Kom nader aan God
‘Hy sal hom deur jou laat vind’
KEN jy God? Die antwoord op hierdie vraag is nie so eenvoudig soos wat dit dalk klink nie. Om God werklik te ken, behels dat ons goed vertroud raak met sy wil en weë. Sodoende bou ons ’n hegte verhouding met hom op wat ’n diepgaande uitwerking op ons hele lewenswyse het. Is so ’n hegte verhouding werklik moontlik? Indien wel, hoe kan ons dit verkry? Die antwoorde kan gevind word in koning Dawid se raad aan sy seun Salomo in 1 Kronieke 28:9.
Stel jou die toneel voor. Dawid het byna 40 jaar lank oor Israel regeer, en die nasie was voorspoedig onder sy heerskappy. Salomo, wat hom binnekort sal opvolg, is baie jonk (1 Kronieke 29:1). Watter afskeidsraad gee Dawid aan sy seun?
Dawid praat uit sy ryk ondervinding in God se diens en begin deur te sê: “My seun Salomo, ken die God van jou vader.” Dawid praat sekerlik van iets meers as kopkennis. Salomo is alreeds ’n aanbidder van Dawid se God, Jehovah. Omtrent ’n derde van die Hebreeuse Geskrifte is al voltooi, en Salomo is ongetwyfeld bewus van wat hierdie heilige geskrifte oor God sê. Volgens een geleerde kan die Hebreeuse woord wat as “ken” vertaal word, na “die intiemste bekende” verwys. Ja, Dawid wil hê dat sy seun moet aankweek wat Dawid self gekoester het—’n hegte persoonlike verhouding met God.
So ’n intieme verhouding behoort ’n groot uitwerking op Salomo se lewensuitkyk en lewenswyse te hê. Dawid vermaan sy seun: “Dien hom [God] met ’n volkome hart en met ’n gewillige siel.”a Let op dat die bevel om God te dien, ná die vermaning kom om hom te ken. Ware kennis van God lei daartoe dat ’n persoon hom dien. Maar hy moet nie met halfhartige huiwering of dubbelhartige huigelary gedien word nie (Psalm 12:2; 119:113). Dawid smeek sy seun om God heelhartig en gewillig te dien.
Waarom spoor Dawid sy seun aan om met die regte beweegrede en denkwyse te aanbid? Dawid verduidelik: “Want Jehovah deursoek alle harte, en hy onderskei elke neiging van die gedagtes.” Salomo moet God nie dien net om sy vader, Dawid, gelukkig te maak nie. God soek diegene wie se hart opreg tot Hom geneig is.
Sal Salomo sy vader se voorbeeld volg en nader aan Jehovah kom? Dit hang van Salomo af. Dawid sê vir sy seun: “As jy hom soek, sal hy hom deur jou laat vind; maar as jy hom verlaat, sal hy jou vir ewig verstoot.” Om ’n aanbidder te word wat na aan God is, moet Salomo hom werklik inspan om Jehovah te leer ken.b
Dawid se vaderlike raad verseker ons dat Jehovah wil hê dat ons ’n hegte verhouding met hom moet aankweek. Maar om so ’n verhouding aan te kweek, moet ons “hom soek” deur in die Skrif te delf in ’n poging om hom intiem te leer ken. As ons hom ken, behoort dit ons te beweeg om hom heelhartig en gewillig te dien. Jehovah verlang—en verdien—niks minders van sy aanbidders nie.—Matteus 22:37.
[Voetnote]
a Party vertalings sê hier: “Dien hom met jou hele hart en ’n gewillige verstand.”
b Hoewel Salomo wel met ’n volkome hart begin dien het, het hy ongelukkig nie getrou gebly nie.—1 Konings 11:4.