Skep behae in Jehovah se regverdigheid
“Hy wat regverdigheid en liefderyke goedhartigheid nastreef, sal die lewe, regverdigheid en heerlikheid vind.”—SPREUKE 21:21.
1. Watter weë van mense wat vandag lewe, het rampspoedige gevolge gehad?
“DAAR is ’n weg wat vir ’n mens reg lyk, maar die einde daarvan is later die weë van die dood” (Spreuke 16:25). Hoe noukeurig beskryf hierdie Bybelspreuk tog die weë van die meeste mense wat vandag lewe! Oor die algemeen is mense net daarop ingestel om te doen wat reg is in hulle eie oë, en hulle sien nie eers die heel basiese behoeftes van ander raak nie (Spreuke 21:2). Hulle bewys lippediens aan die wette en standaarde van die land, maar probeer dit by elke geleentheid ontduik. Die gevolg is ’n samelewing wat verdeeld en verward is.—2 Timoteus 3:1-5.
2. Wat het die mensdom dringend nodig vir hulle eie beswil?
2 Vir ons eie beswil—en vir die vrede en veiligheid van die hele mensdom—het ons dringend ’n wet of standaard nodig wat billik en regverdig is, een wat alle mense bereid is om te aanvaar en te gehoorsaam. Dit spreek vanself dat geen wet of standaard wat neergelê is deur ’n mens, ongeag hoe wys of opreg hy is, in hierdie behoefte kan voorsien nie (Jeremia 10:23; Romeine 3:10, 23). As daar so ’n standaard is, waar kan dit gevind word, en watter soort standaard is dit? Die belangriker vraag is seker: As daar so ’n standaard is, sal jy dan behae daarin skep en jou daaraan onderwerp?
Hoe om die regverdige standaard te vind
3. Wie voldoen beslis aan die vereistes om ’n standaard te voorsien wat vir alle mense aanvaarbaar en voordelig is, en waarom?
3 As ons ’n standaard wil vind wat vir almal aanvaarbaar en voordelig is, sal ons na iemand toe moet gaan wat nie beperk word deur enige rasse-, kultuur- en landsgrense of deur die kortsigtigheid en swakhede van mense nie. Die enigste een wat aan hierdie vereistes voldoen, is ongetwyfeld die almagtige Skepper, Jehovah God, wat sê: “Soos die hemel hoër is as die aarde, so is my weë hoër as julle weë en my gedagtes as julle gedagtes” (Jesaja 55:9). Verder beskryf die Bybel Jehovah as “’n God van getrouheid, by wie daar geen onreg is nie; regverdig en reg is hy” (Deuteronomium 32:4). Die uitdrukking “Jehovah is regverdig” kom herhaaldelik in die Bybel voor (Eksodus 9:27; 2 Kronieke 12:6; Psalm 11:7; 129:4; Klaagliedere 1:18; Openbaring 19:2, voetnoot in NW). Ja, ons kan op Jehovah vertrou vir die heel beste standaard, want hy is getrou, billik en regverdig.
4. Wat beteken die woord “regverdig”?
4 Vandag is die woord “regverdig” natuurlik nie baie gewild nie. Trouens, die meeste mense beskou dit in ’n negatiewe lig, selfs met veragting, en stel dit gelyk met geveinsdheid of oordrewe vroomheid en godsdienstigheid. Maar volgens een woordeboek beteken “regverdig” “billik, regskape, deugsaam; onskuldig, sondeloos; in ooreenstemming met die beginsels van God se wet of aanvaarde standaarde van sedelikheid; om reg of billik op te tree”. Sal jy nie behae skep in ’n wet of standaard wat sulke goeie kenmerke het nie?
