Ehud verbreek die onderdrukker se juk
DIT is ’n ware verhaal van moed en intrige. Dit het sowat 3 000 jaar gelede plaasgevind. Die skriftuurlike verslag begin met die woorde: “Die kinders van Israel het weer eens begin doen wat sleg was in Jehovah se oë. Daarop het Jehovah Eglon, die koning van Moab, sterk laat word teen Israel, omdat hulle gedoen het wat sleg was in Jehovah se oë. Daarbenewens het hy die kinders van Ammon en Amalek teen hulle versamel. Toe het hulle gegaan en Israel verslaan en die palmstad in besit geneem. En die kinders van Israel het Eglon, die koning van Moab, agtien jaar lank gedien.”—Rigters 3:12-14.
Die grondgebied van die Moabiete was oos van die Jordaanrivier en die Dooie See. Maar hulle het oor die rivier getrek en die gebied om Jerigo, “die palmstad”, beset en die Israeliete onderdruk (Deuteronomium 34:3). Die Moabitiese koning, Eglon, “’n baie vet man”, het bykans twee dekades lank ’n swaar en vernederende skatting van Israel afgedwing (Rigters 3:17). Sy eise dat skatting betaal word, het egter ’n geleentheid geskep om van die tiran ontslae te raak.
Die verslag sê: “Die kinders van Israel het tot Jehovah om hulp begin roep. Toe het Jehovah vir hulle ’n redder verwek, Ehud, die seun van Gera, ’n Benjaminiet, ’n man wat links was. Na verloop van tyd het die kinders van Israel deur sy hand skatting aan Eglon, die koning van Moab, gestuur” (Rigters 3:15). Jehovah het ongetwyfeld toegesien dat Ehud gekies is om die skatting te neem. Of hy hierdie taak al ooit vantevore moes uitvoer, word nie gesê nie. Maar die manier waarop Ehud die ontmoeting noukeurig beplan het en die taktiek wat hy gebruik het, gee te kenne dat hy dalk tot ’n mate vertroud was met Eglon se paleis en wat hy daar kon verwag. Boonop is dit betekenisvol dat hy links was.
Gestremde of krygsman?
In Hebreeus beteken die term “linkshandig” letterlik dat ‘die regterhand toe, gebreklik of vasgebind is’. Beteken dit dat Ehud gestremd was, dat sy regterhand dalk misvorm was? Kyk wat die Bybel sê oor die “sewehonderd uitgesoekte manne” uit die stam Benjamin wat links was. “Elkeen van hulle kon ’n klip op ’n haar slinger en het nie gemis nie”, volgens Rigters 20:16. Hulle is heel waarskynlik uitgekies vir hulle vaardigheid in ’n geveg. Volgens party Bybelgeleerdes dui “linkshandig” op iemand “wat die linker- sowel as die regterhand kon gebruik”, dit wil sê iemand wat dubbelhandig is.—Rigters 3:15, The Douay Version.
Die stam Benjamin was in werklikheid bekend vir sy manne wat links was. Eerste Kronieke 12:1, 2 praat van Benjaminiete wat “sterk manne [was], die helpers in die oorlogvoering, gewapen met die boog, wat die regterhand en die linkerhand gebruik het met klippe of met pyle in die boog”. ’n Naslaanwerk sê dat hierdie vermoë verkry kon word “deur die regterarm van jong kinders vas te bind—vandaar die ‘regterhand wat vasgebind is’—en hulle te leer om vaardig met die linkerarm te word”. Israel se vyande sou normaalweg opleiding ontvang het om teen krygsmanne te veg wat regs was. Gevolglik sou ’n groot deel van ’n vyand se opleiding van nul en gener waarde wees as hy onverwags ’n soldaat teëgekom het wat links was.
“’n Geheime woord” vir die koning
Die eerste stap wat Ehud geneem het, was om “vir hom ’n swaard” te maak—’n swaard met twee snykante en wat kort genoeg was om onder sy klere te versteek. Hy het miskien verwag dat hy deursoek sou word. Swaarde is gewoonlik aan die linkerkant van die liggaam gedra, sodat iemand wat regs was, dit maklik kon uittrek. Aangesien Ehud links was, het hy sy wapen “onder sy kleed aan sy regterheup gegord”, waar die koning se wagte waarskynlik nie sou soek nie. Hy het dus sonder enige probleme “die skatting vir Eglon, die koning van Moab, gegee”.—Rigters 3:16, 17.
Die besonderhede van die aanvanklike gebeure in Eglon se paleis word nie verskaf nie. Die Bybel sê bloot: “Toe [Ehud] die skatting klaar gegee het, het hy die mense, die draers van die skatting, dadelik weggestuur” (Rigters 3:18). Ehud het die skatting gegee, die draers van die skatting tot op ’n veilige afstand van Eglon se woning af vergesel en teruggekeer nadat hy hulle weggestuur het. Waarom? Het hy daardie manne saam met hom gehad vir beskerming, net weens protokol of dalk bloot as draers van die skatting? En wou hy hulle om veiligheidsredes weg hê voordat hy sy plan uitvoer? Wat sy rede ook al was, Ehud het moedig alleen teruggegaan.
