Bybelboek nommer 13—1 Kronieke
Skrywer: Esra
Waar geskryf: Jerusalem (?)
Wanneer geskryf: ca. 460 v.G.J.
Beskrewe tydperk: Ná 1 Kronieke 9:44: 1077–1037 v.G.J.
1. In watter opsigte is Eerste Kronieke ’n onontbeerlike en nuttige deel van die goddelike verslag?
IS Eerste Kronieke net ’n droë opsomming van geslagsregisters? Is dit bloot ’n herhaling van die boeke Samuel en Konings? Glad nie! Hier is ’n insiggewende en onontbeerlike deel van die goddelike verslag—onontbeerlik vir die reorganisering van die nasie en sy aanbidding in die tyd toe dit geskryf is, en onontbeerlik en nuttig omdat dit ’n model van goddelike aanbidding vir latere tye verskaf, ons dag inkluis. Eerste Kronieke bevat van die mooiste lofbetuiginge aan Jehovah wat in die hele Skrif te vinde is. Dit verskaf wonderlike toekomsblikke van Jehovah se Koninkryk van regverdigheid, en almal wat hulle hoop op daardie Koninkryk stel, kan dit met nut bestudeer. Jode sowel as Christene het Eerste en Tweede Kronieke deur die eeue heen hooggeskat. Die Bybelvertaler Hieronimus het so ’n verhewe dunk van Eerste en Tweede Kronieke gehad dat hy hulle as ’n “samevatting van die Ou Testament” beskou het en beweer het dat “hulle so gewigtig en belangrik is dat hy wat meen dat hy met die heilige geskrifte bekend is, en hulle nie ken nie, homself net mislei”.a
2. Waarom is Kronieke geskryf?
2 Eerste en Tweede Kronieke was blykbaar oorspronklik een boek, of rol, wat later gerieflikheidshalwe verdeel is. Waarom is Kronieke geskryf? Beskou die agtergrond. Die Babiloniese ballingskap het sowat 77 jaar tevore geëindig. Die Jode het hulle weer in hulle land gevestig. Daar was egter ’n gevaarlike neiging om af te dwaal van Jehovah se aanbidding by die herboude tempel in Jerusalem. Esra is deur die koning van Persië gemagtig om regters en onderrigters van die wet van God (sowel as dié van die koning) aan te stel en om die huis van Jehovah te versier. Juiste geslagsregisters was nodig om te verseker dat slegs persone wat die reg daarop het as priesters dien en ook om die stamerfdele, waaruit die priesterdom sy onderhoud gekry het, te bevestig. Met die oog op Jehovah se profesieë oor die Koninkryk was dit ook noodsaaklik om ’n duidelike en betroubare verslag oor die nakomelinge van Juda en van Dawid te hê.
3. (a) Wat wou Esra by die Jode inprent? (b) Waarom het hy nadruk gelê op die geskiedenis van Juda, en hoe het hy die belangrikheid van ware aanbidding beklemtoon?
3 Dit was Esra se opregte begeerte om die herstelde Jode uit hulle apatie op te wek en hulle te besiel met die besef dat hulle inderdaad die erfgename van Jehovah se liefderyke goedheid was wat deur sy verbond verseker is. In die Kronieke sit hy derhalwe vir hulle ’n volledige verslag uiteen oor die nasie se geskiedenis en oor die herkoms van die mens, en hy voer dit terug tot by die eerste mens, Adam. Aangesien die koninkryk van Dawid die middelpunt was, het hy nadruk gelê op die geskiedenis van Juda en die absoluut onverdienstelike geskiedenis van die tienstammeryk feitlik heeltemal uitgelaat. Hy het Juda se grootste konings beskryf as bouers of herstellers van die tempel en as ywerige voorgangers in die aanbidding van God. Hy het gewys op die godsdienssondes wat tot die koninkryk se omverwerping gelei het, terwyl hy ook God se herstellingsbeloftes benadruk het. Hy het die belangrikheid van ware aanbidding beklemtoon deur die aandag te vestig op die baie besonderhede in verband met die tempel, sy priesters, die Leviete, die sangmeesters, ensovoorts. Dit moes vir die Israeliete baie bemoedigend gewees het om ’n geskiedkundige verslag te hê wat gedraai het om die rede vir hulle terugkeer uit ballingskap—die herstel van Jehovah se aanbidding in Jerusalem.
