Bybelboek nommer 16—Nehemia
Skrywer: Nehemia
Waar geskryf: Jerusalem
Geskrif voltooi: Ná 443 v.G.J.
Beskrewe tydperk: 456–ná 443 v.G.J.
1. Watter vertrouenspos het Nehemia beklee, en wat was voor in sy gedagte?
NEHEMIA, wie se naam “Jah vertroos” beteken, was ’n Joodse dienaar van die Persiese koning Artasasta (Artaxerxes Longimanus). Hy was skinker vir die koning. Dit was ’n posisie van groot vertroue en eer, ’n gesogte posisie, want dit het toegang tot die koning verleen op tye wanneer hy in ’n gelukkige stemming was en bereid was om gunste toe te staan. Nehemia was egter een van daardie getroue ballinge wat Jerusalem bo enige persoonlike rede tot “vreugde” gestel het (Ps. 137:5, 6). Dit was nie ’n posisie of materiële rykdom wat voor in Nehemia se gedagte was nie, maar eerder die herstel van Jehovah se aanbidding.
2. Watter jammerlike toestand het Nehemia bedroef, maar watter bestemde tyd het nader gekom?
2 In 456 v.G.J. het dit nie goed gegaan met dié wat “vrygekom het uit die gevangenskap”, die Joodse oorblyfsel wat na Jerusalem teruggekeer het, nie. Hulle het in ’n betreurenswaardige toestand verkeer (Neh. 1:3). Die muur van die stad het in puin gelê en die volk was ’n skandvlek in die oë van hulle immer teenwoordige teenstanders. Nehemia was diep bedroef. Maar dit was Jehovah se bestemde tyd dat iets aan die muur van Jerusalem gedoen word. Vyande of te nie, Jerusalem met sy beskermende muur moes gebou word as ’n tydmerker in verband met ’n profesie wat Jehovah Daniël oor die koms van die Messias gegee het (Dan. 9:24-27). Gevolglik het Jehovah gebeure gerig deur getroue en ywerige Nehemia te gebruik om die goddelike wil uit te voer.
3. (a) Wat bewys dat Nehemia die skrywer is, en hoe het dit gekom dat die boek Nehemia genoem is? (b) Watter tydperk het tussen hierdie boek en die boek Esra verstryk, en watter jare dek die boek Nehemia?
3 Nehemia is ongetwyfeld die skrywer van die boek wat sy naam dra. Die openingsverklaring: “Die geskiedenis van Nehemia, die seun van Hagalja”, en die feit dat dit in die eerste persoon geskryf is, bewys dit duidelik (Neh. 1:1). Die boeke Esra en Nehemia was oorspronklik een boek wat Esra genoem is. Later het die Jode die boek in Eerste en Tweede Esra verdeel, en nog later is Tweede Esra Nehemia genoem. Daar is ’n tydperk van nagenoeg 12 jaar tussen die laaste gebeure van Esra en die eerste gebeure van Nehemia, wie se geskiedenis dan die tydperk vanaf die einde van 456 v.G.J. tot ná 443 v.G.J. dek.—1:1; 5:14; 13:6.
4. Hoe is die boek Nehemia in harmonie met die res van die Skrif?
4 Die boek Nehemia is in harmonie met die res van die geïnspireerde Skrif, waarvan dit tereg ’n deel uitmaak. Dit bevat talle toespelinge op die Wet waar dit verwys na sake soos huweliksverbintenisse met vreemdelinge (Deut. 7:3; Neh. 10:30), lenings (Lev. 25:35-38; Deut. 15:7-11; Neh. 5:2-11) en die Huttefees (Deut. 31:10-13; Neh. 8:15-19). Daarbenewens dui die boek die begin aan van die vervulling van Daniël se profesie dat Jerusalem herbou sou word, maar nie sonder teenstand “in tye van benoudheid” nie.—Dan. 9:25.
5. (a) Getuienis uit watter bronne dui 475 v.G.J. aan as die jaar waarin Artasasta die troon bestyg het? (b) In watter jaar het sy 20ste jaar geval? (c) Hoe pas die boeke Nehemia en Lukas in by die vervulling van Daniël se profesie oor die Messias?
