“Wysheid is by die beskeidenes”
“Wat anders vra Jehovah van jou terug as om . . . beskeie te wandel met jou God?”—MIGA 6:8, NW.
1, 2. Wat is beskeidenheid, en hoe verskil dit van vermetelheid?
’N VERNAME apostel weier om die aandag op homself te vestig. ’n Moedige Israelitiese rigter noem homself die geringste in sy familie. Die grootste mens wat nog geleef het, erken dat hy nie onbeperkte gesag het nie. Elkeen van hierdie manne openbaar beskeidenheid.
2 Beskeidenheid is die teenoorgestelde van vermetelheid. Iemand wat beskeie is, het ’n realistiese beskouing van sy vermoëns en waarde en is nie verwaand of ydel nie. Hy is nie trots, grootpraterig of ambisieus nie, maar is altyd bewus van sy beperkings. Daarom respekteer hy ander en neem hy hulle gevoelens en beskouings in ag.
3. Hoe is wysheid “by die beskeidenes”?
3 Die Bybel sê tereg: “Wysheid is by die beskeidenes” (Spreuke 11:2, NW). ’n Beskeie persoon is wys omdat hy ’n weg volg wat deur God goedgekeur word, en hy vermy ’n vermetele gesindheid wat tot oneer lei (Spreuke 8:13; 1 Petrus 5:5). Die wysheid van beskeidenheid word bevestig deur die lewenswandel van ’n aantal knegte van God. Kom ons bespreek die drie voorbeelde wat in die eerste paragraaf gemeld word.
Paulus—’n ‘ondergeskikte’ en ’n ‘bestuurder’
4. Watter unieke voorregte het Paulus geniet?
4 Paulus was ’n prominente figuur onder vroeë Christene, en dit is te verstane. Tydens sy bediening het hy duisende kilometers oor land en see gereis, en hy het talle gemeentes gestig. Daarbenewens het Jehovah Paulus geseën met visioene en die gawe om in ander tale te praat (1 Korintiërs 14:18; 2 Korintiërs 12:1-5). Hy het Paulus ook geïnspireer om 14 briewe te skryf wat nou deel van die Christelike Griekse Geskrifte uitmaak. Daar kan ongetwyfeld gesê word dat Paulus meer as al die ander apostels gearbei het.—1 Korintiërs 15:10.
5. Hoe het Paulus getoon dat hy ’n beskeie beskouing van homself gehad het?
5 Aangesien Paulus so ’n belangrike rol in die Christelike bediening gespeel het, sou sommige dalk verwag het dat hy van die kollig sou hou en selfs met sy gesag te koop sou loop. Maar dit was nie die geval nie, want Paulus was beskeie. Hy het homself “die geringste van die apostels” genoem, en bygevoeg: “Ek is nie werd om ’n apostel genoem te word nie, omdat ek die gemeente van God vervolg het” (1 Korintiërs 15:9). As iemand wat vroeër die Christene vervolg het, het Paulus nooit vergeet dat dit slegs deur onverdiende goedhartigheid was dat hy hoegenaamd ’n verhouding met God kon hê nie, wat nog te sê spesiale diensvoorregte geniet (Johannes 6:44; Efesiërs 2:8). Paulus het derhalwe nie gedink dat sy uitsonderlike sukses in die bediening hom beter as ander gemaak het nie.—1 Korintiërs 9:16.
6. Hoe het Paulus beskeidenheid in sy handelinge met die Korintiërs getoon?
6 Paulus se beskeidenheid was veral duidelik in sy handelinge met die Korintiërs. Party van hulle was klaarblyklik vol bewondering vir diegene wat hulle gedink het vooraanstaande opsieners was, waaronder Apollos, Sefas en Paulus self (1 Korintiërs 1:11-15). Maar Paulus het nooit die lof van die Korintiërs probeer werf of hulle bewondering uitgebuit nie. Toe hy hulle besoek het, het hy nie “met oordrewe woorde of wysheid” gekom nie. Paulus het eerder omtrent homself en sy metgeselle gesê: “Laat ’n mens ons dan as ondergeskiktes van Christus en bestuurders van heilige geheime van God beskou.”a—1 Korintiërs 2:1-5; 4:1.
