Volg hulle geloof na
Hy het vertroosting in sy God gevind
ELIA het deur die reën gehardloop terwyl dit al hoe donkerder geword het. Hy moes nog ver gaan voordat hy Jisreël sou bereik, en hy was nie meer ’n jong man nie. Maar hy het onvermoeid aangehou hardloop, want “die hand van Jehovah” was op hom. ’n Heeltemal ongekende energie het deur sy liggaam gebruis. Hy het selfs onder die span perde uitgehardloop wat koning Agab se koninklike strydwa getrek het!—1 Konings 18:46.
Nou was koning Agab ver agter hom, en die oop pad het voor hom gelê. Stel jou voor hoe Elia sy oë knip om die reëndruppels uit sy oë te hou terwyl hy terugdink aan die mees gebeurtenisvolle dag van sy lewe. Dit was sonder twyfel ’n glorieryke oorwinning vir Elia se God, Jehovah, en vir ware aanbidding. Ver agter hom, verberg deur die duisternis van die storm, het die winderige hoogtes van die berg Karmel gelê, waar Jehovah Elia gebruik het om Baälaanbidding ’n groot en wonderdadige slag toe te dien. Honderde Baälprofete is as bose bedrieërs ontmasker en is met reg tereggestel. Toe het Elia tot Jehovah gebid om die droogte wat die land drie en ’n half jaar lank geteister het, te beëindig. Die reën het geval!a—1 Konings 18:18-45.
Terwyl Elia 30 kilometer ver deur die reën na Jisreël gehardloop het, het dit dalk vir hom gelyk of hulle uiteindelik by ’n ware keerpunt gekom het. Agab sou moes verander! Ná wat hy gesien het, sou hy sekerlik nie anders kon as om Baälaanbidding agter te laat, sy koningin, Isebel, in toom te hou en die vervolging van Jehovah se knegte stop te sit nie.
Wanneer dit lyk of dinge vir ons goed gaan, is dit net natuurlik om optimisties te begin voel. Ons dink dalk dat ons lot in die lewe sal aanhou verbeter en selfs dat ons ergste probleme uiteindelik iets van die verlede is. Dit sou nie verbasend wees as Elia so gevoel het nie, want hy “was ’n mens met gevoelens soos ons s’n” (Jakobus 5:17). Maar Elia se probleme was in werklikheid nog lank nie verby nie. Trouens, binne ure sou Elia so bang wees, so neerslagtig, dat hy sou wou sterf. Wat het gebeur? En hoe het Jehovah sy profeet gehelp om sy geloof en sy moed te herwin? Kom ons kyk.
’n Onverwagse wending
Het Agab, toe hy by sy paleis in Jisreël gekom het, enige aanduiding gegee dat hy ’n veranderde, meer geestelike mens is? Ons lees: “Agab [het] vir Isebel alles vertel wat Elia gedoen het, ja, alles, ook hoe hy al die profete met die swaard doodgemaak het” (1 Konings 19:1). Let op dat Agab se beskrywing van die dag se gebeure nie melding maak van Elia se God, Jehovah, nie. Omdat Agab ’n vleeslike mens was, het hy die dag se wonderdadige gebeure bloot uit ’n menslike oogpunt gesien—wat “Elia gedoen het”. Dit is duidelik dat hy nie geleer het om Jehovah God te respekteer nie. En hoe het die wraaksugtige Isebel gereageer?
Sy was briesend! Bleek van woede het sy hierdie boodskap aan Elia gestuur: “Mag die gode so doen, en mag hulle so daaraan toevoeg as ek hierdie tyd môre nie jou siel soos die siel van elkeen van hulle maak nie!” (1 Konings 19:2). Dit was ’n doodsdreigement van die ergste graad. Isebel het in werklikheid gesweer dat sy self sou sterf as sy Elia nie daardie dag nog kon laat doodmaak om haar Baälprofete te wreek nie. Stel jou voor hoe Elia daardie stormnag in ’n nederige huisie in Jisreël wakker gemaak word en dan hoor hoe die koningin se boodskapper daardie verskriklike woorde oordra. Hoe het dit hom laat voel?
Oorweldig deur ontmoediging en vrees
As Elia hoegenaamd gedink het dat die stryd teen Baälaanbidding so te sê verby was, is sy verwagtinge op daardie oomblik verpletter. Isebel het haar nie laat afskrik nie. Baie van Elia se getroue medewerkers is reeds op haar bevel tereggestel, en nou het dit gelyk of hy volgende sou wees. Die Bybel sê vir ons: “Hy het bang geword.” Het Elia hom die verskriklike dood voorgestel wat Isebel vir hom in gedagte gehad het? As hy oor sulke gedagtes getob het, is dit geen wonder dat sy moed hom begewe het nie. Hoe dit ook al sy, Elia het “ter wille van sy siel weggegaan”—hy het vir sy lewe gevlug.—1 Konings 18:4; 19:3.
