Deur geloof het Barak ’n magtige leër op die vlug gejaag
STEL jou voor dat jy ’n leër vyandige soldate van aangesig tot aangesig ontmoet. Hulle is gewapen met die nuutste militêre toerusting en is gereed om dit te gebruik. Voor hulle lyk jy en jou makkers byna weerloos.
Gedurende die tydperk van Israel se rigters het Barak, Debora en 10 000 mede-Israeliete so ’n ondervinding deurgemaak. Die vyandelike magte was Kanaäniete onder leiding van die militêre bevelvoerder Sisera. Hulle arsenaal het strydwaens ingesluit, waarvan die wiele met dodelike ystersense toegerus was. Die gebeurtenis het by die berg Tabor en die Kisonstroomvallei afgespeel. Wat daar plaasgevind het, toon dat Barak ’n man met uitsonderlike geloof was. Kyk gerus na die gebeure wat hierdie konfrontasie voorafgegaan het.
Israel roep tot Jehovah om hulp
Die boek Rigters vertel hoe Israel ware aanbidding telkemale die rug toegekeer het en van die rampspoedige gevolge wat dit gehad het. Hulle het God elke keer opreg gesmeek om hulle barmhartig te wees; dan het hy ’n redder aangestel en hulle verlos, waarna hulle maar net weer in opstand gekom het. In ooreenstemming met hierdie patroon het die kinders van Israel ná die dood van Ehud, ’n rigter wat hulle van Moabitiese oorheersing verlos het, “weer begin doen wat sleg was in Jehovah se oë”. Trouens, “hulle het nuwe gode gekies”. Die gevolg? “Jehovah [het] hulle verkoop in die hand van Jabin, die koning van Kanaän, wat in Hasor regeer het; en sy leërhoof was Sisera . . . En die kinders van Israel het tot Jehovah begin roep, want [Sisera] het negehonderd strydwaens met ystersense gehad, en hy het die kinders van Israel twintig jaar lank swaar onderdruk.”—Rigters 4:1-3; 5:8.
Aangaande die lewe in Israel sê die Skrif: “[In daardie dae] was daar geen verkeer op die paaie nie, en dié wat langs weë gereis het, het langs ompaaie gereis. Die bewoners van die oop land het ophou bestaan” (Rigters 5:6, 7). Mense was doodbang vir plunderaars op strydwaens. “Die openbare lewe in Israel is deur vrees oorheers”, sê ’n geleerde, “en dit het gelyk of die hele gemeenskap ontwrig en hulpeloos was.” Soos hulle dus dikwels vantevore gedoen het, het die moedelose Israeliete tot Jehovah om hulp geroep.
Jehovah stel ’n leier aan
Die Kanaänitiese onderdrukking het vir Israel ’n nasionale krisis geword. God het die profetes Debora gebruik om sy oordele en sy instruksies oor te dra. Jehovah het haar sodoende die voorreg gegee om as ’n figuurlike moeder in Israel op te tree.—Rigters 4:4; 5:7.
Debora het Barak laat roep en vir hom gesê: “Het Jehovah, die God van Israel, nie die bevel gegee nie? ‘Gaan, en jy moet jou oor die berg Tabor versprei, en jy moet tienduisend man uit die kinders van Naftali en uit die kinders van Sebulon saam met jou neem. En by die Kisonstroomvallei sal ek Sisera, Jabin se leërhoof, en sy strydwaens en sy menigte beslis na jou toe trek, en ek sal hom inderdaad in jou hand gee’” (Rigters 4:6, 7). Deur te sê: ‘Het Jehovah nie die bevel gegee nie?’ het Debora duidelik getoon dat sy self geen gesag oor Barak gehad het nie. Sy het bloot opgetree as die kanaal waardeur ’n goddelike bevel oorgedra is. Hoe het Barak gereageer?
“As jy saam met my gaan”, het Barak gesê, “sal ek ook sekerlik gaan; maar as jy nie saam met my gaan nie, sal ek nie gaan nie” (Rigters 4:8). Waarom het Barak gehuiwer om ’n godgegewe verantwoordelikheid te aanvaar? Was hy lafhartig? Het hy ’n gebrek aan vertroue in God se beloftes gehad? Nee. Barak het nie geweier om die toewysing uit te voer nie, en hy was ook nie ongehoorsaam aan Jehovah nie. Sy reaksie het eerder getoon dat hy onbevoeg gevoel het om God se bevel alleen uit te voer. As God se verteenwoordiger daar kon wees, sou dit hulle van goddelike leiding verseker en vertroue by hom en sy manne inboesem. Die voorwaarde wat Barak gestel het, was dus nie ’n teken van swakheid nie, maar eerder ’n aanduiding van sterk geloof.