5. Beskryf die eienskap regverdigheid soos dit in die Bybel geopenbaar word.
5 Aangaande die eienskap regverdigheid sê die Encyclopaedia Judaica: “Regverdigheid is nie ’n abstrakte begrip nie, maar behels eerder dat iemand in alle verhoudings doen wat billik en reg is.” God se regverdigheid is byvoorbeeld nie bloot ’n innerlike of persoonlike eienskap wat hy besit, soos sy heiligheid en reinheid, nie. Dit is eerder ’n openbaring van sy geaardheid deur sy regverdige en billike optrede. Daar kan gesê word dat alles wat Jehovah doen en alles wat van hom af kom, regverdig is, omdat hy heilig en rein is. Dit is soos die Bybel sê: “Jehovah is regverdig in al sy weë en lojaal in al sy werke.”—Psalm 145:17.
6. Wat het Paulus van sekere ongelowige Jode in sy dag gesê, en waarom?
6 Die apostel Paulus het hierdie gedagte in sy brief aan die Christene in Rome beklemtoon. Oor sekere ongelowige Jode het hy geskryf: “Omdat hulle die regverdigheid van God nie ken nie maar hulle eie tot stand probeer bring, het hulle hulle nie aan die regverdigheid van God onderwerp nie” (Romeine 10:3). Waarom het Paulus gesê dat hulle “die regverdigheid van God nie ken nie”? Is hulle nie in die Wet, die regverdige standaarde van God, onderrig nie? Ja, hulle is. Maar die meeste van hulle het regverdigheid net as ’n persoonlike deug beskou, wat verkry kon word deur godsdiensvoorskrifte nougeset en stiptelik na te kom, en nie as ’n standaard wat hulle in hulle handelinge met hulle medemens moes rig nie. Soos die godsdiensleiers van Jesus se dag het hulle nie gesnap waaroor geregtigheid en regverdigheid gaan nie.—Matteus 23:23-28.
7. Hoe word Jehovah se regverdigheid geopenbaar?
7 In skerp teenstelling hiermee word Jehovah se regverdigheid in al sy handelinge geopenbaar en duidelik gesien. Hoewel sy regverdigheid vereis dat hy nie die sondes van moedswillige oortreders eenvoudig oor die hoof sien nie, maak dit hom nie ’n liefdelose en veeleisende God wat gevrees en op ’n afstand gehou moet word nie. Inteendeel, op grond van sy regverdige dade kan die mensdom hom nader en van die verskriklike gevolge van sonde gered word. Dit is dus heeltemal gepas dat Jehovah as “’n regverdige God en ’n Redder” beskryf word.—Jesaja 45:21.
Regverdigheid en redding
8, 9. Hoe het die Wet God se regverdigheid geopenbaar?
8 As ons die verband tussen God se regverdigheid en hierdie liefdevolle reddingsdaad wil verstaan, moet ons kyk na die Wet wat hy deur Moses aan die nasie Israel gegee het. Daar bestaan geen twyfel dat die Wet regverdig was nie. In sy afskeidswoorde het Moses die Israeliete herinner: “Watter groot nasie het sulke regverdige voorskrifte en regterlike beslissings soos hierdie hele wet wat ek julle vandag voorhou?” (Deuteronomium 4:8). Eeue later het koning Dawid van Israel gesê: “Die regterlike beslissings van Jehovah is waar; tesame is hulle regverdig.”—Psalm 19:9.
9 Deur middel van die Wet het Jehovah sy volmaakte standaarde van reg en verkeerd duidelik gemaak. Die Wet het tot in die kleinste besonderhede beskryf hoe die Israeliete hulle moes gedra, nie net in godsdienssake nie, maar ook met betrekking tot handelsbedrywighede, die huwelik, dieetkundige en sanitêre gebruike en, natuurlik, regterlike beslissings. Die Wet het ook streng strafmaatreëls teen oortreders bevat en in party gevalle selfs die doodstraf opgelê.a Maar was God se regverdige vereistes, soos in die Wet vervat, vir die volk ’n swaar en vermoeiende las wat hulle hulle vryheid en vreugde ontneem het, soos baie mense vandag beweer?
