Jehovah se Woord is lewend
Glanspunte uit die boek Eerste Samuel
DIT is die jaar 1117 v.G.J. Sowat driehonderd jaar het verloop sedert Josua die verowering van die Beloofde Land voltooi het. Die ouer manne van Israel kom met ’n buitengewone versoek na Jehovah se profeet. Die profeet bid oor die saak, en Jehovah staan hulle versoek toe. Dit dui die einde aan van die tydperk van die rigters en die begin van die era van mensekonings. Die Bybelboek Eerste Samuel beskryf opwindende gebeure voor en ná hierdie keerpunt in die geskiedenis van die nasie Israel.
Eerste Samuel is deur Samuel, Natan en Gad geskryf en dek ’n tydperk van 102 jaar—van 1180 tot 1078 v.G.J. (1 Kronieke 29:29). Dit is ’n verslag wat handel oor vier leiers van Israel. Twee dien as rigters, twee as konings; twee is gehoorsaam aan Jehovah, twee is nie. Ons maak ook kennis met twee voorbeeldige vroue en ’n dapper maar saggeaarde krygsman. Hierdie voorbeelde voorsien waardevolle lesse oor gesindhede en dade wat nagevolg of vermy moet word. Die inhoud van Eerste Samuel kan dus krag uitoefen op ons gedagtes en dade.—Hebreërs 4:12.
SAMUEL VERVANG ELI AS RIGTER
Die tyd het aangebreek vir die Fees van die Insameling, en Hanna, wat in Rama woon, loop oor van vreugde.a Jehovah het haar gebede verhoor, en sy het aan ’n seun geboorte gegee. Om haar gelofte na te kom, bring Hanna haar seun Samuel vir diens na “die huis van Jehovah”. Daar begin die seun “Jehovah voor die priester Eli . . . dien” (1 Samuel 1:24; 2:11). Terwyl Samuel nog baie jonk is, praat Jehovah met hom en spreek Hy ’n oordeel oor die huis van Eli uit. Wanneer Samuel ouer word, begin die hele volk Israel hom as ’n profeet van Jehovah erken.
Later trek die Filistyne teen Israel op. Hulle buit die Ark en maak Eli se twee seuns dood. Die bejaarde Eli, wat “Israel veertig jaar lank gerig” het, sterf wanneer hy die nuus hiervan hoor (1 Samuel 4:18). Die Ark bring rampspoed oor die Filistyne, en gevolglik gee hulle dit terug aan die Israeliete. Samuel rig Israel nou, en daar is vrede in die land.
Skriftuurlike vrae beantwoord:
2:10—Waarom het Hanna gebid dat Jehovah “aan sy koning sterkte . . . gee” toe daar geen mensekoning oor Israel was nie? In die Mosaïese Wet is daar voorspel dat die Israeliete ’n mensekoning sou hê (Deuteronomium 17:14-18). Jakob het in sy sterfbedprofesie gesê: “Die septer [’n simbool van koninklike gesag] sal van Juda nie wyk nie” (Genesis 49:10). En aangaande Sara—die stammoeder van die Israeliete—het Jehovah gesê: “Konings van volke sal uit haar voortkom” (Genesis 17:16). Hanna het dus oor ’n toekomstige koning gebid.
3:3—Het Samuel in die Allerheiligste self geslaap? Nee, hy het nie. Samuel was ’n Leviet uit die niepriesterlike familie van die Kehatiete (1 Kronieke 6:33-38). As sodanig was hy nie toegelaat om ‘in te gaan om die heilige dinge te sien nie’ (Numeri 4:17-20). Die enigste deel van die heiligdom waartoe Samuel toegang gehad het, was die voorhof van die tabernakel. Dit is ongetwyfeld waar hy geslaap het. Eli het blykbaar ook êrens in die voorhof geslaap. Die uitdrukking “waar die ark van God was”, verwys klaarblyklik na die hele tabernakel.
7:7-9, 17—Waarom het Samuel ’n brandoffer by Mispa gebring en ’n altaar in Rama gebou as offerandes slegs by die plek wat Jehovah gekies het, op ’n gereelde grondslag geoffer moes word? (Deuteronomium 12:4-7, 13, 14; Josua 22:19). Nadat die heilige Ark uit die tabernakel by Silo geneem is, was daar nie meer ’n duidelike bewys van Jehovah se teenwoordigheid daar nie. As God se verteenwoordiger het Samuel dus ’n brandoffer by Mispa gebring en ook ’n altaar in Rama gebou. Hierdie dade het blykbaar Jehovah se goedkeuring weggedra.
Lesse vir ons:
1:11, 12, 21-23; 2:19. Hanna het deur haar biddende gesindheid, haar nederigheid, haar waardering vir Jehovah se goedhartigheid en haar blywende moederliefde ’n goeie voorbeeld vir alle godvresende vroue gestel.
