sy organisasie aan ons geopenbaar word.
17 As ons daarenteen die Bybelse raad wat ons deur die “getroue en verstandige slaaf”-klas ontvang, as onbelangrik afmaak en kies om ’n onafhanklike weg te volg, sal ons nie in ooreenstemming met God se ontvouende voorneme werk nie. Dit kan ons vreedsame verhouding met Jehovah in gevaar stel. In die volgende artikel sal ons kyk na ’n paar algemene situasies wat God se volk kan raak en bespreek hoe die besluite wat ons neem, hetsy om gehoorsaam te wees of om ’n onafhanklike weg in te slaan, kan bepaal of ons werklik in God se rus ingegaan het.
[Voetnote]
a Die priesters en Leviete het op die Sabbat werk in verband met die tempel gedoen en ‘onskuldig gebly’. As die hoëpriester van God se groot geestelike tempel kon Jesus ook sy geestelike toewysing uitvoer sonder vrees dat hy die Sabbat skend.—Matt. 12:5, 6.
b Ons weet nie of enige Joodse Christen so ver sou gegaan het om ná Pinkster 33 HJ reëlings vir die Versoendag te ondersteun nie. As iemand dit gedoen het, sou dit beslis ’n gebrek aan respek vir Jesus se offerande getoon het. Maar party Joodse Christene het ander tradisies aangekleef wat met die Wet verband gehou het.—Gal. 4:9-11.
Vrae vir bepeinsing
• Wat was die doel van God se sewende dag van rus?
• Hoe weet ons dat die sewende dag vandag nog voortduur?
• Wat het die Israeliete in Moses se dag sowel as party eerste-eeuse Christene verhinder om in God se rus in te gaan?
• Wat beteken dit om vandag in God se rus in te gaan?
[Lokteks op bladsy 27]
Ons kan vandag in Jehovah se rus ingaan deur gehoorsaam in ooreenstemming met sy ontvouende voorneme te werk, soos dit deur sy organisasie aan ons geopenbaar word
[Prente op bladsye 26, 27]
Wat is nog steeds vir God se volk nodig om in sy rus in te gaan?