4. Watter bewyse steun Esra se skrywerskap van Kronieke?
4 Watter bewys is daar dat Esra Kronieke geskryf het? Die laaste twee verse van Tweede Kronieke is dieselfde as die eerste twee verse van Esra, en Tweede Kronieke eindig in die middel van ’n sin wat in Esra 1:3 voltooi word. Die skrywer van Kronieke moes derhalwe ook die skrywer van Esra gewees het. Dit word verder bevestig deurdat die styl, taal, bewoording en spelling van Kronieke en Esra dieselfde is. Party van die uitdrukkings in hierdie twee boeke word in geen ander Bybelboek aangetref nie. Esra, wat die boek Esra geskryf het, moes ook Kronieke geskryf het. Joodse oorlewering staaf hierdie gevolgtrekking.
5. Wat was Esra se geestelike en sekulêre kwalifikasies?
5 Niemand was beter bekwaam om hierdie egte en akkurate geskiedenis saam te stel as Esra nie. “Want Esra het sy hart daarop gerig om die wet van die HERE te ondersoek en te betrag, en om Israel die insettinge en verordeninge te leer” (Esra 7:10). Jehovah het hom deur middel van heilige gees gehelp. Die Persiese wêreldheerser het die wysheid van God in Esra gesien en omvattende burgerlike magte in die regsgebied Juda aan hom verleen (Esra 7:12-26). Aldus toegerus met goddelike en vorstelike gesag, kon Esra sy verslag aan die hand van die beste beskikbare dokumente saamstel.
6. Waarom kan ons vertroue in die juistheid van Kronieke hê?
6 Esra was ’n uitsonderlike navorser. Hy het ouer verslae oor Joodse geskiedenis deurvors wat deur betroubare profete van die betrokke tye saamgestel is, sowel as dié wat deur amptelike skrywers en houers van openbare verslae saamgestel is. Sommige van die geskrifte wat hy geraadpleeg het, was moontlik staatsdokumente van Israel sowel as Juda, geslagsregisters, geskiedeniswerke wat deur profete geskrywe is en die dokumente van stam- of familiehoofde. Esra meld ten minste 20 sulke inligtingsbronne.b Deur hierdie spesifieke vermeldinge het Esra sy tydgenote die eerlike geleentheid gegee om sy bronne na te gaan as hulle wou, en dit versterk die bewysgrond vir die geloofwaardigheid en egtheid van sy woord aansienlik. Ons kan vandag om dieselfde rede as die Jode van Esra se tyd vertroue in die juistheid van Eerste en Tweede Kronieke hê.
