Jehovah se Woord is lewend
Glanspunte uit die boek Tweede Samuel
VERG dit volmaakte gehoorsaamheid van ons as ons Jehovah se soewereiniteit erken? Doen iemand wat onkreukbaarheid handhaaf, altyd wat reg is in God se oë? Watter soort persoon is vir die ware God iemand “na sy hart”? (1 Samuel 13:14). Die Bybelboek Tweede Samuel gee bevredigende antwoorde op hierdie vrae.
Tweede Samuel is geskryf deur Gad en Natan, twee profete wat na aan koning Dawid van eertydse Israel was.a Die boek is in omstreeks 1040 v.G.J. voltooi, aan die einde van Dawid se 40 jaar lange koningskap, en handel hoofsaaklik oor Dawid en sy verhouding met Jehovah. Hierdie opwindende verhaal vertel hoe ’n verdeelde nasie onder ’n dapper koning ’n welvarende, verenigde koninkryk word. Die boeiende drama is gelaai met menslike emosies wat met groot intensiteit uitgedruk word.
DAWID WORD “AL HOE GROTER”
Dawid se reaksie op die nuus van Saul en Jonatan se dood toon hoe hy oor hulle en oor Jehovah gevoel het. Dawid word in Hebron as koning gesalf oor die stam Juda. Saul se seun Isboset word koning gemaak oor die res van Israel. Dawid word “al hoe groter”, en ongeveer sewe en ’n half jaar later word hy koning gemaak oor die hele Israel.—2 Samuel 5:10.
Dawid verower Jerusalem van die Jebusiete en maak dit die hoofstad van sy koninkryk. Sy eerste poging om die verbondsark na Jerusalem te bring, het rampspoedige gevolge. Maar die tweede poging slaag, en Dawid dans van vreugde. Jehovah sluit met Dawid ’n verbond vir ’n koninkryk. Dawid oorwin sy vyande terwyl God voortdurend met hom is.
Skriftuurlike vrae beantwoord:
2:18—Waarom is Joab en sy twee broers beskryf as die drie seuns van Seruja, hulle moeder? In die Hebreeuse Geskrifte is nakomelinge gewoonlik volgens die geslagslyn van die vader aangegee. Seruja se man het dalk ontydig gesterf, of hy is miskien as ongeskik beskou om in die Heilige Geskrifte ingesluit te word. Dit is moontlik dat Seruja genoem is omdat sy Dawid se suster of halfsuster was (1 Kronieke 2:15, 16). Die enigste verwysing na die drie broers se vader is in verband met sy graf in Betlehem.—2 Samuel 2:32.
3:29—Wat word bedoel met ‘’n man wat die draaiende spoel vasgryp’? Vroue het gewoonlik materiaal geweef. Gevolglik verwys hierdie uitdrukking moontlik na mans wat ongeskik was vir bedrywighede soos oorlogvoering en wat dus die werk moes doen wat gewoonlik deur ’n vrou gedoen is.
5:1, 2—Hoe lank ná die sluipmoord op Isboset is Dawid koning gemaak oor die hele Israel? Dit lyk redelik om tot die slotsom te kom dat Isboset se twee jaar lange koningskap kort ná Saul se dood begin het, omtrent dieselfde tyd as wat Dawid s’n in Hebron begin het. Dawid het sewe en ’n half jaar lank in Hebron oor Juda geheers. Kort nadat hy koning gemaak is oor die hele Israel, het hy sy hoofstad na Jerusalem verskuif. Ongeveer vyf jaar het dus verloop van Isboset se dood totdat Dawid oor die hele Israel koning geword het.—2 Samuel 2:3, 4, 8-11; 5:4, 5.
8:2—Hoeveel Moabiete is tereggestel nadat Israel teen hulle oorlog gevoer het? Die getal is moontlik vasgestel deur hulle te meet eerder as om hulle te tel. Dit lyk asof Dawid die Moabiete sy aan sy in ’n ry op die grond laat lê het. Toe het hy die ry laat meet met die lengte van ’n lyn, of tou. Twee lynmate, of twee derdes van die Moabiete, is blykbaar doodgemaak, en een lynmaat, of ’n derde van hulle, is gespaar.
Lesse vir ons:
2:1; 5:19, 23. Dawid het Jehovah geraadpleeg voordat hy in Hebron gaan woon het en voordat hy teen sy vyande opgetrek het. Ons moet ook Jehovah se leiding vra voordat ons besluite maak wat ons geestelikheid raak.
3:26-30. Weerwraak het droewige gevolge.—Romeine 12:17-19.
3:31-34; 4:9-12. Dawid het ’n goeie voorbeeld gestel deur nie wraaksugtig en kwaadwillig te wees nie.
5:12. Ons moet nooit vergeet dat Jehovah ons in sy weë onderrig het en ’n goeie verhouding met hom moontlik gemaak het nie.