“[Ehud] het teruggedraai by die klipgroewe wat in Gilgal was, en hy het gesê: ‘Ek het ’n geheime woord vir u, o koning.’” Hoe hy daarin geslaag het om weer voor Eglon te verskyn, word nie in die Skrif verduidelik nie. Was die wagte dan nie agterdogtig nie? Het hulle dalk gedink dat een Israeliet geen bedreiging vir hulle heer sou inhou nie? Het die feit dat Ehud alleen gekom het, moontlik die indruk geskep dat hy sy landgenote wou verraai? Hoe dit ook al sy, Ehud wou die koning graag alleen spreek en hy het daarin geslaag.—Rigters 3:19.
Die geïnspireerde verslag sê verder: “Ehud het na [Eglon] toe gekom terwyl hy in sy koel dakvertrek sit wat hy vir hom alleen gehad het. En Ehud het gesê: ‘Ek het ’n woord van God vir u.’” Ehud het nie verwys na ’n mondelinge boodskap van God af nie. Wat Ehud in gedagte gehad het, was om sy swaard te gebruik. Dalk omdat die koning gedink het dat hy ’n boodskap van sy god Kemos af sou hoor, het hy “van sy troon af opgestaan”. In ’n oogwink het Ehud sy wapen uitgetrek en dit in Eglon se maag gesteek. Die swaard het klaarblyklik nie ’n dwarsstaaf gehad nie. Gevolglik het “die hef . . . agter die lem bly ingaan sodat die vet die lem omsluit het, . . . en die drek het begin uitkom”, óf by die wond óf weens onwillekeurige ontlasting.—Rigters 3:20-22.
’n Ongehinderde ontsnapping
Sonder om tyd te vermors om sy swaard te probeer terugkry, het Ehud “deur die luggat uitgegaan, maar hy het die deure van die dakvertrek agter hom toegemaak en dit gesluit. En hy het uitgegaan. En [Eglon se] knegte het gekom en begin kyk, en die deure van die dakvertrek was gesluit. Toe het hulle gesê: ‘Hy doen maar net sy behoefte in die koel binnekamer.’”—Rigters 3:23, 24.
Wat was “die luggat” waardeur Ehud uitgegaan het? “Die presiese betekenis [van die Hebreeuse woord] is onbekend”, sê ’n naslaanwerk, maar “daar is al voorgestel dat dit ‘kolonnade’ of ‘voorportaal’ kan wees”. Het Ehud die deure aan die binnekant gesluit en toe met ’n ander roete langs vertrek? Of het hy die deure aan die buitekant gesluit met ’n sleutel wat hy by die dooie koning afgeneem het? Het hy toe doodluiters by die wagte verbygeloop asof niks gebeur het nie? Die Skrif sê nie. Maar watter metode Ehud ook al gebruik het, Eglon se knegte het nie onmiddellik onraad gemerk toe hulle die deure gesluit gevind het nie. Hulle het bloot gedink dat die koning ‘maar net sy behoefte doen’.
Terwyl die koning se knegte getalm het, het Ehud ontsnap. Toe het hy sy landgenote byeengeroep en gesê: “Volg my, want Jehovah het julle vyande, die Moabiete, in julle hand gegee.” Deur die strategiese driwwe van die Jordaan te beset, het Ehud se manne die leierlose Moabiete afgesny toe hulle na hulle tuisland wou vlug. Gevolglik het die Israeliete “in dié tyd . . . Moab verslaan, sowat tienduisend man, almal fris gebou en almal dapper manne; en nie één het ontkom nie. En Moab is dié dag onder Israel se hand onderwerp; en die land het hierna tagtig jaar lank rus gehad.”—Rigters 3:25-30.
Lesse wat ons kan leer
Wat in die dae van Ehud gebeur het, leer ons dat dit ernstige gevolge het as ons doen wat sleg is in Jehovah se oë. Aan die ander kant help Jehovah diegene wat hulle berouvol tot hom wend.
Ehud se planne het geslaag, nie omdat hy so slim was of omdat die vyand so onbevoeg was nie. Die uitvoering van God se voornemens is nie afhanklik van menslike faktore nie. Die hoofrede vir Ehud se sukses was die feit dat hy God se ondersteuning gehad het toe hy opgetree het in ooreenstemming met Sy onafwendbare wil om Sy volk te verlos. God het Ehud verwek, “en wanneer Jehovah vir [sy volk] rigters verwek het, was Jehovah met die rigter”.—Rigters 2:18; 3:15.