Ou spykerskrif en die Bybel
NADAT die mensdom se taal by Babel verwar is, het verskillende skryfstelsels ontwikkel. Mense wat in Mesopotamië gewoon het, soos die Sumeriërs en die Babiloniërs, het spykerskrif gebruik. Hierdie skrif word spykerskrif of wigskrif genoem na aanleiding van die driehoekige teken wat deur die skryfstif gemaak is wanneer dit in nat klei ingedruk is.
Argeoloë het spykerskriftekste opgegrawe wat mense en gebeure bespreek wat in die Skrif gemeld word. Wat weet ons van hierdie ou skryfstelsel? En hoe bewys hierdie tekste dat die Bybel betroubaar is?
Verslae wat behoue gebly het
Geleerdes meen dat die skryfstelsel wat aanvanklik in Mesopotamië gebruik is, beeldskrif was, waarin ’n simbool of prent ’n woord of ’n idee voorgestel het. Byvoorbeeld, die teken vir ’n os het oorspronklik soos die kop van ’n os gelyk. Toe die behoefte aan verslae toegeneem het, is spykerskrif ontwikkel. “Tekens het nou nie net woorde voorgestel nie, maar ook lettergrepe, waarvan ’n hele paar saamgevoeg kon word om die lettergrepe van ’n woord voor te stel”, verduidelik die NIV Archaeological Study Bible. Met ongeveer 200 verskillende tekens kon spykerskrif uiteindelik “die gesproke woord, met al sy ingewikkelde woorde en grammatika, getrou weergee”.
Teen Abraham se tyd, omstreeks 2000 v.G.J., was spykerskrif reeds goed ontwikkel. Tydens die daaropvolgende 20 eeue het sowat 15 tale die skrif begin gebruik. Meer as 99 persent van die spykerskriftekste wat al gevind is, is op kleitablette geskryf. Gedurende die afgelope 150 jaar is ’n mag der menigte van hierdie tablette in Ur, Uruk, Babilon, Nimrud, Nippur, Assur, Nineve, Mari, Ebla, Ugarit en Amarna gevind. Archaeology Odyssey sê: “Deskundiges skat dat tussen een- en tweemiljoen spykerskriftablette reeds opgegrawe is, en nog sowat 25 000 word elke jaar gevind.”
Spykerskrifgeleerdes regoor die wêreld het die ontsaglike taak om dit te vertaal. Volgens een skatting “is net ongeveer 1/10 van die bestaande spykerskriftekste al in hedendaagse tye een keer gelees”.
Die ontdekking van tweetalige en drietalige tekste in spykerskrif het gehelp om spykerskrif te ontsyfer. Geleerdes het opgemerk dat hierdie dokumente dieselfde teks in verskillende tale bevat, wat almal in spykerskrif geskryf is. Toe hulle besef dat name, titels, geslagsregisters van heersers en selfs woorde van selfverheerliking dikwels herhaal word, het dit met die ontsyferingsproses gehelp.
Teen die 1850’s kon geleerdes die verkeerstaal van die eertydse Midde-Ooste, naamlik Akkadies, of Assiro-Babilonies, in spykerskrif lees. Die Encyclopædia Britannica verduidelik: “Nadat Akkadies ontsyfer is, was die kern van die stelsel verstaanbaar, en dit het die model voorsien vir die vertolking van ander tale in spykerskrif.” Hoe hou hierdie geskrifte verband met die Bybel?
Die getuienis wat met die Bybel ooreenstem
Die Bybel sê dat Kanaänitiese konings oor Jerusalem geheers het totdat Dawid dit in omstreeks 1070 v.G.J. verower het (Jos. 10:1; 2 Sam. 5:4-9). Party geleerdes het dit egter betwyfel. Maar in 1887 het ’n plattelandse vrou ’n kleitablet by Amarna, Egipte, gevind. Ongeveer 380 tekste wat uiteindelik daar gevind is, was diplomatieke korrespondensie tussen heersers van Egipte (Amenhotep III en Ikhnaton) en Kanaänitiese koninkryke. Ses briewe was van ‘Abdi-Heba, die heerser van Jerusalem.