Elia is nie die enigste man van geloof wat deur vrees oorweldig is nie. Die apostel Petrus het veel later ’n soortgelyke probleem gehad. Toe Jesus Petrus byvoorbeeld in staat gestel het om saam met Hom op die water te loop, het die apostel ‘na die windstorm begin kyk’. Hy het toe moed verloor en begin sink (Matteus 14:30). Die voorbeeld van Petrus en Elia leer ons dus ’n waardevolle les. As ons moedig wil bly, moet ons nie gedurigdeur dink aan die gevare wat ons bang maak nie. Ons moet gefokus bly op die Bron van ons hoop en krag.
“Dit is genoeg!”
Aangedryf deur vrees, het Elia ongeveer 150 kilometer suidweswaarts na Berseba gevlug, ’n dorp naby die suidelike grens van Juda. Daar het hy sy dienaar agtergelaat en alleen die wildernis ingegaan. Die verslag sê dat hy “’n dagreis ver” gegaan het; ons kan ons dus voorstel dat hy met sonsopkoms, klaarblyklik sonder enige kos of water, in die pad geval het. Terneergedruk en aangedryf deur vrees, het hy onder die bloedige son oor die ruwe en woeste terrein aangesukkel. Terwyl daardie gloeiende skyf geleidelik rooier geword en begin sak het, het Elia se krag begin ingee. Uitgeput het hy onder ’n besemstruik gaan sit—die enigste skuiling wat daardie barre landskap gebied het.—1 Konings 19:4.
Elia het in volslae desperaatheid gebid. Hy het gevra om te sterf. Hy het gesê: “Ek is nie beter as my voorvaders nie.” Hy het geweet dat sy voorvaders op daardie stadium net stof en bene in die graf was, nie in staat om enigiets vir enigiemand te doen nie (Prediker 9:10). Elia het net so waardeloos gevoel. Dit is geen wonder dat hy uitgeroep het: “Dit is genoeg!” nie. Waarom nog aanhou lewe?
Behoort ons geskok te wees dat ’n man van God so neerslagtig kon word? Nie noodwendig nie. Die Bybelverslag sê van ’n aantal getroue manne en vroue dat hulle so bedroef gevoel het, dat hulle wou sterf—onder hulle was Rebekka, Jakob, Moses en Job.—Genesis 25:22; 37:35; Numeri 11:13-15; Job 14:13.
Vandag lewe ons in ‘kritieke tye wat moeilik is om deur te kom’, en daarom is dit nie verbasend dat baie mense, selfs getroue knegte van God, soms terneergedruk voel nie (2 Timoteus 3:1). As jy jou ooit in so ’n desperate situasie bevind, kan jy Elia se voorbeeld in hierdie opsig volg: Stort jou gevoelens voor God uit. Jehovah is immers “die God van alle vertroosting” (2 Korintiërs 1:3). Het hy Elia vertroos?
Jehovah het sy profeet onderskraag
Hoe dink jy het Jehovah gevoel toe hy uit die hemel afkyk en sy geliefde profeet onder daardie boom in die wildernis sien lê en smeek om te sterf? Ons hoef nie te raai nie. Nadat Elia aan die slaap geraak het, het Jehovah ’n engel na hom toe gestuur. Die engel het liggies aan Elia geraak om hom wakker te maak en gesê: “Staan op, eet.” Elia het toe die eenvoudige ete van vars, warm brood en water geniet wat die engel goedgunstig vir hom voorberei het. Het hy die engel darem bedank? Die verslag sê slegs dat die profeet geëet en gedrink en toe weer gaan slaap het. Was hy te moedeloos om te praat? Hoe dit ook al sy, die engel het hom ’n tweede keer wakker gemaak, miskien met dagbreek. Hy het Elia weer eens aangespoor: “Staan op, eet”, en hy het hierdie betekenisvolle woorde bygevoeg: “Want die reis is vir jou te veel”.—1 Konings 19:5-7.
Danksy godgegewe insig het die engel geweet waarheen Elia op pad was. Hy het ook geweet dat dit vir Elia te veel sou wees om die reis in sy eie krag af te lê. Hoe vertroostend is dit tog om ’n God te dien wat ons doelwitte en beperkings beter ken as wat ons dit self ken! (Psalm 103:13, 14). Hoe het Elia by hierdie ete baat gevind?