10. Hoe het mense wat Jehovah liefgehad het, oor sy wette gevoel?
10 Mense wat Jehovah liefgehad het, het groot behae geskep in sy regverdige wette en verordeninge. Koning Dawid het byvoorbeeld nie net erken dat Jehovah se regterlike beslissings waar en regverdig is nie, soos ons vroeër gesien het, maar hy het ook ’n hartgrondige liefde en waardering daarvoor gehad. Hy het oor die wette en regterlike beslissings van Jehovah geskryf: “Hulle is begeerliker as goud, ja, as goed gelouterde goud; en soeter as heuning en die vloeiende heuning van die koeke. Ook is u kneg daardeur gewaarsku; in die onderhouding daarvan is ’n groot beloning.”—Psalm 19:7, 10, 11.
11. Hoe was die Wet ’n ‘tugmeester wat na Christus gelei het’?
11 Eeue later het Paulus op nog ’n groter voordeel van die Wet gewys. In sy brief aan die Galasiërs het hy geskryf: “Die Wet [het] ons tugmeester geword wat na Christus gelei het, sodat ons weens geloof regverdig verklaar kon word” (Galasiërs 3:24). In Paulus se dag was ’n tugmeester (opvoeder, Kingdom Interlinear) ’n kneg of slaaf in ’n groot huishouding. Dit was sy plig om die kinders te beskerm en om hulle skool toe te neem. Die Wet het die Israeliete eweneens beskerm teen die verdorwe sedelike en godsdiensgebruike van die nasies om hulle (Deuteronomium 18:9-13; Galasiërs 3:23). Ook het die Wet die Israeliete bewus gemaak van hulle sondige toestand en van hulle behoefte aan vergifnis en redding (Galasiërs 3:19). Die reëlings in verband met offerandes het getoon dat ’n losprysoffer nodig was en het ’n profetiese patroon voorsien waarvolgens die ware Messias geïdentifiseer kon word (Hebreërs 10:1, 11, 12). Hoewel Jehovah sy regverdigheid deur die Wet geopenbaar het, het hy dit dus met die volk se welsyn en ewige redding in gedagte gedoen.
Mense wat deur God as regverdig beskou is
12. Wat kon die Israeliete verkry het as hulle die Wet sorgvuldig nagekom het?
12 Aangesien die Wet wat Jehovah gegee het, in elke opsig regverdig was, kon die Israeliete ’n regverdige posisie voor God verkry het deur daaraan gehoorsaam te wees. Toe die Israeliete op die punt gestaan het om die Beloofde Land binne te gaan, het Moses hulle herinner: “Dit sal regverdigheid vir ons beteken as ons hierdie hele gebod sorgvuldig uitvoer voor Jehovah ons God, net soos hy ons beveel het” (Deuteronomium 6:25). Jehovah het ook belowe: “Julle moet my insettinge en my regterlike beslissings onderhou, en as ’n mens dit nakom, sal hy ook daardeur lewe. Ek is Jehovah.”—Levitikus 18:5; Romeine 10:5.
13. Was dit onregverdig van Jehovah om te vereis dat sy volk die regverdige Wet hou? Verduidelik.
13 Ongelukkig het die Israeliete as ’n nasie nie ‘hierdie hele gebod voor Jehovah uitgevoer’ nie, en daarom het hulle die beloofde seëninge verbeur. Hulle het nie al God se gebooie onderhou nie, want God se Wet was volmaak, maar hulle was nie. Beteken dit dat God onbillik of onregverdig is? Beslis nie. Paulus het geskryf: “Wat sal ons dan sê? Is daar onregverdigheid by God? Mag dit nooit die geval word nie!” (Romeine 9:14). Feit is dat individue, voordat en nadat die Wet gegee is, deur God as regverdig beskou is, al was hulle onvolmaak en sondig. Die lys van sulke godvresende mense sluit Noag, Abraham, Job, Ragab en Daniël in (Genesis 7:1; 15:6; Job 1:1; Esegiël 14:14; Jakobus 2:25). Die vraag is dan: Op grond waarvan het God hierdie individue as regverdig beskou?
