Jehovah se Woord is lewend
Glanspunte uit die boek Eerste Kronieke
SOWAT 77 jaar het verloop sedert die Jode uit Babiloniese ballingskap na hulle vaderland teruggekeer het. Die tempel wat deur goewerneur Serubbabel herbou is, staan nou al 55 jaar. Die hoofrede vir die Jode se terugkeer was om ware aanbidding in Jerusalem te herstel. Maar die volk toon ’n gebrek aan ywer vir Jehovah se aanbidding. Daar is ’n dringende behoefte aan aanmoediging, en dit is presies wat die Bybelboek Eerste Kronieke voorsien.
Eerste Kronieke bevat nie net geslagsregisters nie, maar dek ook ’n tydperk van sowat 40 jaar, vanaf die dood van koning Saul tot die dood van koning Dawid. Daar word gemeen dat hierdie boek deur die priester Esra geskryf is, in die jaar 460 v.G.J. Eerste Kronieke is vir ons van belang omdat dit insig gee in die aanbidding by die tempel en besonderhede voorsien oor die geslagslyn van die Messias. As deel van die geïnspireerde Woord van God versterk die boodskap daarin ons geloof en verbeter dit ons begrip van die Bybel.—Hebreërs 4:12.
’N BETEKENISVOLLE REGISTER VAN NAME
Die uitvoerige geslagslys wat Esra saamstel, is om ten minste drie redes noodsaaklik: om te verseker dat net gemagtigde manne as priesters dien, om stamerfdele te help bepaal en om die register te bewaar van die geslagslyn wat na die Messias lei. Die register voer die Jode se geskiedenis terug tot by die eerste mens. Tien geslagte neem ons van Adam tot by Noag, en nog tien neem ons tot by Abraham. Nadat die verslag die seuns van Ismael, die seuns van Abraham se byvrou Ketura en die seuns van Esau noem, konsentreer dit op die geslagslyn van die 12 seuns van Israel.—1 Kronieke 2:1.
’n Uitvoerige verslag word gegee van die nakomelinge van Juda, omdat die koninklike lyn van koning Dawid uit hulle voortspruit. Daar is 14 geslagte van Abraham tot by Dawid, en nog 14 tot by die wegvoering na Babilon (1 Kronieke 1:27, 34; 2:1-15; 3:1-17; Matteus 1:17). Esra noem dan nakomelinge van die stamme aan die oostekant van die Jordaan, en daarna word die geslagsregister van die kinders van Levi gegee (1 Kronieke 5:1-24; 6:1). Dan volg ’n samevatting van party van die ander stamme wes van die Jordaanrivier en van die lyn van Benjamin in besonderhede (1 Kronieke 8:1). Die name van die eerste inwoners van Jerusalem ná die Babiloniese gevangenskap word ook gegee.—1 Kronieke 9:1-16.
Skriftuurlike vrae beantwoord:
1:18—Wie was Selag se vader—Kainan of Arpagsad? (Lukas 3:35, 36). Arpagsad was die vader van Selag (Genesis 10:24; 11:12). Die woord “Kainan” in Lukas 3:36 is heel waarskynlik ’n vervorming van die woord “Galdeërs”. As dit die geval is, het die oorspronklike teks moontlik “die seun van die Galdeër Arpagsad” gesê. Of dit kan wees dat die name Kainan en Arpagsad na een en dieselfde persoon verwys. Die feit dat die uitdrukking “seun van Kainan” nie in party manuskripte voorkom nie, moenie oor die hoof gesien word nie.—Lukas 3:36, voetnoot in NW.
2:15—Was Dawid die sewende seun van Isai? Nee. Isai het agt seuns gehad, en Dawid was die jongste (1 Samuel 16:10, 11; 17:12). Een van die seuns van Isai het klaarblyklik kinderloos gesterf. Aangesien hierdie seun geen invloed op die geslagsregisters sou hê nie, het Esra sy naam uitgelaat.
