Bybelboek nommer 14—2 Kronieke
Skrywer: Esra
Waar geskryf: Jerusalem (?)
Geskrif voltooi: ca. 460 v.G.J.
Beskrewe tydperk: 1037–537 v.G.J.
1. Wanneer het Esra Kronieke voltooi, en met watter doel voor oë?
AANGESIEN Eerste en Tweede Kronieke klaarblyklik eers een boek was, is die argumente wat in die vorige hoofstuk voorgelê is met betrekking tot die agtergrond, skrywerskap, tyd van skrywe, kanonisiteit en egtheid op albei boeke van toepassing. Volgens die bewyse wat voorgelê is, het Esra Tweede Kronieke omstreeks 460 v.G.J., waarskynlik in Jerusalem, voltooi. Dit was Esra se bedoeling om geskiedkundige materiaal te bewaar wat gevaar geloop het om verlore te gaan. Die hulp van die heilige gees, tesame met sy vermoë as ’n geskiedskrywer om besonderhede in te samel en te sorteer, het Esra in staat gestel om ’n akkurate en permanente verslag op te stel. Hy het wat hy as geskiedkundige feite beskou het vir die toekoms gered. Esra se werk is net op die regte tyd verrig, aangesien dit nou ook nodig was om al die heilige Hebreeuse geskrifte wat deur die eeue heen geskryf is, byeen te bring.
2. Waarom is daar geen rede om die akkuraatheid van Kronieke te betwyfel nie?
2 Die Jode van Esra se dag het groot nut geput uit Esra se geïnspireerde kroniek. Dit is geskryf om hulle te onderrig en tot volharding aan te moedig. Deur die bemoediging van die Skrifte kon hulle hoop hê. Hulle het die boek Kronieke as ’n deel van die Bybelkanon aanvaar. Hulle het geweet dat dit betroubaar is. Hulle kon dit nagaan aan die hand van ander geïnspireerde geskrifte en talryke wêreldlike geskiedeniswerke wat deur Esra aangehaal is. Hoewel hulle die nie-geïnspireerde wêreldlike geskiedeniswerke verlore laat gaan het, het hulle Kronieke sorgvuldig bewaar. Die vertalers van die Septuagint het Kronieke as ’n deel van die Hebreeuse Bybel opgeneem.
3. Hoe toon ander tekste dat Kronieke eg is?
3 Jesus Christus en die skrywers van die Christelike Griekse Geskrifte het dit as eg en geïnspireerd aanvaar. Jesus het ongetwyfeld voorvalle soos dié wat in 2 Kronieke 24:21 opgeteken is in gedagte gehad toe hy Jerusalem as ’n moordenaar en steniger van Jehovah se profete en diensknegte veroordeel het (Matt. 23:35; 5:12; 2 Kron. 36:16). Toe Jakobus Abraham “’n vriend van God” genoem het, het hy moontlik gesinspeel op Esra se uitdrukking in 2 Kronieke 20:7 (Jak. 2:23). Die boek bevat ook profesieë wat onfeilbaar vervul is.—2 Kron. 20:17, 24; 21:14-19; 34:23-28; 36:17-20.
4. Watter argeologiese vonds getuig van die egtheid van Tweede Kronieke?
4 Die argeologie getuig ook van die egtheid van Tweede Kronieke. Kleitablette uit die tydperk van Nebukadnesar se regering is op die terrein van eertydse Babel opgegrawe, en een daarvan meld “Jaukin, koning van die land Jahud”, dit wil sê, “Jojagin, die koning van die land Juda”.a Dit strook goed met die Bybelverslag dat Jojagin gedurende die sewende regeringsjaar van Nebukadnesar as gevangene na Babel weggevoer is.
5. Watter tydperk word in Tweede Kronieke gedek, en waarom word die geskiedenis van Juda eerder as dié van die tienstammeryk op die voorgrond gebring?
5 Die verslag van Tweede Kronieke beskryf gebeure in Juda vanaf die regering van Salomo, wat in 1037 v.G.J. begin het, tot Kores se bevel van 537 v.G.J. om die huis van Jehovah in Jerusalem te herbou. In hierdie geskiedverslag van 500 jaar word die tienstammeryk slegs genoem wanneer dit by die aangeleenthede van Juda betrokke raak, en die vernietiging van daardie noordelike koninkryk in 740 v.G.J. word nie eens gemeld nie. Waarom? Omdat die priester Esra hom hoofsaaklik bepaal het by Jehovah se aanbidding by die regmatige plek, Sy huis in Jerusalem, en by die koninkryk van die geslagslyn van Dawid, met wie Jehovah Sy verbond gesluit het. Gevolglik spits Esra sy aandag toe op die suidelike koninkryk ter ondersteuning van ware aanbidding en in afwagting van die heerser wat uit Juda sou kom.—Gen. 49:10.