Ons lees: “Hy [het] opgestaan en geëet en gedrink, en hy het veertig dae en veertig nagte deur die krag van daardie voedsel voortgegaan tot by die berg van die ware God, Horeb” (1 Konings 19:8). Soos Moses ongeveer ses eeue voor hom en Jesus byna tien eeue ná hom, het Elia 40 dae en 40 nagte gevas (Eksodus 34:28; Lukas 4:1, 2). Daardie een ete het nie al sy probleme weggeneem nie, maar dit het hom op ’n wonderdadige manier krag gegee. Stel jou voor hoe daardie bejaarde man dag ná dag, week ná week, byna ’n maand en ’n half lank deur die woeste wildernis aansukkel!
Jehovah onderskraag sy knegte ook vandag, nie met wonderdadige fisiese kos nie, maar op ’n baie belangriker manier. Hy sorg geestelik vir sy knegte (Matteus 4:4). Ons word geestelik versterk as ons van God leer uit sy Woord en uit publikasies wat sorgvuldig op die Bybel gebaseer is. As ons sulke geestelike voedsel inneem, sal dit nie noodwendig al ons probleme wegneem nie, maar dit kan ons help om te verduur wat ons andersins dalk nie sou kon verduur nie. Dit lei ook na “die ewige lewe”.—Johannes 17:3.
Elia het amper 320 kilometer ver geloop totdat hy uiteindelik by die berg Horeb gekom het, waar Jehovah God lank tevore deur middel van ’n engel in die brandende doringbos aan Moses verskyn het en waar Jehovah later die Wetsverbond met Israel gesluit het. Elia het in ’n grot skuiling gevind.
Hoe Jehovah sy profeet vertroos en versterk het
By Horeb het Jehovah se “woord”—klaarblyklik oorgedra deur middel van ’n geesboodskapper—hierdie eenvoudige vraag gevra: “Wat maak jy hier, Elia?” Die vraag is waarskynlik op ’n liefdevolle manier gevra, want Elia het dit as ’n uitnodiging beskou om sy gevoelens uit te stort. En dit is presies wat hy gedoen het! Hy het gesê: “Ek was absoluut jaloers ten opsigte van Jehovah, die God van die leërs; want die kinders van Israel het u verbond verlaat, hulle het u altare afgebreek, en hulle het u profete met die swaard doodgemaak, sodat ek alleen oorgebly het; en nou soek hulle my siel om dit weg te neem” (1 Konings 19:9, 10). Elia se woorde openbaar ten minste drie redes vir sy neerslagtigheid.
Eerstens, Elia het gevoel dat sy werk tevergeefs was. Ten spyte van die feit dat hy jare lank “absoluut jaloers” was in sy diens aan Jehovah en God se heilige naam en aanbidding bo alle ander dinge gestel het, het Elia gesien dat toestande blykbaar net al hoe slegter word. Die volk was nog steeds ontrou en opstandig, terwyl valse aanbidding hoogty gevier het. Tweedens, Elia het alleen gevoel. ‘Ek alleen het oorgebly’, het hy gesê, asof hy die laaste persoon in die nasie was wat Jehovah nog gedien het. Derdens, Elia was bang. Baie van sy medeprofete is reeds doodgemaak, en hy was seker dat hy volgende sou wees. Dit was dalk nie vir Elia maklik om aan daardie gevoelens uiting te gee nie, maar hy het nie toegelaat dat trots of verleentheid hom terughou nie. Deur sy hart in gebed voor sy God uit te stort, het hy ’n goeie voorbeeld vir alle getroue mense gestel.—Psalm 62:8.
Wat het Jehovah omtrent Elia se vrese en bekommernisse gedoen? Die engel het vir Elia gesê om by die ingang van die grot te staan. Hy het dit gedoen, hoewel hy nie geweet het wat op hom wag nie. ’n Sterk wind het opgekom! Dit moes seker ’n oorverdowende geloei veroorsaak het, want dit was so kragtig dat dit berge en rotse uitmekaargeskeur het. Stel jou voor hoe Elia sy oë probeer beskerm terwyl hy in die vlae van wind aan sy swaar kleed van hare vashou. Daarna het hy gesukkel om op sy voete te bly, want die grond het begin dein en skud—’n aardbewing het die streek getref! Hy het beswaarlik tot verhaal gekom toe daar ’n groot vuur was, wat hom in die grot teruggedwing het om weg te kom van die versengende hitte.—1 Konings 19:11, 12.
Elke keer herinner die verslag ons dat Jehovah nie in hierdie skouspelagtige vertonings van die natuur se krag was nie. Elia het geweet dat Jehovah nie die een of ander mitiese natuurgod is nie, soos Baäl, wat deur sy misleide aanbidders die “ruiter van die wolke”, oftewel bringer van reën, genoem is. Jehovah is die ware Bron van al die ontsagwekkende krag wat in die natuur gevind word, maar hy is ook oneindig groter as enigiets wat hy gemaak het. Selfs die fisiese hemel kan hom nie bevat nie! (1 Konings 8:27). Maar hoe het dit alles vir Elia gehelp? Onthou hoe bang hy was. Met ’n God soos Jehovah aan sy kant, wat al daardie oorweldigende krag tot Sy beskikking het, het Elia geen rede gehad om Agab en Isebel te vrees nie!—Psalm 118:6.
