Gee enigiemand werklik om?
Het jy al ooit eensaam en hulpeloos gevoel, asof niemand jou probleme werklik verstaan nie? En al het hulle daarvan geweet, het jy gevoel dat hulle nie werklik omgee nie.
WANNEER probleme opduik, kan ons lewe voel soos ’n storm wat nie wil bedaar nie. Soms kan ons selfs tot die slotsom kom dat dit wat ons ondervind, so verpletterend en so onregverdig is dat ons dit eenvoudig nie langer kan verduur nie. Dit is dikwels die geval wanneer ons ly as gevolg van emosionele trauma, depressie, beserings weens ’n ernstige ongeluk, chroniese siekte of iets soortgelyks. Ons voel dalk so hulpeloos en wanhopig dat ons wonder waar ons vertroosting kan vind. Gee enigiemand werklik om?
“Die God van alle vertroosting” gee om
In die Bybel word God beskryf as “die Vader van tere barmhartighede en die God van alle vertroosting” (2 Korintiërs 1:3). God, wie se naam Jehovah is, weet dat ons vertroosting nodig het. Die Bybel gebruik meer as honderd keer verskeie vorme van “vertroosting”, wat ons verseker dat God nie net verstaan waarmee ons te kampe het nie, maar ons ook wil vertroos. Hierdie kennis oortuig ons dat Jehovah God ons benarde situasie sien, dit verstaan en daaroor besorg is, selfs wanneer dit lyk asof ander nie is nie.
Die feit dat Jehovah vir mense as individue omgee, kan duidelik in die Skrif gesien word. “Die oë van Jehovah is op elke plek”, sê die Bybel, “en hulle let op die slegtes en die goeies” (Spreuke 15:3). Net so lees ons in Job 34:21: “Sy oë is op die weë van die mens, en hy sien al sy voetstappe.” Jehovah sien wat ons doen—goed of sleg—en is bewus van ons omstandighede; hy kan dus reageer soos hy goeddink. Dit word bevestig in Hanani die siener, of profeet, se woorde aan koning Asa van Juda: “Jehovah se oë deurloop die hele aarde om sy krag te toon ten behoewe van dié wie se hart volkome teenoor hom is.”—2 Kronieke 16:7, 9.
Jehovah hou om nog ’n rede sy oog oor ons. Jesus verduidelik: “Geen mens kan na my toe kom tensy die Vader, wat my gestuur het, hom trek nie” (Johannes 6:44). Jehovah gee soveel om dat hy ’n persoon se hart deursoek om te sien of dit tot hom geneig is. Indien wel, kan hy op waarlik wonderlike maniere reageer. Byvoorbeeld, in die Dominikaanse Republiek was ’n vrou in die hospitaal vir ’n kankeroperasie. Sy het God gesmeek om haar te help om die ware godsdiens te vind. Net toe het haar man vir haar ’n brosjure met die titel Wat vereis God van ons?a gebring, wat hy daardie oggend gekry het by een van Jehovah se Getuies wat sy huis besoek het. Die vrou het die brosjure gelees en besef dat dit God se antwoord op haar gebed is. Sy het ingestem om die Bybel saam met die Getuie te studeer, en binne ses maande het sy haar lewe aan God toegewy en is sy gedoop.
In die Bybelboek Psalms vind ons talle hartverblydende beskrywings van Jehovah se liefdevolle sorg vir sy knegte deur eertydse Hebreeuse psalmiste, soos koning Dawid. In Psalm 56:8 pleit koning Dawid by God: “Sit tog my trane in u leersak. Is hulle nie in u boek nie?” Soos hierdie vergelyking toon, het Dawid geweet dat Jehovah nie net bewus was van sy lyding nie, maar ook van die emosionele uitwerking daarvan. Jehovah was bewus van Dawid se pyn en het die emosionele stres wat Dawid se trane veroorsaak het, onthou. Ja, ons Skepper hou ’n oog oor almal wat sy wil probeer doen, “dié wie se hart volkome teenoor hom is”.
Nog ’n Skrifgedeelte wat God se liefdevolle sorg beskryf, is die bekende Psalm 23. Die openingswoorde vergelyk God met ’n liefdevolle herder: “Jehovah is my Herder. Niks sal my ontbreek nie.” ’n Herder in die Midde-Ooste is besorg oor elkeen van sy skape en gee selfs vir elkeen ’n naam. Hy roep daagliks elke skaap na hom toe en streel dit liefdevol terwyl hy kyk of dit enige beserings het. As hy enige seerplekke vind, smeer hy olie of salf daaraan sodat dit vinniger kan genees. As die skaap siek is, sal die herder dalk medisyne in sy keel moet afgooi en hom letterlik regop moet hou sodat hy nie gaan lê en doodgaan nie. Dit is beslis ’n uitstekende illustrasie van hoe Jehovah omgee vir dié wat hulle tot hom wend.
