Bybellees—Nuttig en aangenaam
“Jy moet dag en nag . . . daarin lees.”—JOSUA 1:8, NW.
1. Wat is ’n paar voordele van lees oor die algemeen en veral van Bybellees?
DIT het nut om goeie leesstof te lees. Die Franse politieke filosoof Montesquieu (Charles-Louis de Secondat) het geskryf: “Vir my was studie nog altyd die heel beste middel teen die vermoeienis van die lewe. Ek het nog nooit ’n kwelling ervaar wat nie deur ’n uur se lees verdryf is nie.” Dit is by uitstek waar van Bybellees. Die geïnspireerde psalmis het gesê: “Die wet van die HERE is volmaak: dit verkwik die siel; die getuienis van die HERE is gewis: dit gee wysheid aan die eenvoudige. Die bevele van die HERE is reg: hulle verbly die hart.”—Psalm 19:8, 9.
2. Waarom het Jehovah die Bybel deur die eeue heen bewaar, en wat verwag hy van sy volk om daarmee te doen?
2 As die Outeur van die Bybel het Jehovah God dit deur die eeue heen teen hewige teenstand van vyande, op godsdienstige sowel as sekulêre gebied, bewaar. Aangesien dit sy wil is dat “alle soorte mense gered moet word en tot juiste kennis van die waarheid moet kom”, het hy toegesien dat sy Woord aan alle mense beskikbaar gemaak word (1 Timoteus 2:4). Na raming kan omtrent 80 persent van die aarde se bewoners bereik word deur 100 tale te gebruik. Die hele Bybel is in 370 tale beskikbaar, en dele van die Skrif kan in ’n bykomende 1 860 tale en dialekte gelees word. Jehovah wil graag hê dat sy volk sy Woord moet lees. Hy seën sy knegte wat let op sy Woord, ja, wat dit daagliks lees.—Psalm 1:1, 2, NW.
Bybellees—’n vereiste vir opsieners
3, 4. Wat het Jehovah van Israel se konings vereis, en watter redes vir hierdie vereiste is ook op Christen- ouer manne van vandag van toepassing?
3 Jehovah het gepraat van die tyd wanneer die nasie Israel ’n mensekoning sou hê en gesê: “As hy op die troon van sy koninkryk sit, moet hy vir hom ’n afskrif van hierdie wet in ’n boek skrywe, uit dié wat voor die Levitiese priesters lê; en dit moet by hom wees, en hy moet al die dae van sy lewe daarin lees, dat hy kan leer om die HERE sy God te vrees deur al die woorde van hierdie wet en hierdie insettinge te hou, om dit te doen; sodat sy hart hom nie verhef oor sy broers nie en hy van die gebod nie regs of links afwyk nie.”—Deuteronomium 17:18-20.
4 Let op die redes waarom Jehovah van alle toekomstige konings van Israel vereis het om die boek van God se wet daagliks te lees: (1) “dat hy kan leer om die HERE sy God te vrees deur al die woorde van hierdie wet en hierdie insettinge te hou, om dit te doen”; (2) “sodat sy hart hom nie verhef oor sy broers nie”; (3) ‘sodat hy van die gebod nie regs of links afwyk nie’. Moet Christenopsieners van vandag nie Jehovah vrees, sy wette gehoorsaam, hulle nie bo hulle broers verhef en nie van Jehovah se gebooie afwyk nie? Dit is beslis vir hulle net so belangrik om die Bybel daagliks te lees as wat dit vir die konings van Israel was.
5. Wat het die Bestuursliggaam onlangs aan Takkomiteelede geskryf aangaande Bybellees, en waarom sal dit goed wees as alle Christen- ouer manne hierdie raad volg?
5 Christen- ouer manne van vandag het ’n baie besige program, wat dit ’n uitdaging maak om die Bybel daagliks te lees. Lede van die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies en lede van Takkomitees oor die hele wêreld is byvoorbeeld almal baie besige manne. En tog het ’n onlangse brief van die Bestuursliggaam aan alle Takkomitees die belangrikheid beklemtoon van daaglikse Bybellees en goeie studiegewoontes. Die brief het getoon dat dit ons liefde vir Jehovah en vir die waarheid sal vergroot, en dit “sal ons help om ons geloof, vreugde en volharding tot die glorieryke einde toe te behou”. Alle ouer manne in gemeentes van Jehovah se Getuies is bewus van dieselfde behoefte. As hulle die Skrif daagliks lees, sal dit hulle help om ‘wys te handel’ (Josua 1:7, 8, NW). Bybellees is veral vir hulle “nuttig om te onderrig, om tereg te wys, om dinge reg te stel en om in regverdigheid op te lei”.—2 Timoteus 3:16, Revised Standard Version.
