Jehovah se Woord is lewend
Glanspunte uit die boek Nehemia
TWAALF jaar het verloop sedert die laaste gebeurtenisse wat in die Bybelboek Esra plaasgevind het. Die tyd is nou naby vir “die uitgang van die woord om Jerusalem te herstel en te herbou”—die gebeurtenis wat die begin aandui van die 70 weke van jare wat die koms van die Messias voorafgaan (Daniël 9:24-27). Die boek Nehemia is ’n geskiedenisverslag van God se volk tydens die herbouing van Jerusalem se muur. Dit dek ’n belangrike tydperk van meer as 12 jaar, van 456 v.G.J. tot ná 443 v.G.J.
Die boek is deur goewerneur Nehemia geskryf en is ’n opwindende verslag van hoe ware aanbidding verhef word wanneer daadwerklike optrede met algehele vertroue op Jehovah God gepaardgaan. Dit toon duidelik hoe Jehovah sake bewerkstellig om sy wil te volbring. Dit is ook die verhaal van ’n sterk en moedige leier. Die boodskap van die boek Nehemia voorsien waardevolle lesse vir alle ware aanbidders van vandag, “want die woord van God is lewend en oefen krag uit”.—Hebreërs 4:12.
“EINDELIK IS DIE MUUR . . . VOLTOOI”
Nehemia is in die kasteel Susan, waar hy koning Artasasta Longimanus in ’n vertrouensposisie dien. Wanneer Nehemia die nuus hoor dat die volk ‘in ’n uiters benarde toestand en in smaad verkeer, en die muur van Jerusalem stukkend lê en sy poorte met vuur verbrand is’, is hy baie ontsteld. Hy bid vurig tot God vir leiding (Nehemia 1:3, 4). Later sien die koning dat Nehemia bedroef is, en hy word die geleentheid gegee om na Jerusalem te gaan.
Nadat Nehemia in Jerusalem aangekom het, ondersoek hy die muur in die nag, en hy vertel die Jode van sy plan om die muur te herbou. Die bouwerk begin. So ook die teenstand teen die werk. Maar onder die moedige leiding van Nehemia ‘word die muur eindelik voltooi’.—Nehemia 6:15.
Skriftuurlike vrae beantwoord:
1:1; 2:1—Word “die twintigste jaar” wat in hierdie twee verse genoem word, van dieselfde beginpunt af getel? Ja, albei verwys na die 20ste jaar van die bewind van koning Artasasta. Maar verskillende metodes is gebruik om in dié verse te tel. Geskiedkundige bewyse dui op 475 v.G.J. as die jaar toe Artasasta die troon bestyg het. Aangesien die Babiloniese geskiedskrywers gewoonlik die jare van die Persiese konings se heerskappy van Nisan (Maart/ April) tot Nisan getel het, het Artasasta se eerste regeringsjaar in Nisan van 474 v.G.J. begin. Gevolglik het die 20ste jaar van sy heerskappy wat in Nehemia 2:1 genoem word, in Nisan van 455 v.G.J. begin. Die maand Kislef (November/Desember) wat in Nehemia 1:1 genoem word, was logieserwys die Kislef van die vorige jaar—456 v.G.J. Volgens Nehemia het hierdie maand ook in die 20ste jaar van Artasasta se heerskappy geval. In dié geval het hy die jare moontlik getel vanaf die datum dat die koning die troon bestyg het. Nog ’n moontlikheid is dat Nehemia die tyd getel het volgens wat hedendaagse Jode ’n burgerlike jaar noem, wat in die maand Tisjri begin, wat met September/Oktober ooreenstem. Hoe dit ook al sy, die jaar waarin die woord uitgegaan het om Jerusalem te herstel, was 455 v.G.J.
4:17, 18—Hoe kon ’n man die herbouwerk met net een hand doen? Vir lasdraers was dit nie ’n probleem nie. Wanneer die vrag op hulle kop of skouers geplaas is, kon hulle dit maklik met een hand balanseer “terwyl die ander hand die werpspies vasgehou het”. Die bouers wat albei hande moes gebruik om hulle werk te doen, “het elkeen sy swaard aan sy heup gegord gehad, terwyl hulle gebou het”. Hulle was gereed om te veg as die vyand hulle sou aanval.
5:7—In watter sin het Nehemia “die edeles en die onderheersers begin verwyt”? Hierdie manne het rente begin eis van hulle mede-Jode, wat ’n skending van die Mosaïese Wet was (Levitikus 25:36; Deuteronomium 23:19). Boonop was die rente wat die uitleners geëis het, baie hoog. As dit maandeliks geëis is, was “die honderdste” gelykstaande aan 12 persent per jaar (Nehemia 5:11). Dit was wreed om hierdie las op te lê aan mense wat alreeds hoë belasting betaal het en ’n voedseltekort ondervind het. Nehemia het die rykes verwyt in die sin dat hy God se Wet gebruik het om hulle tereg te wys en te bestraf, en hy het sodoende hulle oortredinge blootgelê.