5 Wat van 455 v.G.J. as die jaar waarin Nehemia na Jerusalem gereis het om die stadsmuur te herbou? Betroubare geskiedkundige bewyse uit Griekse, Persiese en Babiloniese bronne dui daarop dat 475 v.G.J. die jaar was waarin Artasasta die troon bestyg het en dat 474 v.G.J. sy eerste bewindsjaar was.a Sy 20ste jaar sou dan 455 v.G.J. wees. Nehemia 2:1-8 dui aan dat Nehemia, die koninklike skinker, in die noordelike lente van daardie jaar, in die Joodse maand Nisan, toestemming van die koning ontvang het om Jerusalem, sy muur en sy poorte te herstel en te herbou. Daniël se profesie het gesê dat 69 weekjare, of 483 jaar, sou verstryk “van die uitgang van die woord af om Jerusalem te herstel en op te bou tot op ’n Gesalfde [“Messias”, NW], ’n Vors”—’n profesie wat opmerklik met Jesus se salwing in 29 G.J. vervul is, ’n jaartal wat met sekulêre geskiedenis sowel as Bybelgeskiedenis strookb (Dan. 9:24-27; Luk. 3:1-3, 23). Die boeke Nehemia en Lukas pas inderdaad op merkwaardige wyse by Daniël se profesie in om te toon dat Jehovah God die Outeur en Vervuller van ware profesie is! Nehemia is waarlik ’n deel van die geïnspireerde Skrif.
INHOUD VAN NEHEMIA
6. (a) Watter berig laat Nehemia tot Jehovah bid, en watter versoek staan die koning toe? (b) Hoe reageer die Jode op Nehemia se plan?
6 Nehemia word na Jerusalem gestuur (1:1–2:20). Nehemia is diep besorg oor ’n berig van Hanani, wat van Jerusalem na Susan teruggekeer het met die tyding dat die Jode daar in groot ellende verkeer en dat die muur en poorte stukkend lê. Hy vas en bid tot Jehovah as die “God van die hemel, grote en gedugte God, wat die verbond en die goedertierenheid hou vir die wat [hom] liefhet en [sy] gebooie onderhou” (1:5). Hy bely Israel se sondes en smeek Jehovah om Sy volk ter wille van Sy naam te onthou, soos Hy Moses beloof het (Deut. 30:1-10). Wanneer die koning Nehemia vra waarom sy gesig so bedroef lyk, vertel Nehemia hom van die toestand van Jerusalem en vra hy toestemming om terug te keer en die stad en sy muur te herbou. Sy versoek word toegestaan en hy reis onmiddellik na Jerusalem. Na ’n nagtelike inspeksie van die stadsmuur om hom op die hoogte te stel van die werk wat voorlê, verduidelik hy sy plan aan die Jode en benadruk hy God se hand in die saak. Hierop sê hulle: “Ons sal ons klaarmaak en bou!” (Neh. 2:18). Wanneer die naburige Samaritane en ander hoor dat die werk begin het, begin hulle die Jode uitlag en bespot.
7. Hoe vorder die werk, en watter situasie maak reorganisasie nodig?
7 Die muur word herbou (3:1–6:19). Die werk aan die muur begin op die derde dag van die vyfde maand, en die priesters, die owerstes en die volk het almal ’n aandeel aan die werk. Die stadspoorte en die mure daartussen word gou herstel. Sanballat, die Horoniet, spot: “Wat maak die magtelose Jode? . . . Sal hulle dit vandag nog voltooi?” Tobia, die Ammoniet, voeg sy spottende opmerking hierby: “Wat hulle ook al bou—as ’n jakkals daarteen opspring, sal hy hulle klipmuur omgooi!” (4:2, 3). Wanneer die muur die helfte van sy hoogte bereik, word die teenstanders wat saamgespan het kwaad en sweer hulle saam om teen Jerusalem op te trek en daarteen te veg. Maar Nehemia maan die Jode om te dink aan Jehovah, “die grote en gedugte Here”, en vir hulle gesinne en hulle huise te veg (4:14). Die werk word gereorganiseer om die gespanne situasie die hoof te bied; party hou wag met spiese terwyl ander met swaarde aan hulle heupe werk.
