Vermetelheid lei tot oneer
“Het vermetelheid gekom? Dan sal oneer kom; maar wysheid is by die beskeidenes.”—SPREUKE 11:2, NW.
1, 2. Wat is vermetelheid, en hoe het dit al rampspoedige gevolge gehad?
’N AFGUNSTIGE Leviet lei ’n groep in opstand teen diegene wat Jehovah in gesagsposisies aangestel het. ’n Ambisieuse prins smee ’n komplot om sy vader se troon wederregtelik in besit te neem. ’n Ongeduldige koning ignoreer die uitdruklike instruksies van God se profeet. Hierdie drie Israeliete het ’n eienskap in gemeen: vermetelheid.
2 Vermetelheid is ’n eienskap van die hart wat ’n ernstige gevaar vir almal kan inhou (Psalm 19:13, NW). ’n Vermetele mens veroorloof hom op aamatigende wyse vryhede sonder dat hy die volmag het om dit te doen. Dit het dikwels rampspoedige gevolge. Trouens, vermetelheid het al konings laat ondergaan en ryke laat ineenstort (Jeremia 50:29, 31, 32; Daniël 5:20, NW). Dit was selfs al vir party van Jehovah se knegte ’n strik en het hulle ondergang tot gevolg gehad.
3. Hoe kan ons uitvind wat die gevare van vermetelheid is?
3 Die Bybel sê tereg: “Het vermetelheid gekom? Dan sal oneer kom; maar wysheid is by die beskeidenes” (Spreuke 11:2, NW). Die Bybel gee ons voorbeelde wat die waarheid van hierdie spreuk bevestig. As ons ’n paar hiervan ondersoek, sal dit ons help om te sien watter gevaar dit inhou as ’n mens behoorlike perke oorskry. Kom ons kyk dus hoe afguns, ambisie en ongeduld die drie manne wat aan die begin genoem is vermetel laat optree het en hoe dit tot hulle oneer gelei het.
Korag—’n afgunstige opstandeling
4. (a) Wie was Korag, en van watter geskiedkundige gebeure was hy ongetwyfeld ’n deel? (b) Van watter berugte daad was Korag in sy later jare die aanvoerder?
4 Korag was ’n Kehatitiese Leviet, ’n neef van Moses en Aäron. Hy was klaarblyklik dekades lank lojaal teenoor Jehovah. Korag het die voorreg gehad om onder diegene te wees wat op wonderdadige wyse veilig deur die Rooi See bewaar is, en hy het waarskynlik gehelp om Jehovah se oordeel oor die Israeliete te voltrek toe hulle by die berg Sinai die kalf aanbid het (Exodus 32:26). Maar later het Korag die aanvoerder van ’n opstand teen Moses en Aäron geword wat die Rubeniete Datan, Abiram en On, asook 250 Israelitiese owerstes, ingesluit het.a “Dit is nou genoeg”, het hulle vir Moses en Aäron gesê, “want die hele vergadering, hulle almal, is heilig; en die HERE is in hulle midde! Waarom verhef julle jul dan oor die vergadering van die HERE?”—Numeri 16:1-3.
5, 6. (a) Waarom het Korag teen Moses en Aäron in opstand gekom? (b) Waarom kan daar gesê word dat Korag waarskynlik nie sy eie plek in God se reëling waardeer het nie?
5 Waarom het Korag ná jare van getrouheid in opstand gekom? Moses se leierskap oor Israel was sekerlik nie onderdrukkend nie, want hy was “baie sagmoedig, meer as al die mense op die aardbodem” (Numeri 12:3). En tog lyk dit asof Korag afgunstig was op Moses en Aäron en gebelg was oor hulle vernaamheid, en dit het hom—verkeerdelik—laat beweer dat hulle eiemagtig opgetree het en op selfsugtige wyse hulleself oor die vergadering verhef het.—Psalm 106:16.
