Bybelboek nommer 15—Esra
Skrywer: Esra
Waar geskryf: Jerusalem
Geskrif voltooi: ca. 460 v.G.J.
Beskrewe tydperk: 537–ca. 467 v.G.J.
1. Watter profesieë het die versekering gegee dat Jerusalem herstel sou word?
DIE einde van die voorspelde 70 jaar van Jerusalem se verwoesting onder Babel het nader gekom. Babel was weliswaar daarvoor bekend dat hy nooit sy gevangenes vrygelaat het nie, maar Jehovah se woord sou sterker wees as Babel se mag. Die vrylating van Jehovah se volk was ophande. Die verwoeste tempel van Jehovah sou herbou word en op Jehovah se altaar sou daar weer soenoffers gebring word. Jerusalem sou weer die gejuig en lofprysing van die ware aanbidder van Jehovah ken. Jeremia het die duur van die verwoesting voorspel, en Jesaja het voorspel hoe die vrylating van die gevangenes sou plaasvind. Jesaja het selfs Kores van Persië by name genoem as ‘die herder van Jehovah’ wat die hoogmoedige Babel van sy posisie as die derde wêreldmoondheid van Bybelgeskiedenis sou laat tuimel.—Jes. 44:28; 45:1, 2; Jer. 25:12.
2. Wanneer en onder watter omstandighede het Babel geval?
2 Onheil het Babel die nag van 5 Oktober 539 v.G.J. (Gregoriaanse kalender) getref terwyl die koning van Babel, Belsasar, en sy maghebbers heildronke op hulle demongode ingestel het. Hulle het hulle heidense losbandigheid verder gevoer deur die heilige voorwerpe van Jehovah se tempel as hulle bekers van dronkenskap te gebruik! Hoe gepas was dit tog dat Kores daardie nag buite Babel se mure was om die profesie te vervul!
3. Watter bevel deur Kores het dit moontlik gemaak om Jehovah se aanbidding te herstel presies 70 jaar na die verwoesting van Jerusalem begin het?
3 Hierdie jaar, 539 v.G.J., is ’n absolute jaartal, dit wil sê, ’n jaartal wat deur die sekulêre sowel as die Bybelse geskiedenis vasgestel kan word. Gedurende Kores se eerste jaar as regeerder van Babel het hy ‘’n oproep deur sy hele koninkryk laat gaan’ wat die Jode gemagtig het om na Jerusalem op te trek om die huis van Jehovah te herbou. Hierdie bevel is blykbaar laat in 538 v.G.J. of vroeg in 537 v.G.J. uitgevaardig.a ’n Getroue oorblyfsel het na Jerusalem teruggereis en het genoeg tyd gehad om die altaar op te rig en die eerste offers in “die sewende maand” (Tisjri, wat met September-Oktober ooreenkom) van die jaar 537 v.G.J. te bring—tot op die maand 70 jaar na Juda en Jerusalem deur Nebukadnesar verwoes is.—Esra 1:1-3; 3:1-6.
4. (a) Wat is die agtergrond van die boek Esra, en wie het dit geskryf? (b) Wanneer is Esra geskryf, en watter tydperk dek dit?
4 Herstel! Dit vorm die agtergrond van die boek Esra. Die gebruik van die eerste persoon in die verslag vanaf hoofstuk 7 vers 27 tot hoofstuk 9 toon duidelik dat Esra die skrywer was. As “’n skrifgeleerde, vaardig in die wet van Moses” en ’n man van daadwerklike geloof wat ‘sy hart daarop gerig het om die wet van Jehovah te ondersoek en te betrag en dit aan ander te leer’, was Esra uiters bekwaam om hierdie geskiedenis op te teken, soos hy ook Kronieke opgeteken het (Esra 7:6, 10). Aangesien die boek Esra ’n vervolg op Kronieke is, word daar oor die algemeen aangeneem dat dit gedurende dieselfde tyd geskryf is, omstreeks 460 v.G.J. Dit dek ’n tydperk van 70 jaar, van die tyd toe die Jode ’n gebroke, verstrooide nasie was en as “kinders van die dood” bestempel is tot die voltooiing van die tweede tempel en die reiniging van die priesterdom ná Esra se terugkeer na Jerusalem.—Esra 1:1; 7:7; 10:17; Ps. 102:21.
