Vind baat by daaglikse Bybellees
“Gelukkig is die man . . . [wie se] behae is in die wet van Jehovah, en in sy wet lees hy dag en nag met ’n gedempte stem.”—PSALM 1:1, 2, NW.
1. (a) Watter opvallende teken verskyn op die een kant van ’n fabrieksgebou by die Wagtoringgenootskap se wêreldhoofkwartier? (b) Hoe sal ons daarby baat vind as ons persoonlik die raad ter harte neem?
“LEES GOD SE WOORD DIE HEILIGE BYBEL DAAGLIKS.” Hierdie woorde verskyn in groot letters op die een kant van ’n gebou in Brooklyn, New York, waar die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap Bybels en Bybellektuur druk. Hierdie aansporing is nie net bedoel vir mense van die wêreld wat die teken sien nie. Jehovah se Getuies besef dat hulle dit ook ter harte moet neem. Diegene wat die Bybel gereeld lees en dit persoonlik toepas, vind baat by die onderrigting, die teregwysing, die regstelling en die dissipline in geregtigheid wat dit voorsien.—2 Timoteus 3:16, 17.
2. Hoe het broer Russell die belangrikheid van Bybellees beklemtoon?
2 Jehovah se Getuies heg groot waarde aan hulle Bybelstudiehulpe, met inbegrip van Die Wagtoring, en hulle maak gereeld daarvan gebruik. Maar hulle weet dat nie een daarvan die plek van die Bybel self inneem nie. Reeds in 1909 het Charles Taze Russell, die eerste president van die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap, aan lesers van die Watch Tower geskryf: “Moet nooit vergeet dat die Bybel ons Standaard is en dat ons hulpe, hoe godgegewe hulle ook al is, net ‘hulpe’ en nie plaasvervangers vir die Bybel is nie.”
3. (a) Watter uitwerking het “die woord van God” op diegene wat daaraan blootgestel word? (b) Hoe dikwels het die Bereane die Skrif gelees en bestudeer?
3 Die geïnspireerde Skrif het ’n diepte en ’n krag wat geen ander boek het nie. “Die woord van God is lewend en oefen krag uit en is skerper as enige tweesnydende swaard en dring selfs deur tot die skeiding van siel en gees, en van gewrigte en hulle murg, en kan gedagtes en bedoelinge van die hart onderskei” (Hebreërs 4:12). Die dissipel Lukas het die mense van Berea hartlik geprys en gesê dat hulle “edelmoediger” was. Hulle het nie net die woord wat Paulus en sy metgesel Silas verkondig het gretig ontvang nie, maar het ook “die Skrif daagliks sorgvuldig ondersoek” om vas te stel of dít wat hulle geleer is op die Skrif gegrond is.—Handelinge 17:11.
Daaglikse Bybellees
4. Wat toon die Skrif met betrekking tot hoe dikwels ons die Bybel behoort te lees?
4 Die Bybel sê nie uitdruklik hoe dikwels ons dit behoort te lees nie. Maar dit bevat wel Jehovah se raad aan Josua om ‘dag en nag met ’n gedempte stem in die wetboek te lees’ sodat hy wys sou optree en sy godgegewe toewysing suksesvol sou uitvoer (Josua 1:8, NW). Dit sê vir ons dat elkeen wat as koning oor eertydse Israel geheers het die Skrif “al die dae van sy lewe” moes lees (Deuteronomium 17:19). Dit sê verder: “Gelukkig is die man wat nie in die raad van die goddeloses gewandel het nie . . . Maar sy behae is in die wet van Jehovah, en in sy wet lees hy dag en nag met ’n gedempte stem” (Psalm 1:1, 2, NW). Die Evangelie wat deur Matteus opgeteken is, sê ook vir ons dat Jesus Christus uit die geïnspireerde Hebreeuse Geskrifte aangehaal het toe Hy Satan se pogings om Hom te versoek, verwerp het met die woorde: “Daar staan geskrywe: ‘Die mens moet nie van brood alleen lewe nie, maar van elke uiting wat deur Jehovah se mond uitgaan’” (Matteus 4:4). Hoe dikwels het ons fisiese voedsel nodig? Elke dag! Dit is selfs belangriker dat ons daagliks geestelike voedsel inneem, want ons vooruitsigte op die ewige lewe is daarby betrokke.—Deuteronomium 8:3; Johannes 17:3.
