Jehovah se Woord is lewend
Glanspunte uit die boek Ester
DIE plan kan eenvoudig nie misluk nie. Die massamoord op die Jode sal deeglik en met welslae uitgevoer word. Op één voorafbepaalde dag sal al die Jode in die ryk, wat van Indië tot Etiopië strek, uitgeroei word. Dit is wat die beramer van die plan dink. Hy het egter een belangrike besonderheid oor die hoof gesien. Die God van die hemele kan sy uitverkore volk uit enige kritieke situasie verlos. Die verlossing is in die Bybelboek Ester opgeteken.
Die boek Ester is deur ’n bejaarde Joodse man met die naam Mordegai geskryf en dek ’n tydperk van ongeveer 18 jaar gedurende die bewind van die Persiese koning Ahasveros, of Xerxes I. Hierdie dramatiese verhaal toon hoe Jehovah sy volk van die bose planne van hulle vyande red, selfs al is sy knegte oral in ’n uitgestrekte ryk versprei. Vandag is hierdie wete inderdaad geloofversterkend vir Jehovah se volk, wat in 235 lande heilige diens aan hom verrig. Verder voorsien die karakters wat in die boek Ester uitgebeeld word, voorbeelde wat ons kan navolg en ander wat ons wil vermy. Ja, “die woord van God is lewend en oefen krag uit”.—Hebreërs 4:12.
DIE KONINGIN MOET TUSSENBEIDE TREE
In sy derde regeringsjaar (493 v.G.J.) hou koning Ahasveros ’n koninklike feesmaal. Koningin Vasti, wat bekend is vir haar skoonheid, haal haar die koning se misnoeë op die hals en word van haar posisie onthef. Die Jodin Hadassa word uit al die pragtige maagde van die land gekies om haar plek in te neem. Op aansporing van haar neef Mordegai hou Hadassa haar Joodse identiteit geheim en gebruik sy haar Persiese naam, Ester.
Later word ’n hoogmoedige man genaamd Haman tot die posisie van eerste minister verhef. Haman is woedend omdat Mordegai weier om ‘laag te buig of hom voor Haman neer te werp’, en daarom beraam hy ’n plan om al die Jode in die Persiese Ryk uit te roei (Ester 3:2). Haman kry Ahasveros om met hom saam te stem en oorreed die koning om ’n verordening uit te vaardig om hierdie massamoord uit te voer. Mordegai is in “sak en as” (Ester 4:1). Ester moet nou tussenbeide tree. Sy nooi die koning en sy eerste minister na ’n private feesmaal. Wanneer hulle dit met graagte bywoon, versoek Ester hulle om die volgende dag vir nog ’n feesmaal te kom. Haman is verheug. Maar Mordegai se weiering om eer aan hom te bewys, vervul hom met woede. Haman beraam ’n plan om Mordegai voor die feesmaal die volgende dag dood te maak.
Skriftuurlike vrae beantwoord:
1:3-5—Het die feesmaal 180 dae lank geduur? Die teks sê nie dat die feesmaal so lank geduur het nie, maar dat die koning die rykdom en prag van sy glorieryke koninkryk 180 dae lank vir die amptenare gewys het. Die koning het moontlik hierdie langdurige geleentheid gebruik om met die glorie van sy koninkryk te spog sodat hy die edelmanne kon beïndruk en hulle kon oortuig van sy vermoë om sy planne uit te voer. In daardie geval kan verse 3 en 5 verwys na die feesmaal wat 7 dae geduur het en aan die einde van die 180 dae lange samekoms plaasgevind het.
1:8—In watter opsig was daar ‘niemand wat dwang uitgeoefen het wat die drinktyd volgens die wet betref nie’? By hierdie geleentheid het koning Ahasveros ’n uitsondering gemaak op wat blykbaar ’n Persiese gebruik was om mekaar aan te spoor om ’n sekere hoeveelheid by sulke samekomste te drink. “Hulle kon soveel of so min drink as wat hulle wou”, sê een naslaanwerk.
1:10-12—Waarom het koningin Vasti bly weier om na die koning te kom? Sommige geleerdes doen aan die hand dat die koningin geweier het om die bevel te gehoorsaam omdat sy haar nie voor die koning se dronk gaste wou verneder nie. Of dalk was hierdie koningin wat uiterlik mooi was, nie werklik onderdanig nie. Hoewel die Bybel nie sê wat haar beweegrede was nie, het die wyse manne van destyds gedink dat ’n vrou se gehoorsaamheid aan haar man beslis ’n kwessie is en dat Vasti se slegte voorbeeld al die vrouens in die provinsies van Persië sou beïnvloed.
