Herken jy die teken van Jesus se teenwoordigheid?
NIEMAND wil ernstig siek wees of deur ’n ramp getref word nie. Om sulke rampspoed te vermy, sal ’n wyse persoon op die gevaartekens ag slaan en dienooreenkomstig optree. Jesus Christus het ’n spesifieke teken beskryf wat ons moet herken. Die teken waarna hy verwys het, sou ’n wêreldwye impak hê en sou die hele mensdom raak. Dit sluit jou en jou gesin in.
Jesus het gepraat van die Koninkryk van God, wat goddeloosheid sal verwyder en die aarde in ’n paradys sal omskep. Sy dissipels was nuuskierig hieroor en wou weet wanneer daardie Koninkryk sou kom. Hulle het gevra: “Wat sal die teken van u teenwoordigheid en van die voleinding van die stelsel van dinge wees?”—Matteus 24:3.
Jesus het geweet dat daar ná sy teregstelling en opstanding eeue sou verloop voordat hy in die hemel as die Messiaanse Koning gekroon sou word om oor die mensdom te heers. Aangesien sy kroning vir mense onsigbaar sou wees, het Jesus ’n teken gegee wat sy volgelinge in staat sou stel om sy “teenwoordigheid” sowel as “die voleinding van die stelsel van dinge” te herken. Hierdie teken bestaan uit verskeie fasette wat ’n saamgestelde identifiserende kenmerk uitmaak—die teken van Jesus se teenwoordigheid.
Die evangelieskrywers Matteus, Markus en Lukas het almal Jesus se antwoord noukeurig opgeteken (Matteus hoofstukke 24 en 25; Markus hoofstuk 13; Lukas hoofstuk 21). Ander Bybelskrywers het besonderhede by die teken gevoeg (2 Timoteus 3:1-5; 2 Petrus 3:3, 4; Openbaring 6:1-8; 11:18). Die ruimte ontbreek om al die besonderhede noukeurig te ondersoek, maar ons sal kyk na vyf sleutelelemente wat die teken uitmaak wat Jesus genoem het. Jy sal vind dat dit op jóú betrekking het en vir jóú van belang is.—Sien venster op bladsy 6.
“’n Ongeëwenaarde verandering”
“Nasie sal teen nasie opstaan en koninkryk teen koninkryk” (Matteus 24:7). Volgens die Duitse nuustydskrif Der Spiegel het mense voor 1914 “geglo in ’n goue toekoms met meer vryheid, vooruitgang en voorspoed”. Toe het alles verander. “Die oorlog wat in Augustus 1914 begin en in November 1918 geëindig het, was ’n skrikwekkende gebeurtenis. Dit het ’n geskiedkundige skeidslyn gevorm wat die oue van die nuwe geskei het”, sê die tydskrif GEO. Meer as 60 miljoen soldate van vyf vastelande was gewikkel in wrede oorlogvoering. Gemiddeld 6 000 soldate is elke dag doodgemaak. Sedertdien is geskiedkundiges uit elke geslag en van alle politieke oortuigings van mening dat “die jare van 1914 tot 1918 ’n ongeëwenaarde verandering teweeggebring het”.
Die Eerste Wêreldoorlog het onherroeplike veranderinge op die mensegemeenskap afgedwing en die mensdom die laaste dae van hierdie stelsel van dinge laat ingaan. Die res van daardie eeu is gekenmerk deur nog oorloë, gewapende konflikte en terrorisme. Dinge het nie in die vroeë jare van die huidige eeu verbeter nie. Benewens oorlog is ander fasette van die teken sigbaar.
