Die nederige man Josia het Jehovah se guns gehad
DIE vyfjarige prins Josia van Juda moet seker bang wees. Sy ma, Jedida, huil. Jedida het rede om te huil, want Josia se oupa, koning Manasse, het gesterf.—2 Konings 21:18.
Nou sal Josia se vader, Amon, die koning van Juda wees (2 Kronieke 33:20). Twee jaar later (659 v.G.J.) word Amon deur sy knegte vermoor. Die volk bring die samesweerders om die lewe en maak jong Josia koning (2 Konings 21:24; 2 Kronieke 33:25). Gedurende Amon se heerskappy het Josia gewoond geraak aan die reuk van wierook wat oral in Jerusalem geruik kon word weens die talle altare op die dakke van huise waar mense hulle voor valse gode neergebuig het. Heidense priesters het in die strate gewandel, en godsdiensyweraars—selfs party wat beweer het dat hulle Jehovah aanbid—het by die god Milkom gesweer.—Sefanja 1:1, 5.
Josia weet dat Amon goddeloos opgetree het deur valse gode te aanbid. Juda se jong koning begin ook die boodskap wat God se profeet Sefanja verkondig beter verstaan. Teen die tyd dat Josia 15 is (652 v.G.J.), is hy in die agtste jaar van sy heerskappy en het hy besluit om ag te slaan op Sefanja se woorde. Terwyl hy nog ’n jong seun is, begin Josia om Jehovah te soek.—2 Kronieke 33:21, 22; 34:3.
Josia begin optree!
Vier jaar verloop en Josia begin om Juda en Jerusalem van valse godsdiens te reinig (648 v.G.J.). Hy vernietig die afgode, die heilige boomstamme en die wierookaltare wat in Baälaanbidding gebruik is. Beelde van valse gode word fyngemaal en dan op die grafte gestrooi van diegene wat aan hulle offerandes gebring het. Altare wat vir onrein aanbidding gebruik is, word ontheilig en dan vernietig.—2 Konings 23:8-14.
Josia se reinigingswerk is in volle swang wanneer Jeremia, die seun van ’n Levitiese priester, na Jerusalem toe kom (647 v.G.J.). Jehovah God het die jong Jeremia as sy profeet aangestel, en op watter kragtige wyse verklaar hy tog Jehovah se boodskap teen valse godsdiens! Josia en Jeremia was omtrent ewe oud. Maar ondanks Josia se moedige reinigingswerk en Jeremia se onverskrokke verklarings, verval die mense gou weer in valse aanbidding.—Jeremia 1:1-10.
’n Baie kosbare ontdekking!
Sowat vyf jaar verloop. Die 25-jarige Josia heers nou al ongeveer 18 jaar. Hy ontbied Safan, die sekretaris; Maäseja, die stadshoof, en die kroniekskrywer Joag. Die koning beveel Safan: ‘Sê vir die hoëpriester Hilkia om die geld te neem wat die deurwagters van die tempel by die volk ingesamel het, en hy moet dit aan die werkers gee sodat hulle die huis van Jehovah kan herstel.’—2 Konings 22:3-6, NW; 2 Kronieke 34:8, NW.
Van vroegoggend af begin dié wat herstelwerk aan die tempel doen ywerig werk. Josia is ongetwyfeld dankbaar teenoor Jehovah dat die werkers die skade herstel wat party van sy goddelose voorouers aan God se huis aangerig het. Namate die werk vorder, kom Safan verslag lewer. Maar wat dra hy? Dit is ’n boekrol! Hy verduidelik dat die hoëpriester Hilkia “die wetboek van die HERE . . . wat deur die diens van Moses gegee is”, gevind het (2 Kronieke 34:12-18). Wat ’n ontdekking—ongetwyfeld die oorspronklike kopie van die Wet!
Josia is gretig om elke woord in die boekrol te hoor. Terwyl Safan lees, probeer die koning sien hoe elke gebod op hom en die volk van toepassing is. Hy is veral beïndruk deur die wyse waarop die boek ware aanbidding beklemtoon en die plae en ballingskap voorspel wat sou kom as die volk valse godsdiens beoefen. Wanneer Josia besef dat nie al God se gebooie nagekom is nie, skeur hy sy klere en gee hy Hilkia, Safan en ander dié opdrag: ‘Raadpleeg Jehovah oor die woorde van hierdie boek; want die grimmigheid van Jehovah is groot wat teen ons ontvlam het, omdat ons vaders nie geluister het na die woorde van hierdie boek nie.’—2 Konings 22:11-13; 2 Kronieke 34:19-21.
Jehovah se woord word oorgedra
Josia se boodskappers gaan na Hulda die profetes in Jerusalem en keer met ’n verslag terug. Hulda het die woord van Jehovah oorgedra, wat toon dat die onheil wat in die nuutgevonde boek opgeskryf is wel die afvallige volk sal tref. Maar omdat Josia hom voor Jehovah God verneder het, sal hy nie die onheil sien nie. Hy sal by sy voorvaders versamel word en in vrede na sy graf geneem word.—2 Konings 22:14-20; 2 Kronieke 34:22-28.