7. Wanneer is Kronieke geskryf, wie het dit as eg beskou, en watter tydperk dek dit?
7 Aangesien Esra in die sewende jaar van die Persiese koning Artasasta (Artaxerxes Longimanus), dit wil sê, 468 v.G.J., ‘uit Babel opgetrek het’ en Esra geen melding maak van Nehemia se betekenisvolle aankoms in 455 v.G.J. nie, moes Kronieke tussen hierdie jaartalle, waarskynlik omstreeks die jaar 460 v.G.J., in Jerusalem voltooi gewees het (Esra 7:1-7; Neh. 2:1-18). Die Jode van Esra se dag het Kronieke aanvaar as ’n egte deel van ‘die hele Skrif wat deur God geïnspireer is en nuttig is’. Hulle het dit Div·rêʹ Hai·ja·mimʹ genoem, wat “Die aangeleenthede van die dae” beteken, dit wil sê, die geskiedenis van die dae of tye. Sowat 200 jaar later het die vertalers van die Griekse Septuagint Kronieke ook as ’n kanonieke boek opgeneem. Hulle het die boek in twee dele verdeel, en omdat hulle gemeen het dat dit ’n aanvulling tot Samuel en Konings of tot die hele Bybel van daardie tyd was, het hulle dit Pa·ra·lei·po·meʹnon genoem, wat beteken “Dinge wat oorgeslaan is (onvermeld gelaat is; weggelaat is)”. Hoewel die naam nie juis gepas is nie, toon hulle handelwyse nietemin dat hulle Kronieke as ’n egte, geïnspireerde deel van die Skrif beskou het. Met die opstelling van die Latynse Vulgaat het Hieronimus aan die hand gedoen: “Dit sal veelseggender wees as ons [hulle] die Khro·ni·konʹ van die hele goddelike geskiedenis noem.” Die titel “Kronieke” is blykbaar hiervan afgelei. ’n Kroniek is ’n verslag van gebeure in die volgorde waarin dit plaasgevind het. Na sy opsomming van geslagsregisters handel Eerste Kronieke hoofsaaklik oor die tyd van koning Dawid, van 1077 v.G.J. tot sy dood.
INHOUD VAN EERSTE KRONIEKE
8. In watter twee gedeeltes word die boek Eerste Kronieke natuurlikerwys verdeel?
8 Die boek Eerste Kronieke word natuurlikerwys in twee gedeeltes verdeel: die eerste 9 hoofstukke wat hoofsaaklik oor geslagsregisters handel en die laaste 20 hoofstukke wat gebeure gedurende die 40 jaar tussen die dood van Saul en die einde van Dawid se regering beskryf.
9. Waarom is daar geen rede om ’n latere datum vir die skrywe van Kronieke voor te staan nie?
9 Die geslagsregisters (1:1–9:44). Hierdie hoofstukke verstrek die geslagsregister van Adam tot by die geslagslyn van Serubbabel (1:1; 3:19-24). Baie vertalings voer die geslagslyn van Serubbabel tot die tiende geslag. Aangesien hy in 537 v.G.J. na Jerusalem teruggekeer het, sou daar nie genoeg tyd gewees het vir soveel geslagte om gebore te word voor 460 v.G.J. nie, die jaar waarin Esra blykbaar die geskrif voltooi het. Hierdie deel van die Hebreeuse teks is egter onvolledig, en daar kan nie vasgestel word hoe die meeste van die manne wat genoem word aan Serubbabel verwant was nie. Daar is gevolglik geen rede om, soos party, ’n latere datum vir die skrywe van Kronieke voor te staan nie.
10. (a) Watter geslagte word eerste gemeld? (b) Watter geslagslyn word logieserwys aan die begin van die tweede hoofstuk beskryf? (c) Watter ander opsommings word gegee, en waarmee eindig dit?
10 Die tien geslagte van Adam tot Noag word eerste gemeld, en dan die tien geslagte tot by Abraham. Abraham se seuns en hulle nakomelinge; die nageslag van Esau en van Seïr, wat in die gebergte Seïr gewoon het; en die eerste konings van Edom word aangegee. Van die tweede hoofstuk af handel die verslag egter oor die afstammelinge van Israel, of Jakob, van wie die geslagslyn eers deur Juda en dan tien geslagte verder tot by Dawid gevolg word (2:1-14). Die geslagslyne van die ander stamme word ook opgesom, met besondere verwysing na die stam van Levi en die hoëpriesters, en eindig met ’n geslagsregister van die stam van Benjamin, waardeur koning Saul, ’n Benjaminiet, bekend gestel word en met wie die geskiedkundige verslag dan in enge sin begin. Dit lyk soms of daar teenstrydighede tussen Esra se geslagsregisters en ander Bybelgedeeltes is. ’n Mens moet egter in gedagte hou dat sekere persone ook by ander name bekend gestaan het en dat die spelling van party name weens taalveranderinge en die verloop van tyd kan verander. Deur noukeurige studie word die meeste haakplekke uit die weg geruim.