7. Hoe het Paulus beskeidenheid aan die dag gelê selfs wanneer hy raad gegee het?
7 Paulus het selfs beskeidenheid aan die dag gelê wanneer hy streng raad en riglyne moes gee. Hy het sy mede-Christene “op grond van die medelye van God” en “op grond van liefde” versoek, en nie op grond van sy apostoliese gesag nie (Romeine 12:1, 2; Filemon 8, 9). Waarom het Paulus dit gedoen? Omdat hy homself waarlik beskou het as ’n ‘medewerker’ van sy broers, nie as ’n ‘meester oor hulle geloof’ nie (2 Korintiërs 1:24). Dit was ongetwyfeld Paulus se beskeidenheid wat gehelp het om hom besonder gelief by die eerste-eeuse Christengemeentes te maak.—Handelinge 20:36-38.
’n Beskeie beskouing van ons voorregte
8, 9. (a) Waarom moet ons ’n beskeie beskouing van onsself hê? (b) Hoe kan diegene wat ’n mate van verantwoordelikheid het beskeidenheid aan die dag lê?
8 Paulus het ’n goeie voorbeeld vir Christene van vandag gestel. Ongeag watter verantwoordelikhede aan ons toevertrou is, nie een van ons moet voel dat ons beter as ander is nie. “As iemand dink dat hy iets is, terwyl hy niks is nie”, het Paulus geskryf, “bedrieg hy sy eie verstand” (Galasiërs 6:3). Waarom? Want “almal het gesondig en skiet te kort aan die heerlikheid van God” (Romeine 3:23; 5:12). Ja, ons moet nooit vergeet dat ons almal sonde en die dood van Adam geërf het nie. Spesiale voorregte verhef ons nie bo ons nederige, sondige toestand nie (Prediker 9:2). Soos met Paulus die geval was, is dit net deur onverdiende goedhartigheid dat mense hoegenaamd ’n verhouding met God kan hê, wat nog te sê om hom in die een of ander bevoorregte hoedanigheid te kan dien.—Romeine 3:12, 24.
9 Aangesien ’n beskeie persoon dit besef, loop hy nie te koop met sy voorregte nie en spog hy nie oor wat hy bereik het nie (1 Korintiërs 4:7). Wanneer hy raad of leiding gee, doen hy dit as ’n medewerker—nie as ’n meester nie. Dit sal beslis verkeerd wees van iemand wat in sekere take uitmunt om die lof van medegelowiges te probeer werf of hulle bewondering uit te buit (Spreuke 25:27, NW; Matteus 6:2-4). Die enigste lof wat die moeite werd is, is dié wat van ander kom—en dit moet ongevraag kom. As ons dit wel kry, moet dit ons nie meer van onsself laat dink as wat nodig is nie.—Spreuke 27:2; Romeine 12:3.
10. Verduidelik hoe sommige wat dalk na geringes lyk in werklikheid “ryk in geloof” kan wees.
10 As ’n mate van verantwoordelikheid aan ons toevertrou is, sal beskeidenheid ons help om nie buitensporige aandag op onsself te vestig en die indruk te gee dat die gemeente alleenlik weens ons harde werk en vermoëns floreer nie. Ons is dalk veral begaaf wat onderrigting betref (Efesiërs 4:11, 12). Ons moet egter in alle beskeidenheid erken dat party van die beste lesse wat by ’n gemeentelike vergadering geleer word, nie dié is wat van die verhoog af gegee word nie. Word ons nie bemoedig wanneer ons byvoorbeeld die enkelouer sien wat gereeld saam met sy of haar kinders na die Koninkryksaal kom nie? Of die terneergedrukte siel wat die vergaderinge getrou bywoon ten spyte van volgehoue gevoelens van onwaardigheid? Of die jong persoon wat aanhou om geestelik vooruitgang te maak ondanks slegte invloede by die skool en elders? (Psalm 84:11). Hierdie persone is dalk nie op die voorgrond nie. Ander weet nie eers van baie van die toetse van onkreukbaarheid waarvoor hulle te staan kom nie. En tog is hulle dalk net so “ryk in geloof” as diegene wat meer op die voorgrond is (Jakobus 2:5). Dit is immers op die ou end getrouheid wat Jehovah se goedkeuring meebring.—Matteus 10:22; 1 Korintiërs 4:2.