5. Hoe kan daaglikse Bybellees ons help om te “wandel op ’n wyse wat Jehovah waardig is” wanneer ons voor toetse van ons geloof te staan kom?
5 Elkeen van ons moet daagliks deur God se Woord versterk word. Elke dag—by die huis, by die werk, by die skool, op straat, wanneer ons inkopies doen, in ons bediening—kom ons voor toetse van ons geloof te staan. Hoe sal ons dit die hoof bied? Sal ons geredelik aan Bybelvoorskrifte en -beginsels dink? Die Bybel spoor ons nie aan om op onsself te vertrou nie, maar waarsku eerder: “Hy wat dink dat hy staan, [moet] oppas dat hy nie val nie” (1 Korintiërs 10:12). Daaglikse Bybellees sal ons help om te “wandel op ’n wyse wat Jehovah waardig is om hom ten volle te behaag” pleks van toe te laat dat die wêreld ons in sy vorm indruk.—Kolossense 1:9, 10; Romeine 12:2.
Ons moet die Bybel herhaaldelik lees
6. Waarom is dit nuttig om die Bybel herhaaldelik te lees?
6 Om die Bybel te lees, is baie anders as om fiksie te lees. Die meeste gewilde fiksie is bedoel om een keer gelees te word; as ’n mens eers die storie ken en weet hoe dit eindig, is dit sinloos om dit weer te lees. Daarenteen vind ons grootliks daarby baat as ons die Bybel weer lees, ongeag hoeveel keer ons dit al gelees het (Spreuke 9:9). Vir iemand met onderskeidingsvermoë neem die Skrif voortdurend nuwe betekenis aan. Profesieë oor die laaste dae word vir hom nog indrukwekkender in die lig van wat hy in onlangse maande gesien, gehoor en persoonlik ervaar het (Daniël 12:4). Namate die Bybelleser met onderskeidingsvermoë meer lewensondervinding opdoen en probleme die hoof bied, begin hy die raad wat hy voorheen moontlik net terloops gelees het meer waardeer (Spreuke 4:18). As hy ernstig siek word, neem die Bybel se beloftes omtrent die verwydering van pyn en die herstel van gesondheid vir hom groter betekenis aan as ooit tevore. Wanneer goeie vriende en familielede sterf, word die belofte van ’n opstanding selfs kosbaarder.
7. Wat sal ons help as ons ’n nuwe verantwoordelikheid in die lewe aanvaar, en waarom?
7 Jy het moontlik self al die Bybel gelees en die raad daarin oor ’n tydperk van jare toegepas. Maar miskien aanvaar jy nou nuwe verantwoordelikhede in die lewe. Is jy van plan om te trou? Gaan jy ’n ouer word? Het jy verantwoordelikheid in die gemeente as ’n ouer man of ’n bedieningskneg ontvang? Het jy ’n voltydse evangeliedienaar geword met bykomende geleenthede om te preek en te onderrig? Hoe nuttig sal dit tog wees om die hele Bybel weer deur te lees met daardie nuwe verantwoordelikhede in gedagte!—Efesiërs 5:24, 25; 6:4; 2 Timoteus 4:1, 2.
8. Hoe kan veranderde omstandighede ons laat besef dat ons meer moet leer omtrent dinge waarmee ons gedink het ons reeds bekend is?
8 In die verlede het jy die vrugte van die gees moontlik goed aan die dag gelê (Galasiërs 5:22, 23). Maar weens veranderde omstandighede moet jy dalk baie meer omtrent daardie godvrugtige eienskappe leer. (Vergelyk Hebreërs 5:8.) ’n Voormalige reisende opsiener wat sy spesiale diens moes opgee sodat hy na sy bejaarde ouers kon omsien, het gesê: “Ek het altyd gedink dat ek die vrugte van die gees redelik goed aan die dag lê. Nou voel dit of ek van voor af begin.” Mans en vrouens wie se huweliksmaat aan ’n ernstige fisiese of emosionele siekte ly, kan eweneens vind dat spanning terwyl hulle persoonlike sorg verleen soms reaksies uitlok wat hulle mismoedig laat voel. Gereelde Bybellees is ’n bron van groot vertroosting en hulp.