11. Gee voorbeelde van ander nuttige inligting wat hier en daar in die geslagsregisters ingevoeg is.
11 Esra onderbreek sy geslagsregisters hier en daar met brokkies geskiedkundige en geografiese inligting wat sake ophelder en belangrike waarskuwings gee. Wanneer Esra byvoorbeeld Ruben se nakomelinge aangee, voeg hy ’n belangrike brokkie inligting by: “En die seuns van Ruben, die eersgeborene van Israel—want hy was die eersgeborene; maar omdat hy die bed van sy vader ontheilig het, is sy eersgeboortereg aan die seuns van Josef, die seun van Israel, gegee, maar hy moes nie in die geslagsregister volgens die eersgeboortereg aangegee word nie; want Juda was sterk onder sy broers, en uit hom het een ’n vors geword, maar die eersgeboortereg het Josef gehad” (5:1, 2). Met hierdie paar woorde word baie verklaar. Dit is ook net in Kronieke dat ons verneem dat Joab, Amasa en Abisai almal neefs van Dawid was, wat ons help om die verskillende gebeure in verband met hulle te verstaan.—2:16, 17.
12. Onder watter omstandighede sterf Saul?
12 Saul se ontrou lei tot sy dood (10:1-14). Die verhaal begin met die Filistyne se hewige aanval in die geveg op die berg Gilboa. Drie van Saul se seuns, Jonatan inkluis, word gedood. Dan word Saul gewond. Omdat hy nie in die hande van die vyand wil val nie, spoor hy sy wapendraer aan: “Trek jou swaard uit en deurboor my daarmee; anders kom hierdie onbesnedenes en dryf die spot met my.” Wanneer sy wapendraer weier, maak Saul homself dood. So sterf Saul “weens ontrou wat hy teen die HERE begaan het, weens die woord van die HERE wat hy nie gehou het nie; en ook omdat hy die gees van ’n afgestorwene om inligting gevra het, maar die HERE nie geraadpleeg het nie” (10:4, 13, 14). Jehovah gee die koninkryk aan Dawid.
13. Hoe geniet Dawid voorspoed in die koninkryk?
13 Dawid word in die koninkryk bevestig (11:1–12:40). Mettertyd kom die 12 stamme in Hebron by Dawid bymekaar en salf hulle hom as koning oor die hele Israel. Hy neem Sion in en ‘word gedurigdeur groter, want Jehovah van die leërskare is met hom’ (11:9). Sterk manne word oor die leër aangestel en deur hulle gee Jehovah met “’n groot oorwinning” redding (11:14). Dawid ontvang verenigde steun wanneer die krygsmanne met ’n onverdeelde hart saamstroom om hom koning te maak. Daar word feesgevier en gejuig in Israel.
14. Hoe vaar Dawid in die gevegte met die Filistyne, en watter geloofinboesemende geleentheid gee aanleiding tot vreugdevolle sang?
14 Dawid en die ark van Jehovah (13:1–16:36). Dawid beraadslaag met die volksleiers, en hulle stem in om die Ark van Kirjat-Jearim, waar dit al nagenoeg 70 jaar is, na Jerusalem te bring. Op pad sterf Ussa omdat hy oneerbiedig is en God se instruksies veronagsaam, en die Ark word ’n ruk lank by die huis van Obed-Edom gelaat (Num. 4:15). Die Filistyne hervat hulle invalle, maar Dawid bring hulle twee verpletterende neerlae toe, by Baäl-Perasim en by Gibeon. Op bevel van Dawid volg die Leviete nou teokratiese prosedure om die Ark veilig na Jerusalem te bring, waar dit te midde van gedans en gejuig in ’n tent geplaas word wat Dawid daarvoor opgeslaan het. Daar word offers gebring en gesing, en Dawid self dra ’n danklied aan Jehovah op vir die geleentheid. Dit bereik ’n groot klimaks in die tema: “Laat die hemele bly wees en die aarde juig, en laat hulle onder die volke sê: Die HERE is Koning!” (1 Kron. 16:31). Wat ’n aangrypende, geloofinboesemende geleentheid tog! Later word hierdie lied van Dawid verwerk as die grondslag vir nuwe liedere, waarvan Psalm 96 een is. Nog een is opgeteken in die eerste 15 verse van Psalm 105.