2:14-17—Het Ester onsedelike geslagsomgang met die koning gehad? Die antwoord is nee. Die verslag sê dat die ander vroue wat na die koning gebring is, in die oggend na die tweede huis onder toesig van die koning se eunug, “die bewaker van die byvrouens”, geneem is. Die vroue wat die nag saam met die koning deurgebring het, het dus sy byvrouens, of ondergeskikte vrouens, geword. Maar Ester is nie na die huis van die byvrouens geneem nadat sy die koning gesien het nie. Toe Ester voor Ahasveros gebring is, “het [die koning] Ester meer liefgekry as al die ander vroue, sodat sy meer guns en liefderyke goedhartigheid voor hom gevind het as al die ander maagde” (Ester 2:17). Hoe het sy Ahasveros se “guns en liefderyke goedhartigheid” verkry? Op dieselfde manier as wat sy die guns van ander gewen het. “Die jong vrou was welgevallig in [Hegai se] oë, sodat sy liefderyke goedhartigheid voor hom gevind het” (Ester 2:8, 9). Hegai het van haar gehou slegs op grond van wat hy gesien het—haar voorkoms en goeie eienskappe. Trouens, “die hele tyd het Ester steeds guns gevind in die oë van almal wat haar gesien het” (Ester 2:15). Die koning was eweneens beïndruk met wat hy in Ester gesien het, en daarom het hy haar liefgekry.
3:2; 5:9—Waarom het Mordegai geweier om hom voor Haman neer te buig? Dit was nie vir die Israeliete verkeerd om die verhewe posisie van ’n hooggeplaaste te erken deur hulle voor hom neer te buig nie. Maar in die geval van Haman was daar meer by betrokke. Haman was ’n Agagiet, waarskynlik ’n Amalekiet, en Jehovah het Amalek vir uitwissing bestem (Deuteronomium 25:19). In Mordegai se oë sou dit sy onkreukbaarheid teenoor Jehovah skend as hy hom voor Haman neerbuig. Hy het volstrek geweier en gesê dat hy ’n Jood is.—Ester 3:3, 4.
Lesse vir ons:
2:10, 20; 4:12-16. Ester het leiding en raad aanvaar van ’n ryp aanbidder van Jehovah. Dit is verstandig van ons om ‘gehoorsaam te wees aan dié wat die leiding onder ons neem en onderdanig te wees’.—Hebreërs 13:17.
2:11; 4:5. Ons moet “nie uit persoonlike belangstelling ’n oog op net [ons] eie sake hou nie, maar ook uit persoonlike belangstelling op dié van die ander”.—Filippense 2:4.
2:15. Ester het beskeidenheid en selfbeheersing aan die dag gelê deur nie meer juwele of mooier klere te vra as wat Hegai voorsien het nie. Dit was “die geheime persoon van die hart in die onverderflike versiering van die stille en sagmoedige gees” wat Ester die koning se guns laat wen het.—1 Petrus 3:4.
2:21-23. Ester en Mordegai was goeie voorbeelde van ‘onderdanigheid aan die hoër owerhede’.—Romeine 13:1.
3:4. In sommige situasies is dit dalk verstandig om stil te bly oor ons identiteit, soos Ester gedoen het. Maar wanneer ons ’n standpunt moet inneem oor belangrike sake, soos Jehovah se soewereiniteit en ons onkreukbaarheid, moet ons nie bang wees om te sê dat ons Jehovah se Getuies is nie.
4:3. Wanneer ons voor beproewinge te staan kom, moet ons ons biddend tot Jehovah wend om krag en wysheid.
4:6-8. Mordegai het ’n wetlike oplossing gesoek vir die bedreiging wat Haman se sameswering ingehou het.—Filippense 1:7.
4:14. Mordegai se vertroue in Jehovah is navolgenswaardig.
4:16. Met volle vertroue op Jehovah het Ester getrou en moedig ’n situasie die hoof gebied wat haar dood kon beteken het. Dit is noodsaaklik dat ons leer om op Jehovah te vertrou en nie op onsself nie.
5:6-8. Om Ahasveros se guns te wen, het Ester hom na ’n tweede feesmaal genooi. Sy het skerpsinnig opgetree, en ons moet ook.—Spreuke 14:15.