6. In watter opsigte is Tweede Kronieke verheffend en stimulerend?
6 Esra huldig ’n verheffende standpunt. Van die 36 hoofstukke van Tweede Kronieke word die eerste 9 aan Salomo se regering gewy, en 6 daarvan geheel en al aan die werk aan en inwyding van die huis van Jehovah. Die verslag maak geen melding van Salomo se afval nie. Van die oorblywende 27 hoofstukke handel 14 oor die vyf konings wat basies Dawid se voorbeeld van uitsluitlike toegewydheid aan Jehovah se aanbidding gevolg het: Asa, Josafat, Jotam, Hiskia en Josia. Selfs in die ander 13 hoofstukke beklemtoon Esra sorgvuldig die goeie eienskappe van die slegte konings. Hy lê altyd nadruk op gebeure rakende die herstel en behoud van ware aanbidding. Hoe stimulerend tog!
INHOUD VAN TWEEDE KRONIEKE
7. Hoe maak Jehovah Salomo “uitermate groot”?
7 Die heerlikheid van Salomo se regering (1:1–9:31). Aan die begin van Tweede Kronieke sien ons hoe Salomo, die seun van Dawid, in die koningskap in sterkte toeneem. Jehovah is met hom en bly ‘hom uitermate groot maak’. Wanneer Salomo offers in Gibeon bring, verskyn Jehovah in die nag aan hom en sê: “Begeer wat Ek jou moet gee.” Salomo vra kennis en wysheid om Jehovah se volk goed te kan regeer. Weens hierdie onselfsugtige versoek beloof Jehovah om Salomo nie net wysheid en kennis te gee nie, maar ook rykdom en skatte en eer “soos die konings wat voor jou gewees het, nie gehad het nie, en soos ná jou nie sal wees nie”. Die rykdom wat die stad binnestroom, is so groot dat Salomo mettertyd “die silwer en die goud in Jerusalem . . . soos die klippe” maak.—1:1, 7, 12, 15.
8. Hoe vorder die werk aan die tempel, en wat is enkele besonderhede van die gebou?
8 Salomo roep arbeiders op vir die bou van die huis van Jehovah, en koning Huram van Tirus verleen sy samewerking deur hout en ’n kunsvaardige man te stuur. Die bouwerk begin “in die vierde jaar van [Salomo se] regering”, en dit word sewe en ’n half jaar later, in 1027 v.G.J., voltooi (3:2). Aan die voorkant van die tempel is ’n groot voorportaal wat 120 el (53,4 m; 3:4, NW) hoog is. Twee ontsaglike koperpilare staan voor die portaal; die een se naam is Jagin, wat “Mag [Jehovah] stewig bevestig” beteken, en die ander s’n Boas, wat blykbaar “In sterkte” beteken (3:17). Die huis self is betreklik klein, daar dit 60 el (26,7 m) lank, 30 el (13,4 m) hoog en 20 el (8,9 m) breed is, maar die mure en plafon is met goud bedek; die binneste vertrek, die Allerheiligste, is ryklik met goud versier. Dit bevat ook die twee goue gerubs, een aan elke kant van die vertrek, wie se uitgestrekte vlerke in die middel van die vertrek aan mekaar raak.
9. Beskryf die toebehore en die voorwerpe van die voorhof en die tempel.
9 In die binneste voorhof staan ’n ontsaglike koperaltaar wat 20 el (8,9 m) in die vierkant en 10 el (4,45 m) hoog is. Nog ’n opvallende voorwerp in die voorhof is die gegote see, ’n yslike koperkom wat rus op die rûe van 12 koperbulle wat na buite gekeer staan, drie in elke rigting. Hierdie see kan “drieduisend bat” (66 000 l) water hou, wat deur die priesters gebruik word om hulleself te was (4:5). Ook in die voorhof is tien klein koperkomme wat op versierde koperwaentjies rus, en in hierdie water word dinge wat met brandoffers te doen het, afgespoel. Hulle word uit die gegote see vol gemaak en gestoot na waar die water ook al nodig is. Daarbenewens is daar die tien goue kandelaars en baie ander voorwerpe, party van goud en party van koper, vir die tempelaanbidding.b
