Het jy geweet?
Waarom was die Jode teen Jesus se tyd so wyd verspreid?
Toe Jesus vir ’n groep toehoorders gesê het dat hulle nie kan kom waar hy gaan nie, het die Jode hulle afgevra: “Waarheen is hierdie man van plan om te gaan . . . ? Hy is nie miskien van plan om na die Jode te gaan wat onder die Grieke verstrooi is . . . nie?” (Johannes 7:32-36). Kort daarna het Christensendelinge die goeie nuus onder Jode verkondig wat oral in die Middellandse Seegebied verstrooi was.—Handelinge 2:5-11; 9:2; 13:5, 13, 14; 14:1; 16:1-3; 17:1; 18:12, 19; 28:16, 17.
Hierdie verstrooiing, of Diaspora, het plaasgevind omdat die Jode deur verowerende nasies uit hulle vaderland in ballingskap weggevoer is—eers deur die Assiriërs, in 740 v.G.J., toe deur die Babiloniërs, in 607 v.G.J. Net ’n oorblyfsel van die ballinge het ooit na Israel teruggekeer (Jesaja 10:21, 22). Die res het verstrooid gebly.
In die vyfde eeu v.G.J. was daar dus Joodse gemeenskappe in die 127 regsgebiede van die Persiese Ryk (Ester 1:1; 3:8). Joodse pogings om persone tot Judaïsme te bekeer, het beteken dat ’n groot aantal mense mettertyd ’n mate van kennis gehad het van Jehovah en van die Wet wat hy aan die Jode gegee het (Matteus 23:15). Jode uit baie lande was vir die Pinksterfees van 33 G.J. in Jerusalem teenwoordig, waar hulle die goeie nuus oor Jesus gehoor het. Gevolglik het die verstrooiing van die Jode dwarsdeur die Romeinse Ryk tot die vinnige verspreiding van die Christelike godsdiens bygedra.
Hoeveel goud het koning Salomo besit?
Die Skrif sê dat Hiram, die koning van Tirus, vier ton goud vir Salomo gestuur het, dat die koningin van Skeba hom ’n soortgelyke hoeveelheid gegee het en dat Salomo se vloot meer as 14 ton goud van Ofir gebring het. “Die gewig van die goud wat in een jaar na Salomo toe gekom het”, sê die verslag, “was seshonderd-ses-en-sestig talente goud”, of meer as 22 ton (1 Konings 9:14, 28; 10:10, 14). Is dit geloofwaardig? Hoe groot was koninklike goudreserwes in die ou tyd?
’n Ou inskripsie, wat geleerdes as geloofwaardig beskou, sê dat farao Toetmosis III van Egipte (tweede millennium v.G.J.) ongeveer 12 ton goud aan die tempel van Amon-Ra by Karnak gegee het. Gedurende die agtste eeu v.G.J. het die Assiriese koning Tiglat-Pileser III meer as 4 ton goud as skatting van Tirus ontvang, en Sargon II het dieselfde hoeveelheid goud as ’n gawe aan die gode van Babilon gegee. Koning Philippus II van Masedonië (359-336 v.G.J.) het volgens berig elke jaar meer as 25 ton goud uit die myne van Pangaeum in Trasië ontgin.
Toe Philippus se seun Aleksander die Grote (336-323 v.G.J.) die Persiese stad Susa ingeneem het, het hy na bewering sowat 1 070 ton goud daaruit geneem en meer as 6 000 ton uit die hele Persië. Wanneer die Bybel se beskrywing van koning Salomo se goud dus met hierdie berigte vergelyk word, is dit nie oordrewe nie.