Die lewe in Bybeltye—Die boer
“[Jesus het] vir sy dissipels gesê: ‘Ja, die oes is groot, maar die werkers is min. Smeek dan die Heer van die oes om werkers in sy oes uit te stuur.’”—MATTEUS 9:37, 38.
JESUS het dikwels na boerderymetodes en plaasgereedskap verwys om belangrike leringe te illustreer (Matteus 11:28-30; Markus 4:3-9; Lukas 13:6-9). Waarom? Omdat hy aan ’n landbougemeenskap behoort het. Baie wat na hom geluister het, het as boere tradisies gevolg wat eeue lank onveranderd gebly het. Hulle het sy verwysings na hulle daaglikse bedrywighede verstaan. Hy kon hom met hulle vereenselwig, en sy leringe het by hulle byval gevind.—Matteus 7:28.
Ons kan Jesus se illustrasies en ander Bybelverslae beter verstaan as ons ’n bietjie meer weet van die eerste-eeuse boer—die gewasse wat hy geplant het, die gereedskap wat hy gebruik het en die uitdagings waarvoor hy te staan gekom het.
Stel jou die toneel voor terwyl ’n boer sy werk doen. Lees die teksverwysings en kyk wat jy daaruit leer.
’n Tyd om te saai
’n Boer staan by die ingang van sy huis en hou sy hand op om die eerste strale van die son uit sy oë te hou terwyl hy die klam lug inasem. Die reën het die songebakte grond sag gemaak. Die ploegtyd het aangebreek. Hy tel ’n ligte houtploeg op sy skouer en kies koers na sy land.
Daar jaag die boer sy osse bymekaar, span hy hulle onder ’n juk in en por hy hulle aan om te begin werk. Die ploeg se ysterpunt breek deur die klipperige grond. Dit keer nie die grond om nie, maar maak net ’n vlak voor (1). Die boer struikel na links en regs terwyl hy sukkel om die voor reguit te hou—hy kyk nie om nie, anders sal hy skeef ploeg (Lukas 9:62). Hy moet binne sy afgebakende gebied bly en sy stukkie grond ten beste benut.
Die vore lê soos lang hale oor die land, wat nou gereed is om besaai te word. Die boer hou ’n sak gars in die een hand terwyl hy die kosbare saad met die ander hand links en regs uitstrooi (2). Vasgetrapte voetpaadjies loop deur sy land, en daarom maak hy seker dat die saad op “die goeie grond” val.—Lukas 8:5, 8.
Ná die saaiwerk kom die egwerk. Die boer maak doringtakke aan sy osse vas en sleep dit oor die land. Swerms voëls krys terwyl hulle sade oppik voordat dit met grond bedek word. Later gebruik die boer ’n skoffel (3) om die grond los te werk en onkruid te verwyder wat sy saailinge kan verstik voordat dit volgroeid is.—Matteus 13:7.
’n Tyd om te maai
Maande gaan verby. Die reën val. Are ryp gars wieg heen en weer in die son, wat die landery wit laat lyk.—Johannes 4:35.
Wanneer die oestyd aanbreek, is die boer en sy gesin baie besig. ’n Maaier neem die graanstingels met sy linkerhand en swaai ’n ystersekel met sy regterhand (4). Ander maak die graan bymekaar, bind dit in gerwe (5) en laai dit op die donkies of waentjies (6) waarop dit na die dorp se dorsvloer geneem sal word.
Die gloeiende son sit al hoog in die helderblou lug. Die gesin rus ’n kort rukkie in die skadu van ’n vyeboom. Hulle lag en gesels terwyl hulle hulle eenvoudige maaltyd van brood, geroosterde graan, olywe, gedroogde vye en rosyne geniet. Hulle sluit hulle maaltyd af met groot teue van fonteinwater.—Deuteronomium 8:7.
In ’n nabygeleë landery samel mense oorblyfsels van die graanoes in (7). Party is arm en besit nie grond nie.—Deuteronomium 24:19-21.
Later, by die dorp se dorsvloer, sprei die boer die gerwe op ’n verhoogde, harde blad uit. Osse trek ’n swaar slee om en om die dorsvloer (8) (Deuteronomium 25:4). Skerp klippe en stukkies metaal aan die onderkant van die slee sny die stingels.
Die boer wag vir die aandbries om op te kom (Rut 3:2). In die skemerlig steek hy ’n houtvurk, of “wanskop” (9), onder die gedorste gerwe in en gooi hy dit in die lug op (Matteus 3:12). Die swaar graan val op die dorsvloer—die ligter kaf word weggewaai. Hy lig die vurk oor en oor op totdat al die graan uitgewan is.
Wanneer die son opkom, begin die boer se vrou en dogters met die sifwerk (10). Hulle skud siwwe vol graan en gruis. Die gars val in mandjies terwyl die gruis weggegooi word. Dit was ’n buitengewoon groot oes. Werkers sit van die surplusgraan in kruike (11). Die res sal in opbergputte gegooi word.
Op die dorsvloer kom die boer stadig orent en strek sy moeë spiere terwyl hy na die landerye kyk wat om die dorpie lê. Hy kyk tevrede na die afgeoeste, perkamentkleurige landerye—’n aanduiding van die vermoeiende werk wat die afgelope paar dae gedoen is. Hy hou werkers dop terwyl hulle na wingerde en olyf-, granaat- en vyeboorde omsien. ’n Buurman wat in sy tuintjie werk, waai vir hom. Die grond sal komkommers, lensies, boontjies, preie, kekerertjies en uie oplewer. Die boer staan vir ’n oomblik stil, kyk op en sê ’n kort, opregte gebed waarin hy God dank vir die goeie gawes wat Hy gee.—Psalm 65:9-11.
[Prente op bladsye 28-30]
(Sien publikasie)