Gideon—“die geringste” in sy familie
11. Hoe het Gideon beskeidenheid geopenbaar toe hy met God se engel gepraat het?
11 Gideon, ’n dapper jong man van die stam van Manasse, het gedurende ’n veelbewoë tydperk in Israel se geskiedenis gelewe. God se volk is sewe jaar lank deur die Midianiete verdruk. Maar die tyd het nou aangebreek vir Jehovah om sy volk te verlos. Daarom het ’n engel aan Gideon verskyn en gesê: “Die HERE is met jou, dapper held!” Gideon was beskeie en het hom dus nie verlustig in hierdie onverwagte kompliment nie. Hy het eerder op eerbiedige wyse vir die engel gesê: “Ag, my heer, as die HERE met ons is, waarom het al hierdie dinge ons dan oorgekom?” Die engel het sake verduidelik en vir Gideon gesê: “Gaan . . . en verlos Israel uit die hand van die Midianiete.” Hoe het Gideon gereageer? Hy het nie die toewysing gretig aangegryp as ’n geleentheid om ’n volksheld te word nie, maar geantwoord: “Ag, HERE, waarmee sou ek Israel verlos? Kyk, my geslag is die swakste in Manasse, en ek self die geringste in my familie.” Watter beskeidenheid tog!—Rigters 6:11-15.
12. Hoe het Gideon goeie oordeel aan die dag gelê toe hy sy toewysing uitgevoer het?
12 Voordat Jehovah Gideon gestuur het om oorlog te voer, het hy hom op die proef gestel. Hoe? Gideon het die opdrag gekry om sy vader se altaar vir Baäl te vernietig en om die heilige boomstam af te kap wat daar langsaan gestaan het. Hierdie toewysing sou moed verg, maar Gideon het ook beskeidenheid en goeie oordeel aan die dag gelê in die manier waarop hy dit uitgevoer het. Hy het nie hierdie taak voor die oë van almal verrig nie, maar eerder in die nag gewerk terwyl hy heel waarskynlik nie gesien sou word nie. Verder het Gideon sy toewysing met gepaste versigtigheid aangepak. Hy het tien dienaars saamgeneem—dalk sodat sommige wag kon hou terwyl die res hom gehelp het om die altaar en die heilige boomstam te vernietig.b Hoe dit ook al sy, Gideon het sy toewysing met Jehovah se seën uitgevoer, en hy is mettertyd deur God gebruik om Israel van die Midianiete te verlos.—Rigters 6:25-27.
Openbaar beskeidenheid en goeie oordeel
13, 14. (a) Hoe kan ons beskeidenheid openbaar wanneer ons ’n diensvoorreg kry? (b) Hoe het broer A. H. Macmillan ’n goeie voorbeeld in beskeidenheid gestel?
13 Ons kan baie leer uit Gideon se beskeidenheid. Byvoorbeeld, hoe reageer ons wanneer ons ’n diensvoorreg kry? Dink ons eers aan die vernaamheid of aansien wat ons as gevolg daarvan sal kry? Of oorweeg ons dit biddend en op beskeie wyse om te sien of ons aan die eise van die toewysing kan voldoen? Broer A. H. Macmillan, wat sy aardse loopbaan in 1966 voltooi het, het ’n goeie voorbeeld in dié verband gestel. C. T. Russell, die eerste president van die Wagtoringgenootskap, het eenkeer vir broer Macmillan gevra wie hy dink in sy afwesigheid toesig oor die werk moet hou. In hulle gesprek het broer Macmillan homself nie een keer daarvoor aanbeveel nie, hoewel hy dit maklik kon gedoen het. Op die ou end het broer Russell vir broer Macmillan gevra om die toewysing te oorweeg. “Ek het sprakeloos daar gestaan”, het broer Macmillan jare later geskryf. “Ek het wel daaroor nagedink, en baie ernstig ook, en ek het lank daaroor gebid voor ek uiteindelik vir hom gesê het dat ek graag alles in my vermoë sal doen om hom te help.”