Biblical Archaeology Review sê: “Die Amarna-tablette se duidelike verwysings na Jerusalem as ’n stad, nie ’n landgoed nie, en na ‘Abdi-Heba se posisie as ’n . . . goewerneur wat ’n woonplek gehad het en na 50 Egiptiese soldate wat in Jerusalem gestasioneer was, dui daarop dat Jerusalem ’n klein koninkryk in ’n heuwelagtige gebied was.” Dieselfde tydskrif het later gesê: “Op grond van die Amarna-briewe kan ons seker wees dat ’n stad, wat gedurende sy tyd belangrik was, destyds bestaan het.”
Name in Assiriese en Babiloniese verslae
Die Assiriërs, en later die Babiloniërs, het hulle geskiedenis op kleitablette opgeteken, sowel as op silinders, prismas en monumente. Toe geleerdes dus Akkadiese spykerskrif ontsyfer het, het hulle gevind dat tekste mense noem wat ook in die Bybel gemeld word.
Die boek The Bible in the British Museum sê: “Toe dr. Samuel Birch in 1870 die pas gestigte Genootskap vir Bybelargeologie toegespreek het, kon hy [die name van] die Hebreeuse konings Omri, Agab, Jehu, Asarja . . . , Menahem, Peka, Hosea, Hiskia en Manasse, die Assiriese konings Tiglat-Pileser . . . [III], Sargon, Sanherib, Esar-Haddon en Assurbanipal, . . . en die Siriërs Ben-Hadad, Hasael en Resin [in spykerskriftekste] identifiseer.”
Die boek The Bible and Radiocarbon Dating vergelyk die Bybel se geskiedenis van Israel en Juda met ou spykerskriftekste. Wat was die bevinding? “Altesaam 15 of 16 konings van Juda en Israel word in die bronne van ander lande genoem, en hulle name sowel as die tyd waarin hulle gelewe het, stem volkome ooreen met [die Bybelboek] Konings. Nie ’n enkele koning is uit sy plek nie, en die bronne van ander lande meld ook nie een wat nie in Konings voorkom nie.”
’n Welbekende spykerskrifinskripsie wat in 1879 gevind is, die Kores-silinder, sê dat Kores sy beleid om gevangenes na hulle vaderland te laat terugkeer, gevolg het nadat hy Babilon in 539 v.G.J. verower het. Die Jode was onder dié wat hierby baat gevind het (Esra 1:1-4). Baie 19de-eeuse geleerdes het die egtheid van die verordening wat in die Bybel aangehaal word, bevraagteken. Maar spykerskrifdokumente uit die Persiese tydperk, met inbegrip van die Kores-silinder, verskaf oortuigende bewys dat die Bybelverslag akkuraat is.
In 1883 is ’n argief van meer as 700 spykerskriftekste in Nippur, naby Babilon, gevind. Ongeveer 70 van die 2 500 name wat genoem word, kan as Joods geïdentifiseer word. Volgens die geskiedkundige Edwin Yamauchi kom hierdie name voor “as partye in ooreenkomste, agente, getuies, belastinggaarders en koninklike amptenare”. Die bewyse dat Jode in daardie tydperk sulke bedrywighede naby Babilon voortgesit het, is betekenisvol. Dit staaf die Bybel se profetiese verklaring dat, hoewel ’n “oorblyfsel” van die Israeliete uit ballingskap in Assirië en Babilon na Judea teruggekeer het, baie nie teruggekeer het nie.—Jes. 10:21, 22.
Gedurende die eerste millennium v.G.J. het spykerskrif en alfabetiese skrif sy aan sy bestaan. Maar die Assiriërs en Babiloniërs het uiteindelik spykerskrif laat vaar ten gunste van alfabetiese skrif.
Honderdduisende tablette wat in museums bewaar word, moet nog bestudeer word. Dié wat deskundiges reeds ontsyfer het, lewer duidelike bewys dat die Bybel betroubaar is. Wie weet watter bykomende bewyse die onbestudeerde tekste nog sal oplewer?
[Foto-erkenning op bladsy 21]
Photograph taken by courtesy of the British Museum