10. Wat gebeur wanneer die Ark in die Allerheiligste ingebring word?
10 Uiteindelik is die huis van Jehovah, na sewe en ’n half jaar se werk, voltooi (1 Kon. 6:1, 38). Die dag van die inwyding is die tyd om die simbool van Jehovah se teenwoordigheid in die binneste vertrek van hierdie pragtige gebou in te bring. Die priesters bring “die verbondsark van die HERE na sy plek in die binneste vertrek van die huis, in die Allerheiligste, . . . onder die vlerke van die gerubs in”. Wat gebeur dan? Terwyl die Levitiese sangers en musici Jehovah in verenigde sang loof en dank, word die huis met ’n wolk vervul, en die priesters kan nie staan om diens te doen nie, want “die heerlikheid van die HERE” vervul die huis van die ware God (2 Kron. 5:7, 13, 14). So toon Jehovah sy goedkeuring van die tempel en gee hy blyk van sy teenwoordigheid daar.
11. Watter gebed doen Salomo, en wat versoek hy?
11 ’n Koperplatform, drie el (1,3 m) hoog, is vir die geleentheid gebou en word in die binneste voorhof naby die groot koperaltaar gesit. In hierdie verhewe posisie kan Salomo gesien word deur die groot menigte wat vir die tempelwyding byeengekom het. Na die wonderdadige manifestasie van Jehovah se teenwoordigheid deur die wolk van heerlikheid, kniel Salomo voor die skare en doen hy ’n roerende gebed van danksegging en lof, wat ’n reeks nederige versoeke om vergifnis en seën insluit. Ten slotte smeek hy: “My God, mag u oë tog nou oop wees en u ore luister na die gebed van hierdie plek. HERE God, wys u gesalfde nie af nie; dink aan die gunsbewyse aan u kneg Dawid!”—6:40, 42.
12. Hoe beantwoord Jehovah Salomo se gebed, en watter vreugdevolle afloop het die viering van 15 dae?
12 Hoor Jehovah hierdie gebed van Salomo? Sodra Salomo sy gebed beëindig, kom vuur uit die hemele neer en verteer dit die brandoffer en die slagoffers en vervul “die heerlikheid van die HERE” die huis. Dit laat die hele volk neerkniel en Jehovah dank, omdat “Hy goed is, dat sy goedertierenheid tot in ewigheid is” (7:1, 3). Dan word ’n enorme offerande aan Jehovah gebring. ’n Weeklange inwydingsfees word gevolg deur die weeklange Fees van die Insameling en ’n sabbat waarop geen werk verrig word nie. Na hierdie vreugdevolle, geestelik versterkende viering van 15 dae stuur Salomo die volk verheug en vrolik van hart na hulle huise terug (7:10). Ook Jehovah is bly. Hy herbevestig die Koninkryksverbond teenoor Salomo en waarsku terselfdertyd teen die droewe gevolge van ongehoorsaamheid.
13. (a) Watter bouwerk volg op dié van die tempel? (b) Hoe druk die koningin van Skeba haar uit wanneer sy Salomo se koninkryk sien?
13 Salomo voer nou ’n uitgebreide bouprogram dwarsdeur sy ryk uit en bou nie net vir homself ’n paleis nie, maar ook vestingstede, voorraadstede, strydwastede en stede vir die perderuiters, asook alles wat sy hart begeer om te bou. Dit is ’n tydperk van glorieryke welvaart en vrede omdat die koning sowel as die volk Jehovah se aanbidding voor oë hou. Selfs die koningin van Skeba, meer as 1 900 kilometer daarvandaan, hoor van Salomo se welvaart en wysheid en pak die lang, moeilike reis aan om dit self te sien. Is sy teleurgesteld? Glad nie, want sy erken: “Ek het hulle woorde nie geglo nie, totdat ek gekom en my oë gesien het; en kyk, die helfte van u buitengewone wysheid is my nie meegedeel nie; u oortref die gerug wat ek gehoor het. Gelukkig is u manne, en gelukkig hierdie dienaars van u” (9:6, 7). Geen ander koning op aarde oortref Salomo in rykdom en wysheid nie. Hy regeer 40 jaar in Jerusalem.