6:5—Waarom het Sanballat “’n oop brief” aan Nehemia gestuur, aangesien vertroulike briewe gewoonlik in ’n verseëlde sak geplaas is? Sanballat wou moontlik die valse aantygings wat gemaak is, openbaar maak deur dit in ’n oop brief te stuur. Miskien het hy gehoop dat dit Nehemia so kwaad sou maak dat hy met die bouwerk sou ophou en sou kom om hom te verdedig. Of Sanballat het dalk gedink dat die inhoud van die brief die Jode so bang sou maak dat hulle heeltemal met hulle werk sou ophou. Nehemia het hom nie laat afskrik nie en het kalm met sy godgegewe werk voortgegaan.
Lesse vir ons:
1:4; 2:4; 4:4, 5. Wanneer ons voor moeilike situasies te staan kom of belangrike besluite moet neem, moet ons ‘volhou met gebed’ en in ooreenstemming met teokratiese riglyne optree.—Romeine 12:12.
1:11–2:8; 4:4, 5, 15, 16; 6:16. Jehovah beantwoord die opregte gebede van sy knegte.—Psalm 86:6, 7.
1:4; 4:19, 20; 6:3, 15. Hoewel Nehemia ’n man met tere gevoelens was, het hy ’n goeie voorbeeld gestel as ’n man van aksie wat ferm standpunt ingeneem het vir geregtigheid.
1:11–2:3. Nehemia se grootste bron van vreugde was nie sy vooraanstaande posisie as ’n skinker nie. Dit was die bevordering van ware aanbidding. Moet Jehovah se aanbidding en alles wat dit bevorder, nie vir ons die hoofsaak in ons lewe en die grootste bron van vreugde wees nie?
2:4-8. Jehovah het sake so bewerk dat Artasasta Nehemia toestemming gegee het om die muur van Jerusalem te gaan herbou. “’n Koning se hart is soos waterstrome in die hand van Jehovah”, sê Spreuke 21:1. “Hy lei dit oral waar dit hom behaag.”
3:5, 27. Ons moenie fisiese werk wat in die belang van ware aanbidding gedoen word, as benede ons waardigheid beskou, soos die “vooraanstaandes” onder die Tekoïete gedoen het nie. Ons kan eerder die voorbeeld navolg van die gewone Tekoïete wat hulle gewillig ingespan het.
3:10, 23, 28-30. Hoewel dit vir sommige moontlik is om te verhuis na ’n plek waar meer Koninkryksverkondigers nodig is, ondersteun baie van ons ware aanbidding in ons omgewing. Ons kan dit doen deur te help met die bou van Koninkryksale en met noodlenigingspogings, maar hoofsaaklik deur die Koninkrykspredikingswerk te doen.
4:14. Wanneer ons teenstand ondervind, kan ook ons vrees te bowe kom deur te dink aan die Een wat “groot en vreesinboesemend” is.
5:14-19. Vir Christenopsieners is goewerneur Nehemia ’n uitstekende voorbeeld van nederigheid, onselfsugtigheid en onderskeidingsvermoë. Hoewel hy ywerig was om God se Wet te handhaaf, het hy ander nie vir selfsugtige gewin oorheers nie. Hy het eerder besorgdheid getoon teenoor die onderdruktes en die armes. Nehemia se vrygewigheid dien as ’n uitstekende voorbeeld vir al God se knegte.
“DINK TOG AAN MY, O MY GOD, TEN GOEDE”
Sodra Jerusalem se muur voltooi is, sit Nehemia die deure in en tref hy reëlings om die stad te beveilig. Dan stel hy ’n geslagsregister op van al die mense. Wanneer die hele volk bymekaarkom “op die openbare plein wat voor die Waterpoort” is, lees Esra die priester die boek van die Wet van Moses en verduidelik Nehemia en die Leviete die Wet aan die volk (Nehemia 8:1). Wanneer hulle van die Huttefees leer, vier hulle dit met vreugde.
Tydens nog ’n vergadering bely “die saad van Israel” die sondes van die nasie, gee die Leviete ’n oorsig van God se handelinge met Israel en lê die volk ’n eed af “om te wandel in die wet van die ware God” (Nehemia 9:1, 2; 10:29). Aangesien Jerusalem nog steeds te min inwoners het, word die lot gewerp om 1 uit elke 10 manne wat buite die stad woon, na die stad te laat trek. Daarna word die muur met soveel geesdrif ingewy dat “die blydskap van Jerusalem ver weg gehoor [kan] word” (Nehemia 12:43). Twaalf jaar ná Nehemia se aankoms verlaat hy Jerusalem om sy pligte onder Artasasta te hervat. Onreinheid begin kort voor lank onder die Jode insluip. Wanneer Nehemia na Jerusalem terugkeer, tree hy daadwerklik op om die situasie reg te stel. Vir homself doen hy ’n nederige versoek: “Dink tog aan my, o my God, ten goede.”—Nehemia 13:31.