5. Watter verband is daar tussen die boek Esra en die boek Nehemia, en in watter tale is dit geskryf?
5 Die Hebreeuse naam Esra beteken “Hulp”. Die boeke Esra en Nehemia het oorspronklik een boekrol gevorm (Neh. 3:32, voetnoot in NW-naslaanuitgawe). Later het die Jode hierdie boekrol verdeel en dit Eerste en Tweede Esra genoem. In moderne Hebreeuse Bybels, asook in ander moderne Bybels, word die twee boeke Esra en Nehemia genoem. ’n Deel van die boek Esra (4:8 tot 6:18 en 7:12-26) is in Aramees geskryf en die res in Hebreeus, daar Esra albei tale magtig was.
6. Wat getuig van die akkuraatheid van die boek Esra?
6 Die meeste vakkundiges aanvaar vandag die akkuraatheid van die boek Esra. In sy verhandeling The Bible After Twenty Years of Archaeology skryf W. F. Albright oor die kanonisiteit van Esra: “Argeologiese gegewens het derhalwe die substansiële oorspronklikheid van die boeke Jeremia en Esegiël, sowel as van Esra en Nehemia, bo alle twyfel bewys; hulle het die tradisionele beeld van gebeure, asook hulle volgorde, bevestig.”
7. Wat toon dat die boek Esra werklik ’n deel van die goddelike verslag is?
7 Hoewel die skrywers van die Christelike Griekse Geskrifte nie die boek Esra aanhaal of regstreeks daarna verwys nie, bestaan daar geen twyfel dat dit in die kanon van die Bybel hoort nie. Dit bevat die verslag van Jehovah se handelinge met die Jode tot op die tyd dat die Hebreeuse katalogus saamgestel is, ’n werk wat volgens Joodse oorlewering hoofsaaklik deur Esra gedoen is. Die boek Esra regverdig ook al die profesieë oor die herstel en bewys aldus dat dit inderdaad ’n integrerende deel van die goddelike verslag is, waarmee dit ook in volkome harmonie is. Daarbenewens eer dit rein aanbidding en verheerlik dit Jehovah God se groot naam.
INHOUD VAN ESRA
8. Beskryf die reeks gebeurtenisse wat tot die einde van die 70 jaar van verwoesting lei.
8 ’n Oorblyfsel keer terug (1:1–3:6). Jehovah wek die gees op van Kores, koning van Persië, sodat hy die bevel uitvaardig dat die Jode terugkeer en die huis van Jehovah in Jerusalem herbou. Hy spoor die Jode wat moontlik nog in Babel oorbly aan om mildelik tot die projek by te dra en reël dat die terugkerende Jode die voorwerpe van die oorspronklike tempel terugneem. Serubbabel (Sesbassar), ’n leier uit die koninklike stam van Juda en ’n afstammeling van koning Dawid, word aangestel as goewerneur om die vrygelatenes te lei, en Jesua (Josua) is die hoëpriester (Esra 1:8; 5:2; Sag. 3:1). ’n Oorblyfsel van moontlik 200 000 getroue knegte van Jehovah, waaronder mans, vroue en kinders, onderneem die lang reis. Teen die sewende maand, volgens die Joodse kalender, het hulle al hul intrek in hulle stede geneem, en dan kom hulle in die herfs van 537 v.G.J. in Jerusalem byeen om offers op die plek van die tempelaltaar te bring en die Huttefees te vier. So eindig die 70 jaar van verwoesting presies op tyd!b
9. Hoe begin die tempelwerk, maar wat gebeur in die daaropvolgende jare?
9 Die herbouing van die tempel (3:7–6:22). Materiaal word bymekaargemaak, en in die tweede jaar van hulle terugkeer word die fondament van die tempel van Jehovah gelê te midde van gejuig asook te midde van die gehuil van die ouer manne wat die vorige huis gesien het. Die naburige volke, teenstanders, bied aan om met die bouwerk te help omdat hulle, soos hulle sê, dieselfde God soek, maar die Joodse oorblyfsel weier botweg om enige verbintenis met hulle aan te gaan. Vanaf die regering van Kores tot dié van Darius probeer die teenstanders voortdurend om die Jode te verswak en te ontmoedig en om hulle werk te verydel. Uiteindelik, in die dae van “Artasasta” (Bardija, of moontlik ’n Magiër bekend as Gaumata, 522 v.G.J.) sit hulle die werk op koninklike bevel met geweld stop. Hierdie verbod bly van krag “tot op die tweede jaar van die regering van Darius, die koning van Persië” (520 v.G.J.), wat meer as 15 jaar ná die fondamentlegging is.—4:4-7, 24.
10. (a) Hoe dra die aanmoediging van God se profete tesame met die koning se bevel daartoe by dat die werk voltooi word? (b) Watter vreugde kenmerk die inwyding van hierdie tweede tempel?