3:17—Waarom word Jegonja se seun Sealtiël in Lukas 3:27 die seun van Neri genoem? Jegonja was Sealtiël se vader. Maar Neri het blykbaar sy dogter vir Sealtiël as vrou gegee. Lukas het na Neri se skoonseun as Neri se seun verwys, net soos hy in die geval van Josef gedoen het, wat hy die seun van Maria se vader, Heli, genoem het.—Lukas 3:23.
3:17-19—Hoe was Serubbabel, Pedaja en Sealtiël aan mekaar verwant? Serubbabel was ’n seun van Pedaja, wat ’n broer van Sealtiël was. Maar die Bybel noem Serubbabel soms die seun van Sealtiël (Matteus 1:12; Lukas 3:27). Dit kan wees dat Pedaja gesterf het en Sealtiël Serubbabel grootgemaak het. Of dalk het Sealtiël kinderloos gesterf en het Pedaja ’n swaershuwelik gesluit en was Serubbabel die eersgeborene uit daardie huwelik.—Deuteronomium 25:5-10.
5:1, 2—Wat het dit vir Josef beteken om die eersgeboortereg te ontvang? Dit het beteken dat Josef ’n dubbele deel van die erfenis ontvang het (Deuteronomium 21:17). Hy het dus die vader geword van twee stamme—Efraim en Manasse. Die ander seuns van Israel was elkeen die vader van net een stam.
Lesse vir ons:
1:1–9:44. Die geslagsregisters van werklike mense bewys dat die hele reëling van ware aanbidding nie gegrond is op mites nie, maar op feite.
4:9, 10. Jehovah het Jabes se vurige gebed verhoor waarin hy gevra het dat sy gebied op vreedsame wyse vergroot word sodat meer godvresende mense daar kon woon. Ons moet ook hartgrondige gebede doen vir vermeerdering terwyl ons ywerig aan die dissipelmaakwerk deelneem.
5:10, 18-22. In die dae van koning Saul het die stamme oos van die Jordaan die Hagriete verslaan, al het hierdie stamme teen ’n oormag van meer as 2 teen 1 geveg. Dit was omdat die dapper manne van hierdie stamme op Jehovah vertrou het en hulle tot hom gewend het om hulp. Laat ons volkome op Jehovah vertrou terwyl ons ons geestelike stryd teen ’n groot oormag voer.—Efesiërs 6:10-17.
9:26, 27. Die Levitiese poortwagters het ’n baie verantwoordelike posisie beklee. Hulle is die sleutel gegee vir die ingang na die heilige gedeeltes van die tempel. Hulle het die poorte elke dag getrou oopgemaak. Aan ons is die verantwoordelikheid toevertrou om die mense in ons gebied te bereik en hulle te help om aanbidders van Jehovah te word. Moet ons nie net so betroubaar soos die Levitiese poortwagters wees nie?
DAWID REGEER AS KONING
Die vertelling begin waar koning Saul en sy drie seuns sterf in die geveg teen die Filistyne op die berg Gilboa. Dawid, die seun van Isai, word koning gemaak oor die stam Juda. Manne uit al die stamme kom na Hebron en maak hom koning oor die hele Israel (1 Kronieke 11:1-3). Kort daarna neem hy Jerusalem in. Later bring die Israeliete die verbondsark na Jerusalem “met gejuig en met die geskal van die horing . . . , terwyl hulle hard op snaarinstrumente en harpe [speel]”.—1 Kronieke 15:28.
Dawid spreek die begeerte uit om ’n huis vir die ware God te bou. Jehovah bepaal dat Salomo daardie voorreg sal hê, maar sluit ’n verbond met Dawid vir ’n Koninkryk. Terwyl Dawid sy veldtog teen Israel se vyande voortsit, gee Jehovah hom die een oorwinning ná die ander. As gevolg van ’n onwettige sensus sterf 70 000 mense. Nadat hy deur middel van ’n engel die opdrag ontvang het om ’n altaar vir Jehovah te bou, koop Dawid ’n stuk grond van Ornan die Jebusiet. Dawid begin “baie voorbereidings” tref sodat ’n huis vir Jehovah, wat “alles in luisterrykheid oortref”, op daardie plek gebou kan word (1 Kronieke 22:5). Dawid organiseer Levitiese dienste, wat hier in groter besonderhede beskryf word as op enige ander plek in die Skrif. Die koning en die volk gee ruimhartige bydraes vir die tempel. Ná ’n bewind van 40 jaar sterf Dawid, “versadig van dae, rykdom en eer; en sy seun Salomo [begin] in sy plek . . . regeer”.—1 Kronieke 29:28.