Wanneer ons die Bybel kan lees
9. (a) Wat kan ’n baie besige mens help om tyd vir daaglikse Bybellees in te ruim? (b) Waarom is dit veral vir ouer manne belangrik om God se Woord te lees?
9 Vir mense wat reeds baie besig is, is dit natuurlik ’n uitdaging om tyd in te ruim sodat hulle nóg iets op ’n gereelde grondslag kan doen. Ons kan egter by Jehovah se voorbeeld baat vind. Die Bybel toon dat hy dinge op ‘vasgestelde tye’ doen (Genesis 21:2; Exodus 9:5; Lukas 21:24; Galasiërs 4:4). As ons besef hoe belangrik dit is dat ons God se Woord gereeld lees, kan dit ons help om ’n tyd daarvoor in ons daaglikse program vas te stel (Efesiërs 5:15-17). Veral ouer manne moet tyd vir gereelde Bybellees opsysit sodat die raad wat hulle gee geheel en al op Bybelbeginsels gegrond sal wees en sodat die gees wat hulle openbaar “die wysheid van bo” sal weerspieël.—Jakobus 3:17; Titus 1:9.
10. Wanneer ruim diegene wat daaglikse Bybellesers is tyd in om te lees?
10 Baie wat ’n suksesvolle program van persoonlike Bybellees het, lees soggens vroeg voor hulle met die dag se bedrywighede begin. Ander vind dat hulle dit eerder op ’n ander tyd gereeld kan doen. Bandopnames van die Bybel (waar beskikbaar) help pendelaars om hulle reistyd goed te benut, en party Getuies luister daarna terwyl hulle daaglikse huishoudelike takies verrig. Programme wat met welslae deur ’n verskeidenheid Getuies in Europa, Afrika, Noord-Amerika, Suid-Amerika en die Ooste gevolg word, verskyn op bladsye 20 en 21 in die artikel “Wanneer hulle dit lees en hoe hulle daarby baat vind”.
11. Hoe kan ’n mens dit regkry om die Bybel daagliks te lees al is jou beskikbare tyd baie beperk?
11 Wat van die grootste belang is, is nie hoeveel tyd jy daaraan wy elke keer as jy die Bybel lees nie, maar hoe gereeld jy dit doen. Jy vind dit dalk lonend om ’n uur of langer op ’n keer te lees, terwyl jy bykomende navorsing doen en heeltemal verdiep raak in die materiaal. Maar laat jou rooster dit op ’n gereelde grondslag toe? Pleks van dae te laat verbygaan sonder dat jy die Bybel lees, moet jy liewer elke dag 15 of selfs 5 minute lees. Neem jou voor om die Bybel daagliks te lees. Vul dan daardie Bybellees aan met dieper navorsing wanneer dit moontlik is.
Verskillende maniere van Bybellees
12. Watter Bybelleesprogram het nuwe lede van die Bethelgesin en Gileadstudente?
12 Die Bybel kan op baie maniere gelees word. Dit is voordelig om dit van Genesis tot Openbaring deur te lees. Alle lede van die wêreldwye Bethelgesin wat by die wêreldhoofkwartier of by een van die Genootskap se takkantore dien, moet die Bybel gedurende hulle eerste jaar van Betheldiens deurlees. (Dit behels gewoonlik dat hulle drie tot vyf hoofstukke, na gelang van die lengte van die hoofstukke, of vier tot vyf bladsye per dag lees.) Studente by die Wagtoring-Bybelskool Gilead moet die Bybel ook voor hulle graduering deurlees. Daar word gehoop dat dit hulle sal help om daaglikse Bybellees ’n deel van hulle lewe te maak.