6:1-7. Hoewel Dawid goeie bedoelings gehad het, was sy poging om die Ark op ’n wa te vervoer, in stryd met God se gebod en het dit op mislukking uitgeloop (Eksodus 25:13, 14; Numeri 4:15, 19; 7:7-9). Wat gebeur het toe Ussa die Ark gegryp het, toon ook dat goeie bedoelings nie God se vereistes verander nie.
6:8, 9. In ’n moeilike situasie het Dawid eers kwaad en toe bang geword—hy het Jehovah dalk selfs vir die tragedie blameer. Ons moet daarteen waak om Jehovah te blameer vir probleme wat ontstaan omdat ons sy bevele verontagsaam.
7:18, 22, 23, 26. Dawid se nederigheid, uitsluitlike toegewydheid aan Jehovah en ywer om God se naam te verhef, is eienskappe wat ons moet navolg.
8:2. ’n Profesie word vervul wat ongeveer 400 jaar vroeër uitgespreek is (Numeri 24:17). Jehovah se woord word altyd bewaarheid.
9:1, 6, 7. Dawid het sy belofte nagekom. Ons moet ook daarna strewe om ons woord te hou.
JEHOVAH VERWEK RAMPSPOED TEEN SY GESALFDE
“Kyk, ek verwek rampspoed teen jou uit jou eie huis”, sê Jehovah vir Dawid, “en ek sal jou vrouens voor jou oë neem en hulle aan jou medemens gee, en hy sal beslis by jou vrouens gaan lê voor die oë van hierdie son” (2 Samuel 12:11). Waarom word hierdie uitspraak gelewer? Weens Dawid se sonde met Batseba. Hoewel Dawid berouvol is en vergewe word, moet hy die gevolge van sy sonde dra.
Eers sterf die kind waaraan Batseba geboorte gee. Dan word Dawid se dogter Tamar, ’n maagd, deur haar halfbroer Amnon verkrag. Haar bloedbroer Absalom vermoor Amnon uit weerwraak. Absalom smee ’n sameswering teen sy eie vader en laat homself in Hebron tot koning uitroep. Dawid moet noodgedwonge uit Jerusalem vlug. Absalom hou gemeenskap met tien van sy vader se byvrouens wat agtergelaat is om na die huis om te sien. Dawid neem weer sy koningskap op eers nadat Absalom doodgemaak is. ’n Opstand deur die Benjaminiet Seba lei tot Seba se dood.
Skriftuurlike vrae beantwoord:
14:7—Wat word deur “die gloed van my houtskool” afgebeeld? Die gloed van houtskool wat stadig brand, word gebruik om ’n lewende nakomeling af te beeld.
19:29—Waarom het Dawid so op Mefiboset se verduideliking gereageer? Toe Dawid hoor wat Mefiboset sê, het hy heel moontlik besef dat hy ’n fout begaan het toe hy Siba se woorde as waar aangeneem het(2 Samuel 16:1-4; 19:24-28). Dit het Dawid heel waarskynlik omgekrap, en hy wou niks verder van die saak hoor nie.
Lesse vir ons:
11:2-15. Die eerlike verslag van Dawid se tekortkominge getuig van die feit dat die Bybel die geïnspireerde Woord van God is.
11:16-27. Wanneer ons ’n ernstige sonde begaan, moet ons dit nie soos Dawid probeer wegsteek nie. Ons moet eerder ons sonde aan Jehovah bely en by die ouer manne in die gemeente hulp vra.—Spreuke 28:13; Jakobus 5:13-16.
12:1-14. Natan het ’n goeie voorbeeld vir aangestelde ouer manne in die gemeente gestel. Hulle moet dié wat in sonde verval, help om hulle handelswyse reg te stel. Die ouer manne moet hierdie verantwoordelikheid op vaardige wyse nakom.
12:15-23. Die regte beskouing van wat met hom gebeur het, het Dawid gehelp om op gepaste wyse op teëspoed te reageer.
15:12; 16:15, 21, 23. Toe dit gelyk het asof Absalom koning sou word, het trots en ambisie veroorsaak dat die briljante raadgewer Agitofel ’n verraaier word. Dit kan ’n strik wees as ’n mens intelligent maar nie nederig en lojaal is nie.
19:24, 30. Mefiboset het Dawid se liefderyke goedhartigheid innig waardeer. Hy het hom gewillig onderwerp aan die koning se besluit aangaande Siba. Waardering vir Jehovah en sy organisasie moet ons beweeg om onderdanig te wees.
20:21, 22. Die wysheid van een persoon kan ’n ramp vir baie afweer.—Prediker 9:14, 15.
LAAT ONS “IN DIE HAND VAN JEHOVAH VAL”
Daar is drie jaar lank ’n hongersnood omdat Saul bloedskuldig geword het toe hy die Gibeoniete doodgemaak het (Josua 9:15). Om daardie bloedskuld te wreek, vra die Gibeoniete sewe seuns van Saul sodat hulle hulle kan teregstel. Dawid gee hulle oor in die hande van die Gibeoniete, en die droogte eindig met ’n stortreën. Vier Filistynse reuse “[val] deur die hand van Dawid en deur die hand van sy knegte”.—2 Samuel 21:22.