Barak se reaksie kan vergelyk word met dié van Moses, Gideon en Jeremia. Hierdie manne het ook getwyfel aan hulle vermoë om godgegewe opdragte uit te voer. Maar hulle is nie as gevolg daarvan as minder getrou gereken nie (Eksodus 3:11–4:17; 33:12-17; Rigters 6:11-22, 36-40; Jeremia 1:4-10). En wat kan van Debora se gesindheid gesê word? Sy het nie probeer oorneem nie. Sy het eerder ’n beskeie kneg van Jehovah gebly. “Ek sal vir seker saam met jou gaan”, het sy vir Barak gesê (Rigters 4:9). Sy was gewillig om haar huis—’n plek waar sy veiliger sou wees—te verlaat om saam met Barak na die geveg op te trek. Debora is ook ’n voorbeeld van geloof en moed.
In geloof het hulle Barak gevolg
Israel se magte sou by ’n opsigtelike berg met die naam Tabor ontmoet. Hierdie ligging was ’n goeie keuse. Dit was ’n natuurlike saamtrekpunt vir die stamme van Naftali en Sebulon, wat daar naby gewoon het. Soos God beveel het, het tienduisend vrywilligers—en Debora—dus agter Barak aan teen hierdie berg opgetrek.
Dit het geloof geverg van almal wat by Barak aangesluit het. Jehovah het beloof om Barak die oorwinning oor die Kanaäniete te gee, maar watter wapens het die Israeliete gehad? Rigters 5:8 sê: “’n Skild was daar nie te sien nie, ook nie ’n lans nie, onder veertigduisend in Israel.” Die Israeliete het dus maar min wapens gehad. En selfs met lanse en skilde sou hulle hoegenaamd nie opgewasse gewees het teen strydwaens met ystersense nie. Toe Sisera hoor dat Barak teen die berg Tabor opgetrek het, het hy dadelik al sy strydwaens en manskappe na die Kisonstroomvallei ontbied (Rigters 4:12, 13). Sisera het egter nie besef dat hy teen die Almagtige God sou veg nie.
Barak jaag Sisera se leër op die vlug
Toe die tyd vir die geveg aanbreek, het Debora vir Barak gesê: “Staan op, want vandag sal Jehovah Sisera beslis in jou hand gee. Is dit nie Jehovah wat voor jou uitgetrek het nie?” Barak en sy manskappe moes teen die berg Tabor afgaan na die valleivlakte, maar Sisera se strydwaens sou daar ’n strategiese voordeel hê. Hoe sou jy gevoel het as jy deel van Barak se leër was? Sou jy geredelik gehoorsaam het en in gedagte gehou het dat die opdrag van Jehovah kom? Barak en sy tienduisend manskappe het gehoorsaam. “En Jehovah het Sisera en al sy strydwaens en die hele kamp deur die skerpte van die swaard voor Barak in verwarring begin bring.”—Rigters 4:14, 15.
Met Jehovah se steun het Barak Sisera se leër op die vlug gejaag. Die verslag van die geveg verduidelik nie wat alles gebeur het nie. Maar die oorwinningslied van Barak en Debora sê dat ‘die hemel en die wolke water gedrup het’. Heel waarskynlik het ’n reënstorm Sisera se strydwaens in die modder laat vassit, wat Barak die oorhand gegee het. Die Kanaäniete se vernaamste aanvalswapen het dus ’n las geword. Wat die lyke van Sisera se manskappe betref, sê die lied: “Die Kisonstroom het hulle weggespoel.”—Rigters 5:4, 21.
Is hierdie verduideliking geloofwaardig? Die Kisonstroomvallei is ’n droë rivierloop, ’n stroombedding waarin daar gewoonlik min water vloei. Ná storms of lang reëns verander sulke strome blykbaar skielik in snelvloeiende en gevaarlike riviere. Gedurende die Eerste Wêreldoorlog het ’n 15 minuut lange reënbui op die digte kleigrond van dieselfde gebied glo die sukses van alle kavalleriebewegings bedreig. Verslae oor die veldslag by die berg Tabor op 16 April 1799 tussen Napoleon en die Turke toon dat “baie van laasgenoemdes verdrink het toe hulle probeer ontsnap het oor ’n deel van die vlakte wat deur die Kison oorstroom is”.
Die Joodse geskiedskrywer Flavius Josefus beweer dat daar, net voor die ontmoeting tussen die leërs van Sisera en Barak, “’n groot storm uit die hemel neergesak het, met baie reën en hael, en die wind het die reën in die Kanaäniete se gesigte gewaai, sodat hulle oë verblind is en hulle pyle en slingers vir hulle niks beteken het nie”.