6 Deel van Korag se probleem was heel waarskynlik dat hy nie sy eie voorregte in God se reëling waardeer het nie. Die Kehatitiese Leviete was weliswaar nie priesters nie, maar hulle was onderrigters van God se Wet. Hulle het ook die meubels en voorwerpe van die tabernakel gedra wanneer dit na ’n ander plek geneem moes word. Dit was beslis nie ’n onbelangrike taak nie, want die heilige voorwerpe kon slegs hanteer word deur persone wat godsdienstig en sedelik rein was (Jesaja 52:11). Toe Moses Korag dus gekonfronteer het, het hy as ’t ware gevra: Is jou toewysing vir jou so onbelangrik dat jy ook die priesteramp begeer? (Numeri 16:9, 10). Wat Korag nie besef het nie, is dat die grootste eer wat ’n mens kan hê, is om Jehovah getrou te dien volgens sy reëling—nie die verkryging van die een of ander spesiale status of posisie is nie.—Psalm 84:11.
7. (a) Hoe het Moses die saak met Korag en sy manne behartig? (b) Watter rampspoedige einde het Korag se opstand gehad?
7 Moses het Korag en sy manne gevra om die volgende oggend met hulle vuurpanne en reukwerk by die tent van samekoms te vergader. Korag en sy manne was nie gemagtig om reukwerk te offer nie, aangesien hulle nie priesters was nie. As hulle met hulle vuurpanne en reukwerk gekom het, sou dit duidelik getoon het dat hierdie manne steeds gedink het dat hulle die reg het om as priesters te dien—selfs nadat hulle ’n hele nag gehad het om weer oor die saak na te dink. Toe hulle die volgende oggend daar gaan staan het, het Jehovah tereg sy toorn oor hulle uitgestort. Wat die Rubeniete betref, “die aarde het sy mond oopgemaak en hulle verslind”. Die res, waaronder Korag, is deur vuur van God af verteer (Deuteronomium 11:6; Numeri 16:16-35; 26:10). Korag se vermetelheid het tot die grootste oneer gelei—God se onguns!
Weerstaan die “neiging tot afguns”
8. Hoe kan “’n neiging tot afguns” onder Christene kop uitsteek?
8 Die verslag van Korag is ’n waarskuwing vir ons. Aangesien onvolmaakte mense “’n neiging tot afguns” het, kan dit selfs in die Christengemeente kop uitsteek (Jakobus 4:5). Ons kan byvoorbeeld statusbewus wees. Soos Korag kan ons afgunstig raak op diegene met voorregte wat ons graag wil hê. Of ons kan soos die eerste-eeuse Christen met die naam Diotrefes word. Hy was uiters krities teenoor die gesag van die apostels, klaarblyklik omdat hy die beheer wou hê. Trouens, Johannes het geskryf dat Diotrefes “daarvan hou om die eerste plek . . . te beklee”.—3 Johannes 9.
9. (a) Watter gesindheid teenoor gemeentelike verantwoordelikhede moet ons vermy? (b) Wat is die regte beskouing van ons plek in God se reëling?
9 Dit is natuurlik nie verkeerd vir ’n Christenman om na gemeentelike verantwoordelikhede te streef nie. Paulus het dit selfs aangemoedig (1 Timoteus 3:1). Maar ons moet nooit diensvoorregte as ’n ereteken beskou, asof dit bewys dat ons ’n hoër sport op ’n sogenaamde leer van vooruitgang bereik het nie. Onthou dat Jesus gesê het: “Wie ook al onder julle groot wil word, moet julle dienaar wees, en wie ook al onder julle die eerste wil wees, moet julle slaaf wees” (Matteus 20:26, 27). Dit sal ongetwyfeld verkeerd wees om afgunstig te wees op diegene wat groter verantwoordelikhede het, asof ons waarde in God se oë afhang van ons “rang” in sy organisasie. Jesus het gesê: “Julle almal [is] broers” (Matteus 23:8). Ja, of ons nou ’n verkondiger of ’n pionier is, ’n pasgedoopte of al jare lank ’n handhawer van onkreukbaarheid—almal wat Jehovah heelhartig dien, het ’n kosbare plek in sy reëling (Lukas 10:27; 12:6, 7; Galasiërs 3:28; Hebreërs 6:10). Dit is waarlik ’n seën om skouer aan skouer te werk met miljoene wat daarna streef om hierdie Bybelraad toe te pas: “Omgord julle . . . met ootmoed teenoor mekaar.”—1 Petrus 5:5.