15. Met watter wonderlike belofte antwoord Jehovah Dawid se begeerte om ’n huis vir verenigde aanbidding te bou?
15 Dawid en Jehovah se huis (16:37–17:27). Daar is nou ’n buitengewone situasie in Israel. Die verbondsark staan in ’n tent in Jerusalem waar Asaf en sy broers diens verrig, terwyl die hoëpriester Sadok en sy broers die voorgeskrewe offerandes by die tabernakel in Gibeon ’n paar kilometer noordwes van Jerusalem bring. Dawid, wat altyd daaraan gedagtig is om Jehovah se aanbidding te verhef en te verenig, gee sy begeerte te kenne om ’n huis vir Jehovah se verbondsark te bou. Maar Jehovah sê dat nie Dawid nie maar sy seun ’n huis vir Hom sal bou en dat Hy gewis “sy troon [sal] bevestig tot in ewigheid” en goedertierenheid aan hom sal bewys soos ’n vader aan ’n seun (17:11-13). Hierdie wonderlike belofte van Jehovah—hierdie verbond vir ’n ewige koninkryk—raak Dawid diep. Hy vloei oor van dankbaarheid en versoek dat Jehovah se naam “waar gemaak word en . . . groot word tot in ewigheid” en dat Sy seën op Dawid se huis mag rus.—17:24.
16. Watter belofte vervul Jehovah deur Dawid, maar hoe sondig Dawid?
16 Dawid se oorwinnings (18:1–21:17). Deur Dawid vervul Jehovah nou Sy belofte om die hele Beloofde Land aan Abraham se saad te gee (18:3). In ’n vinnige opeenvolging van veldtogte gee Jehovah “Dawid die oorwinning” oral waar hy gaan (18:6). In oorweldigende militêre oorwinnings onderwerp Dawid die Filistyne, verslaan hy die Moabiete sowel as die Sobahiete, dwing hy die Arameërs (Siriërs) om skatting te betaal en verower hy Edom en Ammon, asook Amalek. Satan hits Dawid egter aan om Israel te tel en so te sondig. Jehovah stuur ’n plaag as straf, maar bring die onheil genadiglik tot ’n einde by Ornan se dorsvloer nadat 70 000 gedood is.
17. Watter voorbereidsels tref Dawid vir die bou van Jehovah se huis, en hoe moedig hy Salomo aan?
17 Dawid se voorbereidsels vir die tempel (21:18–22:19). Dawid ontvang by monde van Gad ’n bevel van ’n engel “om vir die HERE ’n altaar op te rig op die dorsvloer van Ornan, die Jebusiet” (21:18). Na Dawid die plek van Ornan gekoop het, bring hy gehoorsaam offerandes daar en roep hy Jehovah aan, wat hom “met vuur uit die hemel op die brandofferaltaar” antwoord (21:26). Dawid kom tot die slotsom dat Jehovah wil hê dat sy huis daar gebou moet word, en hy reël dat die materiaal gevorm en bymekaargemaak word en sê: “My seun Salomo is jonk en teer, en die huis wat vir die HERE gebou moet word, moet buitengewoon groot wees, tot ’n roem en ’n sieraad vir al die lande; laat my dan vir hom die bou voorberei” (22:5). Hy verduidelik aan Salomo dat Jehovah hom nie toegelaat het om die huis te bou nie, aangesien hy ’n man van oorlog en bloed was. Hy vermaan sy seun om moedig en sterk in hierdie onderneming te wees en sê: “Maak jou klaar en gaan aan die werk, en mag die HERE met jou wees!”—22:16.