Noodsaaklik vir oud en jonk
6. Waarom het Josua al die woorde van Jehovah se wet hardop voorgelees aan die vergaderde stamme van Israel en die vreemdelinge?
6 In die ou tyd was individuele eksemplare van die Skrif nie beskikbaar vir persoonlike gebruik nie; daarom is die Skrif aan die hele vergadering voorgelees. Nadat Jehovah Josua die oorwinning oor die stad Ai gegee het, het hy die stamme van Israel voor die berg Ebal en die berg Gerisim versamel. En die verslag sê: “Daarna het hy al die woorde van die wet voorgelees, die seën en die vloek, net soos dit geskrywe staan in die wetboek. Daar was geen woord van alles wat Moses beveel het, wat Josua nie voorgelees het voor die hele vergadering van Israel, met die vroue en die kinders en die vreemdeling wat onder hulle saamgetrek het nie” (Josua 8:34, 35). Oud en jonk, die Israeliet en die vreemdeling, moes as ’t ware op hulle hart en verstand gegraveer hê watter soort gedrag tot Jehovah se seën en watter gedrag tot sy onguns sou lei. As ons die Bybel gereeld lees, sal dit ons beslis in hierdie opsig help.
7, 8. (a) Wie is vandag soos “die vreemdeling”, en waarom moet hulle die Bybel daagliks lees? (b) Hoe kan “kinders” onder Jehovah se volk Jesus se voorbeeld navolg?
7 Vandag is miljoene van Jehovah se knegte in geestelike sin soos daardie “vreemdeling”. Hulle het voorheen volgens die wêreld se standaarde gelewe, maar hulle het hulle lewe verander (Efesiërs 4:22-24; Kolossense 3:7, 8). Hulle moet hulleself voortdurend herinner aan Jehovah se standaarde van goed en sleg (Amos 5:14, 15). Deur God se Woord daagliks te lees, word hulle gehelp om dit te doen.—Hebreërs 4:12; Jakobus 1:25.
8 Daar is ook baie “kinders” onder Jehovah se volk wat deur hulle ouers Jehovah se standaarde geleer is, maar wat hulleself daarvan moet vergewis dat sy wil reg is (Romeine 12:1, 2). Hoe kan hulle dit doen? In Israel is die priesters en oudstes beveel: “Jy [moet] hierdie wet voor die hele Israel, voor hulle ore lees. Laat die volk byeenkom, die manne en die vroue en die kinders en jou vreemdeling wat in jou poorte is, dat hulle kan hoor en dat hulle kan leer om die HERE julle God te vrees en sorgvuldig al die woorde van hierdie wet te hou. En hulle kinders wat dit nie ken nie, moet hoor en leer om die HERE julle God te vrees” (Deuteronomium 31:11-13). Jesus, wat onder die Wet gelewe het, het op die vroeë ouderdom van 12 al baie daarin belanggestel om sy Vader se wette te verstaan (Lukas 2:41-49). Later was dit sy gewoonte om in die sinagoge na die Skriflesing te luister en daaraan deel te neem (Lukas 4:16; Handelinge 15:21). Dit sal goed wees as kinders van vandag Jesus se voorbeeld navolg deur God se Woord daagliks te lees en deur gereeld vergaderinge by te woon waar die Bybel gelees en bestudeer word.
Bybellees—’n prioriteit
9. (a) Waarom moet ons selektief wees in wat ons lees? (b) Wat het die stigter-redakteur van hierdie tydskrif oor Bybelstudiehulpe gesê?
9 Die wyse koning Salomo het geskryf: “Wees gewaarsku: Aan die maak van baie boeke kom geen einde nie, en baie toewyding daaraan is vermoeiend vir die vlees” (Prediker 12:12, NW). ’n Mens kan byvoeg dat dit nie net vermoeiend vir die vlees is nie, maar ook gevaarlik vir die verstand om baie van die boeke wat vandag uitgegee word te lees. Dit is dus belangrik om selektief te wees. Benewens ons Bybelstudiepublikasies moet ons die Bybel self lees. Die stigter-redakteur van hierdie tydskrif het aan sy lesers geskryf: “Moet nooit vergeet dat die Bybel ons Standaard is en dat ons hulpe, hoe godgegewe hulle ook al is, net ‘hulpe’ en nie plaasvervangers vir die Bybel is nie.”a Daarom sal ons dus die Bybel self lees, terwyl ons nie Bybelpublikasies sal verwaarloos nie.