Skriftuurlike vrae beantwoord:
11:11—Waarom is die getal van die gesneuweldes 300 en nie 800 soos die parallelle verslag in 2 Samuel 23:8 sê nie? Die hoof van Dawid se drie dapperste manne was Jasobeam, of Joseb-Bassebet. Die ander twee sterk manne was Eleasar en Samma (2 Samuel 23:8-11). Die rede waarom die twee verslae verskil, is heel moontlik omdat dit na verskillende dade verwys wat deur dieselfde man verrig is.
11:20, 21—Wat was Abisai se posisie ten opsigte van die drie vernaamste sterk manne van Dawid? Abisai was nie een van die drie sterkste manne wat Dawid gedien het nie. Maar soos in 2 Samuel 23:18, 19 genoem word, was hy die hoof van 30 krygsmanne en het hy meer aansien as enige van hulle geniet. Abisai se reputasie het dié van die drie vernaamste sterk manne geëwenaar omdat hy ’n magtige daad soortgelyk aan dié van Jasobeam verrig het.
12:8—In watter opsig was die gesigte van die Gaditiese krygsmanne soos “leeugesigte”? Hierdie dapper manne was in die wildernis aan Dawid se sy. Hulle hare het lank geword. Hierdie lang hare het hulle ’n angswekkende, leeuagtige voorkoms gegee.
13:5—Wat is “die rivier van Egipte”? Party mense het gedink dat hierdie uitdrukking na ’n sytak van die Nylrivier verwys. Maar daar word oor die algemeen aanvaar dat dit verwys na “die stroomvallei van Egipte”—’n lang kloof wat die suidwestelike grens van die Beloofde Land vorm.—Numeri 34:2, 5; Genesis 15:18.
16:30—Wat beteken dit om ‘ineen te krimp van pyn’ weens Jehovah? Die woord “pyn” word hier figuurlik gebruik om eerbiedige vrees en groot ontsag vir Jehovah voor te stel.
16:1, 37-40; 21:29, 30; 22:19—Watter reëling vir aanbidding het in Israel voortgeduur van die tyd af dat die Ark na Jerusalem gebring is totdat die tempel gebou is? Toe Dawid die Ark na Jerusalem gebring het en dit binne-in die tent geplaas het wat hy gemaak het, was die Ark reeds jare lank nie in die tabernakel nie. Nadat die Ark verskuif is, het dit in daardie tent in Jerusalem gebly. Die tabernakel was in Gibeon, waar die hoëpriester Sadok en sy broers offerandes gebring het wat deur die Wet voorgeskryf is. Hierdie reëling het voortgeduur tot die voltooiing van die tempel in Jerusalem. Toe die tempel gereed was, is die tabernakel van Gibeon na Jerusalem gebring, en die Ark is in die Allerheiligste van die tempel geplaas.—1 Konings 8:4, 6.
Lesse vir ons:
13:11. Ons moenie kwaad word en Jehovah die skuld gee wanneer ons pogings misluk nie, maar ons moet eerder die situasie ontleed en probeer sien wat die oorsaak van die mislukking was. Dawid het dit ongetwyfeld gedoen. Hy het uit sy fout geleer en die Ark later met welslae na Jerusalem gebring toe hy die regte metode gevolg het.a
14:10, 13-16; 22:17-19. Ons moet Jehovah altyd in gebed nader en sy leiding vra voordat ons enigiets aanpak wat ons geestelik sal raak.
16:23-29. Jehovah se aanbidding moet die eerste plek in ons lewe beklee.
18:3. Jehovah is die Vervuller van sy beloftes. Deur Dawid het hy sy belofte vervul om die hele land Kanaän, “van die rivier van Egipte af tot by die groot rivier, die Eufraatrivier”, aan Abraham se saad te gee.—Genesis 15:18; 1 Kronieke 13:5.