10 Jehovah stuur nou sy profete Haggai en Sagaria om Serubbabel en Jesua aan te spoor, en die bouwerk word met hernieude ywer hervat. Die teenstanders kla weer by die koning, maar die werk gaan met onverfloude krag voort. Nadat Darius I (Hystaspes) na Kores se oorspronklike bevel verwys het, beveel hy dat die werk sonder inmenging moet voortgaan, en hy sê die teenstanders selfs aan om materiaal te voorsien om die bouwerk te vergemaklik. Met voortdurende aansporing van Jehovah se profete voltooi die bouers die tempel in minder as vyf jaar. Dit geskied in die maand Adar van die sesde jaar van Darius, of om en by die noordelike lente van 515 v.G.J., en al die bouwerk het net langer as 20 jaar geduur (6:14, 15). Die huis van God word nou met groot vreugde en met gepaste offers ingewy. Dan vier die volk die Pasga, en hulle hou vervolgens “die fees van die ongesuurde brode met blydskap sewe dae lank” (6:22). Ja, vreugde en blydskap kenmerk die inwyding van hierdie tweede tempel tot Jehovah se lof.
11. Hoe staan die koning Esra “al sy begeertes” toe, en hoe reageer Esra?
11 Esra keer terug na Jerusalem (7:1–8:36). Bykans 50 jaar verstryk, wat ons by 468 v.G.J. bring, die sewende jaar van die Persiese koning Artasasta, of Artaxerxes (wat bekend gestaan het as Longimanus omdat sy regterhand langer as sy linkerhand was). Die koning staan die bedrewe kopiis Esra “al sy begeertes” toe met betrekking tot ’n reis na Jerusalem om uiters noodsaaklike hulp daar te verleen (7:6). In sy magtiging spoor die koning die Jode aan om saam met Esra te gaan en skenk hy hom silwer- en goue voorwerpe vir tempelgebruik, asook voorrade koring, wyn, olie en sout. Hy onthef die priesters en tempelwerkers van belasting. Die koning dra Esra die verantwoordelikheid op om die volk te onderrig en verklaar dat dit ’n baie ernstige oortreding is as iemand nie ’n dader van die wet van Jehovah en die wet van die koning word nie. Esra is vol dankbaarheid jeens Jehovah vir hierdie blyk van sy liefderyke goedheid deur middel van die koning en begin dadelik om sy opdrag uit te voer.
12. Hoe is Jehovah met Esra se groep gedurende die reis?
12 Nou begin Esra sy ooggetuieverslag, wat hy in die eerste persoon skryf. Hy vergader die terugkerende Jode vir finale instruksies by die rivier Ahawa en voeg enkele Leviete by die groep van sowat 1 500 volwasse mans wat reeds daar vergader is. Esra besef die gevare van die roete wat hulle gaan volg, maar vra nie die koning om ’n geleide nie uit vrees dat dit opgevat sal word as ’n gebrek aan geloof in Jehovah. Hy roep eerder ’n vastyd uit en gaan die laer voor in ’n smeekbede tot God. Hierdie gebed word verhoor en die hand van Jehovah is dwarsdeur die lang reis oor hulle. Hulle is dus in staat om hulle skatte (wat vandag meer as R110 000 000 werd sou wees) veilig na die huis van Jehovah in Jerusalem te bring.—8:26, 27 en voetnote in NW-naslaanuitgawe.
13. Hoe gaan Esra te werk om onreinheid onder die Jode uit die weg te ruim?
13 Die reiniging van die priesterdom (9:1–10:44). Maar nie alles het goed gegaan gedurende die 69 jaar wat die volk al in die herstelde land woon nie. Esra verneem dat verontrustende toestande heers, naamlik dat die volk, die priesters en die Leviete huweliksverbintenisse met die heidense Kanaäniete aangegaan het. Getroue Esra is geskok. Hy lê die saak in gebed aan Jehovah voor. Die volk bely dat hulle verkeerd gehandel het en vra Esra om ‘sterk te wees en te handel’ (10:4). Hy laat die Jode die vreemde vroue wegstuur wat hulle in ongehoorsaamheid aan God se wet geneem het, en binne die bestek van nagenoeg drie maande word die onreinheid uit die weg geruim.—10:10-12, 16, 17.
WAAROM NUTTIG
14. Wat toon die boek Esra ten opsigte van Jehovah se profesieë?
14 Die eerste rede waarom die boek Esra nuttig is, is omdat dit toon met watter onfeilbare akkuraatheid Jehovah se profesieë vervul word. Jeremia, wat Jerusalem se verwoesting so akkuraat voorspel het, het ook voorspel dat dit na 70 jaar herstel sou word (Jer. 29:10). Presies op tyd het Jehovah sy liefderyke goedheid getoon deur sy volk, ’n getroue oorblyfsel, terug te bring na die Beloofde Land om ware aanbidding te beoefen.