14. Wat bedoel die Bybel wanneer dit sê dat iemand “regverdig” is?
14 Wanneer die Bybel sê dat iemand “regverdig” is, gee dit nie te kenne dat hy sondeloos of volmaak is nie. Dit beteken eerder dat hy sy verpligtinge teenoor God en mense nakom. Noag is byvoorbeeld “’n regverdige man” en “onberispelik onder sy tydgenote” genoem omdat hy “gedoen [het] volgens alles wat God hom beveel het. Hy het net so gedoen” (Genesis 6:9, 22; Maleagi 3:18). Sagaria en Elisabet, die ouers van Johannes die Doper, “was . . . regverdig voor God omdat hulle onberispelik gewandel het in ooreenstemming met al die gebooie en wetlike vereistes van Jehovah” (Lukas 1:6). En ’n nie-Israeliet, ’n Italiaanse leëroffisier met die naam Kornelius, is beskryf as “’n man wat regverdig is en God vrees”.—Handelinge 10:22.
15. Waarmee hou regverdigheid ten nouste verband?
15 Regverdigheid in mense hou ook ten nouste verband met wat in iemand se hart is—sy geloof in en waardering en liefde vir Jehovah en sy beloftes—en nie net met die feit dat hy doen wat God vereis nie. Volgens die Skrif het Abraham “geloof in Jehovah gestel; en hy het hom dit as regverdigheid toegereken” (Genesis 15:6). Abraham het nie net in die bestaan van God geglo nie, maar ook in sy belofte in verband met die “saad” (Genesis 3:15; 12:2; 15:5; 22:18). Op grond van hierdie geloof en werke wat met geloof gepaardgegaan het, kon Jehovah met Abraham en ander getroues handel en hulle seën, al was hulle onvolmaak.—Psalm 36:10; Romeine 4:20-22.
16. Wat het geloof in die losprys tot gevolg gehad?
16 Regverdigheid in mense hang uiteindelik af van geloof in die losprysoffer van Jesus Christus. Oor die Christene in die eerste eeu het Paulus geskryf: “Dit is as ’n vrye gawe dat hulle deur [God se] onverdiende goedhartigheid regverdig verklaar word op grond van die bevryding deur die losprys wat deur Christus Jesus betaal is” (Romeine 3:24). Paulus het hier gepraat van dié wat gekies is om mede-erfgename met Christus in die hemelse Koninkryk te wees. Maar Jesus se losprysoffer het dit ook vir miljoene ander moontlik gemaak om ’n regverdige posisie voor God te verkry. Die apostel Johannes het ’n visioen gehad van “’n groot menigte, wat geen mens kon tel nie, . . . wat voor die troon en voor die Lam staan, geklee in wit klere”. Die wit klere is ’n simbool van hulle rein en regverdige posisie voor God, want “hulle het hulle klere gewas en dit wit gemaak in die bloed van die Lam”.—Openbaring 7:9, 14.
Skep behae in Jehovah se regverdigheid
17. Watter stappe moet ’n mens doen as jy regverdigheid nastreef?
17 Hoewel Jehovah sy Seun, Jesus Christus, uit liefde voorsien het as die middel waardeur mense ’n regverdige posisie voor hom kan verkry, kom dié posisie geensins vanself nie. ’n Mens moet geloof in die losprys beoefen, jou lewe in ooreenstemming met God se wil bring, jou aan Jehovah toewy en dit deur waterdoop simboliseer. Daarna moet jy aanhou om regverdigheid sowel as ander geestelike eienskappe na te streef. Timoteus, ’n gedoopte Christen met die hemelse roeping, is deur Paulus aangespoor: “Streef . . . na regverdigheid, godvrugtige toegewydheid, geloof, liefde, volharding, sagmoedigheid” (1 Timoteus 6:11; 2 Timoteus 2:22). Jesus het ook die belangrikheid van volgehoue inspanning beklemtoon toe hy gesê het: “Hou dan aan om eers die koninkryk en sy regverdigheid te soek.” Ons werk dalk baie hard om die seëninge van God se Koninkryk te verkry, maar werk ons net so hard om die regverdige weë van Jehovah na te streef?—Matteus 6:33.
