“Moenie goedhartigheid teenoor vreemdelinge vergeet nie”
“Moenie goedhartigheid teenoor vreemdelinge vergeet nie.”—HEB. 13:2, vtn. in NW.
1, 2. (a) Voor watter uitdagings kom baie vreemdelinge vandag te staan? (Sien prent aan begin van artikel.) (b) Watter herinnering het die apostel Paulus gegee, en watter vrae laat dit ontstaan?
MEER as 30 jaar gelede het Osei,[1] wat op daardie stadium nie ’n Getuie was nie, uit Ghana in Europa aangekom. Hy vertel: “Ek het gou besef dat die meeste mense niks vir my omgee nie. Die klimaat was ook ’n groot skok. Toe ek by die lughawe uitstap en vir die eerste keer in my lewe die koue voel, het ek begin huil.” Omdat Osei gesukkel het om die taal te praat, kon hy meer as ’n jaar lank nie ordentlike werk kry nie. Hy was ver van sy familie af, het alleen gevoel en huis toe verlang.
2 Hoe sou jy wou hê dat ander jou moet behandel as jy in ’n soortgelyke situasie was? Sou jy dit nie waardeer as jy hartlik verwelkom word by die Koninkryksaal, ongeag jou nasionaliteit of velkleur nie? Die Bybel spoor ware Christene aan: “Moenie goedhartigheid teenoor vreemdelinge vergeet nie” (Heb. 13:2, vtn. in NW). Kom ons bespreek dus die volgende vrae: Hoe beskou Jehovah vreemdelinge? Waarom moet ons dalk ons beskouing van vreemdelinge verander? En hoe kan ons mense van ’n ander land help om tuis te voel in ons gemeente?
HOE JEHOVAH VREEMDELINGE BESKOU
3, 4. Hoe moes die Israeliete vreemdelinge volgens Eksodus 23:9 behandel, en waarom?
3 Nadat Jehovah sy volk uit Egipte verlos het, het hy hulle wette gegee wat hulle geleer het om goedhartig te wees teenoor die baie nie-Israeliete wat by hulle aangesluit het (Eks. 12:38, 49; 22:21). Aangesien die lewe dikwels moeilik was vir uitlanders, het Jehovah liefdevol vir hulle voorsiening gemaak. Een van hierdie voorsienings was die reg om oesoorblyfsels in te samel.—Lev. 19:9, 10.
4 Jehovah het die Israeliete nie beveel om vreemdelinge met respek te behandel nie; hy wou eerder hê dat meegevoel hulle moes beweeg om so op te tree. (Lees Eksodus 23:9.) Hulle het geweet hoe dit voel om vreemdelinge te wees. Selfs voordat die Hebreërs slawe geword het, het die Egiptenaars waarskynlik al op hulle neergesien weens rassetrots of godsdiensvooroordeel (Gen. 43:32; 46:34; Eks. 1:11-14). Die Israeliete het ’n moeilike lewe as inwonende vreemdelinge gehad, maar Jehovah het van hulle verwag om vreemdelinge soos mede-Israeliete te behandel.—Lev. 19:33, 34.
5. Wat sal ons help om net soos Jehovah besorg te wees oor mense van ander lande?
5 Ons kan seker wees dat Jehovah vandag net so besorg is oor mense van ander lande wat ons vergaderinge bywoon (Deut. 10:17-19; Mal. 3:5, 6). As ons nadink oor die uitdagings waarvoor hulle te staan kom, soos diskriminasie of ’n vreemde taal, sal ons altyd soek na maniere om goedhartig teenoor hulle te wees en meegevoel te hê.—1 Pet. 3:8.
MOET ONS ONS BESKOUING VAN VREEMDELINGE VERANDER?
6, 7. Wat toon dat eerste-eeuse Christene geleer het om vooroordeel te oorkom?
6 Eerste-eeuse Christene het geleer om die diepgewortelde vooroordeel te oorkom wat algemeen onder die Jode was. Tydens Pinkster 33 HJ het Joodse Christene wat in Jerusalem gewoon het, gasvryheid betoon aan pas bekeerde Christene uit verskeie lande (Hand. 2:5, 44-47). Die liefdevolle besorgdheid van Joodse Christene teenoor medegelowiges uit ander lande het getoon dat hulle verstaan wat “gasvryheid” beteken, naamlik “goedhartigheid teenoor vreemdelinge”.