Absalom—’n Ambisieuse opportunis
10. Wie was Absalom, en hoe het hy die guns probeer wen van mense wat na die koning gekom het vir regspraak?
10 Die lewenswandel van koning Dawid se derde seun, Absalom, dien as ’n treffende les wat ambisie betref. Hierdie geslepe opportunis het die guns probeer wen van mense wat na die koning gekom het vir regspraak. Hy het eerstens geïnsinueer dat Dawid nie besorg was oor hulle behoeftes nie. Dan het hy, sonder om verder doekies om te draai, gesê wat hy eintlik wou hê. “Ag, as ek maar as regter in die land aangestel was”, het Absalom verklaar, “sodat elkeen wat ’n regsaak het of regspraak nodig het na my toe kon kom! Dan sou ek beslis reg aan hom laat geskied.” Daar was geen perke aan Absalom se slinkse politiekery nie. “Wanneer iemand nader gekom het om hom voor hom neer te buig”, sê die Bybel, “het hy sy hand uitgesteek en hom gegryp en hom gesoen. En Absalom het so bly doen aan al die Israeliete wat vir regspraak na die koning toe gekom het.” Met watter gevolg? “Absalom het die hart van die manne van Israel bly steel.”—2 Samuel 15:1-6, NW.
11. Hoe het Absalom Dawid se troon wederregtelik in besit probeer neem?
11 Absalom was vasbeslote om wederregtelik sy vader se koningskap in besit te neem. Hy het vyf jaar vroeër Dawid se oudste seun, Amnon, laat vermoor, skynbaar om wraak te neem vir die verkragting van Absalom se suster Tamar (2 Samuel 13:28, 29). Maar Absalom het dalk selfs toe al sy oog op die troon gehad en kon Amnon se moord beskou het as ’n gerieflike manier om van ’n mededinger ontslae te raak.b Hoe dit ook al sy, toe die tyd ryp was, het Absalom opgetree. Hy het sy koningskap in die hele land laat aankondig.—2 Samuel 15:10.
12. Verduidelik hoe Absalom se vermetelheid tot oneer gelei het.
12 Absalom was ’n ruk lank suksesvol, want “die sameswering [het] sterk geword en die mense [het] aldeur meer by Absalom aangesluit”. Mettertyd moes koning Dawid noodgedwonge vir sy lewe vlug (2 Samuel 15:12-17). Maar Absalom se loopbaan is spoedig kort geknip toe hy deur Joab doodgemaak, in ’n kuil gegooi en met klippe bedek is. Stel jou voor—hierdie ambisieuse man wat koning wou wees, het nie eers ’n behoorlike begrafnis gekry toe hy gesterf het nie!c Vermetelheid het waarlik tot Absalom se oneer gelei.—2 Samuel 18:9-17.
Vermy selfsugtige ambisie
13. Hoe kan ’n ambisieuse gees in die hart van ’n Christen wortelskiet?
13 Ons kan ’n les leer uit die manier waarop Absalom mag gekry en dit later weer verloor het. In vandag se meedoënlose wêreld is dit algemeen vir mense om hulle meerderes te vlei en só in hulle guns te probeer kom, bloot om hulle te beïndruk of moontlik om die een of ander soort voorreg of bevordering te kry. Terselfdertyd sal hulle dalk grootpraterige bewerings teenoor hulle ondergeskiktes maak, in die hoop om hulle guns en steun te wen. As ons nie versigtig is nie, kan so ’n ambisieuse gees in ons hart wortelskiet. Dit het blykbaar met party in die eerste eeu gebeur sodat die apostels ernstige waarskuwings teen sulke persone moes gee.—Galasiërs 4:17; 3 Johannes 9, 10.