21:13-15. Jehovah het die engel beveel om die plaag te stuit omdat Hy sensitief is vir die lyding van Sy volk. Ja, “sy barmhartighede is oorvloedig”.b
22:5, 9; 29:3-5, 14-16. Hoewel Dawid nie die opdrag gekry het om Jehovah se tempel te bou nie, het hy ’n vrygewige gees geopenbaar. Waarom? Omdat hy besef het dat alles wat hy verkry het, te danke was aan Jehovah se goedheid. Soortgelyke gevoelens van dankbaarheid moet ons beweeg om ’n vrygewige gees te openbaar.
24:7-18. Die reëling van 24 priesterlike afdelings wat deur Dawid ingestel is, was in werking toe Jehovah se engel aan Sagaria, die vader van Johannes die Doper, verskyn het en die komende geboorte van Johannes aangekondig het. As ’n lid van “die afdeling van Abia” was dit op daardie tydstip Sagaria se beurt om diens in die tempel te verrig (Lukas 1:5, 8, 9). Ware aanbidding draai om geskiedkundige figure—nie mitologiese figure nie. Ons sal seëninge ontvang as ons vandag lojaal met “die getroue en verstandige slaaf” saamwerk in die goed georganiseerde aanbidding van Jehovah.—Matteus 24:45.
Dien Jehovah “met ’n gewillige siel”
Eerste Kronieke handel nie net oor geslagsregisters nie. Dit handel ook oor hoe Dawid die verbondsark na Jerusalem gebring het, oor sy groot oorwinnings, die voorbereidings vir die bou van die tempel en die organisering van die Leviete se priesterlike diensafdelings. Alles wat Esra in Eerste Kronieke vertel, het die Israeliete ongetwyfeld tot voordeel gestrek en hulle gehelp om hulle ywer vir Jehovah se aanbidding by die tempel te hernieu.
Wat ’n goeie voorbeeld het Dawid tog daarin gestel om Jehovah se aanbidding eerste in sy lewe te stel! Dawid het nie daarna gestreef om spesiale voorregte vir homself te verkry nie, maar het eerder God se wil probeer doen. Ons word aangemoedig om sy raad toe te pas om Jehovah “met ’n volkome hart en met ’n gewillige siel” te dien.—1 Kronieke 28:9.
[Voetnote]
a Vir ander lesse oor Dawid se poging om die Ark na Jerusalem te vervoer, sien Die Wagtoring van 15 Mei 2005, bladsye 16-19.
b Vir ander lesse wat verband hou met Dawid se onwettige volkstelling, sien Die Wagtoring van 15 Mei 2005, bladsye 16-19.
[Tabel/Prente op bladsy 8-11]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
Die geslagte van Adam tot Noag (1 056 jaar)
4026 v.G.J. Adam
130 jaar ⇩
Set
105 ⇩
Enos
90 ⇩
Kenan
70 ⇩
Mahalalel
65 ⇩
Jered
162 ⇩
Henog
65 ⇩
Metusalag
187 ⇩
Lameg
182 ⇩
2970 v.G.J. NOAG gebore
Die geslagte van Noag tot Abraham (952 jaar)
2970 v.G.J. Noag
502 jaar ⇩
Sem
100 ⇩
DIE VLOED 2370 v.G.J.
Arpagsad
35 ⇩
Selag
30 ⇩
Eber
34 ⇩
Peleg
30 ⇩
Rehu
32 ⇩
Serug
30 ⇩
Nahor
29 ⇩
Tera
130 ⇩
2018 v.G.J. ABRAHAM gebore
van Abraham tot Dawid: 14 geslagte (911 jaar)
2018 v.G.J. Abraham
100 j.
Isak
60 ⇩
Jakob
ca.88 ⇩
Juda
⇩
Peres
⇩
Hesron
⇩
Ram
⇩
Amminadab
⇩
Nagson
⇩
Salmon
⇩
Boas
⇩
Obed
⇩
Isai
⇩
1107 v.G.J. DAWID gebore