8. Hoe hanteer Nehemia probleme onder die Jode?
8 Daar is egter ook onder die Jode probleme. Party van hulle eis woeker van hulle medeaanbidders van Jehovah, iets wat in stryd met sy wet is (Ex. 22:25). Nehemia stel die situasie reg en waarsku teen materialisme, en die volk reageer gewillig. Nehemia self het gedurende die hele 12 jaar van sy goewerneurskap, van 455 v.G.J. tot 443 v.G.J., nooit die brood van die goewerneur geëis nie as gevolg van die swaar diens op die volk.
9. (a) Hoe bied Nehemia subtiele pogings om die bouwerk stop te sit die hoof? (b) Hoe lank duur dit om die muur te voltooi?
9 Die vyande probeer nou subtieler taktiek om die bouwerk stop te sit. Hulle nooi Nehemia om af te kom vir ’n bespreking, maar hy antwoord dat hy weens die groot werk waarmee hy besig is nie die tyd kan afstaan nie. Sanballat beskuldig Nehemia nou van opstand en dat hy beplan om homself koning in Juda te maak, en hy huur in die geheim ’n Jood om Nehemia dermate die skrik op die lyf te jaag dat hy wederregtelik in die tempel sal skuil. Nehemia weier om hom te laat intimideer en gaan kalm en gehoorsaam met sy godgegewe taak voort. Die muur word “in twee-en-vyftig dae” voltooi.—Neh. 6:15.
10. (a) Waar woon die volk, en wat word opgestel? (b) Watter vergadering word nou byeengeroep, en wat is die eerste dag se program?
10 Die onderrigting van die volk (7:1–12:26). Daar is maar min mense en huise in die stad, want die meeste Israeliete woon ooreenkomstig hulle stamerfdeel buite die stad. God laat Nehemia die edeles en die hele volk versamel om ’n geslagslys op te stel. Hiervoor raadpleeg hy die verslag van diegene wat van Babel teruggekeer het. Vervolgens word ’n agtdaagse vergadering op die plein by die Waterpoort byeengeroep. Esra open die program vanaf ’n houtverhoog. Hy loof Jehovah en lees dan van dagbreek tot die middag uit die boek van die Wet van Moses. Hy word op bekwame wyse deur ander Leviete bygestaan, wat die Wet aan die volk verduidelik en ‘duidelik uit die boek, uit die Wet van die ware God, bly voorlees en dit verklaar, sodat hulle verstaan wat voorgelees word’ (8:9). Nehemia moedig die volk aan om fees te vier en om hulle te verheug en die krag van die woorde te besef: “Die blydskap in die HERE—dit is julle beskutting.”—8:11.
11. Watter spesiale vergadering word die tweede dag gehou, en hoe word hierdie vergadering met blydskap voortgesit?
11 Op die tweede dag van die vergadering hou die hoofde van die volk ’n spesiale vergadering met Esra om insig in die Wet te verkry. Hulle leer van die Huttefees wat hierdie einste sewende maand nog gevier moet word, en hulle tref onmiddellik reëlings om hutte vir hierdie fees vir Jehovah te bou. Daar is “baie groot blydskap” terwyl hulle sewe dae lank in hutte woon en dag vir dag na die voorlesing van die Wet luister. Op die agtste dag belê hulle “volgens verordening” ’n plegtige vergadering.—Neh. 8:18, 19; Lev. 23:33-36.
12. (a) Watter vergadering word later in dieselfde maand gehou, en watter tema het dit? (b) Watter resolusie word aangeneem? (c) Watter reëlings word getref om Jerusalem te bevolk?