EEN OMMESWAAI NÁ ’N ANDER
Terwyl die gebeure ontvou, word die bordjies verhang. Haman word aan die paal gehang wat hy vir Mordegai gemaak het, en die beoogde slagoffer word die eerste minister! Wat van die beplande slagting van die Jode? Ook in dié verband vind ’n dramatiese ommeswaai plaas.
Die getroue Ester tree weer op. Sy waag haar lewe en verskyn voor die koning om te pleit dat ’n manier gevind word om Haman se plan ongedaan te maak. Ahasveros weet wat gedoen moet word. Wanneer die dag van die massamoord op die Jode dus aanbreek, word nie hulle nie, maar dié wat hulle kwaad wou aandoen, doodgemaak. Mordegai verorden dat die Purimfees elke jaar gehou moet word om hierdie groot verlossing te herdenk. Mordegai, wat slegs aan koning Ahasveros ondergeskik is, ‘beywer hom vir die welsyn van sy volk en spreek woorde van vrede vir hulle hele nageslag’.—Ester 10:3.
Skriftuurlike vrae beantwoord:
7:4—Hoe sou ’n uitwissing van die Jode “skade vir die koning” beteken? Deur taktvol die moontlikheid te noem dat die Jode as slawe verkoop kon word, het Ester getoon hoe dit skade vir die koning kon beteken as hulle doodgemaak word. Die 10 000 silwerstukke wat Haman belowe het, was baie minder winsgewend vir die koning se skatkis as die groot inkomste wat dit kon ingebring het as Haman beplan het om die Jode as slawe te verkoop. Die uitvoering van die plan sou ook die verlies van die koningin beteken het.
7:8—Waarom het hofamptenare Haman se gesig bedek? Dit was moontlik om skande of naderende onheil aan te dui. Volgens een naslaanwerk het “die mense van die ou tyd soms die kop bedek van persone wat tereggestel sou word”.
8:17—Hoe het ‘baie van die volke van die land verklaar dat hulle Jode is’? Baie van die Perse het blykbaar Joodse proseliete geword omdat hulle gedink het dat die teenbevel ’n aanduiding van God se guns op die Jode was. Dieselfde beginsel is van toepassing op die vervulling van ’n profesie wat in die boek Sagaria gevind word. Dit sê: “Tien man uit al die tale van die nasies [sal] die slip van ’n Joodse man vasgryp, ja, hulle sal dit vasgryp en sê: ‘Ons sal saam met julle gaan, want ons het gehoor dat God met julle is.’”—Sagaria 8:23.
9:10, 15, 16—Waarom het die Jode nie die buit geplunder nie, hoewel die verordening dit gemagtig het? Hulle weiering het geen twyfel gelaat dat hulle beweegrede selfbehoud was, nie selfverryking nie.
Lesse vir ons:
6:6-10. “Trots kom voor ’n ineenstorting en ’n hoogmoedige gees voor struikeling.”—Spreuke 16:18.
7:3, 4. Identifiseer ons ons moedig as Jehovah se Getuies, al kan dit vervolging beteken?
8:3-6. Ons kan en moet ’n beroep doen op regeringsowerhede en geregshowe om beskerming teen vyande.
8:5. Ester het takt aan die dag gelê deur nie melding te maak van die koning se aandeel in die uitvaardiging van die verordening om haar volk uit te roei nie. Ons moet eweneens taktvol wees wanneer ons vir hooggeplaaste amptenare getuig.
9:22. Ons moenie die armes onder ons vergeet nie.—Galasiërs 2:10.
Jehovah sal “verligting en verlossing” voorsien
Mordegai sinspeel op die rede waarom God Ester koninklike waardigheid laat verkry het. Wanneer die Jode bedreig word, vas hulle en bid hulle vir hulp. Die koningin verskyn ongenooid voor die koning en word elke keer goed ontvang. Juis op die kritieke nag kan die koning nie aan die slaap raak nie. Die boek Ester toon inderdaad hoe Jehovah gebeure tot voordeel van sy volk bewerkstellig.
Die opwindende verslag van Ester is veral aanmoedigend vir ons wat in “die tyd van die einde” lewe (Daniël 12:4). “Aan die einde van die dae”, of in die laaste deel van die tyd van die einde, sal Gog van Magog—Satan die Duiwel—’n volskaalse aanval op Jehovah se volk loods. Sy doel sal niks minder wees nie as die uitwissing van ware aanbidders. Maar soos in Ester se dag, sal Jehovah “verligting en verlossing” aan sy aanbidders voorsien.—Esegiël 38:16-23; Ester 4:14.
[Prent op bladsy 10]
Ester en Mordegai voor Ahasveros