18. Waarom word ’n telling gehou?
18 Dawid tref organisatoriese reëlings vir Jehovah se aanbidding (23:1–29:30). ’n Telling word gehou, hierdie keer ooreenkomstig God se wil, vir die reorganisering van die priesterlike en Levitiese dienste. Die Levitiese dienste word hier breedvoeriger beskryf as op enige ander plek in die Skrif. Dan word die afdelings vir die diens van die koning uiteengesit.
19. Met watter woorde dra Dawid die tempelbouwerk aan Salomo op, watter planne voorsien hy, en watter uitstekende voorbeeld stel hy?
19 Teen die einde van sy gebeurtenisvolle regering vergader Dawid die verteenwoordigers van die hele nasie, “die vergadering van die HERE” (28:8). Die koning staan op. “Luister na my, my broers en my volk!” Dan praat hy met hulle oor sy hartsbegeerte, “die huis van die HERE”. In hulle teenwoordigheid gee hy Salomo opdrag: “En jy, my seun Salomo, ken die God van jou vader en dien Hom met ’n volkome hart en met ’n gewillige siel, want die HERE deursoek al die harte, en Hy verstaan elke versinsel van die gedagtes. As jy Hom soek, sal Hy Hom deur jou laat vind; maar as jy Hom verlaat, sal Hy jou vir altyd verstoot. Kyk nou, die HERE het jou verkies om ’n huis vir ’n heiligdom te bou; wees sterk en voer dit uit” (28:2, 9, 10, 12). Hy gee die jong Salomo die gedetailleerde bouplanne wat hy deur inspirasie van Jehovah ontvang het en dra ’n ontsaglike persoonlike fortuin tot die bouprojek by—3 000 talente goud en 7 000 talente silwer, wat hy vir hierdie doel gespaar het. Met so ’n uitstekende voorbeeld voor hulle reageer die owerstes en die volk deur goud ter waarde van 5 000 talente en 10 000 darieke en silwer ter waarde van 10 000 talente, asook baie yster en koper, by te drac (29:3-7). Die volk verheug hulle oor hierdie voorreg.
20. Watter verhewe hoogtes word in Dawid se laaste gebed bereik?
20 Dawid loof Jehovah dan in gebed en erken dat hierdie oorvloedige offer in werklikheid uit Sy hand kom en smeek dat Hy sal aanhou om die volk en Salomo te seën. Hierdie laaste gebed van Dawid bereik verhewe hoogtes in die verheerliking van Jehovah se koninkryk en Sy roemryke naam: “U sy geloofd, HERE, God van ons vader Israel van ewigheid tot ewigheid. Aan U, HERE, kom toe die grootheid en die mag en die heerlikheid en die roem en die majesteit, ja, alles in hemel en op aarde; aan U, HERE, kom toe die koningskap en die selfverhoging as Hoof oor alles. En die rykdom en die eer kom van U, en U heers oor alles; en in u hand is krag en mag, en in u hand is dit om alles groot en sterk te maak. En nou, onse God, ons loof U, en ons prys u heerlike Naam.”—29:10-13.
21. Op watter verhewe noot eindig Eerste Kronieke?
21 Salomo word ’n tweede maal gesalf en gaan sit in die plek van die bejaarde Dawid op ‘die troon van Jehovah’. Na ’n regering van 40 jaar sterf Dawid “in goeie ouderdom . . . , afgeleef, vol rykdom en eer” (29:23, 28). Esra sluit Eerste Kronieke dan op ’n verhewe noot af deur die voortreflikheid van Dawid se koninkryk bo al die koninkryke van die nasies te beklemtoon.