7 Maar toe die vroeë Christengemeente gegroei het, het ’n situasie ontstaan wat moontlik met diskriminasie verband gehou het. Griekssprekende Jode het gekla dat hulle weduwees nie regverdig behandel word nie (Hand. 6:1). Om hierdie saak reg te stel, het die apostels sewe manne aangestel om seker te maak dat niemand oor die hoof gesien word nie. Hierdie manne het almal Griekse name gehad. Dit dui daarop dat die apostels die spanning uit die weg wou ruim wat moontlik onder die vroeë Christene ontstaan het weens hulle verskillende agtergronde.—Hand. 6:2-6.
8, 9. (a) Wat kan toon dat ons bevooroordeeld is of rassetrots het? (b) Wat moet ons uit ons hart verwyder? (1 Pet. 1:22).
8 Of ons dit besef of nie, ons kultuur het ’n groot invloed op ons (Rom. 12:2). En ons hoor waarskynlik hoe bure, medewerkers of skoolmaats neerhalende aanmerkings maak oor mense wat uit ’n ander agtergrond of nasie kom of wat ’n ander velkleur het. Watter invloed het hierdie vooroordeel op ons? En hoe reageer ons wanneer mense spot met ons nasionaliteit of met iets wat eie aan ons kultuur is?
9 Die apostel Petrus was ’n ruk lank bevooroordeeld teenoor nie-Jode, maar hy het mettertyd geleer om negatiewe gevoelens uit sy hart te verwyder (Hand. 10:28, 34, 35; Gal. 2:11-14). As ons enige vooroordeel of rassetrots in onsself sien, moet ons ook ’n doelbewuste poging aanwend om dit uit ons hart te verwyder. (Lees 1 Petrus 1:22.) Ons kan nadink oor die feit dat nie een van ons redding verdien nie; ons is almal onvolmaak, maak nie saak waar ons vandaan kom nie (Rom. 3:9, 10, 21-24). Waarom sou ons dan dink dat ons beter as ander is? (1 Kor. 4:7). Ons moet dieselfde beskouing as die apostel Paulus hê. Hy het mede-Christene daaraan herinner dat hulle “nie meer vreemdelinge en inwonende vreemdelinge [is] nie, maar . . . lede van die huisgesin van God” (Ef. 2:19). As ons ons bes doen om vooroordeel teenoor mense van ’n ander agtergrond te oorkom, sal dit ons help om ons met die nuwe persoonlikheid te beklee.—Kol. 3:10, 11.
HOE OM GOEDHARTIGHEID TEENOOR VREEMDELINGE TE BETOON
10, 11. Hoe het Boas Jehovah se beskouing van vreemdelinge weerspieël in sy handelinge met Rut?
10 Boas het ongetwyfeld Jehovah se beskouing van vreemdelinge weerspieël in sy handelinge met Rut, die Moabitiese vrou. Toe Boas sy landerye gedurende die oes besoek het, kon hy nie anders as om ’n uitlandse vrou op te merk wat druk besig was om oesoorblyfsels op te tel nie. Toe hy hoor dat sy toestemming gevra het om oesoorblyfsels op te tel—al het sy die reg gehad om dit te doen—het Boas haar weens sy vrygewigheid toegelaat om selfs tussen die gerwe are op te tel.—Lees Rut 2:5-7, 15, 16.
11 Die gesprek wat Boas hierna met Rut gehad het, toon dat hy baie besorg was oor haar en haar moeilike situasie as ’n uitlander. Hy het haar byvoorbeeld genooi om naby aan die jong vroue te bly wat vir hom gewerk het sodat die manne op die landerye haar nie lastig sou val nie. Hy het selfs seker gemaak dat sy genoeg kos en water sou hê, net soos die gehuurde werkers. En Boas het ook nie neerhalend gepraat met die behoeftige uitlandse vrou nie; hy het haar eerder gerusgestel.—Rut 2:8-10, 13, 14.
12. Watter uitwerking kan goedhartigheid op nuwelinge uit ’n ander land hê?
12 Boas is nie net geraak deur Rut se onselfsugtige liefde vir haar skoonma, Naomi, nie, maar ook deur die feit dat sy ’n aanbidder van Jehovah geword het. Boas se goedhartigheid was eintlik ’n bewys van Jehovah se lojale liefde teenoor ’n vrou wat ‘onder die vleuels van die God van Israel toevlug kom soek het’ (Rut 2:12, 20; Spr. 19:17). Vandag kan ons goedhartige optrede “alle soorte mense” na die waarheid aantrek en hulle help om te besef hoe lief Jehovah hulle het.—1 Tim. 2:3, 4.
13, 14. (a) Waarom moet ons ’n opregte poging aanwend om vreemdelinge by die Koninkryksaal te groet? (b) Wat kan jy doen as dit vir jou moeilik is om met mense van ander kulture te praat?