15. (a) Hoe het die herstelde tempel aan Jehovah se doel beantwoord? (b) In watter opsigte het dit hierdie tempel aan die luister van die eerste tempel ontbreek?
15 Die herstelde tempel het weer eens Jehovah se aanbidding onder sy volk verhef en het as ’n bewys gedien dat hy diegene wat hulle tot hom wend met ’n begeerte om ware aanbidding te beoefen op wonderlike en barmhartige wyse seën. Hoewel hierdie tempel nie so luisterryk soos Salomo se tempel was nie, het dit tog in harmonie met die goddelike wil aan sy doel beantwoord. Die uiterlike prag was nie meer daar nie. Dit is ook deur Salomo se tempel oortref wat geestelike skatte betref, daar dit onder andere nie die verbondsark gehad het nie.c Die inwyding van Serubbabel se tempel was eweneens nie te vergelyk met die inwyding van die tempel in Salomo se dag nie. Die beeste en skape wat geoffer is, was nie eens een persent van die offers by Salomo se tempel nie. Geen wolk van heerlikheid het die latere huis gevul soos in die geval van die vorige nie; ook het vuur nie van Jehovah neergedaal om die brandoffers te verteer nie. Albei tempels het egter aan die belangrike doel beantwoord om die aanbidding van Jehovah, die ware God, te verhef.
16. Maar watter ander tempel oortref aardse tempels wat heerlikheid betref?
16 Die tempel wat deur Serubbabel gebou is, die tabernakel wat deur Moses opgerig is en die tempels wat deur Salomo en Herodes gebou is, tesame met hulle kenmerke, was tipes, of afbeeldinge. Hulle het die “ware tabernakel wat die Here opgerig het en nie ’n mens nie”, voorgestel (Hebr. 8:2). Hierdie geestelike tempel is die voorsiening om Jehovah op grond van Christus se soenoffer in aanbidding te nader (Hebr. 9:2-10, 23). Jehovah se groot geestelike tempel is onoortreflik in heerlikheid en weergaloos in prag en begeerlikheid; die luister daarvan is onverwelklik en oortref dié van enige stoflike gebou.
17. Watter waardevolle lesse is daar in die boek Esra?
17 Die boek Esra bevat lesse wat vandag vir Christene van die grootste belang is. Ons lees daarin van Jehovah se volk wat vrywillig gawes vir sy werk geskenk het (Esra 2:68; 2 Kor. 9:7). Ons word aangemoedig wanneer ons leer van Jehovah se onfeilbare voorsiening van en sy seën op vergaderinge wat tot sy eer gehou word (Esra 6:16, 22). Ons sien ’n goeie voorbeeld in die Nethinim en ander gelowige vreemdelinge wanneer hulle saam met die oorblyfsel opgaan om Jehovah se aanbidding van ganser harte te ondersteun (2:43, 55, vgl. NW). Dink ook aan die nederige berou van die volk toe hulle gewys is op hulle verkeerde handelwyse deur huweliksverbintenisse met heidense bure aan te gaan (10:2-4). Slegte omgang het tot goddelike misnoeë gelei (9:14, 15). Vreugdevolle ywer vir sy werk het sy goedkeuring en seën meegebring.—6:14, 21, 22.
18. Waarom was die herstel van Jehovah se volk ’n belangrike stap wat tot die verskyning van die Messias, die Koning, gelei het?
18 Hoewel daar nie meer ’n koning op Jehovah se troon in Jerusalem gesit het nie, het die herstel die verwagting gewek dat Jehovah mettertyd sy beloofde Koning in die geslagslyn van Dawid sou voortbring. Die herstelde nasie was nou in die posisie om die heilige uitsprake en aanbidding van God te bewaar totdat die Messias sou verskyn. Na wie sou die Messias gekom het as hierdie oorblyfsel nie geloof aan die dag gelê het en na hulle land teruggekeer het nie? Die gebeure in die boek Esra is gewis ’n belangrike deel van die geskiedenis wat lei tot die verskyning van die Messias en Koning! Dit is alles uiters nuttig as ons dit vandag bestudeer.
[Voetnote]
a Insight on the Scriptures, Dl. 1, bladsye 452-4, 458.
b Insight on the Scriptures, Dl. 2, bladsy 332.
c Insight on the Scriptures, Dl. 2, bladsy 1079.