14. Waarom word Israel so gou van sy heerlikheid gestroop?
14 Die regering van Rehabeam en Abia (10:1–13:22). Die hardvogtige en verdrukkende regering van Salomo se seun Rehabeam veroorsaak dat die noordelike tien stamme onder Jerobeam in 997 v.G.J. in opstand kom. Die priesters en die Leviete van albei koninkryke skaar hulle egter by Rehabeam en stel lojaliteit teenoor die Koninkryksverbond bo nasionalisme. Rehabeam verlaat weldra Jehovah se wet en koning Sisak van Egipte val die land in, dring Jerusalem binne en stroop die huis van Jehovah van al sy skatte. Hoe jammer tog dat hierdie pragtig versierde geboue net ’n rapsie meer as 30 jaar na hulle oprigting van hulle heerlikheid gestroop word! Die rede: Die nasie het ‘ontrou teenoor Jehovah gehandel’. Rehabeam verootmoedig hom net betyds, sodat Jehovah nie die nasie heeltemal in die verderf stort nie.—12:2.
15. Watter gevegte volg op Rehabeam se dood, en waarom kry Juda die oorhand oor Israel?
15 By Rehabeam se dood word een van sy 28 seuns, Abia, koning gemaak. Abia se driejarige regering word gekenmerk deur bloedige oorlog met Israel in die noorde. Juda word met twee teen een in getal oortref, 400 000 manskappe teen die 800 000 onder Jerobeam. Gedurende die geweldige gevegte wat volg, word Israel se krygsmanne tot minder as die helfte uitgedun, en ’n halfmiljoen kalfaanbidders word vernietig. Die kinders van Juda kry die oorhand omdat hulle “op die HERE, die God van hulle vaders”, steun.—13:18.
16. Hoe verhoor Jehovah Asa se dringende gebed?
16 Godvresende koning Asa (14:1–16:14). Abia word deur sy seun Asa opgevolg. Asa is ’n voorstander van ware aanbidding. Hy beywer hom om die land van beeldaanbidding te reinig. Maar kyk! Juda word deur ’n oorweldigende krygsmag van eenmiljoen Kusiete (Ethiopiërs) bedreig. Asa bid: “Help ons, HERE onse God, want op U steun ons, en in u Naam het ons teen hierdie menigte gekom.” Jehovah verhoor hom met ’n oorweldigende oorwinning.—14:11.
17. Wat moedig Asa aan om aanbidding in Juda te hervorm, en waaroor word hy bestraf?
17 Die gees van God beweeg Asarja om vir Asa te sê: “Die HERE is met julle as julle met Hom is, en as julle Hom soek, sal Hy Hom deur julle laat vind” (15:2). Asa is grootliks aangemoedig en hervorm aanbidding in Juda, en die volk gaan ’n verbond aan dat enigeen wat Jehovah nie soek nie, gedood sal word. Maar wanneer Baesa, koning van Israel, versperrings oprig om die toevloeiing van Israeliete na Juda te keer, begaan Asa ’n ernstige oortreding deur Benhadad, koning van Aram, te huur om teen Israel te veg pleks van hom tot Jehovah om hulp te wend. Hieroor bestraf Jehovah hom. Desondanks bly Asa se hart “volkome al sy dae” (15:17). Hy sterf in sy 41ste bewindsjaar.
18. (a) Hoe beywer Josafat hom vir ware aanbidding, en met watter gevolge? (b) Hoe loop die verbintenis wat hy deur ’n huwelik aangaan amper vir hom op ’n ramp uit?
18 Josafat se goeie regering (17:1–20:37). Asa se seun Josafat sit die stryd teen beeldaanbidding voort en stel ’n spesiale onderrigtingsveldtog in, met onderrigters wat deur al die stede van Juda reis en die volk uit Jehovah se wetboek onderrig. Daar volg ’n tyd van groot voorspoed en vrede en Josafat ‘word aldeur groter, buitengewoon groot’ (17:12). Maar dan verbind hy hom deur ’n huwelik met goddelose koning Agab van Israel en trek hy af om Agab teen die groeiende Aramese moondheid te help veg, waardeur hy Jehovah se profeet Miga ignoreer en net-net met sy lewe daarvan afkom wanneer Agab in die slag by Ramot in Gilead sneuwel. Jehovah se profeet Jehu bestraf Josafat omdat hy gemene saak met goddelose Agab gemaak het. Daarna stel Josafat regters dwarsdeur die land aan, en hy beveel hulle om hulle pligte in die vrees van God uit te voer.