10. Hoe het “die getroue en verstandige slaaf” die belangrikheid van Bybellees beklemtoon?
10 Omdat “die getroue en verstandige slaaf” bewus is van hierdie behoefte, is Bybellees nou al jare lank ’n deel van die program vir die Teokratiese Bedieningskool in elke gemeente (Matteus 24:45). Die huidige Bybelleesprogram dek die hele Bybel in ’n tydperk van omtrent sewe jaar. Hierdie rooster is voordelig vir almal, maar veral vir nuwelinge wat nog nooit die hele Bybel gelees het nie. Diegene wat die Wagtoring-Bybelskool Gilead vir sendelinge en die Bedieningsopleidingskool bywoon sowel as nuwe lede van die Bethelgesin moet die hele Bybel in een jaar deurlees. Watter rooster jy ook al volg, as ’n individu of as ’n gesin, jy kan slegs daarby bly as jy voorkeur aan Bybellees gee.
Wat openbaar jou leesgewoontes?
11. Hoe en waarom moet ons elke dag Jehovah se uitinge inneem?
11 As jy dit moeilik vind om by jou Bybelleesrooster te bly, sal dit dalk gepas wees as jy jou afvra: ‘Hoe beïnvloed my lees- of TV-kykgewoontes my vermoë om Jehovah se Woord te lees?’ Onthou wat Moses geskryf het—en wat Jesus herhaal het—dat ‘die mens nie van brood alleen moet lewe nie, maar van elke uiting wat deur Jehovah se mond uitgaan’ (Matteus 4:4; Deuteronomium 8:3). Net soos ons elke dag van ons lewe brood of ’n ekwivalent daarvan moet eet om ons fisiese liggaam te onderhou, moet ons ook Jehovah se gedagtes daagliks inneem om ons geestelikheid te handhaaf. Ons kan elke dag toegang tot God se gedagtes hê deur die Skrif te lees.
12, 13. (a) Hoe lig die apostel Petrus die verlange toe wat ons na God se Woord behoort te hê? (b) Hoe gebruik Paulus die illustrasie van melk anders as Petrus?
12 As ons die Bybel waardeer, “nie as die woord van mense . . . nie, maar, soos dit waarlik is, as die woord van God,” sal ons ’n begeerte hê om dit te lees, net soos ’n baba na sy moeder se melk verlang (1 Tessalonisense 2:13). Die apostel Petrus het daardie vergelyking gemaak toe hy geskryf het: “Ontwikkel soos pasgebore kindertjies ’n verlange na die onvervalste melk wat tot die woord behoort, sodat julle daardeur tot redding kan groei, mits julle gesmaak het dat die Here goedhartig is” (1 Petrus 2:2, 3). As ons waarlik persoonlik ondervind het dat “die Here goedhartig is”, sal ons ’n verlange na Bybellees ontwikkel.
13 Ons moet in gedagte hou dat Petrus in hierdie Skrifgedeelte die ooreenkoms met melk anders gebruik het as die apostel Paulus. Melk voorsien in al die voedingsbehoeftes van ’n pasgebore baba. Petrus se illustrasie toon dat God se Woord alles bevat wat ons nodig het om ‘tot redding te groei’. Daarenteen gebruik Paulus die behoefte aan melk om die swak eetgewoontes toe te lig van party wat beweer dat hulle geestelike volwassenes is. In sy brief aan die Hebreeuse Christene het Paulus geskryf: “Hoewel julle met die oog op die tyd inderdaad leermeesters behoort te wees, het julle weer nodig dat iemand julle van die begin af die elementêre dinge van die heilige verklarings van God moet leer; en julle het mense geword wat melk nodig het, nie vaste voedsel nie. Want elkeen wat melk gebruik, is onbekend met die woord van regverdigheid, want hy is ’n klein kindjie. Maar vaste voedsel behoort by volwasse mense, by dié wie se waarnemingsvermoëns deur gebruik geoefen is om te onderskei wat reg sowel as verkeerd is” (Hebreërs 5:12-14). As ons die Bybel aandagtig lees, kan dit ons baie help om ons waarnemingsvermoëns te ontwikkel en ons begeerte na geestelike dinge op te wek.
Hoe om die Bybel te lees
14, 15. (a) Watter voorreg bied die Outeur van die Bybel ons? (b) Hoe kan ons by Goddelike wysheid baat vind? (Gee voorbeelde.)
14 Die Bybellees waaruit ons die grootste voordeel put, begin nie by lees nie, maar by gebed. Gebed is ’n wonderlike voorreg. Dit is asof jy ’n boek oor ’n diep onderwerp begin lees en eers die skrywer raadpleeg om jou te help verstaan wat jy vervolgens gaan lees. Hoe uiters voordelig kan dit tog nie wees nie! Die Bybel se Outeur, Jehovah, bied jou daardie voorreg. ’n Lid van die eerste-eeuse bestuursliggaam het aan sy broers geskryf: “As een van julle dan wysheid kortkom, laat hom aanhou om God te vra, want hy gee mildelik aan almal en sonder om te verwyt; en dit sal aan hom gegee word. Maar laat hom aanhou om in geloof te vra, sonder om enigsins te twyfel” (Jakobus 1:5, 6). Die hedendaagse Bestuursliggaam spoor ons voortdurend aan om die Bybel biddend te lees.