13. Watter doelwit word vir pas gedoopte Getuies aanbeveel?
13 Pas gedoopte Getuies vind daarby baat as hulle hulle dit ten doel stel om die Bybel deur te lees. In 1975, toe ’n jong man in Frankryk hom vir doop voorberei het, het ’n ouer man hom gevra of hy ’n spesifieke program vir Bybellees het. Sedertdien het hy nog elke jaar die Bybel deurgelees; hy lees dit gewoonlik soggens voor hy werk toe gaan. Oor die resultate sê hy: “Ek het Jehovah baie beter leer ken. Ek kan sien hoe alles wat hy doen met sy voorneme verband hou en hoe hy reageer wanneer hindernisse ontstaan. Ek sien dat Jehovah in al sy dade terselfdertyd regverdig en goed is.”
14. (a) Wat is nodig sodat ’n mens met ’n program vir persoonlike Bybellees kan begin waarmee jy sal aanhou? (b) Wat kan ons help om elke Bybelboek se hoofpunte by ons verstand ingang te laat vind terwyl ons dit lees?
14 Het jy al die Bybel deurgelees? Indien nie, is dit nou ’n goeie tyd om te begin. Stel ’n spesifieke program op en bly dan daarby. Besluit hoeveel bladsye of hoeveel hoofstukke jy elke dag gaan lees of net hoeveel tyd jy daaraan gaan bestee en wanneer. Nie almal sal die Bybel binne ’n jaar deurlees nie, maar wat belangrik is, is dat ons God se Woord gereeld lees, daagliks, indien enigsins moontlik. Terwyl jy deur die Bybel lees, vind jy moontlik dat die gebruik van sekere naslaanwerke help om die hoofpunte van die materiaal by jou verstand ingang te laat vind. As die Insight on the Scriptures in jou taal beskikbaar is, kan jy gerus, voordat jy ’n spesifieke Bybelboek begin lees, die kort beskrywing van die glanspunte daarin in die Insight-boeke hersien.a Let veral op die vetgedrukte opskrifte in die beskrywing. Of gebruik die breedvoeriger opsomming in die boek “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig” op ’n soortgelyke manier.b
15. (a) Watter wenke wat op bladsye 16 en 17 gegee word, kan help om jou Bybellees genotvoller te maak? (b) Aan watter belangrike saak moet ons meer aandag gee pleks van net uit gewoonte ’n sekere aantal bladsye te lees?
15 Deurlopende Bybellees is nuttig, maar jy moenie bloot ’n gewoonteleser word nie. Moenie elke dag ’n sekere aantal bladsye lees net sodat jy kan sê dat jy die Bybel elke jaar deurlees nie. Soos die venster “Wenke vir genotvoller Bybellees” (bladsye 16 en 17) toon, is daar baie maniere waarop jy die Bybel kan lees en geniet. Watter metode jy ook al gebruik, jy kan daarvan seker wees dat jy jou verstand sowel as jou hart voed.
Begryp die sin van wat jy lees
16. Waarom is dit belangrik dat ons tyd inruim om te peins oor wat ons lees?
16 Wanneer Jesus sy dissipels onderrig het, het hy beklemtoon hoe belangrik dit is dat hulle verstaan wat hy sê. Wat noodsaaklik was, was nie bloot ’n verstandelike begrip nie, maar dat hulle “met hulle hart die sin daarvan” sou begryp sodat hulle dit in hulle lewe sou toepas (Matteus 13:14, 15, 19, 23). Wat by God tel, is wat iemand werklik in sy binneste is, en dít is wat deur die hart verteenwoordig word (1 Samuel 16:7; Spreuke 4:23). Ons moet dus nie net seker maak dat ons verstaan wat Bybelgedeeltes sê nie, maar ons moet ook daaroor peins en dink hoe dit ons eie lewe raak.—Psalm 48:10; 1 Timoteus 4:15.