Hongersnood, pessiektes en aardbewings
“Daar sal voedseltekorte . . . wees” (Matteus 24:7). Hongersnood het Europa gedurende die Eerste Wêreldoorlog getref, en sedertdien teister dit die mensdom. Volgens die geskiedskrywer Alan Bullock het daar in 1933 in Rusland en die Oekraïne “hordes verhongerde mense op die platteland rondgedwaal . . . Hope lyke het langs die paaie gelê.” In 1943 het die joernalis T. H. White hongersnood in die Chinese provinsie Henan gesien. Hy het geskryf: “Tydens ’n hongersnood word amper enigiets eetbaar en kan dit gemaal, ingeneem en deur die menseliggaam in energie omgesit word. Maar iemand moet eers die dood in die gesig staar voordat hy daaraan sal dink om iets te eet wat tot op daardie stadium oneetbaar was.” In Afrika het hongersnood ongelukkig gedurende onlangse dekades amper iets algemeens geword. Hoewel die aarde genoeg voedsel vir almal oplewer, skat die VN se Voedsel- en Landbou-organisasie dat 840 miljoen mense regoor die wêreld te min het om te eet.
“Op die een plek na die ander pessiektes” (Lukas 21:11). “Daar word geskat dat die Spaanse griep tussen 20 miljoen en 50 miljoen mense in 1918 doodgemaak het, meer as die pes of die Eerste Wêreldoorlog”, berig die Süddeutsche Zeitung. Sedertdien is tallose mense geteister deur siektes soos malaria, pokke, tering, polio en cholera. En die wêreld kyk verslae toe terwyl vigs onverpoos versprei. Ons het nou te kampe met die onbegryplike situasie dat hardnekkige siektes ondanks verbasende mediese vooruitgang voortbestaan. Hierdie paradoks, wat tot dusver vir die mensdom onbekend was, help ons om ons buitengewone tye te identifiseer.
“Aardbewings” (Matteus 24:7). Gedurende die afgelope 100 jaar het aardbewings die lewens van honderdduisende mense uitgeblus. Volgens een bron was daar sedert 1914 gemiddeld 18 aardbewings per jaar wat kragtig genoeg is om geboue te beskadig en die grond te laat oopskeur. Dodeliker aardbewings, wat kragtig genoeg is om geboue plat te vee, het ongeveer een keer per jaar plaasgevind. Ondanks tegnologiese vooruitgang bly die sterftesyfer hoog omdat talle vinnig groeiende stede op aardbewingslyne geleë is.
Welkome nuus!
Die meeste fasette van die teken van die laaste dae is kommerwekkend. Maar Jesus het ook melding gemaak van welkome nuus.
“Hierdie goeie nuus van die koninkryk sal in die hele bewoonde aarde verkondig word as ’n getuienis vir al die nasies” (Matteus 24:14). Die werk wat Jesus self begin het—die verkondiging van die goeie nuus van die Koninkryk—sou gedurende die laaste dae ’n hoogtepunt bereik. Dit is waarlik die geval. Jehovah se Getuies verkondig die Bybel se boodskap en leer gewillige mense om in hulle daaglikse lewe toe te pas wat hulle leer. Tans doen meer as sesmiljoen Getuies die predikingswerk in 235 lande en in meer as 400 tale.
Let op dat Jesus nie gesê het dat die lewe tot stilstand sou kom weens die kommerwekkende wêreldtoestande nie. Hy het ook nie gesê dat die hele wêreld deur een faset van die teken getref sou word nie. Maar hy het wel baie gebeurtenisse voorspel wat saam ’n teken sou uitmaak wat op enige plek op die aarde geïdentifiseer sou kon word.
Sien jy, wanneer jy verder as enkele of alleenstaande voorvalle kyk, ’n patroon, ’n saamgestelde teken van wêreldbelang? Die dinge wat gebeur, raak jou en jou gesin. Maar waarom, vra ons dalk, slaan so min mense daarop ag?
Eie belange kom eerste
“Swem verbode”, “Hoë elektriese spanning”, “Verminder spoed”. Dit is van die tekens en waarskuwings wat ons sien, maar wat dikwels geïgnoreer word. Waarom? Ons word maklik gelei deur wat ons dink in ons eie belang is. Byvoorbeeld, ons voel dalk dat ons vinniger moet ry as wat die wet toelaat, of ons wil moontlik baie graag swem waar dit verbode is. Maar dit is onverstandig om tekens te ignoreer.
Byvoorbeeld, sneeustortings in die Alpe van Oostenryk, Frankryk, Italië en Switserland eis soms die lewens van toeriste wat waarskuwings ignoreer om net op veilige roetes te ski of sneeuplank te ry. Volgens die Süddeutsche Zeitung lewe baie van die toeriste wat sulke waarskuwings ignoreer, volgens die leuse: Geen risiko, geen pret. Ongelukkig kan dit tragiese gevolge hê wanneer mense waarskuwings ignoreer.