Skriftuurlike vrae beantwoord:
7:6-67—Waarom verskil Nehemia se lys van die oorblyfsel wat saam met Serubbabel na Jerusalem teruggekeer het, van Esra s’n wat die afsonderlike getalle vir elke huisgesin betref? (Esra 2:1-65). Die rede vir hierdie verskille is moontlik dat Esra en Nehemia verskillende bronnemateriaal gebruik het. Byvoorbeeld, die aantal mense wat geregistreer het om terug te keer, het dalk verskil van dié wat wel teruggekeer het. Die twee verslae het moontlik ook verskil omdat sommige Jode wat hulle geslagslyn aanvanklik nie kon bewys nie, dit mettertyd gedoen het. Albei verslae stem egter oor een punt saam: Die getal van die eerste teruggekeerdes was 42 360, buiten die slawe en sangers.
10:34—Waarom moes die volk hout voorsien? Die Mosaïese Wet het nie ’n houtoffer vereis nie. Hierdie vereiste het bloot ontstaan weens die behoefte daaraan. Groot hoeveelhede hout was nodig om die offerandes op die altaar te brand. Daar was blykbaar nie genoeg Netinim, nie-Israelitiese tempelslawe, om hiermee te help nie. Die lot is dus gewerp om te verseker dat daar altyd hout was.
13:6, voetnoot in NW—Hoe lank was Nehemia weg van Jerusalem af? Die Bybel sê net dat Nehemia “’n ruk later”, of “na die einde van dae”, verlof van die koning gevra het om na Jerusalem terug te keer. Dit is dus onmoontlik om vas te stel hoe lank hy weg was. Toe Nehemia egter na Jerusalem terugkeer, het hy gevind dat die priesterdom nie ondersteun is en die Sabbatswet nie onderhou is nie. Baie het uitlandse vrouens geneem, en hulle kinders kon nie eens die taal van die Jode praat nie. Vir toestande om so te versleg, moes Nehemia lank weg gewees het.
13:25, 28—Watter ander regstellende stappe het Nehemia gedoen, behalwe om die afvallige Jode te “verwyt”? Nehemia het ‘’n vloek oor hulle uitgespreek’ in die sin dat hy die oordele in God se Wet teen hulle uitgespreek het. Hy het ‘party onder hulle geslaan’, moontlik deur geregtelike stappe teen hulle te laat neem. As ’n blyk van sy sedelike verontwaardiging het hy ‘hulle hare uitgetrek’. Hy het ook die kleinseun van die hoëpriester Eljasib weggejaag, wat met ’n dogter van Sanballat, die Horoniet, getrou het.
Lesse vir ons:
8:8. As onderrigters van God se Woord ‘gee ons betekenis daaraan’ deur die regte uitspraak en klem te gebruik en deur die Skrif reg uit te lê en sodoende die toepassing daarvan duidelik te maak.
8:10. Om “die vreugde van Jehovah” te geniet, moet ’n mens bewus wees van jou geestelike behoefte en dit bevredig, asook teokratiese riglyne volg. Hoe noodsaaklik is dit tog dat ons die Bybel ywerig bestudeer, Christelike vergaderinge gereeld bywoon en geesdriftig aan die Koninkrykspredikings- en dissipelmaakwerk deelneem!
11:2. Vir diegene wat hulle erfbesitting agtergelaat en in Jerusalem ingetrek het, het dit persoonlike onkoste en ’n aantal opofferinge behels. Dié wat aangebied het om dit te doen, het ’n selfopofferende gees geopenbaar. Ons kan ook so ’n gees openbaar wanneer vrywilligers nodig is om ander te dien by byeenkomste en op ander tye.
12:31, 38, 40-42. Sang is ’n goeie manier om Jehovah te loof en ons dankbaarheid teenoor hom uit te druk. Ons moet heelhartig by Christelike vergaderinge sing.
13:4-31. Ons moet daarteen waak dat materialisme, korrupsie en afvalligheid in ons lewe posvat.
13:22. Nehemia was deeglik bewus daarvan dat hy aanspreeklik is teenoor Jehovah God. Ons moet ook bewus wees van ons aanspreeklikheid teenoor God.
Jehovah se seën—’n Moet!
“As Jehovah nie die huis bou nie”, het die psalmis gesing, “het die bouers tevergeefs hard daaraan gewerk” (Psalm 127:1). Hoe pragtig lig die boek Nehemia tog die waarheid van hierdie woorde toe!
Die les vir ons is duidelik. As ons suksesvol wil wees in wat ons ook al doen, moet ons Jehovah se seën hê. Kan ons werklik verwag dat Jehovah ons sal seën as ware aanbidding nie die eerste plek in ons lewe beklee nie? Laat ons dan, soos Nehemia, Jehovah se aanbidding en die bevordering daarvan die hoofsaak in ons lewe maak.
[Prent op bladsy 8]
“’n Koning se hart is soos waterstrome in die hand van Jehovah”
[Prent op bladsy 9]
Nehemia—’n man van aksie en tere gevoelens—gaan na Jerusalem
[Prente op bladsy 10, 11]
Weet jy hoe om ‘betekenis te gee’ aan God se Woord?