Gebed en die opstanding—Bewyse dat God omgee
Hierdie en ander pragtige psalms is nie net in die Bybel opgeteken sodat ons dit kan lees en geniet nie. Dit wys ons hoe getroue knegte van God in die verlede hulle harte teenoor Jehovah uitgestort het om hulle behoefte aan God se hulp asook hulle dankbaarheid vir sy leiding en seëninge uit te spreek. Sulke woorde toon duidelik dat hierdie eertydse knegte van God vas geglo het dat God vir hulle omgee. As ons hierdie opregte woorde lees en daaroor peins, kan dit ons help om ook so oor God te voel. Die voorsiening van gebed is ’n kragtige bewys dat God omgee.
Maar soms is ’n probleem vir ons so oorweldigend dat ons nie eens weet hoe om daaroor te bid nie. Beteken dit dan dat Jehovah nie van ons benoudheid bewus is nie? Romeine 8:26 antwoord: “Ook die gees [kom] ons met ons swakheid te hulp; want ons weet nie waarvoor ons moet bid soos ons moet nie, maar die gees self pleit vir ons met onuitgesproke kreuninge.” Hierdie teks sê vir ons dat die geïnspireerde gebede van God se knegte in die verlede ons gevoelens kan weerspieël en dat Jehovah, die “Hoorder van die gebed”, dus daarna sal luister.—Psalm 65:2.
Die opstandingshoop is nog ’n oortuigende bewys dat God in elke individu belangstel. Jesus Christus het gesê: “Die uur kom waarin almal wat in die gedenkgrafte is, sy [Jesus se] stem sal hoor en sal uitkom” (Johannes 5:28, 29). Die Griekse woord wat hier gebruik word, word tereg as “gedenkgrafte” en nie net as “grafte” vertaal nie. Dit dra die gedagte oor dat God die lewensrekord van die persoon wat gesterf het, onthou.
Dink net hieraan: Om iemand weer lewend te maak, moet God alles omtrent daardie persoon weet, insluitende hoe hy gelyk het, sy oorgeërfde en aangeleerde karaktertrekke en al sy herinneringe! (Markus 10:27). God se gedagtenis aan daardie persoon vervaag nie eens ná duisende jare nie (Job 14:13-15; Lukas 20:38). Miljarde wat gesterf het, word dus in elke besonderheid deur Jehovah God onthou—’n oortuigende bewys dat God vir ons as individue omgee!
Jehovah is ’n beloner
Wat moet ons doen om God se liefdevolle sorg te ontvang? Ons moet allereers toon dat ons hom vertrou en gehoorsaam en dat ons geloof in hom het. Die apostel Paulus wys op die verband tussen om geloof te hê en om God se sorg te geniet. Hy het geskryf: “Sonder geloof is dit onmoontlik om vir hom welbehaaglik te wees, want hy wat tot God nader, moet glo dat hy is en dat hy die beloner word van dié wat hom ernstig soek.”—Hebreërs 11:6.
Let daarop dat die soort geloof wat God behaag, twee aspekte behels. Eerstens moet ons “glo dat hy is”, dit wil sê, ons moet glo dat God bestaan en dat hy ons Opperheerser is, wat ons gehoorsaamheid en aanbidding verdien. Tweedens moet ons glo dat hy “die beloner [is] van dié wat hom ernstig soek”. Ware geloof behels dat ’n mens glo dat God belangstel in die welsyn van almal wat opreg probeer om sy wil te doen en dat hy hulle beloon. Deur God se Woord te bestudeer en met dié om te gaan wat hom gehoorsaam, kan jy ook die soort geloof verkry wat God se beloning en liefdevolle sorg verdien.
Vandag glo baie mense dat God glad nie in menseaangeleenthede belangstel nie. Maar soos ons gesien het, toon die Bybel duidelik dat God baie omgee vir dié wat ware geloof in hom toon. Hoewel die lewe van vandag dikwels vol benoudheid, bekommernisse, teleurstellings en pyn is, hoef ons nie moed op te gee nie. Jehovah God gee wel om. Trouens, hy nooi ons liefdevol om ons tot hom te wend vir ondersteuning. “Werp jou las op Jehovah, en hy sal jou onderskraag”, sê die psalmis. “Nooit sal hy die regverdige laat wankel nie.”—Psalm 55:22.
[Voetnoot]
a Uitgegee deur Jehovah se Getuies.
[Venster/Prent op bladsy 29]
Tekste om jou geloof in God se liefdevolle sorg te versterk
“Jehovah se oë deurloop die hele aarde om sy krag te toon ten behoewe van dié wie se hart volkome teenoor hom is.”—2 KRONIEKE 16:9
“Sit tog my trane in u leersak. Is hulle nie in u boek nie?”—PSALM 56:8
“Jehovah is my Herder. Niks sal my ontbreek nie.”—PSALM 23:1
“O Hoorder van die gebed, ja, tot u sal mense van alle vlees kom.”—PSALM 65:2
“U sal roep, en ek sal u antwoord. Na die werk van u hande sal u vurig verlang.”—JOB 14:15
“Hy wat tot God nader, moet glo dat hy is en dat hy die beloner word van dié wat hom ernstig soek.”—HEBREËRS 11:6
“Werp jou las op Jehovah, en hy sal jou onderskraag. Nooit sal hy die regverdige laat wankel nie.”—PSALM 55:22