WAAROM NUTTIG
22. Hoe is Esra se mede-Israeliete bemoedig deur Eerste Kronieke?
22 Esra se mede-Israeliete het groot nut uit sy boek geput. Hierdie beknopte geskiedverslag met sy fris en optimistiese gesigspunt het hulle waardering gegee vir Jehovah se liefdevolle barmhartighede teenoor hulle op grond van sy lojaliteit teenoor die Koninkryksverbond met koning Dawid en ter wille van sy eie naam. Aldus bemoedig, kon hulle die ware aanbidding van Jehovah met hernieude ywer opneem. Die geslagsregisters het hulle vertroue versterk in die priesterdom wat by die herboude tempel gedien het.
23. Hoe het Mattheüs, Lukas en Stefanus Eerste Kronieke goed benut?
23 Eerste Kronieke het die vroeë Christengemeente ook tot groot nut gestrek. Mattheüs en Lukas kon die geslagsregisters gebruik om duidelik te bewys dat Jesus Christus die “seun van Dawid” en die Messias met die wetlike reg was (Matt. 1:1-16; Luk. 3:23-38). Aan die einde van sy laaste getuienis het Stefanus gepraat van Dawid se versoek om ’n huis vir Jehovah te bou en van hoe Salomo dit gebou het. Toe het hy getoon dat ‘die Allerhoogste nie woon in tempels wat met hande gemaak is nie’, waarmee hy te kenne gegee het dat die tempel van Salomo se dag baie glorieryker hemelse dinge afgebeeld het.—Hand. 7:45-50.
24. Watter aspekte van Dawid se skitterende voorbeeld kan ons vandag navolg?
24 Wat van ware Christene van vandag? Eerste Kronieke behoort ons geloof op te bou en te stimuleer. Daar is baie wat ons in Dawid se skitterende voorbeeld kan navolg. Hoe het hy tog van die ontroue Saul verskil deur Jehovah altyd te raadpleeg! (1 Kron. 10:13, 14; 14:13, 14; 17:16; 22:17-19). Deur die ark van Jehovah na Jerusalem te bring, deur sy lofpsalms, deur die Leviete vir diens te organiseer en deur sy versoek om ’n luisterryke huis vir Jehovah te bou, het Dawid getoon dat Jehovah en Sy aanbidding by hom die voorkeur geniet het (16:23-29). Hy was nie ’n klaer nie. Hy het nie spesiale voorregte vir homself nagestreef nie, maar het slegs Jehovah se wil probeer doen. Toe Jehovah die bou van die tempel aan sy seun opgedra het, het hy sy seun dus van ganser harte onderrig en van sy tyd, sy energie en sy rykdom gebruik ter voorbereiding van die werk wat na sy dood sou begin (29:3, 9). Inderdaad ’n uitstekende voorbeeld van toegewydheid!—Hebr. 11:32.
25. Watter waardering vir Jehovah se naam en Koninkryk behoort Eerste Kronieke in ons te wek?
25 Dan is daar die slothoofstukke wat so ’n klimaks bereik. Die pragtige taal waarmee Dawid Jehovah geloof en sy “heerlike Naam” verheerlik het, moet in ons vreugdevolle waardering wek vir die voorreg wat ons vandag het om die heerlikhede van Jehovah en sy Koninkryk onder Christus bekend te maak (1 Kron. 29:10-13). Mag ons geloof en vreugde altyd soos dié van Dawid wees wanneer ons ons dankbaarheid vir Jehovah se ewige Koninkryk betuig deur ons hart en siel aan Sy diens te wy (17:16-27). Eerste Kronieke verleen voorwaar die grootste luister tot dusver aan die Bybeltema van Jehovah se Koninkryk in die hande van sy Saad en laat ons vol verwagting uitsien na verdere opwindende onthullings van Jehovah se voornemens.
[Voetnote]
a Clarke se Commentary, Dl. II, bladsy 574.
b Insight on the Scriptures, Dl. 1, bladsye 444-5.
c Insight on the Scriptures, Dl. 2, bladsy 1076.