19. Hoe blyk dit, op die hoogtepunt van Josafat se regering, dat die stryd God s’n is?
19 Nou kom die hoogtepunt van Josafat se regering. Die gesamentlike strydkragte van Moab, Ammon en die gebergte Seïr trek met oorweldigende mag teen Juda op. In groot menigtes ruk hulle deur die woestyn van Engedi op. Die nasie word bevrees. Josafat en die hele Juda, met “hulle kinders, hulle vroue en hulle seuns”, staan voor Jehovah en nader tot hom in gebed. Jehovah se gees kom oor die Leviet Jahasiël, wat die vergaderde menigte toeroep: “Luister, almal wat uit Juda is en inwoners van Jerusalem en u, koning Josafat! So sê die HERE aan julle: Wees nie bevrees of verskrik vanweë hierdie groot menigte nie, want die stryd is nie julle saak nie, maar die saak van God. Trek môre af teen hulle . . . die HERE sal met julle wees.” Juda staan vroeg die oggend op en trek uit, met die Levitiese sangers op die voorpunt. Josafat moedig hulle aan: “Glo in [Jehovah] . . . glo aan sy profete, dan sal julle voorspoedig wees.” Die sangers verheerlik Jehovah met vreugde, “want sy goedertierenheid is tot in ewigheid” (20:13, 15-17, 20, 21, vgl. NW). Jehovah openbaar sy goedertierenheid op ’n wonderbaarlike wyse deur ’n hinderlaag teen die invallende leërs te stel sodat hulle mekaar vernietig. Wanneer die juigende Judeërs by die wagpos in die woestyn kom, sien hulle net lyke. Waarlik, dit is God se stryd! Tot aan die einde van sy 25-jarige regering bly Josafat getrou voor Jehovah wandel.
20. Watter rampe kenmerk Joram se regering?
20 Die slegte regerings van Joram, Ahasia en Atalia (21:1–23:21). Josafat se seun Joram begin sleg deur al sy broers dood te maak. Jehovah spaar hom egter weens Sy verbond met Dawid. Edom kom in opstand. Elia stuur êrens vandaan ’n brief wat Joram waarsku dat Jehovah sy huis ’n swaar slag sal toedien en dat hy ’n verskriklike dood sal sterf (21:12-15). Ooreenkomstig die profesie doen die Filistyne en die Arabiere ’n inval en plunder hulle Jerusalem, en die koning sterf aan ’n walglike ingewandsiekte na hy agt jaar regeer het.
21. Wat is die slegte gevolge van Atalia se heerskappy in Juda, en hoe slaag Jojada daarin om die troon van Dawid te herstel?
21 Joram se enigste lewende seun, Ahasia (Joahas), volg hom op, maar sy moeder Atalia, die dogter van Agab en Isebel, het ’n slegte invloed op hom. Sy regering word na een jaar afgesny wanneer Jehu die huis van Agab uitroei. Hierop vermoor Atalia haar kleinkinders en bestyg sy die troon. Een van Ahasia se seuns bly egter behoue. Hy is die eenjarige Joas, wat deur sy tante Josabat in die huis van Jehovah ingesmokkel word. Atalia regeer ses jaar en dan neem Josabat se man, die hoëpriester Jojada, moedig die jong Joas en laat hy hom tot koning uitroep, as een van “die seuns van Dawid”. Wanneer Atalia by die huis van Jehovah kom, skeur sy haar klere en roep sy uit: “Verraad, verraad!” Maar tevergeefs. Jojada laat haar uit die tempel uitgooi en om die lewe bring.—23:3, 13-15.
22. Hoe begin Joas se regering goed maar eindig dit sleg?
22 Die regerings van Joas, Amasia en Ussia begin goed maar eindig sleg (24:1–26:23). Joas regeer 40 jaar, en solank Jojada lewe en ’n goeie invloed op hom uitoefen, doen hy wat reg is. Hy skenk selfs aandag aan die huis van Jehovah en laat dit herstel. Maar wanneer Jojada sterf, word Joas deur die owerstes van Juda beïnvloed om Jehovah se aanbidding te versaak en die heilige boomstamme en afgode te aanbid. Wanneer God se gees Sagaria, die seun van Jojada, beweeg om die koning te bestraf, laat Joas die profeet stenig. Kort daarna doen ’n klein Aramese krygsmag ’n inval, en die baie groter Judese leër kan dit nie terugdryf nie, want hulle het “die HERE, die God van hulle vaders, verlaat” (24:24). Nou staan Joas se eie dienaars op en vermoor hulle hom.