18. (a) Waarom is dit nie maklik om regverdigheid na te streef nie? (b) Wat kan ons uit Lot se voorbeeld leer?
18 Om regverdigheid na te streef, is natuurlik nie maklik nie. Dit is omdat ons almal onvolmaak is en ’n natuurlike neiging tot onregverdigheid het (Jesaja 64:6). Ook word ons omring deur mense wat hulle min aan Jehovah se regverdige weë steur. Ons situasie is baie soos dié van Lot wat in Sodom gewoon het, ’n stad wat berug was vir sy goddeloosheid. Die apostel Petrus het verduidelik waarom Jehovah dit goedgedink het om Lot van die dreigende vernietiging te red. Petrus het gesê: “Dié regverdige man het deur wat hy gesien en gehoor het terwyl hy onder hulle gewoon het, van dag tot dag sy regverdige siel gepynig weens hulle wettelose dade” (2 Petrus 2:7, 8). Elkeen van ons kan ons dus gerus afvra: ‘Gee ek in my hart stilswyend goedkeuring aan die onsedelike gebruike wat ons om ons sien? Vind ek die gewilde maar gewelddadige vermaak of sport bloot onsmaaklik? Of word ek soos Lot deur sulke onregverdige dade gepynig?’
19. Watter seëninge kan ons geniet as ons behae skep in God se regverdigheid?
19 In hierdie gevaarlike en onsekere tye is dit ’n bron van veiligheid en beskerming om behae te skep in Jehovah se regverdigheid. In antwoord op die vraag: “O Jehovah, wie sal ’n gas in u tent wees? Wie sal op u heilige berg woon?” het koning Dawid gesê: “Hy wat onberispelik wandel en regverdigheid beoefen” (Psalm 15:1, 2). Deur God se regverdigheid na te streef en behae daarin te skep, kan ons ’n goeie verhouding met hom behou en aanhou om sy guns en seën te geniet. Ons lei dus ’n lewe van tevredenheid, selfrespek en gemoedsrus. “Hy wat regverdigheid en liefderyke goedhartigheid nastreef, sal die lewe, regverdigheid en heerlikheid vind”, sê God se Woord (Spreuke 21:21). En as ons in alles hard probeer om te doen wat billik en regverdig is, sal ons gelukkige persoonlike verhoudings en ’n beter lewensgehalte hê—op sedelike en geestelike gebied. Die psalmis het gesê: “Gelukkig is dié wat die reg bewaar, wat te alle tye regverdigheid beoefen.”—Psalm 106:3.
[Voetnoot]
a Sien die artikel “Some Features of the Law Covenant”, op bladsye 214-20 in Deel 2 van Insight on the Scriptures, wat deur Jehovah se Getuies uitgegee word, vir besonderhede oor die omvang van die Mosaïese Wet.
Kan jy verduidelik?
• Wat is regverdigheid?
• Hoe hou redding verband met God se regverdigheid?
• Op grond waarvan beskou God mense as regverdig?
• Hoe kan ons behae skep in Jehovah se regverdigheid?
[Prente op bladsy 15]
Koning Dawid het sy hartgrondige liefde vir God se wette uitgespreek
[Prente op bladsy 16]
God het Noag, Abraham, Sagaria en Elisabet asook Kornelius as regverdig beskou. Weet jy hoekom?