14. Waarom moet ons ’n ambisieuse, selfverheffende gees vermy?
14 Jehovah het geen plek in sy organisasie vir slinkse persone wat hulleself verhef en “hulle eie heerlikheid [probeer] soek” nie (Spreuke 25:27, NW). Trouens, die Bybel waarsku: “Jehovah sal alle vleiende lippe uitroei, die tong wat groot dinge spreek” (Psalm 12:4, NW). Absalom het vleiende lippe gehad. Hy het grootgepraat by diegene wie se guns hy nodig gehad het—dit alles om ’n veelbegeerde gesagsposisie te kry. In teenstelling hiermee, hoe geseënd is ons tog om ’n deel te wees van ’n broederskap wat Paulus se raad volg: ‘Doen niks uit twisgierigheid of uit egotisme nie, maar met ootmoed moet julle die ander hoër as julleself ag.’—Filippense 2:3.
Saul—’n ongeduldige koning
15. Hoe het Saul ’n tyd lank getoon dat hy beskeie is?
15 Saul, wat later die koning van Israel geword het, was ’n tyd lank beskeie. Beskou byvoorbeeld wat in sy jonger jare gebeur het. Toe God se profeet Samuel met lof van hom gepraat het, het Saul nederig geantwoord: “Is ek nie ’n Benjaminiet, uit een van die kleinste van die stamme van Israel, en my geslag die geringste uit al die geslagte van die stam van Benjamin nie? Waarom spreek u dan so met my?”—1 Samuel 9:21.
16. Hoe het Saul ’n ongeduldige gesindheid geopenbaar?
16 Later het Saul se beskeidenheid egter verdwyn. Terwyl hy teen die Filistyne oorlog gevoer het, het hy weggetrek na Gilgal, waar hy vir Samuel moes wag wat deur middel van offerandes smekinge tot God sou rig. Toe Samuel nie op die vasgestelde tyd opgedaag het nie, het Saul vermetel opgetree en die brandoffer self geoffer. Net toe hy klaar was, het Samuel daar aangekom. “Wat het jy gedoen?”, het Samuel gevra. Saul het geantwoord: “Ek het gesien dat die manskappe van my af verstrooid geraak het, en u—u het nie binne die vasgestelde dae gekom nie . . . Toe het ek my gedwing en die brandoffer geoffer.”—1 Samuel 13:8-12, NW.
17. (a) Waarom lyk Saul se optrede dalk op die oog af geregverdig? (b) Waarom het Jehovah Saul bestraf vir sy ongeduldige optrede?
17 Saul se optrede lyk dalk op die oog af geregverdig. God se volk het per slot van rekening “in groot nood verkeer”, hulle was “onder groot druk” en het gebewe vanweë hulle desperate situasie (1 Samuel 13:6, 7, NW). Dit is beslis nie verkeerd om die inisiatief te neem wanneer die omstandighede dit regverdig nie.d Onthou egter dat Jehovah harte kan lees en ons diepste beweegredes kan sien (1 Samuel 16:7). Hy moes derhalwe sekere faktore omtrent Saul gesien het wat nie pertinent in die Bybelverslag gemeld word nie. Byvoorbeeld, Jehovah het dalk gesien dat Saul se ongeduld die gevolg van trots was. Saul was moontlik baie ergerlik omdat hy—die koning van die hele Israel—moes wag vir iemand wat hy as ’n ou, sloerende profeet beskou het! Hoe dit ook al sy, omdat Samuel so lank geneem het om te kom, het Saul gemeen dat dit hom die reg gee om sake in sy eie hande te neem en om die uitdruklike instruksies te ignoreer wat hy ontvang het. Wat was die gevolg? Samuel het nie Saul se inisiatief geprys nie. Inteendeel, hy het Saul streng berispe en gesê: “Jou koningskap [sal] nie bestaan nie . . . omdat jy nie gehou het wat die HERE jou beveel het nie” (1 Samuel 13:13, 14). Weer eens het vermetelheid tot oneer gelei.
Waak teen ongeduld
18, 19. (a) Verduidelik hoe ongeduld ’n hedendaagse kneg van God vermetel kan laat optree. (b) Wat moet ons in gedagte hou omtrent die werking van die Christengemeente?