23. Watter patroon van ontrouheid volg Amasia?
23 Amasia volg sy vader Joas op. Hy begin sy 29-jarige regering goed, maar verloor later Jehovah se guns omdat hy die afgode van die Edomiete oprig en aanbid. ‘God het besluit om u te vernietig’, waarsku Jehovah se profeet hom (25:16). Amasia word egter verwaand en daag noordelike Israel uit. Ooreenkomstig God se woord bring die Israeliete hom ’n vernederende neerlaag toe. Na daardie neerlaag staan samesweerders op en bring hulle hom om die lewe.
24. Hoe word Ussia se sterkte sy swakheid, en met watter gevolg?
24 Amasia se seun Ussia tree in sy vader se voetstappe. Hy regeer die grootste deel van 52 jaar goed en verwerf roem as ’n militêre genie, as ’n bouer van torings en as “’n liefhebber van die landbou” (26:10). Hy rus die leër toe en meganiseer dit. Sy sterkte word egter sy swakheid. Hy word hoogmoedig en matig hom dit aan om wierook in die tempel van Jehovah te offer, iets wat die priesters se taak is. Hiervoor tref Jehovah hom met melaatsheid. Gevolglik moet hy afgesonderd lewe, weg van die huis van Jehovah en ook van die koning se huis af, waar sy seun Jotam in sy plek regspreek oor die volk.
25. Waarom behaal Jotam welslae?
25 Jotam dien Jehovah (27:1-9). In teenstelling met sy vader gaan Jotam nie ‘in die tempel van Jehovah in nie’. Hy doen eerder ‘wat reg is in Jehovah se oë’ (27:2). Gedurende sy 16-jarige regering doen hy baie bouwerk en onderdruk hy ’n opstand van die Ammoniete met welslae.
26. Tot watter ongekende dieptes van goddeloosheid daal Agas?
26 Goddelose koning Agas (28:1-27). Jotam se seun Agas is een van die goddeloosste van die 21 Judese konings. Hy gaan tot die uiterste en offer sy eie seuns as brandoffers aan heidense gode op. Gevolglik gee Jehovah hom beurtelings in die hand van die leërs van Aram, Israel, Edom en Filistea. Jehovah verneder Juda dus omdat Agas ‘losbandigheid in Juda bevorder en daar gedurig ontrou teen Jehovah gehandel word’ (28:19). Agas gaan van kwaad tot erger en offer aan die gode van Aram omdat die Arameërs in die stryd die oorhand oor hom kry. Hy sluit die deure van die huis van Jehovah en vervang die aanbidding van Jehovah deur die aanbidding van heidense gode. Glad nie te gou nie kom Agas se regering na 16 jaar tot ’n einde.
27. Hoe toon Hiskia ywer vir Jehovah se aanbidding?
27 Getroue koning Hiskia (29:1–32:33). Hiskia (Jehiskia), die seun van Agas, regeer 29 jaar in Jerusalem. Sy eerste daad is om die deure van Jehovah se huis oop te maak en te herstel. Dan laat hy die priesters en Leviete bymekaarkom en gee hy hulle instruksies om die tempel te reinig en dit vir Jehovah se diens te heilig. Hy verklaar dat hy ’n verbond met Jehovah wil sluit om Sy toorngloed af te wend. Jehovah se aanbidding word op grootse wyse hervat.
28. Watter ontsaglike fees hou Hiskia in Jerusalem, en hoe gee die volk uiting aan hulle vreugde?
28 ’n Ontsaglike Pasga word beplan, maar aangesien daar geen tyd is om in die eerste maand voorbereidsels te tref nie, word ’n voorsiening van die Wet benut en word dit in die tweede maand van die eerste jaar van Hiskia se regering gevier (2 Kron. 30:2, 3; Num. 9:10, 11). Die koning nooi nie net die hele Juda uit om dit by te woon nie, maar ook Israel, en hoewel sommige in Efraim, Manasse en Sebulon die spot dryf met die uitnodiging, verootmoedig ander hulle en kom hulle saam met die hele Juda na Jerusalem. Na die Pasga word die Fees van Ongesuurde Brode gevier. Wat ’n vreugdevolle sewedaagse fees is dit tog nie! Trouens, dit is so opbouend dat die hele vergadering die fees met nog sewe dae verleng. Daar is “groot blydskap in Jerusalem; want sedert die dae van Salomo, die seun van Dawid, die koning van Israel, het so iets in Jerusalem nie voorgekom nie” (2 Kron. 30:26). Die geestelik herstelde volk reageer met ’n verpletterende veldtog om Juda sowel as Israel van afgodery te suiwer, terwyl Hiskia van sy kant weer die materiële bydraes vir die Leviete en die tempeldienste instel.