17. Uit watter oogpunte kan ons peins oor wat ons in die Skrif lees?
17 Streef daarna om grondbeginsels in Bybelverslae te identifiseer sodat jy dit kan toepas op situasies waarvoor jy te staan kom. (Vergelyk Matteus 9:13; 19:3-6.) Terwyl jy oor Jehovah se wonderlike eienskappe lees en peins, moet jy die geleentheid gebruik om jou persoonlike verhouding met hom te versterk, om in jou binneste ’n sterk gevoel van godvrugtige toegewydheid te kweek. Wanneer jy verklarings van Jehovah se voorneme lees, moet jy dink wat jy kan doen om in ooreenstemming daarmee op te tree. Wanneer jy regstreekse raad lees, moet jy nie net vir jouself sê: ‘Ek weet dit’ nie, maar jy moet liewer vra: ‘Doen ek wat dit sê?’ Indien wel, moet jy jou afvra: ‘Hoe kan ek dit “in voller mate” doen?’ (1 Tessalonisense 4:1). Terwyl jy God se vereistes leer ken, moet jy ook let op die Bybel se werklike voorbeelde van diegene wat in ooreenstemming met hierdie vereistes geleef het en diegene wat dit nie gedoen het nie. Dink na oor waarom hulle daardie weg gevolg het en waartoe dit gelei het (Romeine 15:4; 1 Korintiërs 10:11). Wanneer jy oor die lewe van Jesus Christus lees, moet jy onthou dat Jesus die een is aan wie Jehovah koningskap oor die hele aarde toevertrou het; gebruik die geleentheid om ’n sterker verlange na God se nuwe wêreld in jou binneste te ontwikkel. Ontleed ook maniere waarop jy God se Seun noukeuriger kan navolg.—1 Petrus 2:21.
18. Hoe kan ons ’n balans handhaaf tussen ons Bybellees en ons gebruik van studiemateriaal wat deur “die getroue en verstandige slaaf” voorsien word?
18 Bybellees moet natuurlik nie jou gebruik van die uitstekende studiemateriaal vervang wat deur “die getroue en verstandige slaaf” beskikbaar gestel word nie. Dít is ook ’n deel van Jehovah se voorsiening—’n baie kosbare deel (Matteus 24:45-47). Maak seker dat die gereelde lees van God se Woord self ’n vername rol in jou lewe speel. “LEES GOD SE WOORD DIE HEILIGE BYBEL DAAGLIKS”, indien dit enigsins moontlik is.
[Voetnoot]
a Uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc.
b Uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc.
Hoe sal jy antwoord?
◻ Waarom is dit nuttig om elke dag die Bybel te lees?
◻ Waarom moet ons die Bybel herhaaldelik lees?
◻ Wat is op jou eie rooster ’n goeie tyd vir daaglikse Bybellees?
◻ Wat kan ’n bietjie afwisseling aan jou program gee terwyl jy die Bybel herhaaldelik deurlees?
◻ Waarom is dit baie belangrik om te peins oor wat ons lees?
[Venster/Prent op bladsy 16, 17]
Wenke vir genotvoller Bybellees
(1) Baie mense lees die Bybelboeke in die volgorde waarin dit gewoonlik gedruk word, van Genesis tot Openbaring. Jy kan dit ook in die volgorde lees waarin dit oorspronklik geskryf is. Hou in gedagte dat die Bybel ’n versameling van 66 geïnspireerde boeke, ’n Goddelike biblioteek, is. Vir afwisseling wil jy dalk party van die boeke lees wat geskiedenis bevat, daarna party wat grotendeels profeties is en dan party wat raadgewingsbriewe is, pleks van bloot in bladsyvolgorde te lees. Maak ’n aantekening van die dele waarmee jy klaar is en maak seker dat jy die hele Bybel lees.
(2) Nadat jy ’n deel van die Skrif gelees het, moet jy jou afvra wat dit openbaar omtrent Jehovah, sy voorneme en die manier waarop hy dinge doen; watter uitwerking dit op jou eie lewe moet hê; hoe jy dit kan gebruik om iemand anders te help.
(3) Gebruik die tabel “Vernaamste gebeurtenisse van Jesus se aardse lewe”, wat in “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig” (ook in die Insight on the Scriptures onder die opskrif “Jesus Christ”) verskyn, as ’n gids en lees die parallelle verslae van elke deel van die Evangelies een na die ander. Vul dit aan deur die ooreenstemmende gedeeltes in die boek Die grootste mens wat nog geleef het te raadpleeg.