1:8. Wat ’n goeie voorbeeld het Elkana tog daarin gestel om ander met woorde te versterk! (Job 16:5). Hy het eers vir die terneergedrukte Hanna ’n vraag gevra wat geensins beskuldigend was nie: “Waarom is jou hart bedroef?” Dit het haar aangespoor om oor haar gevoelens te praat. Toe het Elkana haar van sy liefde verseker deur te sê: “Is ek nie vir jou beter as tien seuns nie?”
2:26; 3:5-8, 15, 19. As ons ons godgegewe werk getrou doen, van geestelike opleiding gebruik maak en beleefd en respekvol is, sal dit ons “meer geliefd” maak by God sowel as by mense.
4:3, 4, 10. Selfs ’n voorwerp wat so heilig soos die verbondsark was, het nie gedien as ’n gelukbringer wat beskerming bied nie. Ons moet ons ‘van afgode bewaar’.—1 Johannes 5:21.
ISRAEL SE EERSTE KONING—’N SUKSES OF ’N MISLUKKING?
Samuel bly sy hele lewe lank getrou aan Jehovah, maar sy seuns wandel nie in God se weë nie. Wanneer die ouer manne van Israel ’n mensekoning vra, staan Jehovah hulle versoek toe. Samuel volg Jehovah se leiding en salf Saul, ’n aantreklike Benjaminiet, as koning. Saul versterk sy posisie as koning deur die Ammoniete te verslaan.
Saul se dapper seun Jonatan verslaan ’n Filistynse garnisoen. Die Filistyne trek met ’n ontsaglike leër teen Israel op. Saul raak paniekerig en bring self ’n brandoffer, ’n daad van ongehoorsaamheid. Die moedige Jonatan neem net sy wapendraer saam met hom en val ’n ander Filistynse voorpos aan. Saul se ondeurdagte eed veroorsaak egter dat die oorwinning oor die Filistyne nie so beslissend is nie. Saul ‘voer oorlog rondom’ teen al sy vyande (1 Samuel 14:47). Hy verslaan die Amalekiete, maar is ongehoorsaam aan Jehovah deurdat hy spaar wat “gewy is om vernietig te word” (Levitikus 27:28, 29). Gevolglik verwerp Jehovah Saul as koning.
Skriftuurlike vrae beantwoord:
9:9—Wat is betekenisvol omtrent die uitdrukking “die profeet van vandag is in vroeër tye gewoonlik ’n siener genoem”? Hierdie woorde toon moontlik dat die woord “siener” deur die term “profeet” vervang is omdat die profete in die dae van Samuel en gedurende die era van die konings in Israel meer op die voorgrond begin tree het. Samuel word beskou as die eerste in die lyn van die profete.—Handelinge 3:24.
14:24-32, 44, 45—Het Jonatan God se guns verloor omdat hy in stryd met Saul se eed opgetree het deur heuning te eet? Hierdie daad het Jonatan blykbaar nie in onguns by God gebring nie. Jonatan het in die eerste plek nie geweet van sy vader se eed nie. Verder het die eed, wat óf weens misplaaste ywer óf weens ’n verkeerde beskouing van koninklike gesag afgelê is, probleme vir die manskappe geskep. Hoe kon so ’n eed God se goedkeuring gehad het? Hoewel Jonatan bereid was om die gevolge te dra omdat hy in stryd met die eed opgetree het, is sy lewe gespaar.
15:6—Waarom het Saul aan die Keniete guns betoon? Die Keniete was die kinders van Moses se skoonvader. Hulle het die Israeliete gehelp nadat hulle van die berg Sinai af weggetrek het (Numeri 10:29-32). Die Keniete het ook ’n ruk lank saam met die kinders van Juda in die land Kanaän gewoon (Rigters 1:16). Hoewel hulle later onder die Amalekiete en verskeie ander volke gewoon het, het die Keniete vriendskaplike betrekkinge met Israel behou. Saul het die Keniete dus met goeie rede gespaar.
Lesse vir ons:
9:21; 10:22, 27. Die beskeidenheid en nederigheid wat Saul gehad het toe hy aanvanklik koning geword het, het voorkom dat hy oorhaastig optree toe party “deugniete” nie sy koningskap aanvaar het nie. Watter beskerming bied so ’n gesindheid tog teen onbesonne dade!
12:20, 21. Moet nooit toelaat dat “die onwerklikhede”, soos vertroue op mense, op die militêre mag van nasies of afgodery, jou daarvan afkeer om Jehovah te dien nie.
12:24. ’n Vername manier waarop ons eerbiedige vrees vir Jehovah kan behou en hom met ons hele hart kan dien, is om te ‘kyk watter groot dinge hy gedoen het’ vir sy volk in die ou tyd sowel as in hedendaagse tye.
13:10-14; 15:22-25, 30. Pas op vir vermetelheid—hetsy dit in ongehoorsame dade of in ’n trotse gesindheid na vore kom.—Spreuke 11:2.