12 Op die 24ste dag van dieselfde maand vergader die kinders van Israel weer en sonder hulle hul van al die uitlanders af. Hulle luister na ’n spesiale voorlesing van die Wet en dan na ’n hartdeursoekende oorsig van God se handelinge met Israel wat deur ’n groep Leviete gegee word. Dit het die tema: “Staan op, loof die HERE julle God van ewigheid tot in ewigheid! En laat hulle u heerlike Naam loof wat bo alle lof en prys verhewe is!” (Neh. 9:5). Hulle bely vervolgens die sondes van hulle voorvaders en smeek Jehovah nederig om sy seën. Dit is in die vorm van ’n resolusie waarop die seël van die nasie se verteenwoordigers aangebring word. Die hele groep stem in om hulle vry te hou van huweliksverbintenisse met die volke van die land, om die Sabbatte te onderhou en om vir die tempeldiens en -werkers te sorg. Een uit elke tien persone word deur die lot gekies om permanent in Jerusalem, binne die muur, te woon.
13. Watter vergaderingprogram kenmerk die inwyding van die muur, en watter reëlings volg hierop?
13 Die inwyding van die muur (12:27–13:3). Die inwyding van die pas geboude muur is ’n tyd van sang en vreugde. Dit is die geleentheid vir nog ’n vergadering. Nehemia reël dat twee groot dankkore en optogte in teenoorgestelde rigtings op die muur loop en uiteindelik saam offers in die huis van Jehovah bring. Reëlings word getref vir materiële bydraes om die priesters en die Leviete by die tempel te onderhou. ’n Verdere Skriflesing bring aan die lig dat Ammoniete en Moabiete nie in die gemeente mag inkom nie, en gevolglik begin hulle om al die mense van gemengde bloed van Israel af te sonder.
14. Beskryf die ondeugde wat gedurende Nehemia se afwesigheid ontstaan en die stappe wat hy doen om dit uit te wis.
14 Die uitwissing van onreinheid (13:4-31). Na Nehemia ’n ruk lank in Babel was, keer hy na Jerusalem terug en vind hy dat nuwe ondeugde onder die Jode ingesluip het. Hoe gou het dinge tog verander! Die hoëpriester Eljasib het selfs ’n eetsaal vir Tobia, ’n Ammoniet, een van die vyande van God, in die voorhof van die tempel ingerig. Nehemia tree dadelik op. Hy gooi Tobia se meubels uit en laat al die eetsale reinig. Hy vind ook dat die materiële bydraes vir die Leviete gestaak is, sodat hulle buite Jerusalem ’n bestaan gaan maak. Die handelsgees vier hoogty in die stad. Die Sabbat word nie gehou nie. Nehemia sê vir hulle: “Julle vermeerder die toorngloed oor Israel deur die sabbat te ontheilig!” (13:18). Hy sluit die stadspoorte op die Sabbat om die handelaars uit te hou en beveel hulle om weg te bly van die stadsmuur. Maar daar is selfs ’n erger euwel, iets wat hulle plegtig ooreengekom het om nie weer te doen nie. Hulle het vreemde, heidense vroue in die stad ingebring. Die kinders van hierdie verbintenisse praat reeds nie meer Joods nie. Nehemia herinner hulle daaraan dat Salomo weens vreemde vroue gesondig het. As gevolg van hierdie sonde jaag Nehemia die kleinseun van Eljasib, die hoëpriester, weg.c Dan bring hy die priesterdom en die werk van die Leviete in orde.
15. Watter nederige versoek rig Nehemia?
15 Nehemia sluit sy boek af met die eenvoudige en nederige versoek: “Dink aan my, my God, ten goede!”—13:31.
WAAROM NUTTIG
16. In watter opsigte is Nehemia ’n uitstekende voorbeeld vir alle liefhebbers van juiste aanbidding?
16 Nehemia se godvrugtige toegewydheid moet alle liefhebbers van juiste aanbidding besiel. Hy het ’n bevoorregte posisie prysgegee om ’n nederige opsiener oor Jehovah se volk te word. Hy het selfs die materiële bydrae wat hom toegekom het van die hand gewys en materialisme ronduit as ’n strik veroordeel. Nehemia het daarop aangedring dat die hele volk Jehovah se aanbidding ywerig beoefen en ondersteun (5:14, 15; 13:10-13). Nehemia was ’n uitstekende voorbeeld vir ons deurdat hy heeltemal onselfsugtig en verstandig was, ’n man van daad, iemand wat onbevrees vir geregtigheid gestry het te midde van gevaar (4:14, 19, 20; 6:3, 15). Hy het die regte vrees van God gehad en het daarin belanggestel om sy medeknegte in die geloof op te bou (13:14; 8:10). Hy het die wet van Jehovah kragtig toegepas, veral in verband met ware aanbidding en die verwerping van vreemde invloede, soos huwelike met heidene.—13:8, 23-29.
