Jehovah se Woord is lewend
Glanspunte uit die boek Tweede Kronieke
DIE Bybelboek Tweede Kronieke begin waar Salomo as koning oor Israel regeer. Die boek eindig met hierdie woorde van die Persiese koning Kores aan die Jode in ballingskap in Babilonië: “[Jehovah] het my opgedra om vir hom ’n huis te bou in Jerusalem, wat in Juda is. Wie daar ook al onder julle is van sy hele volk, mag Jehovah sy God met hom wees. En laat hom optrek [na Jerusalem]” (2 Kronieke 36:23). Die boek is in 460 v.G.J. deur die priester Esra voltooi en dek ’n tydperk van 500 jaar—van 1037 v.G.J. tot 537 v.G.J.
Kores se verordening maak dit vir die Jode moontlik om na Jerusalem terug te keer en Jehovah se aanbidding daar te herstel. Maar die jarelange ballingskap in Babilon het sy tol geëis. Die ballinge wat teruggekeer het, het nie genoeg kennis van hulle volksgeskiedenis nie. Tweede Kronieke gee hulle ’n duidelike opsomming van gebeure tydens die bewind van konings in die koninklike lyn van Dawid. Die verslag is ook vir ons van belang omdat dit benadruk watter seëninge gehoorsaamheid aan die ware God meebring en watter gevolge ongehoorsaamheid aan hom inhou.
’N KONING BOU ’N HUIS VIR JEHOVAH
Jehovah gee koning Salomo die versoek van sy hart—wysheid en kennis—tesame met rykdom en eer. Die koning bou ’n luisterryke huis vir Jehovah in Jerusalem, en die volk is “vreugdevol en vrolik van hart” (2 Kronieke 7:10). Salomo word “in rykdom en wysheid groter as al die ander konings van die aarde”.—2 Kronieke 9:22.
Nadat Salomo 40 jaar lank in Israel regeer het, ‘ontslaap hy met sy voorvaders, en sy seun Rehabeam begin in sy plek regeer’ (2 Kronieke 9:31). Esra meld nie dat Salomo van ware aanbidding afgewyk het nie. Die enigste negatiewe dinge wat oor die koning genoem word, is sy onwyse aanskaffing van baie perde uit Egipte en sy huwelik met die dogter van Farao. Die kroniekskrywer bied die verslag dus uit ’n positiewe oogpunt aan.
Skriftuurlike vrae beantwoord:
2:14—Waarom verskil die geslagslyn wat hier vir die vakman aangegee word, van dié in 1 Konings 7:14? Eerste Konings verwys na die vakman se moeder as “’n weduwee uit die stam Naftali” omdat sy met ’n man uit daardie stam getrou het. Sy was egter self uit die stam Dan. Ná haar man se dood het sy met ’n man uit Tirus getrou, en die vakman is uit hierdie huwelik gebore.
2:18; 8:10—Hierdie verse sê dat die getal van die bestuurders wat as opsieners en as voormanne oor die arbeidsmag gedien het, 3 600 plus 250 was, maar volgens 1 Konings 5:16; 9:23 was hulle getal 3 300 plus 550. Waarom verskil die getalle? Die verskil is blykbaar weens die manier waarop die bestuurders ingedeel is. Dit is moontlik dat Tweede Kronieke ’n onderskeid tref tussen 3 600 nie-Israelitiese en 250 Israelitiese bestuurders, terwyl Eerste Konings 3 300 voormanne onderskei van 550 hooftoesighouers van ’n hoër rang. Hoe dit ook al sy, diegene wat as bestuurders gedien het, was altesaam 3 850.
4:2-4—Waarom is afbeeldings van bulle in die voetstuk van die gegote see gebruik? In die Skrif is bulle ’n simbool van krag (Esegiël 1:10; Openbaring 4:6, 7). Die keuse van bulle as ’n afbeelding was gepas, want die groot “see”, wat sowat 30 ton geweeg het, het op die 12 koperbulle gerus. Die feit dat bulle vir hierdie doel gemaak is, was geensins ’n oortreding van die tweede gebod nie, wat die maak van voorwerpe vir aanbidding verbied het.—Eksodus 20:4, 5.
4:5—Wat was die volle inhoudsmaat van die gegote see? Wanneer die see heeltemal vol was, het dit drieduisend bat, of omtrent 66- 000 liter, gehou. Maar normaalweg was dit moontlik sowat twee derdes vol. Eerste Konings 7:26 sê: “[Die see] het tweeduisend bat [44 000 liter] gehou.”
5:4, 5, 10—Watter toebehore uit die oorspronklike tabernakel is in Salomo se tempel gebruik? Die Ark was die enigste voorwerp uit die oorspronklike tent van samekoms wat in Salomo se tempel geplaas is. Nadat die tempel gebou is, is die tabernakel van Gibeon na Jerusalem geneem en blykbaar daar gehou.—2 Kronieke 1:3, 4.