29. Hoe beloon Jehovah Hiskia se onvoorwaardelike vertroue in Hom?
29 Dan val Sanherib, die koning van Assirië, Juda binne en bedreig hy Jerusalem. Hiskia skep moed, herstel die stad se verdedigingswerke en trotseer die uittarting van die vyand. Hy vertrou volkome op Jehovah en bly om hulp bid. Jehovah verhoor hierdie gebed van geloof op dramatiese wyse. Hy stuur “’n engel, en dié [verdelg] al die dapper helde en bevelhebbers en owerstes in die laer van die koning van Assirië” (32:21). Sanherib keer beskaamd terug huis toe. Selfs sy gode kan hom nie sy aansien help red nie, want later word hy by hulle altaar deur sy eie seuns doodgemaak (2 Kon. 19:7). Jehovah verleng Hiskia se lewe op wonderdadige wyse en hy verkry groot rykdom en heerlikheid, en by sy dood bewys die hele Juda hom eer.
30. (a) Tot watter goddeloosheid keer Manasse terug, maar wat volg op sy berou? (b) Wat kenmerk Amon se kort regering?
30 Manasse en Amon regeer goddeloos (33:1-25). Hiskia se seun Manasse keer terug na die goddelose weg van sy grootvader Agas en maak al die goed wat gedurende Hiskia se regering tot stand gebring is ongedaan. Hy bou die hoogtes, rig die heilige boomstamme op en offer selfs sy seuns aan valse gode. Uiteindelik bring Jehovah die koning van Assirië teen Juda, en Manasse word as gevangene na Babel weggevoer. Daar het hy berou oor sy oortredinge. Wanneer Jehovah barmhartigheid toon deur hom in sy koningskap te herstel, probeer hy demonaanbidding uitroei en ware godsdiens herstel. Maar wanneer Manasse na ’n lang regering van 55 jaar sterf, bestyg sy seun Amon die troon, en hy is goddeloos en bevorder weer valse aanbidding. Na twee jaar bring sy eie dienaars hom om die lewe.
31. Wat is die hoogtepunte van Josia se moedige regering?
31 Josia se moedige regering (34:1–35:27). Die jeugdige Josia, ’n seun van Amon, wend ’n moedige poging aan om ware aanbidding te herstel. Hy laat die altare van die Baäls en die gesnede beelde afbreek en herstel die huis van Jehovah, waar “die wetboek van die HERE gevind [word] wat deur die diens van Moses gegee is”, ongetwyfeld die oorspronklike eksemplaar (34:14). Tog word regverdige Josia vertel dat onheil oor die land sal kom weens die ontrou wat reeds plaasgevind het, maar dat dit nie in sy dag sal gebeur nie. In die 18de jaar van sy regering tref hy reëlings vir ’n uitsonderlike Pasgaviering. Na 31 jaar van heerskappy word Josia gedood in ’n vergeefse poging om te verhoed dat die Egiptiese leërs op pad na die Eufraat deur die land trek.
32. Hoe voer die laaste vier konings Juda na ’n rampspoedige einde?
32 Joahas, Jojakim, Jojagin, Sedekia en Jerusalem se verwoesting (36:1-23). Die goddeloosheid van die laaste vier Judese konings voer die nasie gou na sy rampspoedige einde. Josia se seun Joahas regeer slegs drie maande en word deur Farao Nego van Egipte afgesit. Hy word vervang deur sy broer Eljakim, wie se naam verander word na Jojakim en gedurende wie se regering Juda deur die nuwe wêreldmoondheid, Babel, onderwerp word (2 Kon. 24:1). Wanneer Jojakim rebelleer, trek Nebukadnesar in 618 v.G.J. na Jerusalem op om hom te straf, maar Jojakim sterf dieselfde jaar, na hy 11 jaar regeer het. Hy word deur sy 18-jarige seun Jojagin vervang. Na Jojagin skaars drie maande regeer het, gee hy hom oor aan Nebukadnesar en word hy as gevangene na Babel weggevoer. Nebukadnesar plaas nou ’n derde seun van Josia, Jojagin se oom Sedekia, op die troon. Sedekia regeer 11 jaar lank sleg en weier om hom op bevel van Jehovah ‘voor die profeet Jeremia te verootmoedig’ (2 Kron. 36:12). Die priesters, sowel as die volk, maak hulle skuldig aan grootskaalse ontrou en verontreinig die huis van Jehovah.