17. Hoe is Nehemia ook ’n voorbeeld wat sy kennis en toepassing van God se wet betref?
17 Dit is dwarsdeur die boek duidelik dat Nehemia ’n goeie kennis van Jehovah se wet gehad het, en hy het dit goed benut. Hy het God se seën afgesmeek as gevolg van Jehovah se belofte in Deuteronomium 30:1-4, vol vertroue dat Jehovah lojaal ten behoewe van hom sou optree (Neh. 1:8, 9). Hy het talle vergaderinge gereël, hoofsaaklik om die Jode vertroud te maak met die dinge wat voorheen geskryf is. Toe hulle die Wet voorgelees het, was Nehemia en Esra ywerig om God se Woord aan die volk duidelik te maak en toe te sien dat dit toegepas word.—8:9, 14-17; 13:1-3.
18. Watter lesse moet Nehemia se gebedsvolle leierskap by alle opsieners inprent?
18 Nehemia se volkome vertroue in Jehovah en sy nederige smeekbede moet ons aanmoedig om soortgelyke gebedsvertroue in God aan te kweek. Let op hoe sy gebede God verheerlik het, die sondes van sy volk erken het en gesmeek het dat Jehovah se naam verheerlik word (1:4-11; 4:14; 6:14; 13:14, 29, 31). Die feit dat hierdie ywerige opsiener ’n versterkende invloed onder God se volk was, word getoon deur die bereidwilligheid waarmee hulle sy wyse leiding gevolg het en die vreugde wat hulle daaruit geput het om God se wil saam met hom te doen. Inderdaad ’n besielende voorbeeld! Maar hoe gou het materialisme, verdorwenheid en openlike afvalligheid tog nie in die afwesigheid van ’n verstandige opsiener ingesluip nie! Dit moet alle hedendaagse opsieners van God se volk gewis laat besef hoe noodsaaklik dit is om wakker en waaksaam te wees, ywerig na die belange van hulle Christenbroers om te sien en hulle vol begrip en ferm in die weë van ware aanbidding te lei.
19. (a) Hoe het Nehemia God se Woord gebruik om vertroue in die Koninkryksbeloftes te versterk? (b) Hoe spoor die Koninkrykshoop God se hedendaagse knegte aan?
19 Nehemia het sterk vertroue in God se Woord gestel. Hy was nie net ’n ywerige onderrigter van die Skrif nie, maar het dit ook gebruik om die stamerfdele en die diens van die priesters en die Leviete onder God se herstelde volk te bepaal (Neh. 1:8; 11:1–12:26; Jos. 14:1–21:45). Dit moes ’n groot aanmoediging vir die Joodse oorblyfsel gewees het. Dit het hulle vertroue versterk in die wonderlike beloftes wat voorheen gedoen is oor die Saad en die groter herstel wat onder Sy Koninkryk sal plaasvind. Dit is die hoop op die herstel onder die Koninkryk wat God se knegte aanspoor om moedig vir Koninkryksbelange te stry en besig te bly met die opbouing van ware aanbidding dwarsdeur die wêreld.
[Voetnote]
a Insight on the Scriptures, Dl. 2, bladsye 613-16.
b Insight on the Scriptures, Dl. 2, bladsye 899-901.
c Sommige Joodse historici beweer dat hierdie kleinseun van Eljasib Manasse genoem is en dat hy, saam met sy skoonvader Sanballat, die tempel op die berg Gerisim gebou het, wat die sentrum van Samaritaanse aanbidding geword het en waar hy gedurende sy lewe as priester gedien het. Gerisim is die berg waarvan Jesus in Johannes 4:21 gepraat het.—The Second Temple in Jerusalem, 1908, W. Shaw Caldecott, bladsye 252-5; sien The Watchtower, 15 Julie 1960, bladsye 425-6.