14 Nie lank daarna nie is broer Russell oorlede, en die Wagtoringgenootskap het ’n nuwe president nodig gehad. Aangesien broer Macmillan tydens broer Russell se laaste predikingsreis toesig oor die werk gehou het, het ’n broer vir hom gesê: “Mac, jy het ’n goeie kans om gekies te word. Jy was broer Russell se spesiale verteenwoordiger terwyl hy weg was, en hy het vir ons almal gesê om te doen wat jy sê. Wel, hy het weggegaan en nooit teruggekom nie. Dit lyk asof jy die man is wat die werk moet voortsit.” Broer Macmillan het geantwoord: “Broer, dis nie hoe ’n mens hierdie saak moet beskou nie. Dit is die Here se werk en die enigste posisie wat ’n mens in die Here se organisasie kry, is wat die Here goedvind om jou te gee; en ek is seker daarvan dat ek nie die regte man hiervoor is nie.” Toe het broer Macmillan iemand anders vir die posisie aanbeveel. Hy het, soos Gideon, ’n beskeie beskouing van homself gehad—’n beskouing wat ons beslis ons eie wil maak.
15. Wat is ’n paar praktiese maniere waarop ons goeie oordeel aan die dag kan lê wanneer ons vir ander getuig?
15 Ons moet ook beskeie wees in die manier waarop ons ons toewysing uitvoer. Gideon het goeie oordeel aan die dag gelê en hy het probeer om nie sy teenstanders onnodig kwaad te maak nie. In ons predikingswerk moet ons eweneens beskeie wees en goeie oordeel aan die dag lê wanneer ons met ander praat. Dit is waar dat ons deelneem aan ’n geestelike oorlogvoering om “sterk verskanste dinge” en “redenasies” omver te werp (2 Korintiërs 10:4, 5). Maar ons moet nie uit die hoogte met ander praat of hulle enige gegronde rede gee om aanstoot te neem aan ons boodskap nie. Ons moet eerder hulle beskouings respekteer, gedagtes beklemtoon waaroor ons saamstem en dan die aandag vestig op die positiewe aspekte van ons boodskap.—Handelinge 22:1-3; 1 Korintiërs 9:22; Openbaring 21:4.
Jesus—die voortreflikste voorbeeld van beskeidenheid
16. Hoe het Jesus getoon dat hy ’n beskeie beskouing van homself het?
16 Die beste voorbeeld van beskeidenheid is dié van Jesus Christus.c Hoewel hy ’n intieme verhouding met sy Vader geniet het, het Jesus geredelik erken dat daar sekere sake is waaroor hy geen gesag het nie (Johannes 1:14). Toe die moeder van Jakobus en Johannes byvoorbeeld gevra het of haar twee seuns langs Jesus in sy koninkryk kan sit, het Jesus gesê: “Om aan my regter- en aan my linkerhand te sit, is nie myne om te gee nie” (Matteus 20:20-23). By ’n ander geleentheid het Jesus geredelik erken: “Ek kan nie ’n enkele ding op eie inisiatief doen nie . . . Ek [soek] nie my eie wil . . . nie, maar die wil van hom wat my gestuur het.”—Johannes 5:30; 14:28; Filippense 2:5, 6.
17. Hoe het Jesus beskeidenheid in sy handelinge met ander geopenbaar?
17 Jesus was in elke opsig verhewe bo onvolmaakte mense, en hy het onvergelyklike gesag van sy Vader, Jehovah, ontvang. Nietemin was Jesus beskeie in sy handelinge met sy volgelinge. Hy het hulle nie met ’n indrukwekkende vertoon van kennis oorweldig nie. Hy het meegevoel betoon en hulle menslike behoeftes liefdevol in ag geneem (Matteus 15:32; 26:40, 41; Markus 6:31). Hoewel Jesus volmaak was, was hy dus nie ’n perfeksionis nie. Hy het nooit meer van sy dissipels geëis as wat hulle kon gee nie, en hy het hulle nooit met meer belas as wat hulle kon dra nie (Johannes 16:12). Dit is geen wonder dat soveel mense hom verkwikkend gevind het nie!—Matteus 11:29.