15 Wysheid is die praktiese toepassing van kennis. Voordat jy dus jou Bybel oopmaak, moet jy Jehovah vra om jou te help om die punte in jou leesgedeelte te identifiseer wat jy in jou persoonlike lewe moet toepas. Assosieer nuwe gedagtes wat jy leer met kennis wat jy reeds het. Pas dit in by “die patroon van gesonde woorde” wat jy leer ken het (2 Timoteus 1:13). Peins oor gebeurtenisse in die lewe van Jehovah se knegte van die ou tyd, en vra jou af hoe jy onder soortgelyke omstandighede sou opgetree het.—Genesis 39:7-9; Daniël 3:3-6, 16-18; Handelinge 4:18-20.
16. Watter praktiese wenke word gegee om ons te help om ons Bybellees van groter nut en waarde te maak?
16 Moenie net lees om bladsye te dek nie. Lees stadig. Dink na oor wat jy lees. As jy oor ’n sekere punt wonder, slaan die kruisverwysings na as dit in jou Bybel verskyn. As die punt nog steeds nie duidelik is nie, kan jy ’n aantekening maak om later verdere navorsing te doen. Terwyl jy lees, kan jy die tekste merk wat jy veral graag wil onthou, of jy kan dit êrens neerskryf. Jy kan ook persoonlike aantekeninge en kruisverwysings in die kantlyn skryf. As daar tekste is wat jy dink jy dalk eendag in jou predikings- en onderrigtingswerk nodig sal hê, kan jy kyk wat die sleutelwoord is en dit in die indeks van Bybelwoorde agter in jou Bybel opsoek.b
Maak Bybellees genotvol
17. Waarom moet Bybellees vir ons genotvol wees?
17 Die psalmis het van die gelukkige man gepraat wie se ‘behae in die wet van Jehovah is, en wat dag en nag op gedempte toon in sy wet lees’ (Psalm 1:2, NW). Ons daaglikse Bybellees moet nie ’n las wees nie, maar ’n ware genot. Een manier waarop ’n mens dit aangenaam kan maak, is deur altyd bewus te bly van die waarde van die dinge wat jy leer. Die wyse koning Salomo het geskryf: “Gelukkig die mens wat wysheid gevind het . . . Sy weë is lieflike weë, en al sy paaie is vrede. Dit is ’n lewensboom vir die wat dit aangryp, en elkeen wat dit vashou, is gelukkig” (Spreuke 3:13, 17, 18). Die inspanning wat dit verg om wysheid te verkry, is beslis die moeite werd, want die weë daarvan is lieflike weë, vrede, geluk en uiteindelik die lewe.
18. Wat benewens Bybellees is nodig, en wat sal ons in die volgende artikel bespreek?
18 Ja, Bybellees is nuttig en aangenaam. Maar is dit voldoende? Die Christendom se kerklidmate lees die Bybel al eeue lank, hulle ‘leer altyd en tog kan hulle nooit tot ’n juiste kennis van die waarheid kom nie’ (2 Timoteus 3:7). Bybellees kan slegs nuttig wees as ons dit doen om die kennis wat ons daardeur bekom in ons persoonlike lewe toe te pas en dit in ons predikings- en onderrigtingswerk te gebruik (Matteus 24:14; 28:19, 20). Dit verg inspanning en goeie studiemetodes, wat ook genotvol en lonend kan wees, soos ons in die volgende artikel sal sien.
[Voetnote]
a Sien Jehovah se Getuies—verkondigers van God se Koninkryk, uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc., bladsy 241.
b Sien Die Wagtoring van 1 Mei 1995, bladsye 16-17, “Wenke vir genotvoller Bybellees”.
Hersieningsvrae
• Watter raad wat aan Israel se konings gegee is, is vandag op opsieners van toepassing, en waarom?
• Wie is vandag soos “die vreemdeling” en “die kinders”, en waarom moet hulle die Bybel daagliks lees?
• Op watter praktiese maniere het “die getroue en verstandige slaaf” ons al gehelp om die Bybel gereeld te lees?
• Hoe kan ons waarlik voordeel en genot uit ons Bybellees put?
[Prent op bladsy 9]
Ouer manne in die besonder moet die Bybel daagliks lees
[Prent op bladsy 10]
Dit was Jesus se gewoonte om aan Skriflesing in die sinagoge deel te neem