Lesse vir ons:
1:11, 12. Salomo se versoek het aan Jehovah getoon dat die verkryging van wysheid en kennis die koning na aan die hart gelê het. Ons gebede tot God openbaar inderdaad wat ons na aan die hart lê. Dit is verstandig van ons om die inhoud van ons gebede te ondersoek.
6:4. Hartgrondige waardering vir Jehovah se liefderyke goedhartigheid en goedheid moet ons beweeg om Jehovah met geneentheid en dankbaarheid te loof.
6:18-21. Hoewel geen gebou God kan bevat nie, moes die tempel as die sentrum van Jehovah se aanbidding dien. Vandag is Koninkryksale van Jehovah se Getuies sentrums van ware aanbidding in die gemeenskap.
6:19, 22, 32. Enigiemand kon Jehovah nader—van die koning tot die geringstes in die nasie—selfs ’n uitlander wat in opregtheid tot hom gekom het.a—Psalm 65:2.
OPEENVOLGING VAN KONINGS IN DIE LYN VAN DAWID
Die verenigde koninkryk van Israel word in twee gedeel—die noordelike tienstammeryk en die suidelike tweestammeryk van Juda en Benjamin. Die priesters en die Leviete in die hele Israel stel lojaliteit aan die Koninkryksverbond bo nasionalisme en skaar hulle aan die kant van Salomo se seun Rehabeam. Net meer as 30 jaar nadat dit voltooi is, word die tempel van sy skatte beroof.
Vyf van die 19 konings ná Rehabeam is getrou, 3 begin goed maar word later ontrou en een keer hom af van sy verkeerde weg. Die res van die heersers doen wat sleg is in Jehovah se oë.b Die bedrywighede van die vyf konings wat hulle vertroue in Jehovah stel, word beklemtoon. Die verslag van Hiskia wat die tempeldienste weer instel en van Josia wat ’n groot Pasga reël, is sekerlik ’n groot aanmoediging vir die Jode wat graag wil sien dat Jehovah se aanbidding in Jerusalem herstel word.
Skriftuurlike vrae beantwoord:
13:5—Wat word bedoel met die uitdrukking “’n soutverbond”? Weens die preserverende eienskappe van sout het dit ’n simbool van permanensie en onveranderlikheid geword. “’n Soutverbond” dui dus op ’n bindende ooreenkoms.
14:2-5; 15:17—Het koning Asa al “die hoogtes” verwyder? Blykbaar het hy nie. Dit kan wees dat Asa net die hoogtes verwyder het wat met die aanbidding van valse gode verband gehou het, maar nie dié waar die volk Jehovah aanbid het nie. Dit kan ook wees dat die hoogtes weer gebou is in die latere jare van Asa se bewind. Sy seun Josafat het dit verwyder. In werklikheid het die hoogtes nie heeltemal verdwyn nie, selfs nie gedurende Josafat se bewind nie.—2 Kronieke 17:5, 6; 20:31-33.
15:9; 34:6—Watter standpunt het die stam Simeon ingeneem ten opsigte van die verdeling van die koninkryk van Israel? Aangesien die stam Simeon se erfdeel uit verskeie gebiede binne Juda se grondgebied bestaan het, was hulle geografies gesproke binne die koninkryk van Juda en Benjamin geleë (Josua 19:1). Maar wat godsdiens en die politiek betref, het die stam hulle aan die kant van die noordelike koninkryk geskaar (1 Konings 11:30-33; 12:20-24). Simeon is derhalwe saam met die tienstammeryk gereken.
16:13, 14—Is Asa veras? Nee, die “buitengewone groot begrafnisvuur” verwys nie na die verassing van Asa nie, maar na speserye wat gebrand is.—Voetnoot in NW.
35:3—Van waar af het Josia die heilige Ark in die tempel laat inbring? Die Bybel sê nie of die Ark vroeër deur een van die goddelose konings verwyder is of deur Josia na ’n veilige plek verskuif is tydens die omvattende herstelwerk aan die tempel nie. Die enigste geskiedkundige verwysing na die Ark wat ná Salomo se dag gemaak is, is toe Josia dit in die tempel ingebring het.
Lesse vir ons:
13:13-18; 14:11, 12; 32:9-23. Wat ’n goeie les kan ons tog leer oor die belangrikheid daarvan om op Jehovah te steun!
16:1-5, 7; 18:1-3, 28-32; 21:4-6; 22:10-12; 28:16-22. Bondgenootskappe met uitlanders of ongelowiges het tragiese gevolge. Dit is verstandig van ons om enige onnodige betrokkenheid by die wêreld te vermy.—Johannes 17:14, 16; Jakobus 4:4.