Dawid pleeg ’n ernstige sonde deur te beveel dat ’n onwettige volkstelling gehou word. Hy toon berou en verkies om “in die hand van Jehovah” te val (2 Samuel 24:14). Gevolglik sterf 70 000 weens ’n pes. Dawid gehoorsaam Jehovah se bevel, en die plaag word gestuit.
Skriftuurlike vrae beantwoord:
21:8—Hoe kan daar gesê word dat Saul se dogter Migal vyf seuns gehad het as 2 Samuel 6:23 sê dat sy kinderloos gesterf het? Die verduideliking wat die algemeenste aanvaar word, is dat dit die seuns was van Migal se suster Merab, wat met Adriël getrou het. Merab het waarskynlik vroeg gesterf, en die kinderlose Migal het die seuns grootgemaak.
21:9, 10—Hoe lank het Rispa gewaak by haar twee seuns en die vyf kleinseuns van Saul wat deur die Gibeoniete doodgemaak is? Hierdie sewe is “in die eerste dae van die oes”—Maart of April—opgehang. Hulle lyke is ’n ruk lank op ’n berg vertoon. Rispa het die sewe lyke dag en nag opgepas totdat Jehovah getoon het dat sy woede afgeneem het deur die droogte te beëindig. Dit is baie onwaarskynlik dat daar voor die einde van die oestyd in Oktober enige swaar stortreën sou gewees het. Rispa het dus moontlik vyf tot ses maande lank by die lyke gewaak. Daarna het Dawid die beendere van die manne laat begrawe.
24:1—Waarom was dit vir Dawid ’n ernstige sonde om die volk te laat tel? ’n Volkstelling op sigself is nie in die Wet verbied nie (Numeri 1:1-3; 26:1-4). Die Bybel sê nie met watter oogmerk Dawid die volk laat tel het nie. Maar 1 Kronieke 21:1 toon dat Satan hom aangehits het om dit te doen. Hoe dit ook al sy, Dawid se leërhoof Joab het geweet dat Dawid se besluit om die volk te registreer, verkeerd was, en hy het hom probeer oorreed om dit nie te doen nie.
Lesse vir ons:
22:2-51. Hoe pragtig beeld Dawid se lied Jehovah tog uit as die ware God, wat ons volle vertroue waardig is!
23:15-17. Dawid het so ’n diepe eerbied vir God se wet aangaande lewe en bloed gehad dat hy by hierdie geleentheid geweier het om iets te doen wat selfs net gelyk het na ’n oortreding van daardie wet. Ons moet so ’n gesindheid teenoor al God se bevele aankweek.
24:10. Dawid se gewete het hom beweeg om berou te toon. Is ons gewete gevoelig genoeg dat dit so sal reageer?
24:14. Dawid het goed geweet dat Jehovah barmhartiger is as mense. Is ons daarvan oortuig?
24:17. Dawid het spyt gevoel omdat sy sonde lyding oor die hele nasie gebring het. ’n Berouvolle oortreder moet spyt voel oor die oneer wat sy optrede die gemeente moontlik aangedoen het.
Dit is vir ons moontlik om iemand ‘na God se hart’ te wees
Die tweede koning van Israel was ‘’n man na Jehovah se hart’ (1 Samuel 13:14). Dawid het Jehovah se regverdige standaarde nooit bevraagteken nie, en hy het nie ’n weg van onafhanklikheid van God probeer volg nie. Elke keer as Dawid gesondig het, het hy sy sonde erken, dissipline aanvaar en sy weë reggestel. Dawid het sy onkreukbaarheid gehandhaaf. Is dit nie verstandig van ons om soos hy te wees nie, veral wanneer ons ’n fout begaan?
Die lewensverhaal van Dawid lig duidelik toe dat erkenning van Jehovah se soewereiniteit beteken dat ons Sy standaarde van goed en kwaad aanvaar en daarna strewe om as handhawers van onkreukbaarheid daarby te bly. Dit is binne ons bereik. Hoe dankbaar kan ons tog wees vir die lesse wat ons uit die boek Tweede Samuel leer! Die geïnspireerde boodskap wat dit bevat, is inderdaad lewend en oefen krag uit.—Hebreërs 4:12.
[Voetnoot]
a Hoewel Samuel nie een van die skrywers was nie, dra die boek sy naam omdat die twee boeke van Samuel oorspronklik een rol in die Hebreeuse kanon was. Samuel het ’n groot deel van Eerste Samuel geskryf.
[Prent op bladsy 16]
Dawid het onthou wie hom stewig as koning bevestig het, en dit het hom gehelp om nederig te bly
[Prente op bladsy 18]
“Kyk, ek verwek rampspoed teen jou uit jou eie huis”
Batseba
Tamar
Amnon