Volg Jesus se voorbeeld van beskeidenheid na
18, 19. Hoe kan ons Jesus se beskeidenheid navolg in (a) ons beskouing van onsself en (b) in die manier waarop ons ander behandel?
18 As die grootste mens wat nog geleef het beskeidenheid aan die dag gelê het, hoeveel te meer moet ons. Onvolmaakte mense wil dikwels nie erken dat hulle eenvoudig nie absolute gesag het nie. Maar in navolging van Jesus streef Christene daarna om beskeie te wees. Hulle is nie te trots om verantwoordelikhede te gee aan diegene wat bekwaam daarvoor is nie; en hulle is ook nie hoogmoedig en onwillig om leiding te aanvaar van diegene wat die gesag het om dit te gee nie. Hulle toon ’n gees van samewerking en laat alles in die gemeente “welvoeglik en volgens reëling” geskied.—1 Korintiërs 14:40.
19 Beskeidenheid sal ons ook help om redelik te wees in wat ons van ander verwag en om hulle behoeftes in ag te neem (Filippense 4:5). Ons het dalk sekere vermoëns en sterk punte wat ander moontlik nie het nie. As ons egter beskeie is, sal ons nie altyd verwag dat ander moet optree soos ons wil hê hulle moet nie. Omdat ons weet dat elke persoon sy eie beperkings het, sal ons in alle beskeidenheid toegewings maak vir die tekortkominge van ander. Petrus het geskryf: “Bo alles moet julle intense liefde vir mekaar hê, want die liefde bedek ’n menigte sondes.”—1 Petrus 4:8.
20. Wat kan ons doen om enige neiging tot onbeskeidenheid te bowe te kom?
20 Soos ons geleer het, is wysheid inderdaad by die beskeidenes. Maar sê nou jy vind dat jy ’n neiging tot onbeskeidenheid of vermetelheid het? Moenie moed verloor nie. Volg eerder die voorbeeld van Dawid na, wat gebid het: “Hou u kneg ook terug van vermetele dade; laat hulle nie oor my heers nie” (Psalm 19:13, NW). Deur die geloof van manne soos Paulus, Gideon en—bowenal—Jesus Christus na te volg, sal ons persoonlik die waarheid ondervind van die woorde: “Wysheid is by die beskeidenes.”—Spreuke 11:2, NW.
[Voetnote]
a Die Griekse woord wat met “ondergeskiktes” vertaal word, kan na ’n slaaf verwys wat een van die roeiers op die onderste bank van ’n groot skip was. In teenstelling hiermee is daar dalk aan “bestuurders” meer verantwoordelikhede toevertrou, miskien om na ’n landgoed om te sien. In die oë van die meeste meesters was die bestuurder egter net soveel ’n dienskneg as wat die galeislaaf was.
b Gideon se goeie oordeel en versigtigheid moet nie verkeerdelik as ’n teken van lafhartigheid beskou word nie. Inteendeel, sy moedigheid word deur Hebreërs 11:32-38 bevestig, waar Gideon ingesluit word onder diegene wat “kragtig gemaak is” en wat “dapper geword het in oorlog”.
c Aangesien beskeidenheid ook beteken dat iemand bewus is van sy beperkings, kan daar nie tereg gesê word dat Jehovah beskeie is nie. Maar hy is wel nederig.—Psalm 18:35, NW.
Onthou jy?
• Wat is beskeidenheid?
• Hoe kan ons Paulus se beskeidenheid navolg?
• Wat kan ons omtrent beskeidenheid uit Gideon se voorbeeld leer?
• Hoe het Jesus die voortreflikste voorbeeld van beskeidenheid gestel?
[Prent op bladsy 15]
Paulus se beskeidenheid het hom gelief gemaak by sy mede-Christene
[Prent op bladsy 17]
Gideon het goeie oordeel aan die dag gelê toe hy God se wil volbring het
[Prent op bladsy 18]
Jesus, die Seun van God, openbaar beskeidenheid in alles wat hy doen