13 Ons kan goedhartigheid betoon aan nuwelinge uit ’n ander land deur hulle vriendelik by die Koninkryksaal te groet. Dalk het ons al agtergekom dat immigrante soms skaam is en nie met ander meng nie. Weens hulle agtergrond of sosiale stand voel hulle miskien minderwaardig in vergelyking met mense van ’n ander ras of nasionaliteit. Ons moet dus die inisiatief neem om opregte belangstelling in hulle te toon. Dalk kan jy die JW Language-app gebruik om te leer hoe jy nuwelinge in hulle moedertaal kan groet.—Lees Filippense 2:3, 4.
14 Dit is miskien vir jou moeilik om met mense van ander kulture te praat. Om jou daarmee te help, kan jy vir hulle iets omtrent jouself vertel. Jy sal moontlik gou besef dat julle baie meer in gemeen het as wat jy gedink het en dat elke kultuur sy sterk punte en swakhede het.
HELP ALMAL OM TUIS TE VOEL
15. Wat sal ons help om meer begrip te toon vir diegene wat in ’n nuwe land probeer aanpas?
15 Om jou te help om ander tuis te laat voel in die gemeente, kan jy jou afvra: ‘Hoe sou ek behandel wou word as ek in ’n vreemde land was?’ (Matt. 7:12). Wees geduldig met diegene wat in ’n nuwe land probeer aanpas. Aanvanklik sal ons hulle denkwyse of optrede dalk nie heeltemal verstaan nie. Maar in plaas van te verwag dat hulle ons kultuur aanneem, kan ons hulle gerus aanvaar net soos hulle is.—Lees Romeine 15:7, vergelyk voetnoot in NW.
16, 17. (a) Wat kan ons doen om diegene van ’n ander kultuur beter te leer ken? (b) Op watter praktiese maniere kan ons immigrante in ons gemeente help?
16 As ons meer leer omtrent die land en kultuur van immigrante, sal dit dalk vir ons makliker wees om met hulle te assosieer. Ons kan tydens ons gesinsaanbidding navorsing doen oor die kultuur van immigrante in ons gemeente of gebied. Ons kan medegelowiges van ’n ander agtergrond ook beter leer ken as ons hulle vir ’n ete nooi. Aangesien Jehovah “vir die nasies die deur tot geloof oopgemaak het”, kan ons gerus ook ons deur oopmaak vir vreemdelinge “wat in die geloof aan ons verwant is”.—Hand. 14:27; Gal. 6:10; Job 31:32.
17 As ons tyd deurbring saam met ’n immigrantegesin, sal ons meer waardering hê vir hulle pogings om in ons land aan te pas. En ons sal dalk besef dat hulle hulp nodig het om die taal te leer. As jy weet van plaaslike agentskappe wat hulle kan help om geskikte behuising of werk te kry, kan jy hulle daarvan vertel. Sulke praktiese hulp kan ’n groot verskil maak in die lewe van ’n medegelowige.—Spr. 3:27.
18. Watter voorbeeld van respek en dankbaarheid kan immigrante vandag navolg?
18 Immigrante moet natuurlik hulle bes doen om by die kultuur van die nuwe land aan te pas. Rut het ’n goeie voorbeeld hierin gestel. Eerstens, sy het respek getoon vir die gebruike van haar nuwe land deur toestemming te vra om oesoorblyfsels op te tel (Rut 2:7). Sy het nie hierdie reg as vanselfsprekend aanvaar asof ander haar iets geskuld het nie. Tweedens, sy het ander bedank vir die goedhartigheid wat hulle teenoor haar betoon het (Rut 2:13). As immigrante so ’n goeie gesindheid het, is die kanse groter dat plaaslike inwoners en medegelowiges hulle sal respekteer.
19. Watter redes het ons om vreemdelinge welkom te laat voel onder ons?
19 Ons is baie bly dat Jehovah weens sy onverdiende goedhartigheid mense van alle agtergronde toelaat om die goeie nuus te hoor. In die land waar hulle vandaan kom, kon hulle dalk nie ’n Bybelstudie hê of vryelik met Jehovah se volk assosieer nie. Maar noudat hulle die geleentheid het om met ons te assosieer, moet ons hulle help sodat hulle nie soos vreemdelinge in ons midde voel nie. Al kan ons dalk nie baie materiële of praktiese hulp aan hulle voorsien nie, is die goedhartigheid wat ons toon, ’n weerspieëling van Jehovah se liefde vir hulle. Laat ons dus, as “navolgers van God”, ons bes doen om vreemdelinge welkom te laat voel onder ons.—Ef. 5:1, 2.
^ [1] (paragraaf 1) Naam is verander.