(4) Wanneer jy in Handelinge van die Apostels die verslag oor die lewe en bediening van Paulus lees, kan jy gerus die verwante geïnspireerde briewe ook lees. Jy kan dus jou lees onderbreek wanneer daar melding gemaak word van verskillende stede of gebiede waar Paulus gepreek het en die briewe lees wat hy later aan mede-Christene in daardie plekke geskryf het. Dit is ook nuttig om sy reise op ’n kaart te volg, soos die een op die agterste skutblad van die Nuwe Wêreld-vertaling.
(5) Saam met jou Bybellees van Exodus tot en met Deuteronomium kan jy die brief aan die Hebreërs ter verduideliking van baie van die profetiese beelde lees. Raadpleeg die tabel “Some Features of the Law Covenant” onder “Law” in die Insight on the Scriptures.
(6) Wanneer jy profetiese boeke lees, kan jy gerus tyd inruim om verwante geskiedkundige agtergrond in die Bybel te hersien. Wanneer jy byvoorbeeld die boek Jesaja lees, kan jy hersien wat elders gesê word oor konings Ussia, Jotam, Agas en Hiskia, wat in Jesaja 1:1 genoem word (2 Konings, hoofstukke 15-20; 2 Kronieke, hoofstukke 26-32). Of wanneer jy Haggai en Sagaria lees, kan jy tyd inruim om te hersien wat in die boek Esra staan.
(7) Kies ’n Bybelboek, lees ’n deel daarvan (miskien ’n hoofstuk) en doen dan navorsing met behulp van die Watch Tower Publications Index of die gerekenariseerde Watchtower Library, as dit in jou taal beskikbaar is. Pas die inligting in jou eie lewe toe. Gebruik dit in toesprake en in die veldbediening. Lees dan nog ’n deel.
(8) As daar ’n Wagtoringpublikasie is wat oor ’n Bybelboek of ’n deel daarvan kommentaar lewer, moet jy dit gedurig raadpleeg terwyl jy daardie deel van die Bybel lees (Byvoorbeeld: oor die Hooglied van Salomo, Die Wagtoring, 15 Maart 1958, bladsye 85-95; oor Esegiël, “Die nasies sal weet dat ek Jehovah is”—Hoe?; oor Daniël, “Laat u wil geskied op aarde” of Ons inkomende wêreldregering—God se koninkryk; oor Haggai en Sagaria, Paradise Restored to Mankind—By Theocracy!; oor Openbaring, Openbaring—Sy groot klimaks is ophande!).
(9) Slaan party van die kruisverwysings na terwyl jy lees. Let op die 320 gedeeltes uit die Hebreeuse Geskrifte wat regstreeks in die Christelike Griekse Geskrifte aangehaal word en die honderde ander gedeeltes waarna daar verwys word, sowel as die toepassing wat gegee word. Kruisverwysings vestig die aandag op die vervulling van profesieë wat in die Bybel opgeteken is, op biografiese en geografiese besonderhede en op parallelle gedagtes wat moontlik uitdrukkings verduidelik wat miskien vir jou moeilik is om te verstaan.
(10) Gebruik die Naslaanuitgawe van die New World Translation, as dit in jou taal beskikbaar is, en gaan voetnote en artikels in die aanhangsel na wat verband hou met dit wat jy lees. Dit toon op watter grondslag weergawes gebruik is en op watter ander maniere belangrike uitdrukkings vertaal kan word. Jy wil dalk ook die weergawe van sekere verse in ander Bybelvertalings daarmee vergelyk.
(11) Nadat jy elke hoofstuk gelees het, kan jy ’n baie kort opsomming van die hoofgedagte in daardie hoofstuk maak. Gebruik dit as ’n grondslag vir latere hersiening en bepeinsing.
(12) Terwyl jy die Bybel lees, moet jy gekose tekste wat jy veral wil onthou, merk of hulle op kaarte skryf en dit sit waar jy dit elke dag sal sien. Memoriseer hulle; peins oor hulle; gebruik hulle. Moenie te veel op ’n slag probeer memoriseer nie, miskien net een of twee per week; kies dan ander wanneer jy die Bybel weer deurlees.
[Prente op bladsy 15]
Lees jy of luister jy elke dag na bandopnames van die Bybel?