“Uit die hemel het die sterre geveg”, sê Rigters 5:20, “uit hulle bane het hulle teen Sisera geveg.” Hoe het die sterre teen Sisera geveg? Party meen dat hierdie stelling na goddelike hulp verwys. Ander beweer dat dit verwys na die hulp van engele, na meteoorreën of na Sisera se vertroue op astrologiese voorspellings wat op die ou end vals was. Aangesien die Bybel geen verduideliking gee oor presies hoe die sterre tydens die stryd geveg het nie, lyk dit voldoende om te aanvaar dat die stelling dui op ’n vorm van goddelike ingryping ten behoewe van Israel se leër. Hoe dit ook al sy, die Israeliete het die situasie ten volle benut. “Barak het die strydwaens . . . agternagesit, sodat die hele kamp van Sisera deur die skerpte van die swaard geval het. Daar het nie eers een oorgebly nie” (Rigters 4:16). Wat het met die leërhoof Sisera gebeur?
Die onderdrukker sterf aan “die hand van ’n vrou”
“Wat Sisera betref”, sê die Bybel, “hy het [die slagveld verlaat en] te voet gevlug na die tent van Jael, die vrou van Heber, die Keniet, want daar was vrede tussen Jabin, die koning van Hasor, en die huisgesin van Heber, die Keniet.” Jael het die uitgeputte Sisera by haar tent ingenooi, hom melk gegee om te drink en hom toegemaak, sodat hy aan die slaap geraak het. Jael het toe “’n tentpen geneem en die hamer in haar hand gevat”, dinge wat ’n tentbewoner gereeld gebruik het. “Toe het sy stilletjies na hom toe gegaan en die pen deur sy slape gedryf en dit in die grond ingeslaan, terwyl hy vas aan die slaap en afgemat was. So het hy gesterf.”—Rigters 4:17-21.
Jael het daarna uitgekom om Barak te ontmoet en vir hom gesê: “Kom, en ek sal u die man wys wat u soek.” Die verslag voeg by: “Daarop het hy na haar toe ingegaan, en kyk! daar het Sisera dood gelê, met die pen deur sy slape.” Wat ’n geloofversterkende ondervinding moes dit tog vir Barak gewees het! Vroeër het die profetes Debora vir hom gesê: “Die luisterryke eer sal . . . nie joune word op die weg wat jy gaan nie, want Jehovah sal Sisera in die hand van ’n vrou verkoop.”—Rigters 4:9, 22.
Kan Jael se optrede as verraderlik beskryf word? Jehovah het dit nie so beskou nie. “Onder die vroue in die tent sal sy hoogs geseënd wees”, het die oorwinningslied van Barak en Debora gesê. Daardie lied plaas Sisera se dood in die regte perspektief. Sy moeder word uitgebeeld asof sy angstig wag op sy terugkeer van die geveg af. “Waarom het sy strydwa getalm om te kom?” vra sy. “Die wyses van haar edelvroue” probeer haar vrese stil deur te sê dat hy ná die geveg sekerlik besig is om die buit te verdeel—pragtig geborduurde kledingstukke en meisies vir die manne. Die vroue vra: “Behoort hulle nie buit . . . te verdeel nie, ’n moederskoot—twee moederskote [soldate se uitdrukking vir byvrouens wat gevange geneem is, voetnoot] vir elke man, buit van gekleurde stowwe vir Sisera . . . ’n Geborduurde kleed, gekleurde stof, twee geborduurde kledingstukke vir die nekke van die manne van die buit?”—Rigters 5:24, 28-30.
Lesse vir ons
Ons leer belangrike lesse uit die verslag van Barak. Enigeen wat Jehovah uit sy lewe uitsluit, sal beslis probleme en frustrasies ondervind. Dié wat hulle berouvol tot God wend en geloof in hom beoefen, kan van verskillende vorme van onderdrukking bevry word. En moet ons nie ook ’n gehoorsame gees aankweek nie? Selfs wanneer dit lyk of God se vereistes nie met menslike denke ooreenstem nie, kan ons vol vertroue wees dat sy instruksies altyd blywende voordele vir ons inhou (Jesaja 48:17, 18). Alleenlik deur geloof in Jehovah te beoefen en goddelike instruksies te gehoorsaam, het Barak “die leërs van vreemdelinge op die vlug gejaag”.—Hebreërs 11:32-34.
Die aangrypende slot van Debora en Barak se lied is: “Laat al u vyande so vergaan, o Jehovah, en laat dié wat u liefhet, wees soos wanneer die son in sy mag opgaan” (Rigters 5:31). Hoe waar sal dit tog wees wanneer Jehovah ’n einde bring aan Satan se goddelose wêreld!
[Prent op bladsy 29]
Jehovah het Debora gebruik om Barak sy opdrag te gee
[Prent op bladsy 31]
Die Kisonrivier oorstroom sy oewers
[Erkenning]
Pictorial Archive (Near Eastern History) Est.
[Prent op bladsy 31]
Die berg Tabor