Waarom neem mense geen notisie van die teken wat deur Jesus beskryf is nie? Hulle is moontlik verblind deur hebsug, ongevoelig weens apatie, verlam deur besluiteloosheid, vasgevang in ’n roetine of vreesbevange dat hulle aansien sal verloor. Veroorsaak enige van hierdie dinge dalk dat jy die teken van Jesus se teenwoordigheid ignoreer? Sou dit nie verstandiger wees om die teken te herken en dienooreenkomstig op te tree nie?
Die lewe op ’n paradysaarde
Al hoe meer mense slaan ag op die teken van Jesus se teenwoordigheid. Kristian, ’n jong getroude man in Duitsland, skryf: “Dit is donker tye. Ons lewe ongetwyfeld in ‘die laaste dae’.” Hy en sy vrou bestee baie tyd daaraan om met ander oor die Messiaanse Koninkryk te praat. Frank woon in dieselfde land. Hy en sy vrou moedig ander aan met goeie nuus uit die Bybel. Frank sê: “Baie mense is vandag bekommerd oor die toekoms weens die situasie in die wêreld. Ons probeer hulle aanmoedig met Bybelprofesieë oor ’n paradysaarde.” Kristian en Frank het dus ’n aandeel daaraan om een faset van Jesus se teken te vervul—die verkondiging van die goeie nuus van die Koninkryk.—Matteus 24:14.
Wanneer die laaste dae hulle hoogtepunt bereik, sal Jesus hierdie ou stelsel en die mense wat dit ondersteun, uitwis. Die Messiaanse Koninkryk sal dan sake bestuur op die aarde, wat in ’n paradys omskep sal word, soos voorspel is. Die mensdom sal bevry word van siekte en die dood, en die dooies sal opgewek word tot lewe op die aarde. Dit is die wonderlike vooruitsigte van diegene wat die teken van die tye herken. Sal dit nie verstandig wees om meer te leer oor die teken en wat ’n mens moet doen om die einde van hierdie stelsel te oorleef nie? Dit moet beslis vir almal ’n baie dringende saak wees.—Johannes 17:3.
[Lokteks op bladsy 4]
Jesus het baie gebeurtenisse voorspel wat saam ’n teken sou uitmaak wat op enige plek op die aarde geïdentifiseer sou kon word
[Lokteks op bladsy 6]
Sien jy ’n patroon, ’n saamgestelde teken van wêreldbelang?
[Venster/Prente op bladsy 4]
KENMERKE VAN DIE LAASTE DAE
Ongeëwenaarde oorlogvoering.—Matteus 24:7; Openbaring 6:4
Hongersnood.—Matteus 24:7; Openbaring 6:5, 6, 8
Pessiektes.—Lukas 21:11; Openbaring 6:8
Toenemende wetteloosheid.—Matteus 24:12
Aardbewings.—Matteus 24:7
Kritieke tye wat moeilik is om deur te kom.—2 Timoteus 3:1
’n Oordrewe liefde vir geld.—2 Timoteus 3:2
Ongehoorsaamheid aan ouers.—2 Timoteus 3:2
’n Gebrek aan natuurlike geneentheid.—2 Timoteus 3:3
Liefde vir genot eerder as vir God.—2 Timoteus 3:4
’n Gebrek aan selfbeheersing.—2 Timoteus 3:3
Geen liefde vir die goeie nie.—2 Timoteus 3:3
Mense wat geen ag slaan op dreigende gevaar nie.—Matteus 24:39
Spotters wat bewyse van die laaste dae verwerp.—2 Petrus 3:3, 4
Wêreldwye verkondiging van God se Koninkryk.—Matteus 24:14
[Foto-erkennings op bladsy 5]
Soldate uit Eerste Wêreldoorlog: From the book The World War—A Pictorial History, 1919; arm gesin: AP Photo/Aijaz Rahi; polioslagoffer: © WHO/P. Virot