’N HERDERSEUN WORD GEKIES OM KONING TE WORD
Samuel salf Dawid van die stam Juda as die toekomstige koning. Kort hierna verslaan Dawid die Filistynse reus Goliat met ’n enkele slingerklip. ’n Vriendskapsband ontstaan tussen Dawid en Jonatan. Saul stel Dawid oor sy krygsmanne aan. In reaksie op Dawid se talle oorwinnings sing die vroue van Israel: “Saul het sy duisende verslaan, en Dawid sy tienduisende” (1 Samuel 18:7). Verteer deur afguns, probeer Saul Dawid doodmaak. Ná drie aanvalle deur Saul vlug Dawid en word hy ’n voortvlugtige.
Gedurende sy jare as ’n voortvlugtige spaar Dawid Saul se lewe twee keer. Hy ontmoet ook die pragtige Abigail en trou uiteindelik met haar. Wanneer die Filistyne teen Israel optrek, probeer Saul Jehovah raadpleeg. Maar Jehovah het hom verlaat. Samuel is dood. Uit desperaatheid raadpleeg Saul ’n geestemedium, en hy hoor dat hy in die geveg teen die Filistyne doodgemaak sal word. Gedurende daardie geveg word Saul swaar gewond, en sy seuns word doodgemaak. Die verslag sluit af met Saul wat as ’n mislukking sterf. Dawid is nog steeds ’n voortvlugtige.
Skriftuurlike vrae beantwoord:
16:14—Watter slegte gees het Saul verskrik? Die slegte gees wat Saul van sy gemoedsrus beroof het, was die slegte neiging van sy verstand en hart—sy innerlike drang om verkeerd te doen. Toe Jehovah sy heilige gees van Saul weggeneem het, het Saul die beskerming daarvan verloor en het sy eie slegte gees hom oorheers. Aangesien God toegelaat het dat daardie gees Sy heilige gees vervang, word daardie gees “’n slegte gees van Jehovah af” genoem.
17:55—Waarom het Saul, in die lig van 1 Samuel 16:17-23, gevra wie se seun Dawid is? Saul het nie net die naam van Dawid se vader probeer uitvind nie. Hy wou heel waarskynlik weet watter soort man die seun verwek het wat so pas die verstommende daad verrig het om ’n reus te verslaan.
Lesse vir ons:
16:6, 7. Ons moenie dat die uiterlike voorkoms van ander ons beïndruk nie of hulle oorhaastig oordeel nie, maar ons moet hulle eerder probeer sien soos Jehovah hulle sien.
17:47-50. Ons kan die teenstand of vervolging van Goliatagtige vyande moedig die hoof bied, want “die stryd behoort aan Jehovah”.
18:1, 3; 20:41, 42. Ware vriende kan gevind word onder diegene wat lief is vir Jehovah.
21:12, 13. Jehovah verwag van ons om ons verstandelike vermoëns en vaardighede te gebruik om moeilike situasies in die lewe te hanteer. Hy het ons van sy geïnspireerde Woord voorsien, wat ons verstandigheid, kennis en denkvermoë kan gee (Spreuke 1:4). Ons het ook die hulp van aangestelde Christen- ouer manne.
24:6; 26:11. Wat ’n goeie voorbeeld is Dawid tog van iemand wat die gesalfde van Jehovah waarlik gerespekteer het!
25:23-33. Abigail se verstandigheid is navolgenswaardig.
28:8-19. In hulle pogings om mense te mislei of leed aan te doen, kan bose geeste voorgee dat hulle sekere dooie persone is. Ons moet wegbly van alle vorme van spiritisme.—Deuteronomium 18:10-12.
30:23, 24. Hierdie besluit, wat op Numeri 31:27 gebaseer is, toon dat Jehovah diegene waardeer wat ondersteunende rolle in die gemeente vervul. Wat ons ook al doen, laat ons dit dan ‘doen met ons hele siel soos vir Jehovah en nie vir mense nie’.—Kolossense 3:23.
Wat is “beter as ’n offerande”?
Watter grondwaarheid word beklemtoon deur die ondervindinge van Eli, Samuel, Saul en Dawid? Die volgende: “Om gehoorsaam te wees, is beter as ’n offerande, om aandag te skenk beter as die vet van ramme; want opstandigheid is dieselfde as die sonde van waarsêery, en om vermetel vooruit te dring dieselfde as die gebruik van towerkrag en terafim.”—1 Samuel 15:22, 23.
Wat ’n voorreg het ons tog om deel te neem aan die wêreldwye Koninkrykspredikings- en dissipelmaakwerk! Wanneer ons vir Jehovah “die jong bulle van ons lippe” aanbied, moet ons ons bes doen om die riglyne te gehoorsaam wat hy deur sy geskrewe Woord en die aardse deel van sy organisasie gee.—Hosea 14:2; Hebreërs 13:15.
[Voetnoot]
a Om die ligging vas te stel van verskeie plekke wat in die boek Eerste Samuel genoem word, sien bladsye 18-19 van die brosjure ‘Sien die goeie land’, uitgegee deur Jehovah se Getuies.
[Prent op bladsy 23]
Israel se eerste koning het verander van ’n nederige en beskeie heerser tot ’n trotse en vermetele vors
[Prent op bladsy 24]
Waarvan kan ons seker wees wanneer Goliatagtige vyande ons teëstaan?