Ná die vuur het daar ’n stilte neergedaal en het Elia “’n kalm, sagte stem” gehoor. Dit het Elia genooi om sy gedagtes weer uit te spreek, en hy het dit toe ook gedoen deur ’n tweede keer uiting te gee aan sy bekommernisse.b Miskien het dit hom verdere verligting gebring. Maar Elia het ongetwyfeld selfs meer vertroosting geput uit wat die “kalm, sagte stem” daarna vir hom gesê het. Jehovah het Elia verseker dat hy allesbehalwe waardeloos is. Hoe so? God het baie oor sy langtermynvoorneme in verband met die stryd teen Baälaanbidding in Israel geopenbaar. Dit is duidelik dat Elia se werk nie tevergeefs was nie, want God se voorneme het onstuitbaar vooruitbeweeg. Verder was Elia nog altyd deel van daardie voorneme, want Jehovah het hom met spesifieke instruksies teruggestuur om sy werk voort te sit.—1 Konings 19:12-17.
Maar wat van Elia se gevoelens van eensaamheid? Jehovah het twee dinge hieromtrent gedoen. Eerstens, hy het vir Elia gesê om Elisa as die profeet te salf wat uiteindelik sy opvolger sou wees. Hierdie jonger man sou vir ’n aantal jare Elia se metgesel en helper word. Hoe prakties was hierdie vertroosting tog! Tweedens, Jehovah het hierdie opwindende nuus aan hom meegedeel: “Ek het seweduisend in Israel laat oorbly, al die knieë wat nie voor Baäl gebuig het nie, en elke mond wat hom nie gesoen het nie” (1 Konings 19:18). Elia was allermins alleen. Dit moes sy hart verbly het om te hoor van daardie duisende getroue knegte wat geweier het om Baäl te aanbid. Om hulle onthalwe moes Elia volhou met sy getroue diens en in daardie donker tye ’n voorbeeld van onwrikbare lojaliteit aan Jehovah stel. Dit moes Elia diep geraak het om daardie woorde deur middel van Jehovah se boodskapper, die “kalm, sagte stem” van sy God, te hoor.
Net soos Elia, word ons dalk met ontsag vervul deur die indrukwekkende natuurkragte wat ons in die skepping sien, en heel tereg. Die skepping weerspieël die Skepper se krag op ’n treffende wyse (Romeine 1:20). Jehovah is nog steeds gretig om sy onbeperkte mag te gebruik om sy getroue knegte te help (2 Kronieke 16:9). Maar God praat in die volste sin van die woord met ons deur sy Woord, die Bybel (Jesaja 30:21). In ’n sekere opsig is die Bybel soos daardie “kalm, sagte stem” waardeur Jehovah ons vandag lei, teregwys, aanmoedig en ons van sy liefde verseker.
Het Elia die vertroosting aanvaar wat Jehovah hom op die berg Horeb gegee het? Sonder twyfel! Kort voor lank was hy weer aan die gang en was hy weer die moedige, getroue profeet wat opgestaan het teen die boosheid van valse aanbidding. As ons, soos hy, die geïnspireerde woorde van God, “die vertroosting van die Skrif”, ter harte neem, sal ons die geloof van Elia kan navolg.—Romeine 15:4.
[Voetnote]
a Sien die “Volg hulle geloof na”-artikels “Hy het rein aanbidding verdedig” en “Hy was waaksaam en het gewag” in Die Wagtoring van 1 Januarie en 1 April 2008.
b Die bron van hierdie “kalm, sagte stem” was dalk dieselfde gees wat gebruik is om “Jehovah se woord”, wat in 1 Konings 19:9 genoem word, oor te dra. Vers 15 verwys eenvoudig na hierdie gees as “Jehovah”. Dit herinner ons dalk aan die geespersoon wat Jehovah gestuur het om Israel deur die wildernis te lei en van wie God gesê het: “My naam is in hom” (Eksodus 23:21). Ons kan natuurlik nie dogmaties hieroor wees nie, maar dit is opmerkenswaardig dat Jesus in sy voormenslike bestaan as “die Woord”, Jehovah se spesiale Woordvoerder aan Sy knegte, gedien het.—Johannes 1:1.
[Prent op bladsy 19]
Jehovah het Elia in goeie sowel as slegte tye grootliks geseën
[Prent op bladsy 20]
Elia het in groot benoudheid sy hart voor Jehovah uitgestort
[Prent op bladsy 21]
Jehovah het sy ontsagwekkende krag gebruik om Elia te vertroos en aan te moedig