Was Hulda se profesie akkuraat, aangesien Josia in ’n geveg gesterf het? (2 Konings 23:28-30). Ja, want die “vrede” waarmee hy in sy graf versamel is, is in teenstelling met “die onheil” wat oor Juda sou kom (2 Konings 22:20; 2 Kronieke 34:28). Josia het voor die onheil van 609-607 v.G.J. gesterf toe die Babiloniërs Jerusalem beleër en vernietig het. En om ‘by ’n mens se voorvaders versamel te word’, sluit nie noodwendig ’n gewelddadige dood uit nie. Omtrent dieselfde uitdrukking word gebruik om na ’n gewelddadige sowel as ’n geweldlose dood te verwys.—Deuteronomium 31:16; 1 Konings 2:10; 22:34, 40.
Ware aanbidding word bevorder
Josia versamel die mense van Jerusalem by die tempel en lees vir hulle “al die woorde van die verbondsboek” wat in Jehovah se huis gevind is. Hy sluit dan ’n verbond “om die HERE te volg en sy gebooie en sy getuienisse en sy insettinge met die hele hart en met die hele siel te onderhou, om die woorde van hierdie verbond wat in hierdie boek geskrywe is, te bevestig”. Die hele volk tree tot die verbond toe.—2 Konings 23:1-3.
Koning Josia begin nou met nog ’n veldtog teen afgodediens, wat klaarblyklik ’n intensiewer veldtog is. Die priesters van die vreemde gode in Juda word ontslaan. Levitiese priesters wat by onrein aanbidding betrokke is, verloor hulle voorreg om by Jehovah se altaar te dien, en die hoogtes wat gedurende koning Salomo se bewind gebou is, word ongeskik vir aanbidding gemaak. Die reinigingswerk vind ook plaas in die gebied van die voormalige tienstammeryk van Israel, wat ’n ruk gelede deur die Assiriërs verslaan is (740 v.G.J.).
Ter vervulling van die woorde wat 300 jaar tevore gespreek is deur “’n man van God” wie se naam nie genoem is nie, verbrand Josia die bene van priesters van Baäl op die altaar wat koning Jerobeam I by Bet-el opgerig het. Die hoogtes wat daar en in die ander stede was, word verwyder, en afgodsaanbiddende priesters word op daardie selfde altare geoffer waar hulle gedien het.—1 Konings 13:1-4; 2 Konings 23:4-20.
’n Groot Pasga word gehou
Josia se optrede om ware aanbidding te bevorder, geniet God se steun. So lank as wat hy lewe, sal die koning God dank dat die mense “nie van die HERE, die God van hulle vaders, [afwyk] nie” (2 Kronieke 34:33). En hoe kan Josia die wonderlike gebeurtenis vergeet wat in die 18de jaar van sy bewind plaasgevind het?
Die koning beveel die volk: “Hou pasga vir die HERE julle God soos geskrywe is in [die nuutgevonde] verbondsboek” (2 Konings 23:21). Josia is verheug oor die goeie reaksie. Vir hierdie viering dra hy self 30 000 Pasgadiere en 3 000 beeste by. Wat ’n Pasga! Wat die offerandes, die uitstekende reëlings en die aantal aanbidders betref, oortref dit enige Pasga wat sedert die dae van die profeet Samuel gehou is.—2 Konings 23:22, 23; 2 Kronieke 35:1-19.
Groot droefheid oor sy dood
Josia heers vir die res van sy 31-jarige bewind (659-629 v.G.J.) as ’n goeie koning. Teen die einde van sy heerskappy vind hy uit dat farao Nego beplan om deur Juda te gaan om die leërs van Babilon te onderskep en sodoende Assirië se koning by Karkemis aan die Eufraatrivier te help. Om die een of ander onvermelde rede gaan Josia uit om teen die Egiptenaar te veg. Nego stuur boodskappers na hom en sê: “Laat staan dit om jou eie onthalwe weens God, wat met my is, en laat hy jou nie verdelg nie.” Maar Josia vermom hom en probeer om die Egiptenaars by Megiddo te laat omdraai.—2 Kronieke 35:20-22, NW.
Hoe jammer tog vir die koning van Juda! Die vyand se boogskutters tref hulle teiken, en hy sê vir sy knegte: “Bring my weg, want ek is swaar gewond.” Hulle haal Josia uit sy strydwa, sit hom in ’n ander wa en keer terug na Jerusalem. Daar, of op pad na die stad, blaas Josia sy laaste asem uit. “En hy het gesterwe en is begrawe in die grafte van sy vaders,” sê die geïnspireerde verslag, “terwyl die hele Juda en Jerusalem oor Josia gerou het.” Jeremia het ’n klaaglied oor hom gesing, en op spesiale geleenthede daarna is klaagliedere oor hom gesing.—2 Kronieke 35:23-25.
Ja, koning Josia het ’n betreurenswaardige fout begaan toe hy teen die Egiptenaars gaan veg het (Psalm 130:3, NW). Maar sy nederigheid en die ferm standpunt wat hy ingeneem het vir ware aanbidding het hom God se goedkeuring meegebring. Hoe goed lig Josia se lewe die feit toe dat Jehovah guns betoon aan sy toegewyde knegte wat nederig van hart is!—Spreuke 3:34, NW; Jakobus 4:6.
[Prent op bladsy 29]
Die jong koning Josia het Jehovah in alle erns gesoek
[Prent op bladsy 31]
Josia het die hoogtes vernietig en ware aanbidding bevorder