33. (a) Hoe begin die 70 jaar van verwoesting ‘sodat die woord van die HERE vervul sou word’? (b) Watter geskiedkundige bevel is in die laaste twee verse van Tweede Kronieke opgeteken?
33 Ten slotte rebelleer Sedekia teen Babel se juk, en hierdie keer toon Nebukadnesar geen genade nie. Die maat van Jehovah se toorn is vol en daar is geen genesing nie. Jerusalem val, sy tempel word geplunder en verbrand, en die oorlewendes van die 18 maande lange beleëring word as gevangenes na Babel weggevoer. Juda word woes gelaat. In hierdie einste jaar, 607 v.G.J., begin die verwoesting dus “sodat die woord van die HERE deur die mond van Jeremia vervul sou word . . . om sewentig jaar vol te maak” (36:21). Die kroniekskrywer slaan dan hierdie tydperk van bykans 70 jaar oor om in die laaste twee verse die geskiedkundige bevel wat Kores in 537 v.G.J. uitvaardig, op te teken. Die Joodse gevangenes moet vrygestel word! Jerusalem moet herrys!
WAAROM NUTTIG
34. Wat word deur Esra se keuse van materiaal benadruk, en hoe was dit nuttig vir die nasie?
34 Tweede Kronieke voeg sy kragtige getuienis by dié van ander getuies oor hierdie veelbewoë tydperk, 1037-537 v.G.J. Daarbenewens verskaf dit waardevolle aanvullende inligting wat nie in ander kanonieke geskiedeniswerke gevind word nie, byvoorbeeld in 2 Kronieke hoofstukke 19, 20 en 29 tot 31. Esra se keuse van materiaal benadruk die fundamentele en permanente elemente in die geskiedenis van die nasie, soos die priesterdom en dié se diens, die tempel en die Koninkryksverbond. Dit was nuttig om die nasie byeen te hou in die hoop op die Messias en sy Koninkryk.
35. Watter belangrike punte word in die laaste verse van Tweede Kronieke bewys?
35 Die laaste verse van Tweede Kronieke (36:17-23) verstrek afdoende bewys van die vervulling van Jeremia 25:12 en toon boonop dat ’n volle 70 jaar getel moet word van die algehele verwoesting van die land tot die herstel van Jehovah se aanbidding in Jerusalem in 537 v.G.J. Hierdie verwoesting begin derhalwe in 607 v.G.J.c—Jer. 29:10; 2 Kon. 25:1-26; Esra 3:1-6.
36. (a) Watter kragtige vermaninge bevat Tweede Kronieke? (b) Hoe versterk dit die verwagting ten opsigte van die Koninkryk?
36 Tweede Kronieke bevat kragtige vermaninge vir diegene wat in die Christelike geloof wandel. So baie van die konings van Juda het goed begin maar dan in goddelose weë verval. Hoe kragtig lig hierdie historiese verslag tog toe dat sukses afhang van getrouheid aan God! Ons moet dus gewaarsku wees dat daar by ons “geen onttrekking tot verderf [moet wees] nie, maar geloof tot behoud van die lewe” (Hebr. 10:39). Selfs getroue koning Hiskia het hoogmoedig geword toe hy van sy siekte herstel het, en dit was slegs omdat hy hom gou verootmoedig het dat hy Jehovah se verontwaardiging kon vermy. Tweede Kronieke verheerlik Jehovah se wonderlike eienskappe en loof sy naam en soewereiniteit. Die hele geskiedenis word uit die standpunt van uitsluitlike toegewydheid aan Jehovah weergegee. Aangesien die boek ook klem lê op die koninklike geslagslyn van Juda, versterk dit ons verwagting om rein aanbidding verhef te sien onder die ewige Koninkryk van Jesus Christus, die lojale “seun van Dawid”.—Matt. 1:1; Hand. 15:16, 17.
[Voetnote]
a Insight on the Scriptures, Dl. 1, bladsy 147.
b Insight on the Scriptures, Dl. 1, bladsye 750-1; Dl. 2, bladsye 1076-8.
c Insight on the Scriptures, Dl. 1, bladsy 463; Dl. 2, bladsy 326.