16:7-12; 26:16-21; 32:25, 26. Hoogmoed het veroorsaak dat koning Asa hom gedurende die laaste jare van sy lewe aan verkeerde gedrag skuldig gemaak het. ’n Hoogmoedige gees het tot Ussia se ondergang gelei. Hiskia het onwys en moontlik hoogmoedig opgetree toe hy sy skathuis vir Babiloniese gesante gewys het (Jesaja 39:1-7). “Trots kom voor ’n ineenstorting”, waarsku die Bybel, “en ’n hoogmoedige gees voor struikeling.”—Spreuke 16:18.
16:9. Jehovah help diegene wie se hart volkome teenoor hom is, en hy is gretig om sy krag ten behoewe van hulle te gebruik.
18:12, 13, 23, 24, 27. Soos Migaja, moet ons moedig van Jehovah en sy voornemens praat.
19:1-3. Jehovah soek na die goeie in ons selfs wanneer ons hom rede gee om vir ons kwaad te wees.
20:1-28. Ons kan vol vertroue wees dat Jehovah hom deur ons sal laat vind wanneer ons ons nederig tot hom wend vir leiding.—Spreuke 15:29.
20:17. Om “die redding van Jehovah [te sien]”, moet ons ‘stelling inneem’ deur God se Koninkryk daadwerklik te ondersteun. Ons moenie sake in ons eie hande neem nie, maar moet eerder ‘stil staan’ en ons volle vertroue in Jehovah stel.
24:17-19; 25:14. Afgodediens was ’n strik vir Joas en sy seun Amasia. Vandag kan mense ook mislei word om afgodediens te beoefen, veral wanneer dit in die subtiele vorm van hebsug of nasionalisme voorkom.—Kolossense 3:5; Openbaring 13:4.
32:6, 7. Ons moet ook moedig en sterk wees terwyl ons “die volle wapenrusting van God [aantrek]” en in geestelike sin oorlog voer.—Efesiërs 6:11-18.
33:2-9, 12, 13, 15, 16. ’n Persoon toon ware berou deur ’n verkeerde weg te verlaat en ’n besliste poging aan te wend om te doen wat reg is. Selfs iemand wat so goddeloos soos koning Manasse was, kan Jehovah se barmhartigheid ontvang as hy waarlik berouvol is.
34:1-3. Enige negatiewe omstandighede in ons kinderjare hoef ons nie daarvan te weerhou om God te leer ken en hom te dien nie. Tydens Josia se kinderjare kon sy berouvolle grootvader Manasse ’n positiewe invloed op hom gehad het. Watter positiewe invloede daar ook al in Josia se lewe was, dit het uiteindelik goeie vrugte afgewerp. Dit kan ook met ons die geval wees.
36:15-17. Jehovah is medelydend en geduldig. Maar sy medelye en geduld is nie sonder perke nie. Mense moet gunstig reageer op die Koninkrykspredikingswerk as hulle behoue wil bly wanneer Jehovah ’n einde bring aan hierdie goddelose stelsel van dinge.
36:17, 22, 23. Jehovah se woord word altyd bewaarheid.—1 Konings 9:7, 8; Jeremia 25:9-11.
Deur ’n boek tot optrede aangespoor
“Josia [het] al die verfoeilike dinge verwyder uit al die landstreke wat aan die kinders van Israel behoort het”, sê 2 Kronieke 34:33, “en hy het almal wat in Israel gevind is, laat diens opneem, om Jehovah hulle God te dien.” Wat het Josia aangespoor om dit te doen? Toe Safan, die sekretaris, die pas ontdekte boek van Jehovah se Wet na koning Josia gebring het, het die koning dit laat voorlees. Josia is so diep getref deur wat hy gehoor het dat hy deur sy hele lewe heen ware aanbidding ywerig bevorder het.
As ons God se Woord lees en peins oor wat ons lees, kan dit ’n diepgaande uitwerking op ons hê. Word ons nie, wanneer ons oor die verslag van die konings in die lyn van Dawid nadink, aangespoor om die voorbeeld na te volg van dié wat hulle vertroue in Jehovah gestel het en om die gedrag te vermy van dié wat dit nie gedoen het nie? Tweede Kronieke beweeg ons om ons uitsluitlike toegewydheid aan die ware God te gee en aan hom getrou te bly. Die boodskap daarin is inderdaad lewend en oefen krag uit.—Hebreërs 4:12.
[Voetnote]
a Vir vrae aangaande die inwyding van die tempel en ander lesse uit Salomo se gebed by daardie geleentheid, sien Die Wagtoring van 1 Julie 2005, bladsye 28-31.
b Vir ’n chronologiese lys van Juda se konings, sien Die Wagtoring van 1 Augustus 2005, bladsy 12.
[Prent op bladsy 18]
Weet jy waarom bulle ’n gepaste afbeelding in die voetstuk van die gegote see was?
[Prente op bladsy 21]
Hoewel Josia min hulp as kind ontvang het, het hy ’n getroue dienaar van Jehovah geword