18 Die verslag van Saul se vermetele daad is tot ons nut in God se Woord opgeteken (1 Korintiërs 10:11). Dit is so maklik vir ons om ergerlik te raak oor die onvolmaakthede van ons broers. Soos Saul word ons dalk ongeduldig en meen ons dat ons sake in ons eie hande moet neem as ons wil hê dat dit reg hanteer moet word. Veronderstel byvoorbeeld dat ’n broer baie bekwaam in sekere organisatoriese aspekte is. Hy is stiptelik, op hoogte van gemeentelike prosedures en ’n begaafde spreker en onderrigter. Terselfdertyd kom hy agter dat ander nie aan sy nougesette standaarde voldoen nie, en hulle is nie naastenby so vaardig soos hy sou wou hê nie. Gee dit hom die reg om ongeduldig te wees? Moet hy sy broers kritiseer en moontlik te kenne gee dat niks sonder sy pogings uitgerig sou word en dat die gemeente nie doeltreffend sou funksioneer nie? Dit sou vermetel wees!
19 Wat bind in werklikheid ’n gemeente van Christene saam? Is dit bestuursvernuf? bekwaamheid? diep kennis? Hierdie dinge is weliswaar voordelig vir die vlot werking van ’n gemeente (1 Korintiërs 14:40; Filippense 3:16; 2 Petrus 3:18). Maar Jesus het gesê dat sy volgelinge hoofsaaklik uitgeken sal word aan hulle liefde (Johannes 13:35). Daarom besef liefdevolle ouer manne, hoewel hulle ordelik is, dat die gemeente nie ’n sakeonderneming is wat streng bestuur nodig het nie; dit bestaan eerder uit ’n kudde wat tere sorg nodig het (Jesaja 32:1, 2; 40:11). As hierdie beginsels op vermetele wyse geïgnoreer word, lei dit dikwels tot onenigheid. In teenstelling hiermee bring godvrugtige orde vrede voort.—1 Korintiërs 14:33; Galasiërs 6:16.
20. Wat sal in die volgende artikel bespreek word?
20 Die Bybelverslae van Korag, Absalom en Saul toon duidelik dat vermetelheid tot oneer lei, soos Spreuke 11:2 sê. Maar hierdie selfde Bybelvers voeg by: “Wysheid is by die beskeidenes.” Wat is beskeidenheid? Watter voorbeelde uit die Bybel kan lig op hierdie eienskap werp, en hoe kan ons vandag beskeidenheid aan die dag lê? Hierdie vrae sal in die volgende artikel bespreek word.
[Voetnote]
a Aangesien Ruben Jakob se eersgebore seun was, was dié van sy afstammelinge wat deur Korag aangespoor is om in opstand te kom moontlik gegrief oor die feit dat Moses—wat ’n afstammeling van Levi was—administratiewe gesag oor hulle gevoer het.
b Daar word geen melding gemaak van Kileab, Dawid se tweede seun, ná sy geboorte nie. Hy het moontlik die een of ander tyd voor Absalom se opstand gesterf.
c In Bybeltye was dit van baie groot belang om die liggaam van ’n afgestorwene te begrawe. Dit was dus rampspoedig en dikwels ’n bewys van God se onguns as iemand nie ’n begrafnis gehad het nie.—Jeremia 25:32, 33.
d Pinehas het byvoorbeeld vinnig opgetree om ’n plaag te laat eindig wat die dood van tienduisende Israeliete veroorsaak het, en Dawid het sy honger manne aangemoedig om saam met hom die toonbrode in “die huis van God” te eet. Nie een van hierdie handelinge is deur God as vermetel veroordeel nie.—Matteus 12:2-4; Numeri 25:7-9; 1 Samuel 21:1-6.
Onthou jy?
• Wat is vermetelheid?
• Hoe het afguns Korag vermetel laat optree?
• Wat kan ons uit die verslag van die ambisieuse man Absalom leer?
• Hoe kan ons die ongeduldige gees vermy wat Saul geopenbaar het?
[Prent op bladsy 10]
Saul het ongeduldig geword en vermetel opgetree